Saturday, August 1, 2009

TOT WEDERSIENS



TOT WEDERSIENS



Is daar spoke? Die antwoord kan ek ongelukkig nie gee nie. Die Goeie Boek leer ons dat daar wel geeste is, maar waar hulle hul bevind – is duister. Daar word wel in ons geloof en in ander gelowe verwys na die doderyk, hades, die hemel, die hel, Nirvana, Valhalla- en ag...sommer nog baie ander name, maar ekke selwers is ook maar nog vaag oor waar die doderyk wel is…en of siele die vermoë het om die kloof wat na verwys word met die ryk jong man en vader Abraham-met of sonder toestemming kan brug. Sommige verligtes wil dit hê dat die besondere wesens die aarde bewandel soos en hoe hulle wil- andere wil dit he dat afgestorwe siele wat die ewige rus nie kan ingaan oor een of die ander onvergifenis- op die teenswoordige wêreld bly wandel tot die een of ander taak volbring is. Andere weer dat party siele hier bly om ‘n geliefde te beskerm. Wat ook al die redenasie…hoe meer modern ons ou wêreld raak, hoe meer voertuie, stede, mense..hoe minder spoke. Dit wil my voorkom of die ou spesietjie nie van geraas hou nie.

In die volgende verhaal laat ek dit maar aan die leser oor om self te besluit of die verhaal eg is…of dit ‘n spook was..en of dit net ‘n verdigsel of die produk van my oorwerkte verstand was. Hier volg dan my verhaal:

Die betrokke gebeurtenis het hom afgespeel in die laat tagtigerjare toe ons ou land sterk betrokke was by die oorloë wat gewoed het op ons grense tussen Suid-Wes Afrika, Rhodesie, Angola en Mosambiek. Duisende jong manne van alle rasse het daagliks bloedige skermutselings ervaar…en baie het ook gesterf vir ‘n oorlog wat onnodig was. Op gereelde basis is vars troepe na hierdie vreemde grense gestuur om gapings te bly vul wat herhaaldelik bly ontstaan het as gevolg van verskeie siek politieke en ander redes. So was dit dan dat ek as dienspligtige ook vir ‘n drie maande verpligte kamp my diensplig moes gaan verrig in Suid Wes Afrika.

My oproep na my militere verantwoordelikhede het my eers per vliegtuig na Grootfontein geneem. Vandaar per pad na Oshivello en Oshakati in die noorde- en toe op na Ondangwa heel noord. Vandaar is ons na Eenhana- ‘n groterige basiskamp wat heeltemal so vyftig kilometer Noord-oos van Odangwa teen die Angolese grens geleë is…sektor 20 het hulle dit daardie tyd genoem. Daar het ons saam met die Portugese 32 Bataljon en die S.A Koevoete vanaf die sentrale proviand basis teen insypelende vyandige magte opgetree, soms oor die grens agtervolging ook gedoen

Ek was opgeroep in September 1984 na S.W.A as mediese ordonnans..en moes op feitlik elke patrollie saam met die vegtende magte uitgaan. Ek moes deurentheid mediese hulp aan lede wat gewond is verleen-met bitter min rus tussen in. Operasionele mediese personeel was die veld dokters- en uiters skaars, en een mediese beampte was verdeeld tussen‘n honderd tot drie honderd troepe. So..jou werk was uitgeknip en ‘n twintig uur skof was niks snaaks nie- dit was die norm. Jy was genoop om saam met die een patrollie na die ander te voet/ voertuig of per vliegtuig vir kilometers aan een heen en weer deur die boswêreld te patrollies te doen. Wanneer ‘n patrollie uitgaan- was die gebruik om die lede wat op patrollie was na hulle teruggekeer, vir drie dae op die basis te laat rus- omrede een patrollie tot ‘n week lank kan duur. Mediese personeel aan die ander kant- moes soms vanaf een patrollie na die ander oorskakel met slegs ‘n paar uur rus tussenin. Dit was dan op so een patrollie dat ek bevriend geraak het met ene Jan Prinsloo..so ‘n lang invanteris afkomstig vanaf 5 SAI battaljon te Ladysmith, Natal. Ons het skertsend na hulle verwys as “Bokkoppe” – vanweë hulle springbok insignia op hulle berets.Ek was geplaas saam met Jan se peloton op een so ‘n patrollie om uit te gaan saam met die padveers- die diens korps wat landmyne moes uitsnuffel-en “ Johannes se pad”- ‘n grondpad noord van die basis- te gaan “vee.” So ‘n “ vee-ery” kon maklik die heel dag vat, in ag geneem die tyd wat die “ sappers” soos ons hulle genoem het- gevoel-voel het tussen die sand vir daardie dodelike “pot deksels”. Jy het dan eeue tyd gehad om nuwe vriende te maak met die ander manne van die peloton en te gesels soos julle nou maar so saam drentel om die tegniese diens korps te beveilig.

Ek en Jan het somaar van dieselfde dag af groot maters geraak, en het na die patrollie gereeld as ons by die basis was, die kroeg aande lank besoek in mekaar se geselskap. Jan was glad nie onaardig nie en was in baie opsigte heel komies. Ons het gereeld dit so met die diensdoende offisier gereël dat ons saam op patrollies loop..want hegte vriendskappe daarbo was soos goud werd. Wanneer daar dan ook pakkies kos en snuisterye vanaf die geliefdes in die RSA af gekom het vir ons, het ek en hy maar altyd gedeel. Ja…dit was ‘n goeie vriendskap, amper soos regte broers in ‘n vreemde land. Ons was baie geheg aan mekaar- en daarom het ek het dit ook nie buitensporig gevind toe hy een aand vir my ‘n heel snaakse voorstel gemaak het nie. Terwyl ons onse moegheid by die watergat sit en versuip, het Jan op ‘n stadium na my oorgeleun en gesê: “ Ou Andries….se jou wat….kom ons gaan ‘n deal aan….as die Terries jou eerste blaas..dan kom groet jy my…en as hulle my eerste blaas..dan kom se ek vir jou cheers…wat dink jy daarvan?” Ek het besef Jan was redelik goed soos myselwers, gemarineer met die goedkoop brandewyn, en het nie die moed gehad om te redekawel nie. In die konteks van die heersende atmosfeer – en ons noue band-het ek toe maar ingestem tot die grillerige ooreenkoms. Wanneer ‘n mens gemarineer is met die voggies, dan raak jy darem die snaaksste goed kwyt- veral so duskant dronk verdriet. Hy het geglimlag en my op die skouer geklop met die antwoord:” Thanx…jy’s ‘n pal…maar ek is serious chom..ek sal jou genuine kom “chau” se voor ek na die pearly gates toe gaan.” Hy was ‘n oomblik stil- en het voor hom uit gestaar. “ Belowe my jy sal na Talitha kyk…ek meen..dat sy O.K is?” Kyk, hier het ek geweet ou Jan moes asmaties dronk gewees het om nou sulke loutere snert kwyt te raak-.en met ‘n gerusstellende antwoord van my af het ek en hy toe maar die aand omgekuier om die put van sondes totdat beide van ons letterlik omgeval het van dronkenskap.

Dit was twee weke later toe Jan en ek vir die eerste keer nie kon saam op patrollie gaan nie- hy was af ge-delegeer na Rundu toe weens ‘n kontak wat ‘n ander groep gemaak het met terroriste op die pad. Hulle was in ‘n lokval vasgepen…en Jan se peloton moes inderhaas en onbeplan vertrek per helikopter na die gebied om te gaan ondersteuning met geweervuur gee. Jan het die groot Bren masjien geweer gehanteer vanweë Jan se grootte. Ek was op die stadium op Baken 28 – teen die grenslyn om ‘n gewonde soldaat te help terugkry by ons basis vir noodhulp. So, ons het mekaar totaal gemis.

Die aand het ek teruggekeer en my pasiënt op ‘n Dakota vliegtuig geplaas vanwaar hy na Ondangwa lugmag basis na Pretoria kon afgevoer word vir ‘n operasie by 1 Militêre Hospitaal.. Jan se peloton was nog nie terug nie…maar ons het al hierdie tipe operasies geken…dit kon dae duur- so- ek was nie bekommerd nie. Ek het maar gaan stort, gaan eet by die menasie..en afgesit watergat toe. Die aand het verbygesleep en ek het hier by een uur die oggend afgesit na my siekeboeg toe om te gaan slaap. Ek moes die volgende oggend saam met die S.A Kleurling Korps na Miershoop-verder suid van ons- gaan om nog dekking te gee aan gewondes, dus moes ek nog slaap inkry voor 5 uur. Ek het sommer met my uniform en al bo-op die bed neergeval en aan die slaap geraak.

Ek weet nie presies hoe lank ek geslaap het nie, maar ek was nog in droomland toe ek wakker skrik van my deur wat toeklap. Ek het die swaar voetstappe van stewels op die houtvloer gehoor inkom, en het maar traag regop gesit om die volgende geval te hanteer- wat ook al dit was. In my situasie kom lede willens en wetens enige tyd van die dag of nag by die siekeboeg in- jy moet maar ten alle tye regstaan. Met lang gape het ek die slaap uit my oe gevee en my dwars op die bed gedraai- net om in Jan se gesig vas te kyk. Vader, maar was hy vuil..wat eintlik nie snaaks na so ‘n operasie in die veld was nie. Ek het slaperig hom gevra of hy wil stort- die siekeboeg was een van die min plekke waar warm water beskikbaar was-wat hy geweier het. Half aan die slaap vra ek toe maar wat gebeur het en bied hom koffie aan. Jan het die koffie genadiglik ook geweier..en ek kon ook nie mooi onthou wat hy my vertel het wat gebeur het nie…ek was te vaak. Ek kon onthou dat hy my op ‘n kol gevat het en ‘n beer druk gegee het. Daarna het hy my hare gevryf en gese: “ O.K my chom..ek moet nou gaan…ons sien mekaar later weer..en please chom…jy onthou nog van Talitha.?” Ek het halfhartig my kop geskud-en met ‘n gebaar met twee vingers soos ‘n saluut, is hy daaruit. Ek het halfpad gewonder of hy regtig ernstig was met sy versoek die ander aand- maar weens moegheid het ek net soos ek gesit het- omgeval en verder gesnork. My tyd was min en Jan kon nou drie dae rus voor sy volgende uittog. Ek het skaars aan die slaap geraak, of ons seiner storm die siekeboeg in en se aan my ek moet roer..die helikopter wag vir my…ons moet dringend “Casavacs”- dooie en beseerde persone- gaan optel en afvoer.

Al swetsend en half aan die slaap,is ek daaruit met my mediese tas en het die tuig baie bedremmeld gaan beklim onder sy koue roterende lemme deur. Ons is toe die nag in – en twintig minute of wat later land ons tussen ‘n menigte voertuie in die veld. Jy kon sien daar was ‘n hewige skermutseling . Soos die gebruik was alle hoof ligte af en die beskermings kontingent het in ‘n sirkel om die landingsplek gereed gelê met gewere na buite.In die lig van die “ Flares” kon ek talle dooie en beseerde liggame uitmaak..en soos baie kere tevore..het ek moes help dooies laai- ‘n uiters grillerige taak-en beseerdes verbind om gelaai te word. Ons moes vinnig werk weens die vrees vir nog ‘n aanval, en so tien minute later was ons weer in die lug op pad basis toe. Daar aangekom moes ons gou aflaai, want die vliegtuig moes terug vir sy volgende lopie, en sy volgende..en sy volgende. Ek moes agterbly en beseerdes en kadawers af karwei siekeboeg toe vir mediese hulp en etikettering.

Dit was al verby ses uur die oggend toe al die beseerdes uiteindelik verbind en le-gemaak en volgens prioriteit orde gemerk is vir afvoer doeleindes.- en ek kon die dooies etikette gee voor die vliegtuig hulle ook die oggend na die lykhuis op Oshakati neem. Op ons basis was geen verkoeling geriewe nie en die lyke moes so gou moontlik na so ‘n fasiliteit geneem word vir lykskouing en weens die hitte- ontbinding te keer. Dit het vinnig gegaan..tot by die vierde lyk sak wat ek die ritssluiter van ooptrek. Voor my het ek verstard teen die verwronge en bebloede gesig van my ou vriend vasgekyk. Dit was nie ‘n mooi gesig nie. Hy het twee koeëlgate deur sy regteroog gehad. Geskok het ek teruggedeins en lam in die knieë plat op die vloer gaan sit. Vir etlike minute het ek so gesit voordat ‘n kleinerige korporaal met die gevalle lyste ingekom en my opgehelp het. Hy het gelukkig onmiddelik die situasie opgesom- en toe aangebied om liewer maar verder die etikette op te sit…ek kon nie…die skok was vir my te groot. ‘n Mens voel nie die dood so erg as jy elke dag dit as ‘n lewenswyse ervaar nie- behalwe wanneer ‘n vriend of familie dit oorkom.

Dit was eers laat die volgende middag wat ek die grootste skok van almal ontvang het. By een van die lig beseerde troepe het ek verneem dat Jan se peloton al vroeg die vorige aand in ‘n skermutseling betrokke was,- en Jan was een van die wat eerste onder ‘n sarsie geweer koeëls gesterf het…ons het hom sewe ure later eers opgetel! Ek kon my ore nie glo nie…hy het my omtrent twee ure voor ons uitgevlieg het- kom groet…dit beteken hy was toe al ongeveer ses ure lank oorlede..hoe was dit moontlik…hy het tog so duidelik voor my bed gestaan soos daglig…en die druk was eg? Skielik het ek sy afskeid woorde herroep-“ ..Jy onthou nog van Talitha..” Stadig het die onmoontlike en onwerklike tot my benewelde verstand begin deurdring. Kan dit wees? Het Jan sy kant van die ooreenkoms waaragtig gehou- en my sowaar kom groet voor hy vertrek het na die ewige rus toe? Ek het vir maande daarna nog oor die kwessie gepeins.Tot vandag toe is ek nie seker nie…maar ek weet wat ek beleef het!

Ironies genoeg was dit juis sy meisie Talitha wat die laaste spyker op die raaiselagtige omstandighede kom slaan het. Toe ek twee dae later na sy dood terug is in die R.S.A om ‘n pasient af te bring, het ek spesiaal tyd ingeruim om haar te kontak , my voor te stel- en uit te vind of sy enige iets nodig het. Sy was ‘n oomblik stil aan die ander kant- en dit was haar antwoord: “ Dit is snaaks dat jy my nou juis bel en vra. Het my Bokkie jou gestuur, want ek het gisteraand laat ‘n oproep van Jan af gekry- hy het gesê ek moet nie bekommerd wees nie… hy is lief vir my en hy is O.K..en toe gaan die foon dood! Se my,.gaan dinge nog goed met hom daarbo op die grens?” Vir die volgende paar oomblikke was dit ek wat doodstil was aan my kant. Ek het stadig, sonder om haar te antwoord, die gehoorstuk teruggeplaas op die mikkie…ek het nie die krag gehad om haar die waarheid te vertel nie.‘n Telefoon oproep uit die ander wêreld uit? Ek weet nie wat om van hierdie gebeurtenis te maak nie…besluit u maar self.

No comments:

Post a Comment