Saturday, August 1, 2009

PAPPA-EK HET JOU LIEF

PAPPA- EK HET JOU LIEF





Die verhaal wat ek nou hier aan u gaan vertel- is ‘n verhaal wat my al die jare nog bybly. Die verhaal laat my telkens weemoedig en hartseer voel- en soms- soms kyk ek na my eie kinders- en besef hoeveel ons ons ou kleintjies moet waardeer.Die verhaal self kom van geen bekende persoon nie- ook nie iemand wat ek ken- of geken het nie- maar die scenario het hom so afgespeel- so asof dit bedoel was om te gebeur. Hier is die verhaal dan:

Ek was gestasioneer te Pretoria in 1986 by die plaaslike Verkeers Departement- en was woonagtig as enkellopende hubare jongman in Jacob Mare Straat- vir die van u wat Pretoria ken. Nou- oorkant waar ek ‘n enkelkamer gehuur het, was daar ‘n groterige park gewees,- en my roetine elke aand was dan om vir ontspanning- so bietjie deur die park te loop- die haweloses op te soek- en so bietjie te gesels oor hulle verlede. Dit was vir my altyd so interessant om te hoor hoe die mensies daar geland het waar hulle nou is- u weet- watter lewensdrama en omstandighede ‘n mens kan forseer om alle hoop vir die toekoms op te gee, jou drome, jou lewe, jou inhibisies- en doelloos elke dag jou lewe om te drentel- geen hoop- en geen visie vir more nie, - net voortsleep van een dag na ‘n ander- dieselfde roetine elke dag….tot die dag van jou heengaan. Ek wonder wie van die Pretorianers kan nog vir Ou Boela- gewese liggewig bokser- en bekende hawelose van die dorp onthou? Hy was nou een van die bekendste boemelaars van die stad- en tussen die haweloses noem jy nie die naam Pretoria sonder om in dieselfde asem ook Boela se naam te noem nie. Hy was die onbetwiste leiers figuur onder die boemelaars. Ek het al ou Boela gepols vir ‘n blikkie op sy verlede…maar nou ja- ou Boela was so toebek soos die spreekwoordelike klei os se watsenaam. Wou niks se nie.

Nou ja- soos die gewoonte dan nou maar was, het ek toe een aand net so na ses my wandelinkie gevat daar na die park toe. Wonderlik hoe stil die strate raak na ‘n dag se rumoerige woelinge nè? So met die drentelinge rond- merk ek doer aan die een kant van die parkie ‘n middeljarige hawelose man sit teen ‘n Akasiaboom- ‘n soort wat ruig in Pretoria groei. Ek was maar alleen- meisie het nagskof gewerk- en het toe maar besluit om by die eensame figuur gaan aansluit en ‘n geselsie aan te knoop.

Ek het nader gestap na die figuur toe. Die man het nie besope voorgekom soos die ander haweloses wat hulle sorge maar in Spiritus wat deur ‘n brood gegooi word wend nie, maar het gehawend en heel diepdenkend voorgekom- daar waar hy sit, al turende na die duiwe wat kort-kort kom land vir krummels- en dan weer opfladder as iemand aangestap kom. Ek het toe sonder waarskuwing daar langes hom gaan neerplak- en sommer onmiddelik my pakkie Gunston uitgehaal- ‘n voortreflike manier om ‘n hawelose se vriendskap te wen en aan die praat te kry. Die man het my net in stilte aangekyk, maar geen poging aangewend om ‘n sigaret te vra nie. Ek het my sigaret aangesteek- en die rook behaaglik ingetrek- so asof ek hom uitgelok het om een te vra,- maar nee- hy het net voor hom op die grond gekyk.

Naderhand kon ek dit nie meer hou nie- en het hom een aangebied. Die man het net sy kop geskud- en baie beleefd “Nee Dankie- ek rook nie…” – geantwoord. Ek was in een woord- totaal uit die veld geslaan. Dit was die eertse boemelaar wat ek raakloop wat nie rook nie! Ek het skoon van balans af gevoel- en baie gedwee om verskoning vir my blatantheid gevra- en my voorgestel. Hy het moedig geglimlag- en hom as Koos Swanepoel voorgestel. Ek begin hom toe maar baie diplomaties uitvra waar hy vandaan kom- en waar hy bly…nie dat ek alreeds die antwoord geweet- of kon raai nie. Ek weet hy sou antwoord hy kom van Pretoria af- en hy bly in parkies, bus huisies en so aan. Ek het so laag gevoel oor die dom vraag- dat ek glo hy dit in my bakkies kon lees. Ek het gou “Jammer” gesê- en toe maar besluit om die gesprek in ‘n ander rigting te stuur. Koos het net geglimlag- en gesê dit is “O.K”- hy weet ek sien hom as ‘n “Outy”- slang vir ‘n boemelaar- maar hy verstaan. Nou was ek uit die veld geslaan. Die man is in vodde- vuilerig, in die parkie- en hy se hy verstaan as ek dink hy is ‘n boemelaar. Ek kon nie anders as om hom onbewustelik aan te gaap nie.

Ek het op die punt besluit om die bul by die horings te pak- die man is beslis nie onnosel- of besope nie. Sy taalgebruik is suiwer- en hy kom heel intelligent voor. Ek het toe maar besluit om die “show-biz” te los- en eerlik te wees. Ek draai toe om- en vra hom prontuit hoekom hy- wat so beskaafd voorkom- in die penarie is waar hy nou is- en hoekom probeer hy nie na die normale gang van die samelewing terugkeer nie- hy kan tog seker beter doen as daar waar hy nou sit. Toe ek my groot mond uiteindelik toemaak- sou ek oplet dat Koos in die verte tussen die geboue in tuur- en dat daar groot trane van sy wange afrol. Moedig probeer hy dan met sy vuil baadjie sy wange afvee- en dit onderdruk. Ek was ontsettend teruggeruk deur die optrede- en het toe maar besluit om my groot snater te hou.


Koos het nog so ruk gesit en staar- en toe na my gedraai- en dit was wat Koos my vertel het- iets wat ek nie gou kon vergeet nie:

"Meneer sien- Ek was ‘n welgestelde konsultant by ‘n groot firma. Ek het alles gehad- twee karre, groot huis in Groenkloof, mooi vrou- en ‘n pragtige blondekop dogtertjie. Sy was sewe jaar oud.Ai meneer- elke aand as ek by die huis kom- het sy altyd uitgehardloop gekom- haar armpies om my gegooi- en gesê “ Pappa- Ek het pappa lief.” Baie aande is mens maar moeg- en dan spring sy op my skoot- en begin my vertel van haar skooldag- en haar probleme. Ek was partykeer ook maar geïrriteerd- en het haar afgetel en gesê sy moet gaan speel- ek is moeg. Baiekeer was ek besig- en as sy kom pla- het ek haar sommer weggejaag- en gesê ek is besig. Sy het altyd na haar kamer toe gestap- en hartseer gaan huil op haar bed. Soms was ek kwaad- en het na haar toe gestap- en haar geslaan omdat sy stout is. Lateraan- as ek bedaar het- het sy na my toe gekom- en haar arms om my nek geslaan- en gesê “ Pappa- ek is lief vir pappa.” Ek het nie baie aandag aan my kind kon gee nie meneer- my werk was veeleisend- en het my nie baie tyd gegee om saam met haar te wees nie. Ek het alles vir my werk gedoen- ek het laat ure gewek- baie op die pad gewees- en baie geld huistoe gebring. Ons het alles gehad- ek se alles meneer- my salaris was oor die twintig duisend rand ‘n maand. Ek moes orals in die land by firmas konsultasiewerk gaan doen, wat meen ek was soms vir weke van die huis af. My vrou is ‘n prokureur- en sy het ook baie aande laat gewerk om sake voor te berei vir die hof en haar kliënte. Koos het weereens trane van sy oe afgevee- en so rukkie in die nou-donker skemer ingetuur.

Soos ek se meneer- ek het alles gehad- kredietkaarte, mooi meubels- alles wat meneer net kan oor droom. Ek was ‘n volmaakte man gewees.Alles het so mooi geloop- en ons het beplan om laas jaar- (dit was 1985)- op vakansie Golden Gate toe te gaan. Alles was reg- en ek was een dag besig om een groot kliënt in Sasolburg te sien. My vrou het my gevra om ons dogtertjie by die skool te gaan haal. Ek was baie beneuk gewees, want ek sit in Sasolburg- en sy in Pretoria- en het geredeneer dat sy net-sowel die kind kon gaan haal. Ek was baie befoeterd- en het toe gesê ek sal daar wees om twee uur om haar op te tel by die skoolhekke.

Ongelukkig het die afspraak met die kliënt langer geduur- en ek is eers so drie-uur uit Sasol uit. Toe ek in Pretoria kom- was dit al half ses. Ek het skool toe gejaag- en gesien my dogtertjie sit steeds daar- in die donker- voor die hek. Dit het intussen gereën- en was koud. Ek het gestop- en sy het ingeklim. Dit is toe dat ek sien sy was sopnat gereën- en yskoud. Ek het huistoe gejaag- en haar in ‘n warm bad gesit. Ek het besef ek het opgefoeter. My vrou was steeds by die werk met konsultasie besig – en het nie geweet die kind is nog by die skool nie. Ek het haar toe in die bed gesit.

Tyd het verby gegaan- en die volgende middag- so een uur se kant, - bel my vrou my en se ons moet dringend hospitaal toe jaag- Unitas toe. My dogtertjie se skool het gebel- en gese die kind het flou geword by die skool- en het ‘n hewige koors gehad. Hulle het die ambulans gebel- en die het haar kom haal en deurgejaag hospitaal toe. Ek het toe onmiddelik my kantoor laat weet- en gejaag hospitaal toe. Toe ek daar kom- was my vrou reeds daar. My kind was in intensiewe sorg met pype orals in haar- op die hart-long masjiene gekoppel- en ‘n suurstof masker op. Sy was in ‘n koma. Die dokters het aan ons gesê sy het Pneumonie opgetel- en haar longe is erg beskadig. Hulle wou weet of sy in koue was. Ek het daar gestaan meneer- ek het nie geweet wat om te se nie- ek sou moes bieg oor die dag tevore- en dan was die hel los by my vrou. Ek het toe maar gelieg en gesê sy moes seker maar nat gereen het by die skool. Ek het gesien haar klere is nat toe ek haar optel.

Ons het by haar gebly tot laat. My vrou was naderhand so moeg dat ek haar huistoe gestuur het- en gese het dat ek later sal kom. Sy is toe daar weg- en ek het agter gebly om my kind op te pas. Ek was so verbitterd dat ek nie sou kon slaap nie. Daar het ek toe langs haar bed gesit- en die suster het koffie gebring en gese ek kan maar daar bly solank ek wil. Dit was so agt uur die aand gewees. Ek het toe daar gesit meneer- ek het haar handjie vasgehou en die heeltyd haar hare gevryf. Sy het so mooi gelyk…ek kon nie my oe van haar afneem nie. Ek het myself verwyt omdat ek nie meer tyd aan haar gespandeer het nie- en nie daar was toe sy my nodig gehad het nie. Ek het besluit dat- as sy gesond word- ek my werk gaan afskaal- en meer tyd aan my kind gee.

So het ek daar gesit meneer- en later het ek aan die slaap geraak. Ek weet nie hoe lank ek geslaap het nie- maar iewers in die vroeë oggendure het sy wakker geword- en ek het regop gesit en gesien sy glimlag vir my. Meneer- my hele wese het bollemakiesie geslaan toe ek sien sy is wakker. Sy het my hand gedruk- en ek het vooroor geleun en haar saggies teen my vasgedruk. Sy het my op my wang gesoen- en in my oor gefluister: “Pappa- Ek het pappa lief..” Ek het begin huil- en vir haar gese ek is ook lief vir haar. Sy het terug gelê- en weer geglimlag. “ Pappa moet nie hartseer wees nie- die Engeltjies kom my nou haal……ek is olraait..” Daarna het sy met haar vingertjie so in die lug gewys- en stadig haar handjie laat sak. Sy het haar kop skuins gedraai- en aan die slaap geraak.

Ek het nog daar gesit- en haar handjie styf vasgehou en gevryf. Ek wou daar bly tot sy kon opstaan.Ek het nie eers besef hoe die tyd geloop het nie- maar toe ek weer sien – kom die nagsuster skielik daar in- kyk na die masjiene- en vat my aan die arm daar uit. Buite het sy die dokter gaan roep- en hulle is daar in haar kamer in. Na so tien minute het die dokter uitgekom- my eenkant toe gevat- en gese ek moet sterk wees…….my kind is al twee uur gelede oorlede- haar niere het ingegee- daar is niks wat hulle vir haar kon doen nie. Meneer- ek kon die woorde nie eers begryp nie- ek het net daar inmekaar gesak. My kind het uit die dood gekom om vir my te se sy het my steeds lief- na alles wat ek gedoen het, en ook haar dood veroorsaak het deur my nalatigheid!


Toe ek later bykom- was ekself in die hospitaal- met my vrou wat langs my staan- haar oe bloedrooi gehuil.Ek kon nie meer lieg nie meneer- die skuld was te groot- en ek het haar alles vertel. My vrou het histeries geraak- en my toegetakel met die vuiste- en gese ek het ons kind vermoor. Sy het al gillend daar uitgestorm- en ek het haar nie weer gesien nie- sy het haar goed kom haal uit die huis uit- en my gedagvaar vir ‘n egskeiding. By my kind se begrafnis wou sy nie eers by my staan nie. Sy wou nie dat ek my kind se kis oopmaak om tot-siens te se nie. Sy is met ‘n toe kis begrawe sonder dat ek haar ‘n laaste keer kon sien. Meneer sien- daardie dag het ek gesterf- my siel het gesterf- en vandag is ek net ‘n liggaam. Ek het my werk bedank- in my kar geklim- en gery en gery tot die petrol klaar was- en net begin stap en stap en stap. Ek wil nooit weer teruggaan huistoe nie- want my kind se herinneringe wag daar op my- en hulle spook by my elke dag…soos ek hier sit- en dit sal by my spook tot ek ook die dag my kop neerlê.

Ek kan my kind nie meer terug kry nie meneer. Ek het nooit tyd vir haar gehad toe sy gelewe het nie, en wanneer sy liefde kom soek het- was ek geïrriteerd- en het haar weggejaag. As sy hartseer was- was ek nie daar om haar te troos nie. As sy seer gekry het- was ek te besig om geld te maak om na haar om te sien. As sy my nodig gehad het- was ek altyd weg. As sy liefde gesoek het- het ek haar weggestoot. Elke keer as ek haar lelik behandel het- het sy teruggekom- en haar arms om my nek gesit en gese sy het my lief- al my tirade vergewe- en my vasgehou asof ek nooit haar afgejak het nie.

Meneer sien- nou is sy dood- en ek alleen- ‘n boemelaar vir die res van my lewe! Dit is my straf omdat ek my kind afgeskeep het- en ook vir haar dood gesorg het- ek was nalatig. Ek het gesterf hier binne meneer- ek is dood- soos my kind. Ek “hitch-hike” elke dag na haar graf toe- en sit daar die hele dag en se ek is jammer, maar wat help dit meneer- sy kan my nie meer hoor nie....ons was oppad Golden Gate toe- maar het by haar graf gaan eindig! Dit is wat geld en roem my gebring het. Ek moes haar ruikers gegee het toe sy gelewe het- toe sy hulle kon geruik het- nou gee ek haar kransies wat sy nie eers kan sien nie.Meneer- as jy eendag kinders het- pas hulle op- wees lief vir hulle- moenie dieselfde fout as ek maak nie. Moenie hulle eers verloor voor jy besef wat hulle vir jou beteken nie. Ek wens ek kon net nog een keer my dogtertjie teen my vasdruk- en vir haar se “ My kind- Pappa het jou lief….”- maar ek kan nie meneer- en dit sal my ry tot die dag wat ek hemel toe gaan en dit vir haar daar kan gaan se, - maar hier op aarde sal dit my hel wees….” Hiermee het Koos opgestaan- en weer groot trane afgevee- en geboë in die rigting van die uitgangshek gestrompel.

Ek het baie lank daar gesit. Sy verhaal het my diep geruk- en laat besef dat die man deur die swaarste stryd in sy bestaan moes gaan…iets waardeur ek nie wil gaan nie. Ons sien so gou neer op ons boemelaars- maar ons vergeet dat daar in hul lewens ook eens iets was om voor uit te sien, maar 'n "ander" iets het hulle lewens drasties laat verander. Nou- jare later- weerklink sy stem steeds by my op- en sy waarskuwing. Elke keer as een van my eie kinders seerkry- gryp ek hulle dadelik- versorg hulle- en se baie maal per dag aan hulle ek is lief vir hulle. “Gee hulle ruikers wat hulle kan ruik- moenie wag tot jy kransies moet gee wat hulle nie eers kan sien nie.”- bittere woorde van ‘n bittere man….maar baie treffend waar. Dit het ‘n kind uit die dood gekos om hierdie man die woorde te laat verstaan....en 'n boemelaar in 'n parkie om my insig vir die toekoms te gee. God leen Sy wesentjies aan ons- tydelik- en as ons nie hulle kan oppas nie- maar verwaarloos- vat Hy hulle weer terug na Hom toe....dit is tog Sy kinders in die eerste plek- ons kan hulle nie kleim nie.

No comments:

Post a Comment