Saturday, August 1, 2009

HANNOVER SE SPOOK MEISIE

HANNOVER SE SPOOKMEISIE



‘n Mens lees dikwels van spoke wat jou op eensame paaie, treinspore, huise- of watter ookal alleenige plekke besoek. Die opvolgende verhaal het ek gekry by ‘n ou oom – genaamd oom Gert Venter, nou ook al lank se tyd ‘n siel aan die anderkant van die skeiding homself. Die mense van Nylstroom en Jan Tin in Noord Transvaal sal oom Gert as treindrywer nog goed ter herhinnering kan roep. Hier volg dan oom Gert se storie:


"Andries ja-Dit was lank gelede- nog voor ek by die Spoorwee gewerk het-laat in Desember 1961 toe ek een aand moes deurry vanaf Beaufort-Wes in die Karoo na Colesberg, omtrent so honderd en neentig myl vanaf Beaufort-Wes. Die pad tussen die twee dorpe was maar lank, en baie stil- in die droe Karoo. Ek is so teen nege uur die aand uit laasgenoemde uit, en het maar so tagtig myl gehandhaaf. Ek moes vir dringende besigheid na Colesberg gaan, die dat ek so laat die pad aangedurf het. Om alleen die ou paadjie te ry, was om dit die minste te stel, uiterste moord. Die paadjie was maar lank, reguit en eentonig, sonder baie ander motors. Karoo bossies en berge vergesel jou tot wie weet waar.

Ek het uit Beaufort-Wes uit beweeg, en dit was nie lank nie, toe het die ou dorpie se liggies agter my in die stikdonker nag verdwyn, en ek was alleen op die lange stil en donker pad na my bestemming. Ek was so agt myl daar tussen die vlakte en Karoo wêreld in, en het my salig reggeskuif om die langpad rustig te vat . Die motor, ‘n ou Chevy 2, se ses silinder enjin het eentonig rustig gemurmur-sy skerp hoofligte het die pad taamlik ver verlig.Net toe ek duskant Hanover se stasietjie verbyskuif, merk ek ‘n vae gedaante aan die regterkant van die pad op. Eers het ek my glad geensins daaraan gesteur nie, maar na mooie betragting sou ek sien dit is ‘n jonge meisie wat langs die pad staan, en vir my beduie om te stop. Waar sy gestaan het, was dit die ene vlakte, met geen geboue of bome nie, net die karoobossies, die maan en die berge in die agtergrond. Ek was heel uit die veld geslaan oor die feit dat so ‘n jonge nooi daardie tyd van die nag somaar daar langes die pad staan. Nou ja, geen man wat sy sout werd is, laat ‘n jonge dame daardie tyd van die nag alleen langs die pad staan nie, en ek ook nie. Ek het my vereenselwig dat geen verkeer van agter kom nie, en het toe maar afgetrek langs die nooi. Wat vir my eienaardig was, was die feit dat daar geen enkele siel in die omtrek was nie, geen ligte van enige huis nie, en ook geen motor wat gebreek het nie. Die arme dingetjie was so sestien jaar soos ek haar geskat het, en skamel geklee in ‘n ou dun nagrokkie, boonop nog kaalvoet. Te eienaardig het ek toe gedog.

Ek het langs haar stilgehou, en aan haar beduie om in te klim. Dat die kind koud gekry het, was te verstane, want in daardie geweste word dit bitter koud gedurende die nag. Sy het maar alte dankbaar ingeklim en my gegroet. Sy sagkens, amper onhoorbaar, om verskoning gevra dat sy my moes stop, maar hulle het glo motor probleme aan die anderkant van Hanover gehad, en toe besluit om op die grootpad te wag op hulp. Ek was daar en dan op die plek vies vir die”hulle” om so ‘n blote kind in die donkerte te stuur om hulp te kry, maar het maar verswyg om verder te delwe. Sy het aan my gevra of ek haar na die naaste dorpie op my pad, Drie Riviere, sou neem- sy ken glo mense daar. So gesê-so gedaan. Ek het aan haar my baadjie gegee om oor haar te gooi vir die koue. Terwyl ons toe nou so ry, het sy my ‘n hartseer, maar eienaardige storie vertel. Haar storie was dan as sulks:

“Op ‘n plaas genaamd Langdraai, blykbaar nie baie ver van waar ek haar flussies opgetel het nie, maar aan die anderkant van die berg, het daar ‘n nooi Katryn Steyn gewoon saam met haar ou moeder en die se tweede man, Herklaas. Herklaas was na bewering ‘n baie moeilike mens, en het vir geen duiwel gestuit nie. Hy was ‘n man met sterk oortuigings, en een van hulle was dat meisiekinders in die huis bly totdat hulle hubaar is, en by sononder moes hulle tuis wees. Katryn was dan nou ook een van drie mooie dogters, en ook die oogappel van Herklaas. Sy was die enigste van die drie wat sy eie kind was- die ander tweetjies was van sy vrou se vorige huwelik. Die gesin het rustig daar gewoon op die plaas, met geen ander mense in sig nie, en het maar die pot aan die kook gehou met die Karakoelboerdery. Almal was gelukkig en het elke dag maar voortgegaan met die allerlei take. Nooit het gaste juis kom kuier nie, weens die afstand wat hulle tussen die berge gebly het, en natuurlik ou Herklaas se stug geaardheid. Een keer ‘n maand het Herklaas sy gesin na Laingsburg, sowat tagtig myl vanaf die plaas af, geneem om voorrade te koop. Die lewe was dus vreedsaam op die plaas….totdat die duiwel ‘n hand in die verlope geneem het.
Die plaas langsaan die van Herklaas, so vier myle verder, was vir jare onbewoon- die laaste mense kon dit nie meer maak op die plaas nie- blykbaar uitgeboer, en het toe stad toe verkas. Op een dag was Herklaas en sy gesin maar besig op die plaas soos altyd, toe ‘n vreemde motor die opstal binnery. Die mense het hulle voorgestel as Van Jaarsveld, en Herklaas meegedeel dat hulle die plaas langsaan gekoop het teen ‘n billike som by die vendusie en die dag ingetrek het. Ou Van Jaarsveld was ‘n nie te onaangename man nie, met so ‘n fyn klein vroutjie. By hulle was daar so ‘n opgeskote dogter en haar ouer broertjie- klein Hannes. Die mannetjie was nogal mooi van aansien met so ‘n regop blonde kuif. Dit was ook nie lank nie, toe het hy en Katrien vir mekaar begin ogies maak. Herklaas het die ding gesien, en baie streng met Katrien daaroor gepraat.Volgens hom was sy nog veels te jonk- op sestien- en daar moes nog baie water in die see loop voordat sy aan sulke dinge kon dink. Nou ja, soos ons maar die jonges ken, en die liefde, het dit nie die tweetjies gestuit om gou-gou ander reëlings te tref nie. Hulle het ooreengekom dat sy elke aand om vyf uur op haar perd sou klim en na die berg se kant toe ry met die verskoning dat sy die dier oefening gaan gee. Sy sou hom dan by die ingang van die kloof ontmoet, en dan vir so ‘n twee uurtjies privaat die dinge doen wat jong verliefdes doen, dan weer huistoe. So sou ou Herklaas geen duit agterkom nie. Het die tweetjies maar geweet wie en wat ou Herklaas regtig was.

Herklaas het gou-gou agtergekom dat sedert die intrek van die jonge hanslam, sy dogter skielik gereeld haar perd oefening gaan gee, en dit was nie te lank nie, of die ou neukerige het homselwers ‘n perd opgesaal, en toe sy een aand uitry, haar op ‘n veilige afstand gevolg. By die bymekaarkom plek, het sy gestop, en Herklaas het so paar honderd jaarts agter haar haastig sy perd ingetrek, en aan ‘n Karoobos vasgemaak. Die ent verder het hy toe te voet so buk-buk afgelê. Dit was toe ook nie ‘n honderd jaar nie, of die jonge Hannes daag daar op, en die tweetjies gaan salig onbewus van Herklaas aan die vry. Herklaas, wat die petalje gadegeslaan het, was briesend van woede, en het toe saggies teruggegaan huistoe. Met haar aankoms so drie ure later, het hy haar gekonfronteer, en ‘n hewige argument het uitgebreek, met die gevolg dat sy in haar kamer toegesluit was vir twee dae. Op die namiddag van die tweede aand, toe die moeder kos na haar kamer vat, het Herklaas skielik agter die ou tante aangekom, heeltemal onverwags, en by die ingaan van die kamer gevind Katrien was skoonveld. Hy het sy vrou aangevat, en die waarheid het op die lappe gekom- Katrien ontmoet nog steeds die jonge Hannes- teenstrydig met Herklaas se bevele-met die moeder se medewete. Katrien wag tot haar pa op sy leunstoel ontspan om sy radioprogram te luister, dan klim sy deur die venster, gaan na die stalle, lei haar perd doekvoet so honderd jaarts weg van die huis, en laat spaander na die berg. Dieselfde doen sy omgekeerd as sy terugkom.

Herklaas was onkeerbaar van woede, en het die ou tannie net daar en dan ‘n verdekselse loesing gegee, en die trappe afgestorm. Die ou tannie het gehoor hoe perdepote ‘n rukkie later oor die plaaswerf klap, en gesien hoe Herklaas die veld in vaar. By die hak in die kombuis waar die gewere hang, het sy die .303 geweer vermis. Herklaas moes dit gevat het. Herklaas het pyl reguit na die ontmoetings plek gejaag en die perd ‘n ent terug laat staan. Saggies het hy gekruip totdat hy die twee op ‘n rots sien omhels het. Hy het die geweer oorgehaal, en langs die jonge Hannes na 'n rots aangelê, met die doel om hulle die skrik op die lyf te jaag. Met ingehoude woede het hy gewag totdat hy ‘n stil teiken het, want die gejagery het hom effe laat blaas -en toe die sneller getrek. Nou hier het die duiwel blykbaar sy troef gespeel, want toe die ou die sneller trek, kom daar ‘n skielike bergwind op wat aan die loop van die geweer ruk.Tot sy skok en verbasing het hy altwee kinders sien agteroor val toe die skoot klap! Herklaas het gewag en gewag op beweging, maar geen beweging is gewaar nie. Toe hy opstaan, was hy net betyds om te sien hoe die jonge Hannes op sy perd, wat om die rots agter hulle gestaan het, vlieg, en laat spaander huis se kant toe. Herklaas het die geweer neergesmyt, en nader gehardloop. Was sy hartseer nie groot toe hy daar kom, en sien sy mooie Katrien lê op die grond nie. Sy het op haar maag gelê, en daar was ‘n groot plas bloed onder haar. Met betraande oe het Herklaas het haar omgedraai, maar hy kon oombliklik sien sy was reeds nie meer met hom nie. Haar oe was glasig- en bloed het stadig by haar mondhoeke uitgesypel. ‘n Groot rooi kol op haar bloes regoor haar kortrib het hom laat besef sy koeel het haar met noodlottige gevolge getref. Geen pols was voelbaar nie.Toe Herklaas die sneller getrek het, het sy regsoor gebuig om op Hannes se bors aan te lê, en die skoot het haar reg in die hart getref. Die koeel moes soos die duiwel wil, sy trajek verander het met die geruk van die wind en nie die klip getref het soos beplan nie, maar reguit vir die kinders . Die slag het beide van hulle agteroor gegooi, en Hannes was seker te geskok om onmiddelik op te staan.

Herklaas was so bedroef dat hy Katrien net daar laat le het, en die berge soos ‘n mal dier ingevlug het, om tot vandag toe nooit weer gesien te gewees het nie. Party mense sê hy het van ‘n krans afgeval-andere hy het selfmoord gepleeg, en andere dat hy wel gevang was, maar niemand kon verseker weet nie. Katrien se oorskot is twee dae later opgespoor deur die plaaslike kornet se soekgeselskap-en met groot roubeklag in die plaaskerkhof begrawe, waar sy vandag nog is, en nie lank daarna nie, het haar bedroefde moeder ook by haar aangesluit. Die twee sustertjies het na familie op Somerset Wes gegaan. Hannes is na die voorval Kaapstad toe,en het nooit weer sy voete op die plaas gesit nie, maar sy ouers het nog vir ‘n geruime tyd daar geboer, totdat die plaas weer verkoop was na die ou man se dood.”

Die meisie langs my het so ‘n ruk stilgebly, en toe afgesluit deur te sê dat die snaakste deel van die tragiese verhaal juis die einde was. Baie mense in die omgewing het beweer dat hulle Katrien se gees gereeld, elke jaar op die nag van haar dood, sien dwaal het oor die vlakte in die maanlig naby Hanover, en verskeie motoriste het ook al die gedaante langs die pad gesien, maar as hulle stop-was sy skoonveld. Mense van die omgewing sê dat Katrien tot vandag toe tussen Hanover en die plaas loop en soek na Herklaas om hom te vra waarom hy dit gedoen het, en haar siel sal nie rus voordat sy hom gekry het nie. Aan die ander kant beweer die mense, is Herklaas se siel in die hel oor sy misdaad- en dus is haar siel verdoem om vir altyd hier op die aarde soekend te bly na Herklaas want se hulle-die een kan nooit by die ander uitkom nie!

Ek het ‘n ruk lank oor die tragiese verhaal gesit en wonder, maar niks gesê nie. In stilte het ons toe maar die laaste myle afgele.Ek wou haar nie onnodig ontstel nie. Die tyd was in elke geval verby en ons het by Drie Riviere se vulstasie ingedraai. Ek het gestop en na haar gedraai om te vra of sy nie dalk die dameskamer wou gebruik voordat ek haar by haar mense sou aflaai nie, en skielik besef dat sy nie meer langs my was nie. Toe tref dit my- Sy was al die afgelope tien minute of so nie meer langs my nie!!! Geskok staar ek na die sitplek langs my in die helder ligte van die vulstasie. My baadjie hang nog steeds presies daar agter in die motor waar ek hom aan die hak opgehang het voor ek die nooi opgelaai het, en waar sy flussies gesit het, was daar op die ruglening van die sitplek so‘n groot donkerrooi bloedvlek op die skaapvel oortreksel- presies op skouerhoogte waar die patroon haar getref het!!!! Nodeloos om te sê dat die afstand na my eindbestemming die vinnigste ooit in my lewe was."

4 comments:

  1. Joe ek hoop die oom wat die geskryf het sien my boodskap hier. Ek geniet oom se skryfstyl so baie. Ek het al baie gelees, maar soos oom in so mooi Afrikaans kan skryf... Ek sou dit hoe baie waardeer as oom 'n come back sou maak en nog net een storie hier vir ons (of vir my) hier kan opsit.

    ReplyDelete
  2. Baie dankie Micheal. Jong- ek het lank laas geskryf. Ek sal moet weer die ou spinnerakke wegkrap- maar ek sal kyk wat ek kan doen.

    Groete

    ReplyDelete
    Replies
    1. Goeie Dag. Kontak my asseblief. Kobus Matthews Solo op Facebook. Of deur epos jsongwriterj@gmail.com

      Delete
  3. Best Rules - Baccarat - FEBCASINO
    We can discuss all of the rules that are 샌즈카지노 available in the Baccarat game 바카라사이트 and our rules worrione of play are explained here. A player must be a member of a team to

    ReplyDelete