Saturday, August 1, 2009

NAGWAAK MET DIE DODE




NAGWAAK MET DIE DODE


In die volgende storie was die skrywer indirek betrokke…nie direk met die geval nie- maar het saam met die storie verteller gewerk tydens die gebeure. Ek kan geensins die waarheid en egtheid van die verhaal staaf nie, omrede ek nie by was toe die voorval gebeur het nie.

Na my diensplig in 1982- was ek as verkeersbeampte gestassioneer op Midrand- ‘n groot industriele area tussen Johannesburg en Pretoria. Die jaar was 1987 toe die gebeurtenis hom afgespeel het. Saam met my het daar so ‘n kleinerige beampte gewerk met so ‘n amperese boggle rug. Weens respek aan die lid en die familie van die mede karakter in die verhaal, gaan die skrywer maar liefs die name verander- die leser sal tog geen baat of belang vind oor die aspekte nie.

Gedurende die tydperk ’86 tot ’89- was daar hewige aanbouings aan die Ben Scoeman snelweg- een van die gevaarlikste paaie in die ou Transvaal- nou Gauteng. Die snelweg was op sy beste- uiters gevaarlik- en op sy slegste- ‘n moordpad! Voertuie het teen die hoogste snelhede daar deur gejaag. Vir kilometres aaneen was daar waarskuwing padtekens, uitgrawings, padvernouings- en om eerlik te wees- ‘n wetstoepasser se ergste nagmerrie. Daar was al tot 45 ongelukke per uur gemeet. Ons het op permanente basis heen en weer op die pad geboer- en byna elke dag noodlottige ongelukke gehandteer. Jy was permanent 24 uur op bystand. Ek kan van die lelikste tonele denkbaar getuig wat ek op die besonderse hoofweg aanskou het, maar sal nie in die verhaal daaroor uitwei nie.

Om terug te keer tot die verhaal- ek het saam met die betrokke beampte- laat ons hom maar Chris noem- diens gedoen. Chris was ‘n snaakse eintjie mens- vol draadwerk en met baie uitsonderlike idees om so ‘n bietjie meer geld in die sak te plaas. Ons ander personeel het maar van sy idees liewerste ge-systap- synde die feit dat van hulle ontoepasbaar- en ander blatant onwettig was, maar verder aan was klein Chris nie te onaangenaam nie. Hy het twee groot liefdes in sy lewe gehad- sy meisie- en sy motorfiets. As jy vir Chris soek- dan sou jy hom by een van die twee vind.

So was dit dan dat ek gedurende November 1988 my jaarlikse verlof geneem het synde die feit dat mevrou vir die weermag gewerk het- en sy nie Desember soos gewoonlik- kon verlof neem nie. Ons het ook juis op daardie stadium ‘n nuwe voertuig gekoop- en wou darem so ‘n bietjie die lang pad met die nuutjie toets. Ek is toe om en by hier vroeg in November op verlof Natalse kus toe. Nou ja- na drie weke se vakansie hou moes ek weer terug in die tuig.

My eerste skof was middagskof die betrokke Dinsdag. Omdat Chris nie te ver van my af gewoon het nie- wou ek gou ‘n draai die oggend by die mannetjie maak om net oor gebeure op te vang en lokale skinderstories op datum te bring. So het ek dan so 10 uur die oggend afgesit na sy huis toe. Daar gekom, moes ek redelik lank op sy deurklokkie le voor hy kom oopmaak het. Hy vra toe om verskoning oor die lank wag- maar hy het geslaap. Hy deel my toe mee dat hy ook middagskof moet werk saam met my- maar die rede hoekom hy nog slaap- is dat hy vier dae afgevat het om sy meisie na Pietersburg te neem na haar ouers toe. Met sy terugkeer die vorige aand, so half elf se kant- het hy per toeval by een van ons ander beamptes- kom ons noem hom Gerrrie- verbygery waar die diens doen by ‘n groot vragmotor wat onklaar geraak het op die snelweg- by die Olifantsfontein afrit- se hy toe. Hy het daar gestop- en met Gerrie gesels. Die vragmotor het gevaarlik in die pad gestaan- en Gerrie moes ander voertuie met sy flits om die vragmotor reguleer. Chris het gesien Gerrie het sy hande vol- en het toe maar huistoe gery- sy patrolliemotor gaan haal- en teruggery na die toneel toe. Daar gekom, het hy sy voertuig agter die vragmotor getrek- sy blou roterende dakllig aangesit- glimgordels en flits agter in sy eie voertuig gaan haal- en maar vir Gerrie behulpsaam gewees met die uiters gevaarlike taak.

Volgens Chris was Gerrie se voertuig nie daar nie- maar hy kon nie onthou dat hy Gerrie uitgevra het oor hoekom die voertuig nie daar was- en ook agter die vragmotor geparkeer was nie- seker maar sy gedagte ontgaan. Reg deur die nag het hy en Gerrie dan die baan beveilig en aankomende voertuie om die stilstaande vragmotor herlei. Hy se dat Gerrie nie een keer die pad verlaat het nie- hy homselwers was naderhand so moeg- en sy voete dood seer- maar wat aanhou is Gerrie. Hier by vier uur se kant het Chris naderhand besluit genoeg is genoeg- die son se lig begin stadig die hemele betree- en voertuie sou binnekort die gevaar ver genoeg sien. Hy het toe maar na Gerrie toe gestap- en gese hy wat Chris is- gaat nou huistoe. Hy wou darem so bietjie slaap inkry voor hy 13h00 op diens moes gaan. Gerrie het hom bedank vir sy hulp- sy arms om Chris gegooi- en gese hy hou van hom. Gerrie het die gewoonte gehad om ons almal so te loop en druk- groot kind van die Here gewees- die man. Chris is toe daar weg- en tienuur het ek hom weer kom opgejaag. Ek het nog so ‘n ruk gesit en skinder- en is toe huistoe om self te gaan gereed maak vir middag skof.

Die betrokke middag het ek so 12h00 gaan aanmeld omrede ek my administrasie moes inhaal, wetstoepassings boeke moes trek, dagvarings kry ensovoorts. Ek moes in elk geval eers by my skofhoof gaan rapporteer. Chris het so om en by tien voor een opgedaag en saam met ons ander in die konferensiekamer byeengekom vir die toedeling van dienste. Dit is dan ook hier waar die bom gebars het. Ons skofhoof- ene Meneer Reynolds- vra vir Chris of hy vaak is- sy oge is rooi. “Ja” antwoord die toe- hy het die hele nag puntdiens gedoen saam met Gerrie by die Olifantsfontein afrit- en hy is nog maar sleg deur die blare. Die skrywer kan nie beskryf die stilte wat oor daardie vertrek gesak het nie. Ou Meneer Reynolds en die ander beamptes het Chris openlik verstard aangekyk. Ek kon nie verstaan wat nou met die ou spulletjie aangaan nie. Dit was tog geensins snaaks om ‘n medebeampte uit te help in so ‘n situasie nie- ek meen- dit is tog lofprysenswaardig. Ou meneer Reynolds het Chris half veragtend aangegluur- en gevra hy moet tog net weer se wat hy die vorige nag gedoen het.

Chris het opgemerk dat niemand hom glo nie- en het weer bevestig wat hy gedoen het- die vragmotor beskryf- die presiese plek- en presies wat hy en Gerrie gedoen het. Hy het tot sy kilometer lesing op sy voertuig aangebied ter stawing- asook om die skofbaas te neem na die presiese plek waar hulle gestaan het. Weer was daar doodse stilte- nie een beampte maak ‘n geluid nie. Meneer Reynolds vra toe my en Chris om saam met hom na ons hoof te gaan. Daar gekom- vra meneer Reynolds Chris om sy storie weer aan ons hoof te vertel. Chris was na aan trane- hy het nou nie mooi geweet wat hy verkeerd gedoen het nie- dit lyk of niemand hom glo nie- en die ander manne lyk amper openlik vyandig.

Ons grootbaas was ‘n ruk doodstil na Chris sy storie vir ‘n derde maal aangebied het- toe gooi hy beide my en Chris met ‘n emmer yskoue water in die gesigte:” Andries….Chris…julle ouens was nou nie hier nie. Gerrie was laas week op diens by die Olifantsfontein afrit saam met Johan Venter- by ‘n gebreekte vragmotor. Van agter het ‘n klomp polisie opruk voertuie gekom- en net toe hulle langs Gerrie en Johan se patrollie voertuig kom, sny ‘n ander motor skielik van nerens skerp voor die polisievoertuie in na die afdraai. Die polisie voertuie kon nie betyds stop nie- en het uitgeswenk. Die derde polisie opruktrok van voor af het uitgeswaai en Gerrie voluit van voor getref waar hy daar langs die gebreekte vragmotor diens gedoen het, onder sy massiewe wiele ingegooi- en sy liggaam vir so tien meter gesleep voor dit teen ‘n boom langs die pad tot stilstand gekom het. Gerrie se liggaam was oopgeruk en hy was op slag dood! Gerrie is blykbaar die vorige dag met volle verkeers eerbewys begrawe op Olifantsfontein waar hy gewoon het! Ek en Chris het na mekaar gestaar- ons was verpletter- ek het Gerrie goed geken- nie maters nie- maar hy was een van ons span- en dan boonop nog Chris wat die onmoontlike gebeurtenis loop en vertel.

Ons grootbaas het my toe laat gaan en Chris agtergehou. Toe hy uiteindelik sy verskyning maak- het die outjie eenkant gaan sit – teen die grond geslaan en met betraande oe die lug ingestaar. Hy was beter met Gerrie bevriend as ek- en die ding was vir hom ‘n helse slag. Hy kon dit nie glo nie- hy moes dan die hele vorige nag saam met die gestorwe gees van oorlede Gerrie diens gedoen het daar langs die pad- as dit wat hy gese het- waar was! Die hoof het hom maar aangeraai om nie die storie verder te versprei nie, aangesien dit net onnodige gevoelens gaan opwakker. Nou ja- Chris was nog so week of wat daar- toe sit hy sy bedanking in en hy vat ‘n nuwe pos by die Stadsraad van Kempton-Park- nooit weer gesien nie.

Ek het daarna die ongelukstoneel besoek- en ja- die merke en grillirige getuienis was daar- die remmerke, sleepmerke- en die bas van die Denneboom wat afgeruk was . Langs die pad waar Chris gese het hy gestaan het- het ek “ Chesterfield” sigaretstompies gesien…dieselfde as wat Chris gerook het! Hy was daar- vir lank ook- daar was baie stompies op die teerblad.

My vraag is- het Gerrie kom diens doen na sy heengaan…en hoekom? Sy liggaam was dan skaars onder die kluite toe dit gebeur het! Nou nog- as ek by die besonderse afdraai verbyry – kyk ek onwillekeurig na die twee Dennebome daar langs mekaar- so asof ek Gerrie daar sou sien staan- en my gedagtes dwaal terug na die einaardige gebeurtenis. Wie weet- miskien sien ander motoriste soms die alleen figuur van ‘n verkeersbeampte wat puntdiens doen laat in die nag by die afdraai? Ek het intussen verhuis na Kaapstad- en sal nie meer kan dophou of Gerrie nog op diens is nie. Ek laat dit maar hier aan die leser oor om self u gevolgtrekking te maak.

No comments:

Post a Comment