Saturday, August 1, 2009
DIE OU TANNIE VAN SAAL 28
DIE OU TANNIE VAN SAAL 28
My storie wat ek hier gaan vertel, kom van ‘n ou matrone wat ek in die jare 80 ontmoet het terwyl ek my diensplig gedoen het te 1 Militere Hospitaal -Voortrekkerhoogte. Ons as mediese ordonnanse was elkeen verplig om saaldiens te doen in verskeie afdelings op ‘n roterende basis as deel van ons opleiding. Elke maand moes ons in ‘n ander saal diens doen…dan dagskof…dan nagskof. Dit was dan ook op een van my nagskofte wat 18h00 begin het tot die volgende oggend 07h00, dat ek toegedeel was in saal 28 van die ou 1 Militere Hospitaal. Dit was ‘n afdeling vir terminale vroulike pasiente – ‘n vleul daar eenkant in die donkerte langes ‘n ry Bloekombome. Die hospitaal opsigselwers was van rooi bakstene gebou- maar hierdie vleul was veel ouer- en was van lang reguit houtplanke gebou. Hier het ek dan ou suster Ramos ontmoet. Sy was al so ‘n bietjie aan die grys kant- so sestig se rigting sou ek reken. Ek het haar nooit om haar geboorte datum gevra nie- sy sou heel waarskynlik my ook nie gese het nie.
Die nagte was maar soms heel bedrywig in so ‘n saal- dit is diens oorgee, observasies doen, besoektyd, koffie uitdeel, medisyne gee, linne omruil, bedwasse doen, klagtes handteer, ensovoorts- tot so 22h00 se kant- dan gaan die ligte af. Na tien , as ons dan al die bedkaarte nagegaan het, dokters besoeke geskeduleer het, teater besprekings nagegaan het- en verdere eentonige administrasie gedoen het, was dit tyd vir rustigheid - en‘n stewige bekertjie Milo. Gewoonlik het die horlosie sy half twaalf merk teen die tyd al bereik.- en ons het dan die stil periode van die nag begroet. Ons het sommer die spesifieke tyd tot met vyf uur die oggend die “Graveyard Shift” gedoop, weens die graf stilte wat skielik oor die hospital gedaal het. Dit was dan ook op een van die “Graveyard Shifts” dat ek en Matrone Ramos weens verveeldheid so bietjie spoke opgeroep het. Sy het natuurlik glad geensins aan spoke geglo nie,- gese dis pure verbeelding- maar het heel ernstig my darem een spookstorie aangebied. Die staaltjie het sy dan ook so aan my oorvertel:
“ Jong weerman-( Ons is altyd op ons range aangespreek)- jy moenie van spoke praat nie jong! Ek glo mos nie aan die snert nie, maar hier het ‘n ding met ons gebeur so ‘n paar jaar terug. Weet jy dat dit net ek en Sersant Botes is wat hier wil werk? Nee..rerig..ek se jou! Die ander staf is te bleddie bang om hier te werk! Weet jy dat dit hier ge spook het? Rerig…ek lieg nie-kom ek vertel jou:
Dit was so elf jaar terug…as ek kan reg onthou…ek dink dit was in 1970- toe was ek en suster Kallie- jy sal haar nie ken nie- hier op diens. Sy dagsuster- en ek nagsuster. Hier in die oorkantste saal het toe ‘n ou tannetjie gele…so kortetjie. Ai mens…die ou vrou het ons al ons dae gegee. Sy het ‘n gewas op die brein gehad, maar die dokters wou nie opereer nie- hulle het gese sy sou nie die operasie oorleef nie. Haar ouderdom sou nie die narkose kon vat nie. Sy het toe maar hier gele en wag om dood te gaan…daar was niks wat ons kon doen nie. Ek kan nog onthou- sy het nooit besoekers gehad nie. Nooit het ek enige kinders gesien nie…nee wag…daar was eendag ‘n vrou hier…ja…sy het ‘n dogter gehad…dis reg, maar die het ook nie eintlik kom kuier nie…in elk geval nie as ek aan diens was nie. Ek weet nie of sy deur die dag gekom het nie, maar in elk geval….ons het maar toe die ou tannetjie versorg…sy het hier met ‘n ambulans van Hoedspruit af gekom. Genade mens, sy kon die horings van ‘n koei af kerm…dan die pyn…dan daai een. Sy het haar klokkie voos gedruk. Ons het maar naderaan haar geignoreer…ek meen..ons het ander belangriker pasiente gehad. Later van tyd het ons haar toe maar na daardie heel agterste kamer toe geskuif…nee herre…die ander mense het al gekla sy hou hulle uit die slaap met haar kort-kort se geklokkie drukkery! Al wat ons kon doen, was om haar pynpille te gee, ons kon niks aan haar siekte doen nie. Ja, wel, so het dit maar dag in en dag uit gegaan. Ek kan nie eers die ou tante se van onthou nie…te lank terug.
Jong- een aand hier by ..was dit nou agt uur…miskien ‘n bietjie later…ag wat..dit maak nie saak nie..dit was in elk geval daar rond..toe gaan haar klokkie weer af. Man weerman..ons was besig- al wat ‘n vrou is kerm en kla…dit is bedpanne, pille, bedwasse en wie weet wat de duiwel nog- toe lui sy nou haar klokkie ook! Ons het ons nie veel daaraan gesteur nie- en het eers ons ander pasiente gehelp. Toe die spul nou uiteidelik klaar was en dinge stiller word, gaan ek toe maar kyk wat sy wou he. Daar gekom, le sy met net so ‘n bree glimlag in die bed. Ek vra haar toe wat skort. Nee se sy- haar man was daar…sy wou hom aan ons voorstel, maar hy is blykbaar al klaar toe weg. Jong, ek het maar net vir haar gese dis goed so- en as hy weer kom, moet sy maar roep- ek weet mos die skepseltjie het nie so iets nie.....sy is seker maar besig om te hallusineer...jy weet...mense doen dit as die brein besig is om dood te gaan. Reg- toe sit ek die lig af en kom terug kantoor toe.
Man…dit was rustig tot so omtrent half drie die oggend- toe gaan haar klokkie weer af. Suster Kallie het daai week nagskof gedoen- en is toe hier vort- ek was besig met oggend observasies en preps vir die teater. Na ‘n ruk kom sy terug en se die ou tannie is kens…sy het vir sus Kallie gevra of sy haar man gesien het…hy is nou-net daaruit. Hy’t glo gese hy gaan haar kom haal huistoe. Vader…ek het die arme skepseltjie nog nooit so bly gesien nie se sy toe. Die ou tannie was skoon soos ‘n kind..dit lag en babbel aanmekaar. Sus Kallie was nou nie een vir nonsens nie- en sy het die ou tante net daar en dan vasgetrap en gese sy moet slaap, sy pla ons en die ander pasiente. Jong, so het dit toe aangegaan…nag na nag…elke keer het haar sogenaamde man haar besoek. Ons Internis, Dokter Van Wyngaardt wat haar besoek het, het gese ons moet haar maar los- die “Catscan” het gewys die gewas op die brein het vergroot- sy begin hallusinasies sien as gevolg van die drukking op die brein. Ons moet maar net iets vir die pyn gee- die einde is naby…sy sal een of ander tyd in ‘n koma gaan..en dan jy weet… So gese – so gedoen. Ons het toe haar kamer maar toe gehou…wou nie he die ander pasiente moes sien as sy gaan nie…jy weet mos- party van hulle was ook maar nie beter daaraan toe nie. ‘n Mens wil mos nie iemand sien doodgaan en jy weet jy is volgende nie.
Man my kind..dit was so paar dae later…dit was ‘n Saterdag aand..net so na tee..ek kan nog onthou. Sersant Botes het hier saam met my gewerk. Ons was hier in die kantoor..meeste van die pasiente was ontslaan…ek dink daar was drie of vier oor…en die ou tannie daar agter. Hier by sewe uur..ons het net van dagskof oorgevat…toe sit ek en Sersant Botes en gesels…sy het daar teen die kas agter jou gesit…toe kom die ou tannie skielik hier aan in haar nagrok. Genade…dit giggel soos ‘n jong meisie..kaalvoet en al. Ek en Botessie spring op..ek meen..sy le al vir weke aaneen..en hier is sy skielik perdfris en gesond. Ek wou haar net terugvat kamer toe- toe sy se ek moet haar man ontmoet. Kind- ek sal dit nooit vergeet nie…langs haar het so ‘n groterige oom gestaan. Ek het hom so sewentig geskat. Hier op sy skouers blink dit net sterre…maar ek kan mos nie nou sien nie…hy’t so effe in die donker gang gestaan. Hy’t ‘n lugmag uniform aangehad…toe sien ek hy’s ‘n brigadier. Wel..ek groet toe maar beleef- ek wil nie netnou voor Kolonel Coetzer staan en explain as hy gaan se ek was onbeskof nie.
Jong- sy vra toe of hulle maar iewers kan gesels..ek se toe ja, hulle kan in die sitkamertjie op die stoep sit..dis privaat jy weet. Wel…hy het niks gese nie- en hulle is toe diekant toe. Ek en Botes het mekaar net aangegaap…ons het nie geweet sy was getroud nie! Waar was hy al die tyd. Botes het nog gespot en gese hy kon seker ook nie met haar huishou nie- die laat hy haar maar hier laat le. Ons het toe maar weer aangegaan hier- en net so nou en dan geloer of hulle nog O.K is. Jong, ons het net haar gehoor klets…ek kan nie onthou of hy iets gese het nie, sy het so styf teen hom aangele…nogal ‘n aantreklike ou omietjie moet ek se. Hulle het toe maar so liefie- liefie daar gesit, maar hier by tien uur se kant het Botes toe opgestaan en gaan se hulle moet nou klaarmaak…sy moet gaan pille drnk en gaan slaap. Sy vra toe vir Botes of sy saam met hom kan stap tot daarbo by die teater…sy kar of iets staan daar. Botes se haar toe sy mag nie eintlik die saal verlaat nie…maar hier is in elk geval niemand nie…sy kan maar gaan, maar sy moet net gou maak. Nou ja- die twee is toe hier weg boontoe.
My skat…ons wag toe…naderhand is hulle al ‘n halfuur weg. Ons begin bekommerd raak- en Botes is toe daai kant toe om haar te gaan haal. Jinne mens- Botes kom toe naderhand terug en se sy kry hulle nie. Ek is toe saam met haar weer soontoe- ons het gesoek, maar aaikona, die ou tannie is weg. Ons dog toe sy het saam met hom weggery. Vader mens, daar staan ons toe…wat nou? As die kolonel dit hoor is ons in groot moeilikheid…ons mag mos nie pasiente uit die saal laat nie…en dit nogal in die nag! Jong, ons kry toe Suster Van Der Merwe, die nagmatrone uit. Hemel, ons soek, sy soek, almal soek…ons sit die ligte aan…dit was ‘n helse storie! Man, ons was nog hier in die kantoor, ek, Botes, Matrone en so jong nursie- toe roep ‘n Medic ons. Ons is toe hieruit- daar na agter toe. Hy staan toe by die ou tannie se deur. Vader kind, toe ons daar kom, le sy in haar bed…morsdood….haar mond so half oop, maar jy kon sien sy is nie meer nie. Matrone het toe ingestap en aan haar gaan voel. Matrone vra toe wanneer ons haar laas gesien het. Ons se toe so driekwart uur terug toe sy haar man gaan afsien het. Nee- se sy toe- kannie wees nie…die ou tannie is al lankal dood! Ons kon dit nie glo nie! Daar staan ek en Botes toe- ons weet nie wat om te se nie! Ek dink ons het haar besoek saam met dokter omtrent so ses uur na ete…toe het sy nog geslaap…dis nou voor die aand se eskapades. Matrone het toe maar die wyksmeester gebel- en hulle het haar hier kom uithaal lykshuis toe.
Die volgende aand kom se Matrone ons dat die koroner gese het die ou tannie was dood hier by agt uur. Ons stry toe- ek en Botes- ons se hulle sy’t met haar man hier links van ons op die stoep gesit en gesels tot tienuur toe- ons het hulle self gesien! Botes het dan vir hulle gaat se hulle moet klaarmaak. Nee se sy toe- die dokter se die gewas het gebars al vroegaand- sy was teen tienuur laaankal dood! Kan jy nou meer?
Jong- nou soek hulle ‘n naasbestaande daar by wyksmeester om haar lyk te kom afteken, maar kry is min. Hulle kry geen adres of telefoon nommer van ‘n naasbestaande nie. Eindelik toe kry hulle haar broer- en hy kom toe vannie Vrystaat af en die teken haar toe maar af. Hy kom toe hiernatoe om haar klere en goedjies te kom haal. Hy se my toe dat sy al jare seniel was…was al by Weskoppies. Niemand wil met haar opgeskeep sit nie- hulle het al geprobeer- maar so vinnig as wat hulle haar vat- so vinnig gaat laai hulle haar weer af- sy maak hulle van hulle koppe af- te “demanding “- se hy toe. Jong- toe hy nou gaat loop, vra ek hom waar haar man- die brigadier was- Ag hemel- toe vra hy my hoekom ek wil weet….het ek hom geken? Ek se hom toe dat hy hier was- en ek beskryf die brigadier. Hy se toe dis onmoontlik- die beskrywing is reg- haar man was ‘n brigadier op Waterkloof jarrre terug- maar die oubaas is laaankal oorlede. Die oubaas het ook hier in hierdie selfde saal gele tot sy dood. Die saal was lankal terug blykbaar ‘n saal vir hartpasiente. Hy se toe ek moes my misgis het. Hoe kan ek my misgis…ek en Botes het hom met ons eie oe gesien! Wil jy nou se ons het twee spoke gesien? Wil jy my se sy gees het haar gees kom haal? Ek weet nie so mooi nie…Botes se sy worrie nie- as hulle wou vry, moes hulle maar vry- sy’s g’n bang vir spoke nie .Ek se jou- van daar af- niemand wil meer hier werk nie…hulle se die plek gee hulle die creeps!”- en daarmee het sus Ramos haar storie ge-eindig.
Wel, ek sou nie kon se sy het haar misgis of nie- dit is moontlik dat mense kan apperasies sien…dat spoke werklik die aarde bewandel…ek myself sal maar stilte op die onderwerp moet handhaaf..ek self wonder nog oor my eie apperasie. Wat my nou omtrent die verhaaltjie interreseer, is die kwessie oor waaroor die twee “ spoke” nou op die bankie gesels het? Was dit oor vervloeee dae…of dalk oor die toekoms daar anderkant…nugter alleen sal weet.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment