Saturday, August 1, 2009

OOM NIEK SE KRAAI




OOM NIEK SE KRAAI



Vanmelewe se dae-toe ek nog so ‘n jong tjokkertjie was, het ek ‘n paar jaar by my oom-hulle op die plaas moes bly- tipe van aanneem kind. My eie moeder was nou nie ‘n hen wat haar kuikens onder haar vlerk wou he nie- en my oom-hulle het my maar geherberg. Lieflike mense gewees- Oom Dewald en tante Bessie. Hul plasie was daar in Petrus Steyn se wereld- Vrystaat sal dit wees. Gepas in die omgewing waar hy gele het, was die naam ook dan Fonteinriet gewees- naby ‘n spruit wat sy ontstaan gehad het uit ‘n fontein begroei met riete. Ek kan die plaas nog in my geestesoog sien- die afdraai by die motorhek, die windpomp, skuur- en die ou dubbelverdieping opstal uit ruwe klip soos meeste ou huise in daardie dae was. Agter was die hoenderhokke- bult af die varkhokke- met die beeskrale neffens regs van die plaashuis.

Oom Dewald en tant Bes het al hul lewe daar gewoon na hul getroud was. Drie kinders gehad- Christa die oudste, Hennie en Hannie die jongste. Oom Dewald het met koring en mielies geboer, en was maar ‘n stillerige man, groot van postuur. Met stille fermheid het hy die plaas bestuur- en het nie nonsense gevat nie. As hy gepraat het, het jy geluister- of jy kind, arbeider, hond of wat ookal was. Rebelsheid of ongehoorsaamheid het vir almal dieselfde straf op die hals gehaal- ‘n goeie loesing met die voorslag.

Die verhaal wat ek nou hier gaan vertel, het die oubaas my as kind vertel- en ek vra om verskoning as ek iets sou uitlaat- deur die jare het party feite my ontgaan- agt en dertig jaar is ook maar lank. Nou ja- hier volg die verhaal soos oom Dewald my vertel het op sy kort manier van praat:

“ Anneries( Sy manier van Andries se)- ja jong- jy vra my nou uit oor ‘n moeilike ding- die storie van Ou Niek van Rensburg en sy kraai. Jong- dit was ‘n lelike affere- ek dink nie eindelik ek moet jou vertel nie…net-nou maak jy bednat,-maar as jy nou moet hoor sal ek maar seker.( Hier het die oubaas sy geliefte “ Rizza” sigaret begin rol uit sy twaksak) Ou Niek het daar agter gebly…as jy so met die groot grondpad na die ou swart kerkie by daardie groot kruising toe toe ry..sien jy daardie bome doerrr teen die kam van daardie heuwel? Daar gaan so grondpad agter hulle af na die regterkant toe…jy kan hom nou nie van hier af sien nie…ou Niek se huis was so myl verder af met die pad op die regterkant. Ou Sakkie van Rensburg (nie familie nie) bly nou daar langsaan om ‘n ogie oor die plaas te hou- die is nou heeltemal verlate en in die mark. Niek was nie aldag by sy sinne nie…so bietjie kokaai in die kop gewees. Jong…ou Niek het van dat ons hom ken, so ‘n hans kraai gehad…’n regte verpesting. Hy’t altyd op jou kom sit en jou pen, brille en allerhande goed kom steel…kon nie ‘n verdekselse blink ding uitlos nie! Ek wou die ding al half dood slaat met my kierie. Kon die ding raas…en kuiken steel..magtig...nee..ek het niks van die ding gehou nie.

Man..wat ek kan onthou…was die ding se naam Oubaas…so swart affere met ‘n spierwit bors. Hy het altyd vir ou Niek “Gogga” geroep…ek weet nie waar hy dit geleer het nie. Ou Niek en die kraai was altyd saam- as ou Niek lande toe gaan, was die ding saam…het bo hom gevlieg, of op sy skouer gesit…eintlik baie mak gewees. Altyd ook bo sy kar gevlieg as hy iewers heen gaan…nes ‘n bleddie waghond! As hy kom kuier- het almal dit geweet- jy sien eerste die kraai..dan die kar. Aan die anderkant het die voel weer niks van sy vrou Dina gehou nie. Nou – ou Dina was maar ook nie juis die skerpste potlood in die pakkie nie…sy en Niek het mooi bymekaar gepas…kon die grootste lot twak verkoop…eintlik was altwee maar bleddie stupid as jy my vra, maar nou-ja…hulle het bymekaar gepas. Ja, die kraai-die ding was mal gewees- nes sy baas en die se vrou . Snaaks hoe sulke tipe karakters altyd saam koek. Nou ja- Wanneer Dina saam met Niek iewers heen geloop het- dan het die affere sommer van nerens gekom en haar toegetakel. Hy’t haar gepik, gekrap, met die vlerke geslaan…die voel het besete geraak as hy ou Dina saam met Niek sien…seker maar baie jaloers op Niek gewees. Ek het Niek gewaarsku om ontslae te raak van die gemors, hy gaan nog moleste maak, maar Niek was hardkoppig…magtig…hoe kan ‘n man so ‘n ding bo sy vrou se veiligheid verkies, maar nee…ou Niek wou g’n niks weet nie. Klein Herman Jones het ook al by die kerk vir hom gese hy moet die affere doodskiet…hy gaan nog probleme met die ding optel. Nee wat…ou Niek het sy dinges aan ons almal afgevee! Nou ja, ons het maar hom gelos om sy eie pot te grawe…dit het buitendien niks met ons uit te waai as hy die ding nou wil aanhou of nie.

Jong, eendag toe bel Niek ons hier uit die bloute en vra of ek nie gou Dina kan dokter toe vat nie…die verdekselse gevaarte het haar weer in die hoenderhok toegetakel..en haar in die oog gepik. Ek en Bessie is toe maar soontoe. Daar gekom het Dina op die bed gele…die bloed stroom hier(-en hy beduie met sy hand teen sy gesig af-) so af..haar oog se water was alles uit die dop uit..net so jellierige affere wat hier op haar wang hang- en sy skreeu iets almintigs.. Bes het ‘n gaasdoek iewers gekry en die op die oog gesit. Nou ja…toe is ons daar vort Petrus Steyn toe met haar. Daar gekom, is sy toe reguit teater toe.Ai..die arme skepsel het lelik gelyk. Nou ja…daar was toe niks wat ons meer kon doen nie…en het toe weer teruggegaan na Niek se huis toe. Daar gekom, kry ons die ou swernoot in sy kombuis…bedremmeld soos ‘n mannejieskat wat in die water geval het. Op die tafel voor hom le die kraai toe…morsdood. Nee, se hy toe…hy het maar van die ding ontslae geraak. Hy sit toe ewe morbied daar soos ‘n bekaf lokasiebrak en kerm oor die verdekselse kraai…nie ‘n duiwel eers bekommerd oor Dina nie! Ek was lus en steek hom sommer net daar en dan onder die voorslag-ou man of te not- jou tannie moes net keer of ek het hom wragtag op die plek gefoeter! Ek het hom sommer daar vasgetrap en sy leviete goed voorgelees…as die ou blikskottel vroeer na goeie raat geluister het- het die ding nie gebeur nie.

Van die storie af wou niemand in die distrik eers meer by die ou swerkater gaan kuier nie…almal was goed die hel in vir hom….die ou het skoon maar van die kerk af beginne wegbly. Ek het so nou en dan maar gaan inloer…nie vir hom nie…maar om te kyk of Dina nog reg was..jou tannie was baie bekommerd oor haar. Nooit het Niek eers die moeite gedoen om te kom groet nie…was seker maar beneuk omdat ek hom vasgevat het. Ek het maar toe dinge daar laat staan. Anneries jong, dinge het met die tyd maar weer aangegaan soos normaal…niemand het meer hulle aan die ou klomp gesteur nie…ons het beginne van die ding vergeet…so nou en dan maar daarvan gepraat…maar dinge was verby…Dina het haar oog verloor…die gevaarte was dood…en ou Niek het op sy eie aangekarring…nugter weet wat hy alles aangevang het. Ons het maar nie ingemeng nie…elke hoenderhaan het maar op sy mishoop gebly….dit was maar die beste. Ek het hom so nou en dan nog by die Ko-operasie gesien…maar hy was maar stug. Ek het maar gedog te hel met hom!

So met verloop van tyd het al die stof gaan le…geen haan het meer oor die storie gekraai nie….tot eendag toe Dina hiernatoe bel en se ons moet gou kom…daar was ‘n ongeluk! Ek kan nog onthou- dit was ‘n Saterdag middag…ek en Bes het net van Oom Tien afgekom. Ons het inderhaas weer in die Pontiac gespring en is hier weg. Daar gekom, was ou Dina buite haarself histeries. Tussen die gehuilery deur het sy gese ek moet na die koringland toe gaan agter die skuur…Niek le daar…hy het ‘n ongeluk gehad. Ek het toe so gedrafstap…dit was nie te ver nie, tot waar ek hom by die trekker gekry het. Hy het op die grond gele…en die trekker het nog staan en luier. Ek het gaan kyk of hy darem nog kan gehelp word. Ou seun…ek sal daardie gesig nooit vergeet nie! Hy het so op sy sy gele- en toe ek hom omdraai, toe sien ek altwee sy oe is uitgepik. Hy was morsdood…en volgens die merke op die swart turf kon ek sien die trekker het bo-oor hom geloop. Sy ou ryer wat agter op die planter gery het, het doer eenkant gesit en grens. Jong- ek moes die skepsel amper self ook doodmaak om iets uit hom te kry, maar wat hy gese het, laat my hare tot nou toe nog rys. Hy het gese dat hy en Niek was besig om te plant, toe daar skielik ‘n swart kraai uit die lug soos ‘n valk op Niek afduik en hom in die gesig toetakel. Ou Niek het met die deurmekaarspul van die trekker afgeval- en onder die agterwiel beland. Die skepsel het so geskrik, hy het afgespring en laat spaander vir so ent, toe weer omgedraai. Dis toe dat hy sien die kraai sit op Niek se gesig en pik sy oe uit. Wat die ou skepsel laat ingee het, en hy sweer daarby, was toe die onding klaar was met sy gruwelwerk, het hy opgevlieg- en in so sirkel oor hom gevlieg, terwyl hy aanhoudend "Gogga, Gogga, Gogga"- geskreeu het.

Ek het die ou nie geglo nie…dit was mos bleddie bog…maar liewer stilgebly. Nou ja…ek het hom toe maar huistoe gevat en jou tannie het hom swart tee ingejaag vir die skok. So drie dae later het ons ou Niek gaan begrawe daar by die kerkhof bo by die populierbos. Na die begrafnis het ‘n paar maande verbygegaan toe ek eendag daar stop omdat jou tannie wou he die werkers moet die kampie gaan skoonmaak…dit was bietjie toegegroei. Anneries…daar het my nekhare regop gestaan. Kyk, ek glo nie aan spoke nie, maar toe ek so instap by die klein hekkie…dit was al sterk skemer…net so na melktyd, toe sien ek hom! Bo-op Niek se graf het die bleddie verpesting gesit. Ek het eers gedog dit is ‘n ander kraai, maar toe ek na hom aanstap, vlieg die gedoente op, hy draai so oor my- en gaan sit op die grafsteen en daar begin hy skreeu:” Gogga,Gogga,Gogga”. Ou seun, ek is net daar en dan kort-om en het gesorg dat ek by die huis kom!

Jou tannie die glo my nog nie..sy dink ek is besig om seniel te raak, maar my magtig man- ek het die ding dan oop en bloot gesien…tot Miekie..die foksterrier..het dan die ding bestorm en tekere gegaan soos ‘n besetene…raak die hond ook nou seniel? Jong, ou Dina is laas jaar – voor jy hier gekom het- oorlede…en sy het ons ook daar gaan begrawe…maar daar wqs gelukkig geen kraai nie. Dit lyk my die ding het sy mes vir ou Niek ingehad omdat die hom doodgeskiet het! Die plaas staan nou al leeg van dat ou Dina oorlede is…niemand wil hom koop nie. Werkers wil nie daar gaan werk nie…die storie het klaar sy rondte gedoen. Die volkie hier se hulle kan sweer hulle het ou Niek en sy mal kraai party keer gesien rond dwaal op sy plaas…en hulle loop ver ompad as hulle daar moet verbygaan. Ek bly maar liewer ook daar weg…as die ou malle en sy helvogel daar wil rondploeter, dan moet hulle maar so maak jong. Nou weet ek nie…eendag sal iemand seker maar weer daar gaan boer…maar ek…nee dankie…ek het genoeg van mal gedoentes gehad!"

Ja, as ‘n mens oom Dewald se storie kan glo, dan wil dit voorkom of geeste van gestorwe diere, nes die geeste van mense, ook blykbaar kan kom wraak neem vanuit die graf. As dit wel die geval sou wees, sal die skrywer maar flussies sorg dat hierdie brakkie van mevrou maar die allerbeste behandeling kry….voordat die my ook eendag na sy afsterwe miskien aan die hakskeen wil kom byt!

No comments:

Post a Comment