Friday, November 2, 2012

DIE LAASTE SKOF





Spookstories is seker een van die mees interressantste onderwerpe om oor te praat, skryf- en te wonder.In die ou dae was spookstories so deel van menig volkere se geskiedenis. Mense het om kampvure gesit en spookstories vertel voor die kinders gaan slaap. Mense het boeke oor spoke geskryf….en mense regoor die werleld in alle tale, kulture  en volke-  het elkeen hul eie legends gehad. Vandag- wel- wil dit voorkom asof spoke nie meer die spoke is wat ons vanmelewe geken het nie. Daardie jare was daar nie so veel moord en doodslag soos vandag nie. Mense het ver van mekaar gewoon- en  daar was ook nie so baie geboue, stede en ligte soos vandag nie.Mense het meer tyd op hande gehad om persoonlike kontak en kommunikasiebande  met mekaar te verstewig om die tafel en om die braaivleis vuur.

In daardie jare was een moord- of een dood wereldnuus- en daar was baie mannekrag en toegewydheid aangewend om die dood van een persoon op te klaar- of die oorsaak te bepaal- of die skuldige aan die pen te laat ry. Daardie jare het die mensdom ook meer respek en deernis gehad vir ‘n afgestorwene. ‘n Kontrei kon lank praat oor die een-of-ander bekende wat oorlede is- en lank daarna het die gemeenskap steeds ou Koos of ou Miena onthou.

 Juis as gevolg van die besondere nagedagtenis wat mense gekoester het vir die gestorwenes omrede hulle so na aan mekaar was- het spookstories oor die betrokke afgestorwene natuurlik ook begin die loop neem. Dit is seker maar ‘n soort van “herinnering” aan iemand wat na aan jou was- en deur sy spook te laat begin lewe- is dit ‘n manier om die oorledene se nagedagtenis te verewig in jou eie nageslag se geheue. ‘n Ander sy is natuurlik spookstories wat vir die ene fantasie opgemaak is- ook maar seker om ‘n tipe van monologiese “ volksverhaal” te skep wat deur die opvolgende geslagte kon oorvertel word. Hoe ook-al sy- spookstories het saam met elke volk se ryp geskiedenis ingeweef geraak- en help deel vorm van die volksbestaan. In die goeie Woord word daar al verwys na ‘n “ spook”- deur die dissipels wat Yashua aangesien het as ‘n “spook” en bevrees geraak het. Die term “ spook” is natuurlik ook wyd- en kan vele onverklaarbare verskynsels insluit….maar in die dae van die oues was ‘n “ spook” eenvoudig “die gees van ‘n afgestorwene.”

Vandag- ja wel- die dood is so allerdaags om ons dat dit soms nie eers die nuus haal nie. Die stede het slagvelde geword en moord en doodslag is aan die orde van die dag. In die verligte stede met hulle gewoel, geweld, toestroming van derduisende mense elke week, aanrandings , motor kapings- en bende bedrywighede is daar nie meer so-iets soos “respek” en “ deernis” vir ‘n “ afgestorwene” nie….watwou nog bekommerd wees oor “ spoke.”  Met die TV, flieks en rekenaar wat die wereld oorgeneem het- is daar moord en doodslag om elke hoek en draai- selfs al word dit nageboots. Ons kinders vandag word in ‘n baie geweldadige wereld groot- hulle leer moordadige speletjies speel, raak betrokke by kultusse waar die dood die hooftema speel, raak betrokke by bendes wat die dood as goedkoop handteer- en ken dus nie meer iets soos ‘n “spook” nie. Nou-die ander dag vra ek toe kwansuis my een kind of hulle al spookstories gehoor het. Nodeloos om te se al drie van my enkel byters het my aangegaap soos ‘n klomp ganse wat ‘n weerligstraal gesien het. Dit lyk my deesdae die naaste wat die nuwe generasie aan die term “spook” kom- is wanneer hulle “ spook” om hulle “Facebook Profile” op te datteer vir die “boyfriends” of “girlfriends.” In ‘n baie tragiese nadraai het die stede en moderne tegnologie  soos rekenaars, selfone, I-Pods en wat ookal nog uit Japan uitbroei- dus die ou volks gebruike kom vermoor. Al wat deesdae naby aan “ spoke” kom- is die sataniese films waar geweld en bonatuurlike kragte uitgebeeld word.

Hoe ookal sy- om vandag nog ‘n “spookjagter”  in ‘n moderne stad te wees- is soms moeilik omrede die ou gardes een-vir-een ook al “spoke” geraak het- en my ouderdom geslag ook die helfte al gaan “spook” het….en die res binnekort ook die lang pad na die Sipresbome toe gaan aandurf. Dit gaan die wereld laat met ‘n leemte vol nuwe generasies wat geen benul het wat aangaan buite die wande van hulle “tablets” en “I-Pods” nie.

Hulle gaan totaal die begrip “ volksverhale” verloor- en stelselmatig die kennis van verbale kommunikasie ook  verloor in hulle nuwe pseudo kuberwereld. Het u al ooit deesdae opgemerk  hoe  daar in byvoorbeeld ‘n restaurant twee ouers en twee kinders om ‘n tafel kan sit vir twee ure- en geen woord met mekaar praat nie? Al vier sal daar sit en hulle besig hou met “ Mixit, Whatsapp” – of die een of ander derglike ding op hulle Jappanese speelgoed in hulle hande…nie ‘n WOORD vir mekaar nie! Dit herinner my soms so aan daardie fliek “ Matrix” – waar die akteur Keanu Reeves die hoofrol speel in so ‘n kuberwereld waar alles wat jy sien en beleef nie dit is wat jy sien en beleef nie- maar waar jy enige fantasie omgewing kan skep wat net betstaan in jou onder bewussyn- totaal verwyderd van die realiteit en werklikheid. Dit is die jammerlike gevolg van ons stede.

Nou ja- soos ek gese het- om ‘n goeie spookstorie in ‘n stad op te spoor sonder om die Amerikaanse duiwels webwerwe te besoek- is so skaars soos ‘n maagd in ‘n kraamsaal. Ek moet erken- ek het baie lank in die stad waar ek bly- gesoek na ‘n goeie verhaal- nie dat ek enige” spoke “in die stad verwag het nie. So in my soeke het ek eendag per abuis- by my werk nogal- ‘n Kaapse kleurling man raakgeloop. Hy was nog van die ouer geslag. Nou ja- een ding wat ek van die Kaapse mense geleer het- is dat hulle ‘n manier het om dinge te kan se wat jou soms kan laat krul van die lag- en soms hulle taalgebruik- eie aan die Kaap- jou laat wonder wat die mense nou eintlik se omrede hulle ‘n “ lingo” het wat net hulle verstaan. Dit het my ongeveer drie jaar geneem om hulle manier van praat aan te leer.

Die oubaas se naam was Riedewaan Van Der Westhuizen- so lang maer man wat kon goed stories vertel. Nou of Riedewaan- of “Warnie”- soos hy alom bekend was- altyd die waarheid vertel het- is ook nog te bespiegel- maar dat die man kon wegraak in sy eie wereld as hy eers begin praat- was nie allermits nie. Die spookstorie het ook net eendag uitgeborrel toe die manne so om etenstyd by die werk in die werkswinkel sit en gesels oor die en daardie flieks wat ons gesien het- onder andere gru-spook flieks soos “The Shining, Chukkie, Children of the Corn,Friday the 13th,Carrie, Exorcist“ ens….al die bonatuurlike rillers.  So tussen die flieks deur- het Riedewaan skielik uit die bloute ons vertel sy pa het hom ‘n regte spookstorie vertel toe hy nog ‘n kind was. Nou ja- lieg of eg-die een wou ek hoor en het die man sommer daar en dan gepols om nou te vertel waar hy sy pa die “spook” of “spoke” raakgeloop het. Ek het al ook geleer as iemand ‘n interressante onderwerp bespreek- gaan onse Riedewaan nou-nou uitval met ‘n staaltjie van sy eie. Die man het ook orals gedwaal en alles beleef in sy lewe lyk dit my.  Die oudste het eers so gekou aan sy pruim- en die toe met so boog in die ou blou asblik in ons werkswinkel ingespu en reggemaak vir die “ groot vertel.” Hier is dan Riedewaan se verhaal ( Ek vertel hom nou mooi min-of-meer op sy manier en sy terme):

“ Nee – julle manne  sien- my se pa was jare lank hier in die Kaap gewerk op die spoorwee- nog voor die “Darkies” oorgevat het…nog in die ou tyd. My pa het gewerk as ‘n trok maintenance outjie- wat noem hulle die manne wat nou weer so op en af loep langs die trein en die treine se wiele tik-tik met daai hammetjie?” – vra die ou.. “ ‘n Trok ondersoeker”- help ek hom toe reg. “ Ok”- se hy toe en tuur ‘n bietjie in die verte in om die woord bietjie kans te gee om in te sink in sy literatuur . Riedewaan was ook nou nie die skerpste potlood in die pakkie op skool nie- as hy ooit op skool was …bygese. “ Ok”- se hy toe weer. “ My se pa was die outjie wat geloep het en die trokke se wiele slaat met daai lang hamertjie om te hoor of daar nie miskien ‘n wiel is wat ‘n kraak in het nie- Andries weet mos? Nou- nou het my pa daai tyd ‘n tjommie gehad wat ‘n treindrywer was- ok daar innie Kaap.( Wanneer die kleurling bevolking praat van die “ Kaap”- word daar eintlik verwys na Kaapstad self.)  Die twee het saam da’ innie Kaap gewerk….bymekaar soos altyd….inmekaar ge”-mix” nes Brandy en Coke…nooit ytmekaar nie.  Partykeer het hulle dieselfde “shifs” gewerk- anner tye het sy tjommie two o’clock begin en eers laat die aand klaar gemaak. My se pa was “steady shifts”- van “eight o’clock”  tot “five.” Al het hulle “different shifts” gewerk- het hulle nog altyd mekaar gesien as hulle “shifts” oormekaar gaan. My pa se as hulle die eerste keer bymekaar is elke dag- da’ gaan hulle sommer da’ in een van die “coaches” wat da’ eenkant op ‘n dooie lyn staan- en dan ga’ maak hulle eers ‘n pypie….dit was elke dag se storetjie…”never missed a moment.” My pa se tjommie het altyd die laaste trein- 2510- vannie Kaap af daar na Wellington se kant toe gery en trug….elke aand dieselfe trein en dieselfde route. Sy trein het altyd so teen half past nine o’clock geloep- dan het hy so net voorof na  half past ten  o’ clock terug gewees innie Kaap. My se pa het altyd so five o’ clock die trein gevat daar na Netreg se kante toe.

Nou-( Riedewaan het daarvan gehou om altyd sy sinne met “ Nou”- te begin…so al asof hy wil klem le op elke sin.) my pa en die treindrywer was groot chommies gewees.  Hulle het baie naweke saam “slowboat” gerook- sommer ‘n arm so oppie naweek, bier gedrink- en daar was altyd cherries gewees ok. My pa het altyd geld gehad- ek wiet nie waar hy dit gekry het nie,- maar die motjie ( ma)- het ook niks gese nie want sy wiet sy moet maar bekhou- my pa sorre goed vir ons…ek en my broers en die klimmetjie ( suster.)  Die Boere( Polisie) het altyd daar ytgelslaat met die ven – dan kom hulle my se pa en sy tjommie skud vir dagga. Hulle wiet my se pa en sy se tjommie het zol- maar hulle kon dit nooit kry nie. My se pa het altyd sy stash onder die hys se vloerplanke weggesteek.

Nou- so het my pa en sy se tjommie lank saam geloop- as jy my se pa sien- dan moet jy net wiet sy se tjommie is ook net daar iewers….altyd saam nes broers.Hulle het altyd vir mekaar se rugge ytgekyk.  Hulle het saam grootgeword- was al saam vannat hulle klein klonkies was in Netreg. Hulle twee het baie stoutigheid aangevang- maar hulle was nooit innie” Gangs” in gewees nie. Hulle het baie kwajongstreke aangevang- maar nie soos die klongens van vandag nie. My se pa-hulle was mooi stout gewees. Hulle het nie soos die jongens vandag tik gerook en mense doodgemaak nie. Hy en sy tjommie het ook dagga gerook- maar hulle kon hulle zol vat…hulle koppe het nie ytgehaak soos baie outjies vandag nie. My se pa en sy tjommie het nooit moeilikgeid gesoek as hulle gerook was nie- hulle was net lekke rustig- nie soos baie anner klonge wat nonsens gemaak het as hulle gepot het nie. My pa het nooit aan my se motjie geslaan nie.My pa het altyd my ma ge- “respect. “ Nou….soos ek se – my pa en sy tjommie het saam innie Kaap gewerk- saam geloep- en saam gejol.

Nou….eendag het my pa se tjommie weer gaan werk die se dag-late “shift”- maar  my pa was nie die dag by die job nie. My pa het diekant toe ( en hy beduie daar na die Oostelike rigting met sy hand)- da annekant die Robertson gaan kuierby  sy broer. Hy was omtrent so drie dae weg vannie job af. Sy tjommie het nie saam geloep nie- hy was by die werk. My pa het weer met sy chommie ge-“organize” om vir hulle ‘n pak dagga te kry vir die Woensdag as hulle nou weer gaan “partie” gooi.  Nou- my pa moes die Maandag weer kom werk het- maar hy kom toe eers die Maandag by die hys. So…hy het die Dinsdag eers gaan werk. Nou- nou het sy supervisor hom gese hy kan of ‘n dag se” unpaid leave “ insit- of hy kan “double shift “ werk om sy se tyd in te vang wat hy die Maandag verloor het. My se pa het toe gese dis ma’  Ok…. hy sal maar die double shift haak.

OK..toe werk my pa die double shift- want Andries sien- nou kan hy sommer die aand saam met sy se tjommie lift vang oppie 2510 tot by Soutrivier- dan klim hy die anner trein daar wat Kayelitsha toe gaan en dan klim hy by Netreg af. Ok….so- hy werk toe die dag daar tot sy shift verby is. Ok…..hy se toe hy het sy tjommie daar gekry die aand so net voor hy afgaan- en hy organize toe met sy tjommie dat hy saam met hom ry- sommer voor in die cabin. Nou- hy het toe sy shift klaar gewerk- en toe die 2510 loep- het hy saam met sy tjommie geklim en saam gery tot by Soutrivier…en daar afgeklim na die anner platform toe om die Kyalitsha trein te vang – sien die manne?

Ok..nou se my se pa dat hy met sy se tjommie weer  saam gepraat het dat hulle die Woensdag-aand na ‘n anner outjie toe gaan wat so twee strate agter my pa se tjommie gebly het. Hulle het altyd daar kaart gespeel en bietjie gerook geraak. My pa se toe vir sy tjommie hy moet onthou om sommer vir hulle ‘n arm dagga organize vir die Woensdag-aand want sy tjommie het die ‘connections” geken. Ok….nou – niks was verkeerd nie-sy tjommie het gese dis “o.k”- en my se pa het toe gat gevat om die anner trein te kry. Nou het my pa” straight”  hystoe gegaan en gaan slaap.

Die volgende dag- laa’k nou sien…dit wassie Dinsdag- is my pa weer vort werk toe. Daar by die werk aangekom het hy soos altyd maar dinge gedoen wat hy elke dag doen- so gaan die dag toe verby. Sy chommie was nie op “shift” nie- en my pa het gedink die ou kom “late shift” kap. Nou- so teen five o’ clock toe wag hy nog allie pad vir sy tjommie om die laat “shift” te begin om hom die aand se stash te gee- maar al wat ytkom- is sy tjommie. OK…so hy wag toe maar tot laat-so” six o’ clock” – en toe die se tjommie nog nie  nie ytkom nie- loep hy daar na sy tjommie se shift-boss toe en vra hom of sy tjommie vandag dan nie kom werk nie?

Nou – dis toe daar waar die shift-boss my se pa se kassie skud vra of hy nie gehoor het nie? My se pa vra toe wat gehoor? Die shift-boss vertel toe my pa dat sy tjommie het dieselfde middag- dis Dinsdag- gevra om 1 uur –“ lunchtime” – gou  te loep vir “private business”- en dan sal hy weer so 4 uur terug wees om sy volgende” trip” te vang en sy  shift aan te gaan. Terwyl hy weg was- het iemand die “Shift-boss “ gebel en gese my pa se tjommie is geskiet Soos my pa toe van die “shift-boss” verstaan het- was sy tjommie in Bishop’s Lavis deur ‘n gangster geskiet toe my pa se tjommie daar by ‘n anner” hang-out “ gaan” bunk”  het-  seker om die volgenne aand se “stash” te koop. Die ou vannie “hang-out” was ook ‘n gangster- hy het met drugs en dagga gesmokkel-‘n” distributor”-  maar hy was nie van dieselfde “gang”  as die een wat my pa se tjommie geskiet het nie.

Die gangster wat geskiet het was van ‘n anne “Gang”-en hulle “fight” mos onne mekaar vir “terretrie” – da’ maak hulle mekaar sat- en vat die een die anne een se “hang-outs” oor- sien die manne. Nou- die een”Gangster”   het gekom om die ou vannie hys waar my pa se tjommie was- te blaas- maar my pa se tjommie en ‘n anner girltjie het op ‘n stoel in die gang voor die sitkamer gesit. Sy het so op sy skoot gesit. Die anne gangster het net ingekom van nerens. Die hys het ‘n gang waarmee jy inkom- dan kry jy die sitkamer. Nou- die gangster het sommer van byte af in die hys ingekom- sien die manne- toe somme ‘n gun getrek- en somme my pa se tjommie en die klimmetjie saam met hom wat op sy se skoot gesit het- sat geblaas net daar waar hulle half in die gang en die sitkamer op die stoel gesit het- vyf skote….haar deur die bors – en hom drie skote in die onderlyf en een hier deur die kakebeen” –(en Riedewaan wys so na sy kakebeen) .My pa se die mense se die girl se bloed en my pa se tjommie se breins het so teen die muur gespat.

Die bro wie die hys aan behoort- was binne-in die hys- maar toe hy die skote hoor- het hy gewiet iemand maak iemand nou sat in sy “possy” – en“duck” toe by die een venster agteryt..toe  sommer oor die agterste muur ge-“jump” en weggehardloep.  Die Boere (polisie)- het daar gekom en my pa se tjommie en die klimmetjie daarsommer “ straight”  in die” mortuary van”  gegooi en weggevat .Sy was nog jonk gewees-hy se sy was so agtien jaar- maar Adie manne sien mos- die gangsters worry nie wie hulle sat maak nie- hy kry net die order om die of daai hys te loep uit-“sort”- da’ loep hy soentoe, skop die deur oep…en skiet net wat hy binne sien- of jy nou daar bly of nie. As jy unlucky is om op die verkeerde tyd op die verkeerde plek te wies- da’ is dit maar so.

Ok….nou het my se pa baie “bad “ gevoel omdat hy vir sy tjommie gese het om die maltwak te gaan haal vir hulle Woensdag-aand “partie”- en hy los toe sommer sy job ook net daar toe die ou my pa vertel sy tjommie is poegaai. Hy se as hy nie sy tjommie gevra het om “zol” te gaan kry het nie- het sy tjommie nog gelewe.Nou se die man dis sy skuld.  Hy se hy wil nie meer by ‘n plek werk en heelktyd aan sy tjommie moet dink nie. Die spoorwee was nie meer die plek vir hom nie. Hy gaan toe sommer en klim in die bottle in…’n paar weke aanmekaar is die man elke dag stukkend dronk gedrink en sat gerook… en dan gaan hy daar by die stasie sit en kyk net as die treine uitry en inkom….net soos ‘n malletjie.  Die ou het baie geworry oor sy tjommie. So het hy vir maande daar elke dag gaan “ koebaai” se vir sy tjommie. My motjie (ma) het al die ou gedreig sy gaat hom los as hy nie begin werk nie. Ons was vyf kinders en my motjie konnie vir almal van ons sorre op haar”grants”  nie- my pa moes ok geld inbring.My pa het vir lank nie meer gaat werk nie.

Nou- nou toe eendag gebeur daar ‘n snaakse ding- sien die manne. My se pa se hy het nog een aand so gesit toe die 2510 weer moes loep- en gewag dat hy wegtrek…maar die trein staan en hy staan…hy willie wegtrek nie. My pa se hy sta’ naderhand op en loep daar waar die drywer sit. My pa het allie drywers geken. Daar gekom- vertel die drywer hom” huh-uh”…die ding is gevrek- hy kry nie die krag aan nie….die “tower” wil dan nie eers optel nie. Hy het ge-“traai” en ge-“traai”…maar die ding is so vrek soos ‘n mossie. Later van tyd  het hulle maar op die loudspeakers afgekondig die “passengers” moet maar ‘n anner trein spring wat die W ellington-lyn gaan ry.

Ok…my pa se hy het maar weer da’ gaan sit. Hy se hy het daar gesit tot laat die aand. Hy se toe hy sit nog so- toe vang sy oeg iets da’ by die drywer se hokkie wa’ hy inklim gewoonlik. My pa se hy kyk toe soentoe- en da’ val die man amper toe van die bankie a f van skone skrik. Hy se toe hy soe kyk- toe sien hy sy tjommie sta’ da’ voor by die trein se “cabin “ en kyk vir hom. Hy dog eers dis ‘n anner drywer- maar die drywer wat die trein probeer start het- was lankal vort- daar was niemand anners op die platform nie- en as daar ‘n anner drywer was- moes hy by my se pa verbygeloop het- sien die manne-en daar het g’n niemand verbygekom nie. Hy se hy weet dit was sy tjommie- hy ken hom mos Hy kyk weer- en ja…da’ sta’ sy tjommie toe- so dydelik soes daglig….maar dit was laat die aand. Nou verwonner my pa hom- waar kom die ou nou so skielik vandaan? Hy se hy en sy tjommie het ‘n ruk so vir mekaar in die oeg gekyk- en my se pa se hy kon voel hoe sy nekhare soe regop beginne staan.( Warny wys so met sy vingers agter sy nek soos ‘n ystervark wat se penne regop staan). My pa se sy tjommie se gesig het gelyk soos een wat TB het- jy verstaan- die gesig was so maer en plat teen die been- en sy oge was so diep ingesink in sy kop.

Nou…nou se my se pa hy sta’ toe op en beginne soe stadig na sy tjommie toe loep om mo s  t e ga’ seker maak- maar hy se soes hy nou so loep- draai die se tjommie om – en da loep hy toe sommer DEUR die trein se deur…binnekant toe- en klim in die “cabin”  in. My pa se hy kon voel hoe sy water net daar  breek en so teen sy bene afgaan- sommer in sy skoene in. Hy se sy tjommie was nie lank in die cabin nie- of skielik gaan al die trein se ligte aan- daar werk die ding nou skielik. My pa se hy stop net daar- hy wiet hier is moelikgeid aan die kom- die is nie “natural “ nie…iets is nie lekker nie. Nou- nou se my se pa hy besluit ”Nei – hy issie bang nie- hy wil ytvind wat vanaand hier aangaan.”  Hy se hy begin weer loep na die voorste wa toe waar sy tjommie innie” driver’s  cabin “ ingeklim het.So halfpad…en da gaan die ligte wee af…morsdood!  My pa se hy stop net-daar…toe begin hy wonner wat gaan aan.Hy se hy kon voel sy bene raak lam onner hom- en hy se as hy nog water gehad het- het die seker weer gebreek. Hy se gelukkig was sy maag darem leeg gewies.  Hy se hy was bang netnou gebeur iets met hom ok want miskien soek sy tjommie dalk “revenge” omdat my pa hom na sy dood toe gestuur het. My pa se hy het net daar op ‘n bankie ga’ sit en maar gewag….te bang om ‘n spier te roer.Hy se hy het gevoel hoe dit skielik beginne koud raak- maar daar was niks winde nie.Hy se so sit hy nou daar alleen op die platform en wag dat die se tjommie nou moet iets doen……maar niks- dis doodstil da’  voor innie “cabin.”

 Hy se hy het omtrent so uur en ‘n half daar gesit- toe “woeps”- gaan die trein se ligte weer aan. Hy se hy kon die elktriese motor hoor toe hy inskop en sien hoe die trein se voorste  “ tower” die lug ingaan.  My pa se hy staan toe op- en begin weer na die” cabin” toe loep. Hy se hy was so halfpad- toe sien hy weer sy tjommie ytklim yt die” cabin” yt…weer sommer so deur die deur-en die  klim toe af op die spoor- en beginne stadig  soe al op die spoor loep voor die trein yt – baie rustig asof hy niks in die wereld het om oor te worry nie- soos iemand wat ‘n “stroll” langs die spore vat. . Hy se sy tjommie loep toe aan – daar in die donker in. My se pa se net voor sy tjommie in die donker wegraak- toe roep my se pa sy naam. My pa se sy tjommie het gestop- omgedraai- na my se pa vir ‘n ruk gekyk-sy kop heen en weer geskud soos iemand wat “nee” se- en weer omgedraai…en weggeraak in die donker in….sommer so ge- “fade.”

My pa se toe hy daar voor by die “cabin”  kom- toe werk alles weer- die ligte, meters- die trein- alles. My pa het omgedraai en gehardloep om ‘n anner treindrywe te  gaan roep. Die drywer het in die “cabin”  geklim- die agterste “ tower”  ge-“hoist”- en die trein se “dials, electricity” – alles ge-“check”- maar hy kon geen fout kry nie. My pa se hy kon nie die ding verstaan nie- vir die hele  tyd wat sy tjommie in die “cabin “was- was alles morsdood- toe hy ytklim- toe werk alles weer.Nou se die mense die ou wil nie he ‘n anner drywer moet sy trein vat as hy besig is met die trein nie…dis die hoekom niemand die trein kan start as my pa se tjommie daar is nie…daai trein moet staan net vir sy se gebruik

Ok….my pa het toe die ding gelos- maar hy se hy was baie worried gewees omdat die dinge die aand gebeur het. Hy het my motjie (ma) by die hys vertel wat daar gebeur het- maar die ou girl het gedink die ou  is weer dronk gesyp en hom vreeslik geskel…maar my se pa se hy het hom die aand skoon nugter geskrik.Hy se hy het nie eers die aand geslaap nie.

OK…nou- die volgende dag toe my se pa weer daar op die stasie kom- toe loep 2510 weer soos normaal. Die drywers daar se hulle weet nie hoekom die trein nie die vorige aand nie wou ry nie en hoekom die lyn dood was nie. Die “ electricians” het die volgende oggend die lyn getoets- maar daar was niks fout nie- alles het gewerk en 2510 het die heeldag mooi geloep.Dis TOE dat my pa se hy so bietjie gaan dink. Die aand wat die trein nie wou loep nie- was op dieselfde aand- omtrent een jaar terug- wat die tjommie van hom doodgeskiet was deur die gangster.Die ou- se my pa- het natuurlik weer teruggekom om sy job te kom klaarmaak en sy laaste “shift” wat hy met die dag van sy dood nie kon klaarry nie- vir die dag te kom ry. Hoekom hy op die spoor geloep en soek het- wee hy nie- se my pa. Miskien- se my pa- het hy die dagga klaar gekoop- maar toe die gangster hom doodskiet- het daai anner “ burg” sy “stash” weer gevat- en nou loep my pa se tjommie seker nog en soek na die “ stash” om vir my pa sy “cut” te gee- mens weet mos nie hoe dink spoke nie.

Nou- nou se my pa hy het nou so gemaak om elke jaar-op die dag wat sy tjommie dood is- da’ te ga’ sit en kyk langs 2510 se platform- en elke jaar se hy- klokslag- half past nine tot so  half past ten o’ clock die aande gaan daai lyn se krag af – en daai trein staan doodstil. Dit maakie saak watter trein hulle daarop trek nie- as sy nommer 2510 wys- staan hy doodstil. My pa se sy tjommie kom elke jaar terug om na sy trein te kom kyk- en terwyl dit “ sy aand” is- kan niemand anders daardie trein op daardie spoor ry nie…dis syne vir daai aand.

 My pa se sy tjommie kom elke jaar op die selfde tyd terug want hy moes die aand nog een “trip” gery het- maar omdat hy doodgeskiet was terwyl hy van die werk af gou   by die anner “burg” gaan stop het om “ zol” te kry vir hom en my pa- kon hy mos nou nie sy laaste skof die aand ry nie- en nou kom hy elke jaar en ry sy skof klaar.Party mense da’ innie Kaap se hulle het al gesien ‘n man loep laat innie nag langes die spoorlyn so Woodstock se kante toe. Anne mense langs die lyn Wellington toe se hulle het al baie laat die aand- omtrent die tyd wat 2510 moet loop- die trein gesien aankom op die stasies- maar hy stop glad nie- hy ry net verby- en al sy ligte is af…en baie se die trein ry ok sonner ‘n drywer daar verby….net die lee trein op sy eie. Mense het al ge-“complain” by die spoorwee dat hulle wag op die stasie- sien die 2510 inkom en as hulle naderstaan om te klim- ry die trein net verby- dolleeg en donker…hy “slack” nie eers af nie.

Die spoorwee se dis nie waar nie want 2510 staan die tye morsdood op die spoor daar innie Kaap.Hoe kan een trein dan nou op twee plekke gelykertyd wees- verstaan die manne? Hulle kon ook geen trein op die spoor sien ry op die roete die tyd wat die mense oor kla nie. …behalwe die een wat 2510“replace”  het terwyl hy staan…maar die anner trein se nommer was 2035. Hulle kyk mos op daai “switchboard” van hulle se muur watter treine ry en watter staan stil. So…..as die mense nou 2510 gesien loep het da’ na Wellington se kante toe- en die spoorwee se hy sta’ da’ innie Kaap- da’ issit mos nou die trein se spook wat geloep het? Die mense se dis hoekom die trein nie wil start nie- my pa se oorle tjommie gaan haal die trein se gees- en ry met die…nou kan die regte trein nie ry nie- sy gees is yt hom yt. Treine het mossie geeste nie? Later van tyd- se my se pa- het hulle maar  daai spoor wat uit die Kaap loop- toegemaak want die mense het baie gekla-  en toe een van die “side-line” spore oopgemaak vir die treine om te gebruik .Vandat hulle die spore toe ge-“change” het- het 2510 het nie weer gestaan nie……ma’ die ou se spook loep nog allie pad.  Almal op die Kaap se stasie ken al die ou wat daar spook- en veral  die tyd van die jaar wanneer hy moet loep  kom die mense nie sommer naby daai een  spoor nie…..daai platform waar hy altyd van weggetrek is – is ok  leeg die aande wat hy loep- mense het klaar onnermekaar gepraat….mense  is baie bang vir hom.

Na Riedewaan se verhaal het daar so doodse stilte oor die groepie manne in daardie werkswinkel gedaal…niemand het eintlik die storie geglo nie- maar aan die ander kant wou niemand ook eintlik so se nie om ou Riedewaan se gevoelens te spaar. Net ons lokale leke pastor- Johnny-Boy- het so lakoniese opmerking gemaak dat Riedwaan met sy pa moet praat dat die sy “tjommie” nader en vra of hy nie vir almal van ons vry treinkaartjies kan gaan loop steel in die nag nie- synde die feit dat hy ‘n spook is en niemand hom sal kan sien nie.

Ja…wat sal mens se? Soos ek gese het- Riedewaan se stories kan nou nie altyd vir “ die waarheid” aanvaar word nie- maar soos spookstories loop- het die een nogal byklank gevind op mens se oor- en mens wonder soms al is dit tong in die kies- of daar werklik sulke rustelose “ siele” is wat hier steeds ronddwaal tussen die spore van die neon oerwoud? Mens kan maar net spekuleer. As dit wel so is- sal ek redeneer daar moet teen die tyd al meer dooie  “siele” in die stede wees as lewendes- in ag geneem die tempo wat moorde deesdae gepleeg word.

No comments:

Post a Comment