Geeste, gedaantes, spoke….die “onbekende.” Is dit nie interressant hoe ons as lewende siele partymaal so gefassineerd is oor dit wat in die ” ander wereld” aangaan nie? Ons lees oor die dinge wat ” anderkant” aangaan, ons kyk rolprente oor die duistere onderwerp- ons wonder baie oor wat daar aangaan.Die ironiese deel is dat onsself nie juis baie gretig is om daar anderkant die kloof tussen lewe en dood te gaan ” inloer” nie- of persoonlik met die wesens wat van daardie kant af oorkom- te doen te wil he nie. Baie van ons wonder ook soms oor die hiernamaals- en baie is bevrees om eendag ook in die ” onbekende ” in te gaan. Hoe ook al sy- die feit is dat almal van ons- die een of die ander tyd- daardie ” onbekende” gaan moet troseer.

Daar is vele verhale in ons geskiedenis van mense wat beweer hulle het al met die ” onbekende” te doen gehad- welke goed- of kwaad. Baie mense- meestal sluwe karakters- hou hule besig met fop vertonings waar hulle met die ” ander wereld” kontak maak in ruil vir geldelike vergoeding- en ander weer- kontak maak met die ” anderkant” in séances- iets wat natuurlik uit die bose is en in werklikheid nie geeste van ” afgestorwenes” is nie- maar in realiteit gevalle engele of demoniese magte is. Laastens het jy dan ook die kategorie mense wat beweer hulle het spontaan met die afgestorwenes kennis gemaak- of iemand geken wat met afgestorwenes kennis gemaak het deur gebeure wat in ‘n vroeer tydperk afgespeel het . Die afgestorwene het dan op herhaaldelike geleenthede teruggekom na die teenswoordige toe om ‘n sekere funksie of taak te verrig om sy/haar eie sielerus te bewerkstellig- of het oor die ‘ kloof” gekom om ‘n saak te kom regstel- of summier om te kom wraak neem. Hoe ookal-sy- verhale en fables oor die gebeure is volop in ons eie ou volkie se geskiedenis.

Een so ‘n verhaal is aan my vertel so ‘n hele paar jaar gelede deur ‘n suster van ‘n goeie ou skoolmaat van my toe ek nog so ‘n jong knaap was. Die verhaal het my effe aan die bas gevat en ek het baie nagte- veral as ek moet bed toe gaan- getob oor die storie. Ek sal nou nie kan se of die verhaal wel eg is- en of die suster dit dalk by iemand anders gehoor het en toe dit gemaak het asof dit haar eie was nie- maar hoe-ookal sy- ek gaan u die verhaal vertel soos ek hom nog kan othou.
Gedurende my senior skool loopbaan was ek in ‘n koshuis daar in die Potgietersrus wereld. Nou moet u verstaan- ons “koshuisbrakke” – soos ons alom bekend was- was ‘n gemeenskap op ons eie. Ons was soort van ” afgegradeer” deur die res van die skool se kinders en het nou nie juis deel van die ” elite” gevorm nie. Die term ” koshuisbrakkies“- is dan ook deur die res van die kinders aan ons toegedig omrede hulle gereken het ons ouers het ons ” weggegooi“- soos honde soms hulle kleintjies weggooi- die dat ons gesien was as ” weggooi brakkies.” Dus- ons was dan die gemeenskap se ” weggooi brakkies.”
Baie van ons ouers het ver gebly- en baie van ons ouers het maar ook nie die geld gehad om ons elke naweek te laat huistoe kom nie. Dus- baie van ons moes maar naweek na naweek in die koshuis bly en onsself besig hou. My ouers self het op Nylstroom gewoon- en het ook maar net my treingeld gegee naweke as hulle so voel- nie dat hulle enigsins ” behoeftig” was nie. Ek dink net my ma het soms nie kans gesien om my naweke by die huis te he nie. Soms- indien jy gelukkig was- kon jy party naweke saam met ‘n vriend huistoe gaan wat redelik naby gebly het. So was dit dan dat ek soms naweke saam met ‘n kennis van my – Johan Pieterse- kon huistoe gaan.

Johan Pieterse se ouers het op ‘m plaas genaamd “Handjievol” geboer doer tussen die Sterkrivier berge naby Roedtan. Naweke het hulle gereeld Johan en sy broers kom haal en dan weer Sondae teruggebring. Sekere naweke het Johan my sommer geskraap en gevra of ek wil saamgaan. Dit was nou op so ‘n naweek dat sy suster- Thea- my die storie vetel het. Thea was ook in dieselfde skool as ek- maar ons het nou nie juis baie gepraat nie omrede sy deel van die ” elite” was – en ek- ja…’n ” koshuisbrakkie.” By die huis was dit natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur. Goed- so was ek dan die betrokke naweek op die plaas- en die Vrydag-aand sit ek en Thea toe gesels oor koetjies en kalfies- geensins as verliefdes nie- net as ” vriende”- ( sy was twee jaar my senior) – as mens dit so kan noem- en daar dan het sy my die volgende verhaal vertel:

Andries…..het jy geweet hier loop spoke hier op party van die die plase rond?” -het Thea my skielik heel ernstig gevra terwyl ons sit en kyk na die laaste strale van die son oor die kruin van die Perdekopberg.Ek het Thea half onnosel aangegaap. ” Waar val die girl nou uit met spoke?”- was my eerste gedagtes. Sy moes seker die ongeloof op my bakkies gesien het. ” Nee- ek is ernstig….hier is spoke op party van die plase…”- het sy ernstig geantwoord. Nog steeds het ek haar aangegaap soos ‘n gans wat weerlig gesien het. ” Jy glo my nie ne? Ok…..sien jy doerdie lang ry bome daar teen die einde van die berg..?”- vra sy. Ek het getuur en getuur en my oe op skrefies getrek dat jy my amper kon blinddoek met ‘n ” Dental floss”- …maar kon steeds g’n ge- “bome” sien tussen al die skadus nie. Thea het naderhand uit frustrasie opgespring- my aan die arm gegryp en my so 20 tree verder gesleep en met haar vinger in die verte gewys. My wrintie- ja- as ek nou MOOI kyk- kon ek die effe strepie bome- wat soos dennebome lyk- doer ver teen die hang van die berg sien. ” Hemel”- dog ek….”die girl het vir jou darem bleddie skerp uil-oe om die ou strepie te kan sien tussen al die skadus en stof” – maar aan die anderkant- reken ek toe- bly sy al jare daar- dus weet sy seker lankal van die bome. Goed- toe sy nou tevrede is ek weet wat sy weet en ek sien wat sy sien- sleep sy my weer terug na die stoep muurtjie toe waar ons flussies van opgespring het en gaan plak my weer soos ‘n nat waslap daar neer. Hier vertel sy dan haar storie oor die spoke- die berg- en die strepie bome “doer ver” :

” Langs daardie bome- as jy nou so verby hulle ry- ( – en Thea beduie met haar vinger na die bome se rigting)- draai daar ‘n grondpad regs af na die berg toe. As jy aangaan met die grondpad maak hy so vurk. Aan die linkerkant van die vurk le daar ‘n plaas- ek weet nie meer wat sy naam is nie. My oom het my vertel dat daar baie jare terug – voor ons nog hier gebly het- daar ‘n jong outjie gebly het- sy naam was Gerhard -iets- of -iemand. Die outjie het alleen daar geboer met tabak en grondboontjies. Sy ouers was oorlede en hy het die plaas ge-erf.Hy was die enigste kind gewees.
Nou ek kan nie mooi onthou hoe die ding gebeur het nie- my oom het my vertel, maar ek het al vergeet- maar soos ek kan onthou- was die outjie verloof met ‘n meisie wat op Naboomspruit gebly het. Die meisiekind- se my oom- was ‘n dogter van een van die ryk plaasboere in die omgewing daar-en sy was volgens die mense ‘n baie veeleisende meisiekind gewees- gedink die son skyn uit haar watsenaam uit. As sy hiernatoe gekom het- het sy die arme man ge-hiet-en-gebied asof hy haar slaaf was. Haar ouers het blykbaar nie gehou van die idée dat hulle ryk dogtertjie met ‘n arm plaasboertjie trou nie- en het nooit eers die moeite gedoen om te kom kuier nie.

Wat die man in haar gesien het sal net hy weet- maar die mense – se my oom- het niks van haar gehou nie en het haar die ” Naboomspruit flerrie” genoem. As sy saam met hom winkels toe gaan op die dorp- en sy hou nie van die manier wat iemand met haar praat nie- of sy kry nie die diens wat sy wil he in ‘n kaffee of restaurant nie- het sy al haar poppe uit die kot gegooi en die arme man se naam so krater gemaak voor die mense dat hy baiemaal rooi gesig daar uitgestap het. Die twee het meestal soos kat en hond baklei.

My oom se die verhouding het omtrent so jaar aangegaan- toe die outjie skielik ‘n ander meisie hier van Potties ontmoet- en haar huistoe gebring het. Sy was ‘n oulike meisiekind- sulke lang blonde hare- effe mollig- maar ‘n baie mooi gesig en baie vriendelik- totaal die teenoorgestelde van die girl op Naboom. Sy het tot die outjie in die aande gehelp koeie melk- en het altyd brood en beskuit gebak as sy naweke hier was….’n regte boeremeisie. Die twee het mekaar meer en meer gesien en die meisiekind was amper elke naweek hier op die plaas. Die vehouding het ernstiger geraak en die outjie het al minder die mesiekind op Naboom gaan haal. Die girl moes seker snuf in die neus gekry het- want dit was nie lank nie- loop die stories- of daar was onweerswolke oor daardie plaas.
Elke naweek was die girl van Naboom daar en baie keer – se die mense- het hulle gesien die mannetjie kom uitgejaag met sy bakkie hier by die grondpad af- en kom eers laat die aand weer terug. So het hulle aangekarring- en die outjie het naderhand sy hande vol gehad met die twee meisiekinders. Hy het begin die een van Potties weeksaande haal- en die een van Naboom naweke. So het die arme man rondgehop van die een meisie na die ander soos ‘n hond wat na die regte plek soek om te skyt.

Die man kon seker naderhand nie meer die pas volhou tussen die twee girls- en nog die boerdery op die plaas nie- en dinge het begin skeef loop. Of die outjie begin moeg raak het vir die speletjie- en of die rondhoppery begin op hom inwerk het weet niemand nie- maar hy het totaal begin ophou die girl op Naboom haal- en het elke naweek die girl op Potties huistoe gebring.So het dinge aangegaan vir so 3 maande se my oom- tot een naweek wat die twee die Vrydag-aand weer op die plaas was- besig om vleis te braai- se my oom. Skielik- nul uit die Noorde- slaan die girl van Naboom skielik daar uit in so fancy kar. Sy betrap toe natuurlik die twee op heter daad daar. Of hy en sy steeds verloof was- of uitmekaar- weet niemand nie, maar daardie aand het alle hel losgebars op daardie plaas.

 Die Naboom meisiekind het een groot bohaai opgeskop- en nie lank nie- was dit een geskreeuery op die ander. Naderhand – se my oom- het dinge hand-uit geruk met die n
Naboom girltjie wat letterlik handgemeen geraak het en kaalvuis onder die seun ingeklim het. Blykbaar het sy die outjie so toegetakel dat sy gesig vol krapmerke was. Asof dit nie genoeg was nie- het sy skielik soos ‘n helleveeg- omgeswaai en die meisiekind van Potties bevlieg en haar aan die hare gegryp en met die vuiste begin slaan- een helse kattegeveg het toe losgebars.

My oom se die meisiekind van Potties was ook nie lam nie- en het self goed ingeklim onder die Naboom girl met die vuiste en blykbaar van haar tande uitgeslaan want sy het ‘n bietjie meer gewig gehad en het naderhand die oorhand begin kry. Die outjie het nie geweet wat om van die affere te maak nie- en het probeer die twee katwyfies uitmekaar kry- maar tevergeefs. So in die bakleiery en deurmekaarspul het die outjie die Naboom meisie- waar die twee vroumense op die grond stoei- aan die nek beetgekry en haar met een helse ruk probeer afruk van die Potties meisie af- maar toe gebeur die onvoorspelbare. Die Potties meisie het haar arm om die meisiekind bo-op haar geslaan en wou haar kop vasklem- net op die oomblik toe die outjie die naboom meisie aan die skouer of haar nek ruk. Met hom wat hard opruk- en die girl se gewig van onder af wat haar aftrek- het die twee in die deurmekaarspul teen mekaar gewerk en die Naboom meisie se nek per ongeluk gebreek in die proses. Sy het blykbaar net pap geword en sommer voor-oor op die Potties meisie geval- morsdood.

My oom se daar was drama op drama. Dievolgende wat die mense hier rond sien- is net polisiekarre en ambulanse wat daar by sy grondpad afjaag met sirens. Nuuskierige bure het daar langs die pad by die bome gestaan vir ure. Die girl se pa-hulle het van Naboom af gekom- en nog drama het gevolg met die pa wat die outjie rondgejaag het daar voor die polisie en ambulansmense met ‘n pistool. Naderhand het die polisie die pistool van die ou man gevat en hom en die outjie in twee polisie trokke hier weg en die girl in ‘n polisiekar- se my oom. Die twee is vort Potties toe- en soos my oom se- is die outjie en die meisie toe hof toe – maar is onskuldig bevind op moord- maar aangekla vir strafbare manslag. Altwee is laat gaan met opgeskorte vonisse- en die twee het toe teruggekom plaas toe. Van toe af – se my oom- het die twee maar eenkant gebly en nie meer met die mense in die omgewing gemeng nie. Niemand het geweet wat die twee doen nie en my oom se hulle is net nou-en-dan op die dorp of by die kooperasie gesien.

So het tyd toe verbygegaan- en die hele affere het stadigaan vergete geraak. Of die twee toe getrou het- of steeds net saamgebly het- weet niemand nie- maar eendag toe jaag daar weer skielik ‘n klomp polisie karre en ambulanse die pad daar af. Niemand het geweet wat nou weer op daardie plaas aan die gang was nie. Weer het die ou storie himself herhaal wat so paar maande terug gebeur het -met mense wat langs die bome staan en ginnegaap. My oom se niemand het geweet wat nou weer aan die gang was nie- en net gesien die polisie drom om die huis, ‘n lyk word in ‘n bakkie gelaai- en die outjie word weer in ‘n vangwa hier uitgery- Potties toe. Die polisie het van daai ” tape” om die plek gedraai en niemand kon ingaan nie.

My oom se hulle het eers heelwat later by mense in die dorp uitgevind dat daar stories rondloop oor wat gebeur het. Soos mense praat- het die outjie in die hof verskyn- en blykbaar aan die landdros gese hy en die girltjie was besig om die kaggel aan die brand te sit- toe daar skielik ‘n witterige gedaante van buite af in die sitkamer ingesweef kom. Die outjie het gese dit het amper soos ‘n vlieswolk gelyk wat ingewaai gekom het. Voordat hulle mooi tot verhaal gekom het oor die gedaante wat soos blits ingewaai gekom het- het die gedoente skielik BINNE-IN die meisiekind se liggaam ingevaar voordat hulle kon besef wat aangaan. Toe die ” ding” in die meisie se liggaam ingaan- het die meisie skielik sonder waarskuwing van haar trollie afgeraak- en die outjie sommer sonder rede bestorm met ‘n vuuryster waarmee sy die vuurerd gekrap het.

Hy was skoon verbysterd en uit die veld geslaan en het nie mooi geweet wat aangaan nie . Eers het hy probeer keer- maar die girl het hom met soveel woede gemoker met die vuuryster en in die proses sy arm hier bo gekraak. Uit selfverdediging en skok – het hy gese- het hy die meisiekind van hom af weggestamp. In die proses het sy toe oor die hoop hout wat voor die kaggel gele het- gestruikel en agteroor met haar kop op die vuurerd se rand teen die baksteen lysie geval. Sy het op die grond neergesyg en nie weer opgestaan nie….blykbaar het die slag ‘n gat in haar kop veroorsaak en in die proses haar brein beskadig. Sy was ‘n ruk in ‘n koma in die hospitaal op Potties- maarhaar ouers het toe die masjiene laat afskakel omrede die dokters gese het sy is reeds breindood.

Verder- het die outjie gese- was dat die oomblik toe die girl neerval op die grond en stil le- het die ” ding” weer uit haar liggaam uitgevaar- en so ent weg gaan staan en toe skielik die vorm van sy eerstydse meisie van Naboom begin aangeneem! Sy het glo hom ‘n ruk aangegluur- skielik skel begin lag- en net so vinning soos sy verskyn het- weer by die oop sitkamer deur uit verdwyn. Hy het gese hy weet sy vorige meisie het kom wraak neem op hom en sy nuwe liefde omrede hy haar gelos het vir die meisie – en hulle haar dood veroorsaak het- en so dan gesorg het dat sy nuwe meisie ook doodgemaak word.

Die landdros het blykbaar maar nie eintlik die storie geglo nie- en die outjie is gevonnis na Weskoppies toe- waar hy vandag nog blykbaar sit- of al dood is- ek weet nie. Die staat het die plaas op die einde kom vat oor agterstallige skuld.Daar het vir ‘n lang ruk niemand naby die plaas gekom nie en hy het ‘n hele ruk totaal verlate gestaan met die Kakiebosse wat oorgeneem het. Mense hier rond se sekere aande hoor hulle steeds ‘n skel en vreesaanjaende gelag uit die huis kom wat selfs teen die berge se kranse eggo – en ander se weer as hulle laataande by die opstal se hek verbyry- sweer hulle hul sien ‘n waserige gedaante van ‘n meisiekind in ‘n wit gewaad voor die huis rondsweef. My oom se nuwe mense het intussen die plaas gekoop- ‘n ou oom en tannie- maar die het nog g’n woord gerep oor spoke of so-iets nie. “

Wel – ek het Thea net oopbek gesit en aangaap- en het gevoel hoe die hare op my nek beginne regopstaan. Hier sit ek tussen berge en klowe- dit raak sterk skemer- en daar- binne oogafstand- vertel die doedie my – loop daar ‘n dooie girl rond wat al giggelend al wat leef en beef hier rond die horries gee! Thea het my stilweg met so pruilmondjie dopgehou. ” Maak die storie jou bang?”- het sy skertsend gevra. Ek het haar so skeef-weg aangekyk en besluit die girl wil met my intelligensie ploeg om net weer haar maters by die skool te gaan vertel hoe bang Jannie ek is. Ek het opgestaan- begin lag en haar vertel dis ” ouvrou stories.”
Min het sy geweet ek was eintlik hondbang. Daardie aand was een baie lang nag gewees- ek het so een-oog-oop-een-oog-toe geslaap- en elke vervloekte skaduwee in die kamer het vir my gegluur. As ek my oe toemaak- en skielik weer oop- sweer ek die kapstok het nou-net ‘n ent nader aan my geskuifel! Die uiteinde was dat ek die hele nag amper wakker gele het- en as die hoenders buite oor iets geraas gemaak het wat hulle slaap versteur- was ek kierts regop in die bed.

Ja swaer- so is mens maar- en soos ek gemeld het- het die storie my baie jare daarna nog gepla. Gelukkig weet onse Thea nie werklik HOE bang ek daarna was nie. Of die storie water dra- geeste wat in mense invaar en wraak neem…wel…sal nie weet nie.