Saturday, August 1, 2009

DIE GEES WAT NIE WOU RUS

DIE GEES WAT NIE WOU RUS




Die volgende verhaal het hom afgespeel in die jare ’80 terwyl ek in Pretoria gebly het. Ek weet tot hede toe nog nie of ek die gebeure heeltemal kan glo of nie- alhoewel die bewyse onteenseglik daar was -of liewer is-en omrede dit met een van my familielede gebeur het. Ek gaan die verhaal dan nou aanbied soos my eie geheue dit dan toelaat.


My eggenote het ‘n ouer suster. In hulle gesin is hulle dan ook net twee dogters en drie seuns. Nou- vandat ek kan onthou, is haar suster maar gereeld deurmekaar gewees met die bonatuurlike- of dit nou okkultiese bedrywighede was- met mense deurmekaar was wat die okkulte beoefen het- of self ‘n paar ongewone dinge aangevang het- iets in die donkere wereld het haar altyd gefassineer. Mevrou self het al talle maal sonder tal haar dan ook aangespreek oor die tipe van tyd verwyl- en haar daarop gewys dat dit teen die Heilige Skrif was, maar wat moes spook- die het ousus haar mee deurmekaar gemaak.

Ek het later van tyd met haar gaan praat- maar soos my eggenote- geen hond haaraf kon maak nie. Die dreksels waarmee sy haar geassosieer het, was om die minste te se- uiters onsmaaklik en donker van die bose! Altyd het die kreature saam met haar kettings as versiersels gedra, in swart tooisels rond geparradeer- demoniese tekens uitgestal- en as jy in haar woonstel inkom, het jy daardie eienaardige donker gevoel van boosheid om jou gevoel- so asof jy nie kon asemhaal nie.

So het dit dan gekom dat sy na haar egskeiding van haar eerste man- alleen in ‘n woonstel in Sunnyside gelee te Troyestraat no 501 gaan woon het. Sy het die woonplekkie gekoop as belegging. In hierdie tyd van eensaamheid het sy dan ook as depressielyer erg deur diepe waters gegaan. So erg was haar insinking dat sy op ‘n tydstip van haar dekadensie gekom het wat sy nie meer verder wou lewe nie- en het ‘n klomp tablette gedrink. In haar toestand is sy toe in die hospitaal opgeneem- waar sy toe haar tweede liefde ontmoet wat as portier daar gewerk het. Die mannetjie was ook seker maar nie die skerpste potlood in die pakkie op skool nie, maar dit daar gelaat. Toe sy nou uiteindelik ontslaan word- het die verhouding sterker begin raak- en die liefde het toe saam by haar in die woonstel ingetrek.

Dinge het begin rooskleurig vir haar lyk- en die tweetjies het saamgebly en al die dinge gedoen wat getroudes sou doen. Niemand het ‘n woord gespreek oor die nuwe verwikkelinge nie en gehoop sy sal nou haar eie potjie krap en die probleme sal ook nou begin verdwyn. Skoonpa was maar woelig met die humeur aangaande ousus se blits verhouding- maar ek glo die oubaas het van beter geweet en haar maar haar gang laat gaan. Op die stadium het ek en mevrou met ons oudste dogter- wat ses jaar was – te Silverton in Pretoria gebly- sowat tien kilometer van ousus af.

Dinge het maar hul gang gegaan- tot een oggend- so om en by drie uur se koers- toe ek en mevrou met ‘n skok uit onse droomwereld geruk word deur ‘n gehammer aan ons voordeur. Vervaard vlieg ons orent, gryp die nodige kledingstukke- en laat vat deur toe om te sien wie nou die tyd van die oggend so kapabel is om die hele buurt wakker te timmer. Die deur word toe oopgemaak- en wie staan toe daar-Ousus en haar liefde met oe so groot soos sopskottels en asems wat jaag soos twee resiesperde wat pas die “ July Handicap” gehardloop het. Nou ja- ons het hulle maar dadelik ingenooi alvorens die bure ook aanstons aan die geraas wou deelneem- en het hulle toe maar koffie aangebied. So tussen die gehyg deur- het hulle dievolgende verhaaltjie aan my en mevrou vertel:

Soos ek kan onthou- het sy en neef Gert- dit was liefde se naam- in die bad gesit die aand. Gert het met sy rug na die krane toe gesit- en sy aangesig was na die badkamer deur. Sy het voor hom gesit- met haar gesig na hom toe. Hulle was blykbaar nog so aan die bad- toe hy met ‘n skok na agter haar kyk. Sy het omgedraai- en in die deur van die badkamer sou hulle sien dat daar ‘n jong meisie staan in ‘n blou nagjurk- en die staan net en kyk vir hulle. Baie verbaas oor die onwelkome besoeker wat hulle privaatheid skend- vlieg neef Gert op en klap die badkamer deur toe. Hy trek toe aan- en storm daar uit om die jonge nooi op haar plek te gaan sit. Buite in die gang gekom- was die meisiekind skoonveld! Relatief vies- stap hy toe na die voordeur toe om die te gaan toemaak- net om uit te vind die deur is toe- en boonop met die skuifslot van binne af gesluit ook!


Baie verbaas maak hy toe seker alles is wel gesluit- en keer terug bad toe. Hy het skaars ‘n ruk gesit- toe is die meisie weer aan’t kyke by die badkamer deur. Gert vlieg toe op en klap die deur weer toe- trek aan- en herhaal die proses van deur nagaan weer ‘n keer. Hy loop toe deur die woonstel- en maak seker die dame kruip nie dalk iewers in die woonstel weg nie- maar kom toe met lee hande terug. Weer het Gert hom skaars tuisgemaak in die bad- of wragtig- daar staan sy weer in die badkamerdeur. Teen die tyd moes altwee besef dat hierdie nie een van jou gewone afloerders was nie- iets vreemds is aan’t gebeure- en hulle het uit pure skok net so bly sit en staar na die gedaante. Nou ja- soos ek die res van die verhaal verstaan- was hulle nog so aan’t gisse oor wat om volgende te doen- toe die gedaante verdwyn- net om ‘n paar minute later weer haar verskyning te maak- hierdie keer met ‘n oopgesnyde keel en bloed wat oral op haar naggewaad stort. Die bloed het blykbaar ooglopend uit haar slagaar gespuit- so erg dat die deurkosyn die ene spatsels was! Op die vloer het die bloed ‘n plas gevorm- en net waar hulle kyk- was bloed! Sy het wanhopig met haar hande die nek aar probeer toedruk- en hulle hulpeloos aangestaar asof sy redding soek.

Die twee het besluit genoeg is genoeg- en het daar en dan opgevlieg- klere in ‘n ommesientjie aangetrek- en sommer deur onse gees laat spaander! Hulle is toe daar uit die woonstel uit en straat af! Met die hardlopery- kyk ousus toe terug na die woonstel- en toe sou sy sien die gedaante staan in hulle kamervenster vir hulle en kyk! Nou ja- dit was blykbaar die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het- hulle vat die pad toe- die hele tien kilometer- na ons toe. Soos ek toe verstaan- het hulle dit dan ook gehardloop! Nodeloos om te se- dit het nou nie saak gemaak hoe hard ons probeer nie- teruggaan die wou die twee nie- nes twee steeks donkies- en ons moes maar liefs bedmaak en hulle akkommodeer vir die duur totdat ‘n ander plan gemaak kon word.

Hoe lank hulle sou vertoef het- is moeilik om te se- en hulle sou seker nou nog by ons gebly het- toe daar skielik hulp uit ‘n ongewone oord opdaag. Mevrou het met haar kerk byeenkomste die besondere situasie aan iemand in die gemeente bespreek- toe die haar ‘n dame se naam gee wat op ‘n christelike wyse die tipe goed kan verdryf. So gese – so gedoen- ek moes die spesiale dame maar skakel- ene Mariaan- en sy het vriendelik ingestem om die woonstel- wat nog oopgestaan het- te besoek. Twee dae later het sy ook so gedoen- en bevestig dat toe sy instap die aand- toe wag onse gedaante vir haar in die sitkamer! Mariaan was ook blykbaar nie bang vir die gedaante nie- en vra haar wat sy wou he. Die gedaante het haar net met stilte begroet en met die vinger na die een muur gewys- maar niks gese nie. Mariaan het haar toe in die naam van Christus bestraf en beveel om die woonstel te verlaat- en toe olie aan die kosyn geverf. Nadat sy die bloed van onse Heer oor die woonstel uitgespreek het- het sy ons geskakel en gese dat sy die woonstel besoek het. Met die besoek het die Gees haar gewys dat die bose hooggety vier in die plek- en sy het baie werk gehad. Na sy so drie ure besig was- was die plek skoon en ousus- hulle kan maar terugkeer- die gestorwe gees is terug na waar sy hoort- sy sal nie meer pla nie.

Ousus en liefde is toe terug- en soos Mariaan gese het- geen verskynings het toe meer plaasgevind nie. Ek het uit nuuskierigheid toe gaan navraag by die polisie doen of hulle enige rekords het van enige voorval in die betrokke woonstel- en het taamlik beroerd uit die polisie kantore gestap! Ja- vertel hulle my toe- vroeg in 1982 het ‘n jong dametjie daar gebly. Sy was verloof aan ‘n polisiebeampte wat iewers in Pretoria diens gedoen het. Soos mense maar is- het sy toe ‘n oog begin kry vir ‘n ander jong man- en haar verloofde het dit uitgevind. Blind van jaloesie en woede- het hy na haar woonstel- dieselfde een- gegaan en haar gaan konfronteer. Die hele sak patats het uitgekom- en in ‘n waansinnige bui van ongekende wraak- het hy ‘n slagtersmes in die hande gekry- en haar drie en twintig keer gesteek- en daarna haar keel so-te-se morsaf gesny net om seker te maak sy sal nie meer kan lewe nie.

Na die grusame gebeure- het hy blykbaar volgens polisierekords- homself gaan oorgee by die polisie- en gese die motief vir die grumoord was dat as hy haar nie kon kry nie- niemand anders haar sou kry nie! Hy is skuldig bevind – lewenslank gevonnis-en is tans nog in die Sentraal Gevangenis te Potgieterstraat. By verdere navraag by die opsigter van die woonstel- is ek meegedeel dat die bloed teen die sitkamer muur so erg was- dat na vyf lae verf die bloedkolle nog steeds deurgeslaan het! Ek het self gaan kyk- en waaragtig- die donker kolle was duidelik sigbaar as jy ‘n skerp lig daarop sou skyn- jy kon duidelik die kolle en spatmerke sien! Die opsigter het my- nadat ek hom gevra het oor hoekom die ding nie rugbaar gemaak was by die koop transaksie nie- meegedeel dat niemand wat van die gruverhaal geweet het- die woonstel wou koop nie- en is toe teen ‘n appel en ‘n ei aan Ousus verkoop- tesame met die stilswye.

Ousus het na die petalje ook nie meer lus gehad om verder in die gebou te bly nie- en het die woonstel in die mark geplaas vir dieselfde prys as wat sy die bank verskuldig was- en so onmoontlik soos wat dit mag klink- het iemand anders tog daar ingetrek, salig onbewus van die gebeure- nes Ousus!

Soos hulle se- “ If you play with fire- the chances are good that someday you are going to burn your fingers.” Sederdien het Ousus besluit om liefs te staak met haar ongewone buitemuurse bedrywighede en lei vandag ‘n heel bestendige lewe- hier in die teenswoordige.


No comments:

Post a Comment