Saturday, August 1, 2009

TREIN VAN DIE DOOD




TREIN VAN DIE DOOD



Jare gelede - hier in 1985- was ek een middag laat oppad vanaf Pretoria na 'n ou vriend van my wat gewoon het so 40 kilometer aan die Noord-Ooste van Potgietersrus in die Noorde van Transvaal, vir 'n lang belowende kuiertjie.. Nou ja, daardie wereld was geensins aan my onbekend nie - dis nou die dorp en omgewing selwers - Roedtan, Sterkrivier, Voortrekkersweg- die hoofstraat, Hoerskool Piet Potgieter, Potties Laerskool, Mike Erasmus Hoerskool, Genis Apteek, die Rio kaffee, bioskoop onder die O.K handelswinkel, tennisbane ens- maar aan die anderkant van die rustige dorp, ooswaarts, daar by Percy Five se kant, die het ek nie juis geken nie. Dit is 'n baie bergagtige landstreek, jy ry die hele tyd in en om die bekende Waterberge, die klein Nylrivier, al hier van Nylstroom in die suide se kant af. Hoe verder jy dan Noord-Oos beweeg van Potgietersrus af, hoe meer koppies, klowe en berge kry jy met Kameeldoring en Apiesdoring die wereld vol. Sekelbos en miershoop verhinder enige gewone padvoertuig toegang, en om nie eers te praat van vandag se "grend "plastiek namaaksels wat almal so in ons stede ten duurste mee spog nie.So was dit dan ook juis daar tussen die hellings dat ek een van my mees tragiese spookstories opgetel het, en byna ook amperse self een beleef het. Ek is nie juis 'n persoon wat bang is vir die onbekende nie, maar ek sal ook nou nie gaan torring aan dinge wat my nie aangaan nie. Ek glo maar vas aan my eie beginsel van"As jy nie in die moeilikheid wil beland nie, jy selwers ook dan nie in die eerste plek moet betrokke raak nie!" Ek meen, ons lewe hierdie kant van die skeiding- en die ontslapenes is nou aan die ander kant. Volgens die Goeie Woord bly ons van mekaar se werelde af weg, ons hier sal mos ook eendag daardie kant toe gaan. Dis mos nou nie nodig om nou al te gaan torring aan die dinge wat jou g'n niks aangaan nie!

Nou ja, soos ek gesê het, ek was op my pad na 'n ou skoolvriend, Wessel Wessels toe. Hulle het 'n kart en transport besigheid genaamd Essakows, gehad op 'n plaas anderkant Potgietersrus, tussen die berge en koppies. Die pad wat ek moes ry was pure grondpad, met al die sanderige draaie en sinkplaat effekte, gate en dies meer waaraan ons gewone plaasboere lankal aan bekend is. My ou voertuigie, 'n ou Mazda 323 motortjie, was maar nie gebou vir die tipe ruwe paaie nie. 'n Regte ou stads karretjie, en ek moes maar alte versigtig ry om nie dalk 'n as te breek in 'n donga of per sluiks in 'n gat te beland op die sanderige draaie nie. Om nie eers te praat van wild wat onverwags oor die pad van nerens af voor jou ingevlieg het nie. Dit was so ongeveer half sewe die aand toe ek die eerste helligs van die spookagtige ou Waterberge in die skemer nader. Die son was al so-te-se onder en jy kon die liggies van verafgeleë plaas- opstalle hier en daar onder die berg sien. Krieke het al teen die tyd hard beginne raas in die veld om my. Stof van plaas werktuie het soos gewoonlik laag op die aarde gelê. Kyk, dit was nou nie juis my skoon gepolleerde kar se bak poeding daardie nie.

Ek het maar stadig teen die hellings begin uitkruie...al op en op teen die skadus van die hang tot amper bo op die koppie. Daar het die ou grondpaadjie na links afgehel, en al slingerend tussen die gevaarlike loshangende rotse deur gewriemel.....tot doer onder waar hy dan skerp regs om die berge slalom na die plase toe wat knus genes lê in die klowe. Ek het so teen 30 kilometer per uur my weg af gesnuffel in 'n lae rat. Ek wou nie daar ten een hengske vaart affoeter en onbeheerst die bedrieglike steiltes daar afneuk nie. So het ek maar baie gespanne daar afgeskilpad, toe die pad skielik so 'n slamse es na links om die Wag-'n-bietjies maak, en ek tot my verbasing amper binne in 'n hekpaal wat horisontaal neffens oor die pad loop, ry. Uit pure skok slaat ek toe kwaai rem aan, en na so 'n paar meter se geskaats op die los sand, en vinnige nood aksies, kom ek ten einde amper teen die paal te lande. Kyk, om die minste te sê, ek was heel verbaas, en ongelooflik briesend. Hoe kan enige regdenkende mens nou so 'n konstruksie regoor die pad loop en bou op so 'n skerp draai? Van pure skok klim ek toe nou maar uit die motor, met stof wat al om my dwarrel, en begin aanstap in my motorligte om die hek wat so 'n opwaartse swaai tipe was, te gaat oplig. Daar was dan ook die presiese plek waar ek myself daardie aand amper laat ontwater het! Net toe ek nou die hek so vasvat om hom op te tel, hoor ek skielik die harde gebler van 'n lokomotief toeter direk agter my afgaan.

Met een helse adrenalien sprong vlieg ek al gillend daar weg en gaan maak my bewend langs my motor staan, net betyds om te sien hoe een massiewe stoomlokomotief in die lig van my motor, duidelik gedrappeer in die ou ZASM se groen kleure deur die bosse , so vyf tree effe regs van my, bars en met ratelende en sissende ysterwiele reg voor my agter die hek verby dreun. Die grond om my het so getril van die gewig van die yslike monsterwiele. Hy het met so 'n vaart daar verbygekom, dat die Seringboom se sade in alle rigtings gespat het toe hy onder die boom deurvlieg! Ek probeer nog van pure skok myself teen die motor stu, toe sien ek een na die ander passasierswa agterna gejaag kom. Nou ja, behalwe die onverwagse skrik het ek het niks van die trein as sulks op daardie spesikieke moment gedink nie, siende ek maar nuut in die omgewing was, en moontlik nie die waarskuwings chevrons in die dalende lig langs die pad gewaar het nie. Ek het die verbyvlietende passasierswaens so een vir een dopgehou soos hulle voor my in die opening oor die grondpad flits.

Na so 'n halfminuut het die laaste van die donderende waens dan nou ook verbygesnel, net om so vinnig as wat hulle verskyn het, te verdwyn tussen die digte struike en donker rotse in. Ek het die gevaarte agterna gestaar totdat die rooi liggies van die kondukteurswa skielik om die een of ander obstruksie verdwyn die donkerte in. Steeds bewend het ek toe maar eers goed asem geskep, en toe my krag bymekaar geskraap om vorentoe te strompel en die hek te gaat oopmaak. My gedagtes het gedwaal na die omgewing om my. Mensig- toe sien ek eers ek is heelwat bo-op die berg...en ek kon my nie wysmaak dat ek die ding nie eers gesien- wat nog te se - gehoor het teen die berg opkom nie! Iewers het ek die aanloop van die treispoor teen die berghelling ook gemis. Ek het steeds bewend in my motor geklim, eers mooi seker gemaak daar kom nie nog 'n trein nie, en voortgery na my bestemming. Terwyl ek so ry, het ek skielik besef dat ek, terwyl die trein daar voor my verbygerammel het, nie een oop venster gesien het nie! Die vensters was almal bottoe - selfs die blindings aan die binnekant van al die trokke was toegetrek. Gewoonlik hang daar mos mense by die vensters uit of daar is tog 'n paar wat oop is - te eienaardig dog ek by myselwers. Mense het seker maar geslaap, al was dit nog vroegaand. Maar nou ja, ek moes nog die plaasopstal in die donkerte vind, dus het ek my nie te veel gekwel oor die voorval nie.

Dit was so net na sewe toe ek uiteindelik tot stilstand kom voor die masteuse ou ruwe klipmuur plaashuis, net soos u hom sou voorstel. Toe ek uitklim, het Wessel aangestap gekom om te kom groet. Saam-saam is ons toe in huistoe om sy ouers te ontmoet. Nadat ek my reistas ingevat, uitgepak, ge-eet en myselwers gereinig het, was dit so tien uur die aand - en alle gejaag was verby. Terwyl die tannie en Wessel se suster - nogal 'n mooi nooi - aan't skottelgoed was was, het ons mans maar volgens die plaasgebruik op die verandah gesit en in die warm naglug aan 'n drankie gesuig, gesels en 'n dampie of wat gemaak. Dit is dan ook nou daar wat die treingedoente toe by my opkom. "Hoe dan nou oom-..." wou ek toe van ou oom Wessels weet- "...sit julle boeremense 'n vervlakste hek regoor die pad so op 'n draai...en hoekom sit julle dan nie duidelike chevrons op die pad om motoriste te waarsku teen treine nie...en vir wat het die spoorweë nou gaan staan en 'n spoor daar bo teen die berg bou...?"- wou ek gemaak vies weet.

Na aanleiding van die redelik siniese kyke wat ek van die ou oom en Wessel gekry het, verduidelik ek hulle toe van die amperse ongeluk wat ek gemaak het doer teen die hang van die berg. Vir 'n lang tyd was daar so 'n absolute stilte. Ek kon nou nie eintlik die kloutjie by die oor kry wat aangaan nie, maar iets het my vertel daar was meer aan die gebeurtenis daar op die berg as net die gebeurtenis! Na 'n lang stilte het die oom vorentoe geleun en sy langsteel pyp uitgeklop. " Jy sê jy het waaragtig 'n trein daar bo gesien...?" vra hy toe heel ernstig. Ek beaam toe my storie en vertel die oue ook die presiese kleure van die lokomotief, koperpype, sy waens en so aan. Die ou oom en Wessel het mekaar lank weer aangekyk. Skielik het Wessel opgestaan, sy pa nadenkend aangekyk en met 'n " Pa moet maar liewer die storie vertel...ek gaan maar eerder bad..."- die geselskap verlaat. Ek kon Wessel se skielike somber houding nie oombliklik peil nie- en het besluit om maar liewer verder te swyg oor die voorval. Duidelik het ek iewerste 'n senuwee geraak.

Vir 'n paar minute het die oue al peinsend aan sy pyp gesuig terwyl hy ver oor die maan verligte vlakte tuur, en toe effe vorentoe geleun." Andries ou seun....wat ek jou vanaand gaan vertel...is die reine goddelike waarheid....ek gaat nie lieg nie! Ek hou nou nie juis daarvan om oor die ding te gesels nie....dis groot seer....ons hier rond gesels nie eintlik oor die saak nie....maar nou ja..jy is seker nou ook deel van die tragedie. Wat ek jou nou gaan vertel...gaan jy nie glo nie...maar dis eg. Jy kan maar almal hier in die omgewing vra...hulle sal alles beaam wat ek se. Dis 'n seer en rou wond ,- hierdie ding. Ja, ons glo jou as jy sê jy het die trein gesien......dit is seker nou omtrent sy tyd...hy moes die een of ander tyd weer kom. Wat jy gesien het....gebeur nie gereeld. nie...net by sekere tye en sekere geleenthede." Die oubaas het weer vir eers lank oor die horison gestaar. "Jy het vanaand die trein van die dood gesien ou seun!" - se hy so skielik na 'n ruk, dat ek skoon wip van die skrik in my stoel. Nou was my nuuskierigheid eers geprikkel! "Trein van die dood oom?"- wou ek kwansuis weet. Die oudste het die rook uit sy pyp eers deur sy neus geblaas. " Ja kinta...die transport na die onderwereld....die trein uit die hel ou seun....die trein uit die hel...Satan se eie trein....."- prewel die oue toe skaars hoorbaar na nog 'n lang stilte. Nou was albei my ore ,sowel as my nekhare, kiertsregop! Vraagtekens was oral op my gesig afge-ets. Die oue het sy pyp neergesit, my nog 'n blikkie mout aangebied, en die volgende ongelooflike verhaal vertel:


" Jy sien....." begin die oubaas sy storie met 'n keelskoonmaak in alle erns. " Jarrre gelede...hier in die sestigs......het die spoor daar van Potties se rigting hier oor die kim geloop..."- en die oudste wys met sy pypsteel na die berg wat ver en donker afge-ets teen die spookagtige horison lê. " Van daar het hy so afgeloop teen die helling af....doer anderkant die plaas verby....af en dan verdwyn tussen doerie twee koppies in....om ou Geyser se plaas waar hy gaat draai het doerrr anderkant by Henley-on-Klip....en dan koers gevat het Pietersburg toe. Die oue vat toe eers 'n slukkie mout om sy keel te olie vir die res van die verhaal. " Jong, dit was dan ook net by die einste bleddie Henley-on-Klip waar al die gemors begin het.....maar laat ek jou van die begin af vertel.."- sê die oubaas terwyl hy homself regskuif vir 'n lang sit met sy een knie so oor die ander. " Ek en die tante het pas die plaas hier gekoop...was maar rof hier, en was nog besig om nes te skrop toe die ding gebeur het. Sien jy daardie hoë kop daar agter - daardie een met die los boulder bo-op..?" vra hy en beduie so 10 tot 15 kilometer verder na 'n hoë koppie." Daar het vanmelewe 'n ou treidrywer genaamd Eugene Roets gebly. Sy huisie sta ook lankal se tyd nie meer nie. As jy sou soontoe gaat- sal jy nog die fondasie en stukke murasie daarrr teen die kop kry. Ek kan nou nie die presiese jaar onthou nie...maar dit was hier laat in die sestigs...ek dink amper dit was in neen-en-sestig- toe dit gebeur het - maar watookal- die ou was so 'n groot man...soort van alleenloper. Niemand het eintlik van die ou gehou nie...so 'n ou vuilirige man...seker maar min gewas...en hy het ook nie juis met die mense in die omgewing gemeng nie- stugge ou swernoot gewees. So af-en-toe het jy hom op die dorp raakgeloop as hy gaan kruideniers koop. Gesels het hy nie eintlik nie...ons het hom maar opgesom as 'n tipe kluisenaar..het ook maar net ja en amen gese as ons probeer 'n geselsie aanknoop. Altyd na sweet geruik...kon dit nog goed onthou. Ons het maar besluit om die ou in vrede te los om sy gaat te gaat..hy het niemand skade aan gedoen nie. Hy het hier op Potties se stasie gewerk...die weet ek. ..ek dink ..nee, ek weet ok nou nie of dit goedere treine- of passasierstreine was wat hy gery het nie, maar dit was in elk geval een van die twee."- Die oom het dan weer eers 'n teug hops gesluk.

"Soos ek gesê het- die ou was dan nou werksaam op die spoorweë as drywer op die voetplaat. Jong, ek praat nou van hoorsê, maar eendag het die lelikste van lelikes gebeur. Die ou was een oggend glo smoordronk by die werk - net so na betaaldag - so se die mense hier rond. In sy beskonke toestand het hy glo toe oorgevat by 'n ander drywer op Potties....hulle ry mos so in skofte as die pad lank is. Hy moes die trein blykbaar deurvat Pietersburg toe. Hoe hulle nie kon sien die man was dronk nie, die sal ek nie weet nie - maar in elk geval- daar klim hy toe so dronk soos 'n tor op die grote masjien. Hy het - soos ek verstaan- 'n hele spul trokke gehak gehad ook- en is toe daar weg op sy pad. Man ou seun- die spoor loop toe daar waar jy vanaand hom gesien het- dan skerp af met die berg tot daar anderkant in die vlakte tot by Henley. ..nou moet jy verstaan watter spoed daai trein optel as hy hier afgedonder kom teen die berg af. Daai ding vlieg hier oor die aarde soos 'n bleddie patroon uit 'n 303. Van stop is daar g'n niks nie! Nou ja, dit was die pad wat ou Roets ook moes vat op sy roete annerkant toe. Dit was dan nou ook toe hy nou hier onder by Henley on Klip invlieg, so dronk soos hy was en nie by sy sinne nie, dat die vervlakste satan die ding nog verder oorvat. By daai stasietjie loop die pad van die ou plaasskooltjie af oor die blesitse treinspoor...sommer so 'n oorweggie. Daar is nie eers hekke of iets nie. Nou dié dag, ek dink dit was 'n Vrydag, het die skoolbus vol kindertjies bo-op daardie selfde verdomde plek gaat staat en vrek - wydsbeen oor die spoor -so....!"- en die oubaas beduie met sy twee vingers gespleet bo-oor sy ander vinger. "... en maakie saak hoe die drywer geprobeer het nie, die ding wou niks weet nie. Die ergste was dat die vervlakste oorgang net om 'n draai lê, en jy kannie die treine siet aankom nie. As jy die bleddie stront uit jou oë vee, dan is die gedoente op jou!

Jong, hy was nog so aan't spook met die starter, toe kom daai grote gedoente skielik met die spoed van 'n besetene om daai draai met die ou verdomde dronk Roets aan die stuur. Ag Vader...watter kans het die arme kindertjies gehad? " - Hier bly die oue van dae so 'n rukkie diep peinsend stil. "Hulle sê - dis nou die koerante - dat een outjie het rasend van angs twee of drie van sy maatjies uit die bus se venster gegooi voordat daardie massiewe gevaarte daai bus getref het. Ou seun...dit was 'n lelike gesig.....ai! Wee' jy, ons het die slag tot hier gehoor! Ons het so groot geskrik...daar het so 'n helse groot stofwolk gehang daar agter die berg. Jong, ek en die tante is inderhaas hier weg en het gejaag so vinnig as wat die ou Dodge kon loop. Jong, daar gekom, sien ons iets wat ons nooit weer sal vergeet nie. Ek kry nou nog nagmerries as ek daaraan dink. So ver jy af met die oorhoofse kabels kyk, sie' jy net kinder lyfies hang - op die grond...dis net bloed en stukkies vleis...dit was iets verskrikliks.. die tante het net daar en dan flou geword! Ek het uitgespring en gehardloop om te kyk of ek kan help...maar ou kinta...daar was niks. Van die bus was daar net opgefrommelde wrakstukke.. skoon in twee geslaat. Stukke van die bus het hier eenkant gele..en ander daar...en stukke was nog vasgeklamp aan die lokomotief se voorste rooster. Die ou d*nner het op 'n manier die trein so vyf honderd jaarts verder gestop gekry...die sta' toe daar. Jong, naderhand het daar nog mense gekom - en ook die kinders se ouers -...dit was iets verskrikliks gewees om daai mense te sien. Wat se jy...wat doen jy? Jy het nie woorde om hulle te troos nie. Mense wat jy ken...huisvrinne...jy kan nie in hulle oe kyk nie...dis lelik! Ek het sommer doerriekant toe geloop en my longe gaat uitbraak.

Ai, dit was 'n gemors - ons het nie geweet waar om te begin te skoonmaak nie. Die polisie het gekom- en eers allerhande opmetings gevat, boeke vol geskryf...en toe die stukkies beentjies, armpies en ander liggaamsdele in sulke swart sakke gegooi. Ek kon nie kyk nie. Ek dink die spoorweê het die spoor gesluit gehad vir 'n week of wat om alles skoon te maak.Hulle het toe die ou swerkater sommer daar en dan in die polisieven gegooi- en weggevat. Daar was so baie blomme op die spoor gepak die volgende week- mense het van oral gekom om meegevoel te betuig, tot 'n minister! Dit was lank daarna....man jarre, toe kon jy nog stukkies oorblyfsels van die kinders se goedjies optel langs die spoor. Ons het toe maar geld ingesamel hier onder mekaar - die koerante het gehelp - en in die dorpe - om darem vir die ouers te help in hulle tyd van rou. Die staat het vir die begrafnisse betaal. Ek was nog nooit by so baie roudieste gewees nie. Elf kinders het daardie dag die lewe gelaat. Dit was lelik! Man, die polisie het toe ou Roets hier weggevat selle toe, aangekla en so aan. Man, soos ek verstaan moes die skepsel nog hof toe - of hy was net in die hof hier op Potties - ek weet ook nie, maar so tussen die gedoente deur was hy in die een of ander selle, en blykbaar daar in die polisieselle het hulle hom een oggend gekry - homself met sy belt aan die tralies opgehang! Ek dink toe hy nou sober geraak het, het die werklikheid van sy onbesonne daad hom begin ry - die dat hy toe maar hasepad hel toe gevat het. Die Spoorweë het toe die spoor annerkant die berg gesluit en 'n verlenging om die berg laat aanlê hier voor verby. Treine kom nou heel stadig hier verby. As jy mooi kyk, sal jy 'n rooi liggie daarrr anderkant sien - dis waar hulle nou moet stop voor hulle die kruising oorgaan. Daar is ook nou elektriese hekke wat toegaan as die trein kom...maar wat help dit...dit het daai arme kinders se lewe gekos om die Spoorweë te kry om iets aan die ding te doen...hulle is vir altyd weg ou seun.

Nou hier is waar die gedoente sy loop begin vat het! Vandat die ou homselwers uit die lewe gehelp het....het die bleddie doodstrein begin loop! Sommer so uit die bloute het ons een nag , nie lank nadat ou Roets die tydige met die ewige verwissel het nie, laat die fluit daar teen die berg gehoor..en van daar af het hy sy makabere ritueel begin. Elke nou en dan, dan hoor jy hom daar teen die berg - jy hoor hom opgaan - jy hoor hoe hy fluit - en jy hoor hom afkom met die helling....jy hoor hoe ratel daai ysterwiele al vinniger en vinniger soos hy spoed optel hier teen die nek af. Party mense die het hom al ook gesien, maar as hy hier regs afkom waar hy sigbaar moet wees, POEF...dan's daar skielik niks! Doodstil.

y kan ook maar kyk wanner die ding loop. Elke keer as hy geloop het, dan's daar iemand oorlede hier iewers op 'n plaas - dit maakie saak wie nie - baas, arbeider, man, kind..... mens sê die gedoente is vol siele op hulle pad hel toe en elke keer as iemand soontoe gaat- da' kom haal die blessitse ding die siel as die liggaam ontslaap. As hy loop, dan kan jy maar gaat soek vir die ontslapene hier iewers...jy gaat vir hom of haar kry! Mense sê dat ou Roets vir ewig vervloek is oor sy gruwelike daad en vir die res van sy siele bestaan daardie trein sal moet ry...oor en oor en oor ...selfde roete as daardie verskriklike dag..- om hom deurentheid te herhinner aan die arme onskuldige sieletjies wat hy so ongenadiglik weggeruk het! Niemand waag dit ook op daardie berg nie...hulle se die hek van die hel is daar...die dat die gedoente daar wegraak..hy vat daar koers onderwereld toe. Jy is die eerste een wat ek van weet wat as lewende die ding van so naby gesien het! Niemand was al te naby die affere nie - net die wat bestem is om te gaan...die ding loop nou al vir jare....wonder net - as jy hom nou vanaand gesien het......wie se beurt was dit gewees om vanaand op te klim....wie is nie meer met ons more oggend nie...wonner net?" -en hiermee het ou oom Wessels sy hartseer storie morbied afgesluit.

Ek het nog lank daar gesit - die oom het na sy verhaal stil-stil opgestaan en die donkerte ingeloop. Ek het hom maar gelos - ek wou nie rou wonde verder oopkrap nie. Die naweek het gelukkig gou verbygegaan en ek het maar besluit om die tema nie verder aan te roer nie. Die mense daar rond was om die minste te sê maar baie omgekrap as 'n buitestaander ou wonde onnodig kom ooptorring. Sekeres van hulle het opsluit ook 'n geliefdetjie in daardie verskriklike gebeurtenis verloor. Die Sondagmiddag het ek, na 'n heerlike bord egte boerekos, my ry gekry- die Jakarandastad was nog ver. Nodeloos om u te laat verder gis, toe ek bo-op die kim by die plek kom van my ontmoeting met die trein van die dood, soos ek hom geleer ken het, het ek gestop en baie benoud uitgeklim. Ja wat, die nuuskierigheid darem né? Voetjie vir voetjie het ekke toe my gaan staanmaak op die plek, en eers baie versigtig rond geloer of die helwagen nie dalk weer uit die bosse gaan bars nie! Ek wou nie baie graag sitplek op daardie gedoente hê nie - en jy weet nooit of hy so in die verbygaan dalkies 'n stukkie vars vleis gaat gryp nie.." Hoe dan nou anders.."- het ek sag geprewel na my noukeurige betragting van die onheilsplek - ek moes dit verwag het- geen hek nie, net twee erg geroeste yster stutpale weerskante van die pad en 'n ou ongebruikte en geroeste treinspoor wat al hoeka toegegroei was met die polgrasse, Oliebome en kakiebosse! Ek wou maar nie te lank staan en vertoef nie- my nekhare het alklaar weer regop begin te staan. Ek het maar besluit om die dode en onbekende met die nodige respek te behandel en het my voertuig bestyg en skoongemaak Jakarandastad toe. Ek was tot hede toe nog nie weer op die plaas nie en wonder soms - mense wat in hul geheue die tragiese voorval nog kan herroep (dis nou ons ouer garde) - of hulle ooit weet van ou Roets en sy doodstrein....en of die ding vandag, na al die jare - ooit nog loop? Ewigheid het mos geen einde nie? Ou oom Wessels...ja- hy is ook lankal se tyd nie meer hier met ons nie. Vraag is - het hy ook dalk 'n kaartjie vir daardie trein gehad....het ou Roets dalk vir hom ook kom haal.....wonner net?

No comments:

Post a Comment