Saturday, August 1, 2009

OOM THEUNS SE VERHAAL

OOM THEUNS SE VERHAAL




Dit was ‘n baie stormagtige nag, laat in Januarie 1997 toe ek een aand by oom Theuns Riekert, bekende varkboer daar van Hammanskraal se omgewing- gaan inloer het. Nou oom Theuns was ‘n baie gesellige ou kerel…altyd vol kwaksalwers. Ek het die oubaas een dag ontmoet terwyl ek gaan kuikenvoer koop het by die Ko-operasie daar op die Ou Warmbadpad neffens Rooiwal.

Oom Theuns het daar duskant Hammanskraal gebly op ‘n groterige plot. Wat ek van die opset gehou het, was die feit dat al die geboutjies in Rondawel vorm gebou was- regte vakansie-tipe atmosfeer.Oom Theuns se opstal het bestaan uit een groot rondawel- en twee kleintjies- met natuurlik sy motor-afdak en hoender le-hokke aan die kante. Dit is ook juis hier waar ek die grootste “Roman” spinnekoppe in my lewe gesien het. Vader- die goed was so groot soos pierings…en net so astrant. Oom Theuns het natuurlik nie homself baie bekommer oor die kreatuurtjies nie- en het sommer die gediertes so eenkant toe geskop as hulle almintig beneuk so voor hom gaan staan en daardie voorpoote so oplig om te baklei. Ek – aan die ander kant- het maar so U-Draai om die omgesukkelde Arachnidas geloop…nie lus gehad vir ‘n onderonsie met die goedjies nie.

Nou ja- soos ek gemeld het- het ek toe die aand na werk- so ‘n lieplapper draaitjie by oom Theuns gaan maak- hy was ‘n aangename man om mee te gesels, en wereld- kon sy vrou- ta’ Hester- vir jou die lekkerste pot egte Boeretroos en tuis gebakte beskuit optower! Sy was so gesette tannetjie wat kronies voorskoot gedra het- eg boervrou. Wanneer ek ook nou daar uitslaan, het die ou tannie my altyd so-om die lyf gegryp- en my ‘n stewige druk gegee…manne, kon die tannie vasvat.

Oom Theuns het die deur oopgemaak toe ek-windverwaaid- en papnat van die Hoeveld stormreen- teen sy deur hammer. Hy was so oomblik half verbaas- en het toe sommer dadelik die deur oopgemaak en my binne genooi. Soos ‘n nat hoender het ek half in die huis ingestrompel-val. Oom Theuns het my so oomblik gade geslaan- en beginne lag. “Jinne Andries…Jy lyk nou kompleet soos een van die nat twaksakke in my skuur broer….trek uit jou baadjie en hang hom sommer daar in die kombuis voor die stoof..”- het die oue my genooi. Met die kom ta’ Hester om die draai van die sitkamer. Sy gee my een kyk- en glimlag ook maar. “Andries…kind- kom- ek vat sommer jou baadjie….kan ek vir jou koffie bring…siestog- jy is seker verkluim- moenie jou aan die oom steur nie. As dit so stormweer is- raak hy so bietjie ketools in die kop”- en hiermee gee sy oom Theuns so egte boere gemaakte uittrap.

Ek en oom theuns het ons toe maar in die sitkamer gaan sitmaak voor die kaggel. Oom Theuns het sy kragtige kort Je Taime Sigarillos uitgehaal- en my een aangebied. Ek het baie diplomaties dit van die hand gewys- ek was eenkeer dom genoeg om sy aanbod te aanvaar- en gesweer nooit weer nie. Daardie aaptwak het al die Karbon Dioksied uit my vergasser uit geblaas- ek kon amper vir die volgende minuut nie asem kry nie- en het daar gesit en hyg soos ‘n klein brakkie wat leer loop. Ek het liewer maar een van my meer konvensionele “Gouvernor” sigarette uitgehaal.

Oom Theuns het my bietjie aangekyk- en met ‘daardie skelm glimlag steeds op sy ou gekraakte gesig- my aangevat: “ Jy is darem baie voor-op die wa om in die helse storm aan te vat hier in die bosse broer…en dit net vir ‘n koppie van Hester se koffie ne?”- het die oubaas skertsent my berispe. Ek het eers ‘n diep teug uit my sigaret gevat. “ Oom Theuns- Jy kan bleddie ge-eerd voel dat ek al die pad van my plot-af die moeite doen om te kom kuier die tyd van die nag. Jy is mos altyd kamma te besig om daar by my te kom inloer- of is jy te klein koppie om in die aand uit te gaan….jy hoef nie bekommerd te wees nie oubaas- hier loop noie spoke of gedaantes hier rond nie- jy kan maar jou Nissan opsaal en kom inloer” – antwoord ek hom toe ewe pikant net-toe ta’ Hester om die draai kom met daardie heerlike stomende Boeretroos en koekies.

Oom Theuns het my steeds glimlaggend aangestaar- en vorentoe geleun: “ Andries- Jy moet nie so platweg praat oor die dooies nie- jy gaat hulle befoeterd maak seun” – het hy my ge-antwoord. Ek het hom half skeef aangekyk: “ A Nee-A oom Theuns- moenie vir my vertel jy glo aan die twak nie- ek kan nie glo ‘n man van jou postuur kry hoendervleis nie..” –het ek hom geterg. Ta’ Hester het my so effe smalend aangekyk. “ Andries- Hy is die laaste een wat kan praat- hy het sy lopie met sy spoke gehad….laat hy jou vertel- en dan besluit jy maar weer of daaardie “postuur” van hom nog so bewonderens- waardig. Is. Hy is maar lekker dinges bang vir geeste…moenie laat hy jou andersins vertel nie”- en met ‘n “Toe…vertel die kind…” – is ta’ Hester weer vort na haar kombuis toe.

Ek het my koffie geneem, ‘n lekker teug gevat, nog ‘n sigaret aangesteek- en gemaklik na oom Theuns toe gedraai. “ Goed- Oom moet maar beginne gesels….die een wil ek graag hoor..” – het ek hom skertsend gepor. Oom Theuns het so ietwat ongemaklik rond geskuifel- en skelm-skelm na die kombuis se rigting geloer. Hy het skielik teen alle Jakkals draaie besluit toe ta’ Hester vir hom “ Kom Theuns- Vertel die kind- hy wag!!”- daar uit die kombuis se rigting streng vermaan. Hy het so onder sy baard iets van “Die Ouvrou” gemompel- maar homself reggeskuif vir die groot bekentenis.

“ Tja..” – begin hy. “ Ek weet nie wat die tannie nou so moet karring nie…maar tja….die ding het net voor ons troue hier in ag-en-sestig gebeur..” neem die oubaas sy aanloop.” Ons was verloof Theuns!”- skrou ta’ Hester weer toe daar uit die kombuis. “ Maar sa’ jy nou stilbly ou vrou…mintag….ek kom nog daar…ons was mos steeds nog nie getroud nie…los my nou- of kom vertel jy die verhaal…!”- brul die oudste toe terug. Ta’ Hester het hard-op beginne lag: “ Jy wil nie he ek moet hom vertel nie my ou man….dan gaan die bietjie self respek wat jy nog oor het – ook pad-af..” – skerts sy.

Oom Theuns het net sy hand so na die tannie toe gewaai- en sy storie hervat: “ Soos ek nou gese het…dit was net so voor ons troue hier in ag-en sestig. Ek het daar op Grobblersdal se omgewing gebly…baie lekker plekkie gewees toe. Dit was nou – soos die tannie se- net so voor ons troue. Man, ek het net beginne werk by ‘n “Body Shop” toe ek klaar is met die skool, en het ‘n ou Studybaker insleep trokkie gekoop by die destydse eienaar…’n oubaas Luddike. Die ou trokkie was maar gehawend jy weet- ook nie lekker gelyk nie, maar ek het dit ‘n uitdaging gemaak om die trokkie ‘n regte koeivanger te maak. Eintlik wou ek ‘n Tou Trok he. Oubaas Luddike het gese hy betaal my Vyftien Rand vir elke stukkende kar wat ek insleep. Nou, in daardie jare was Vyftien Rand baie geld vir ‘n laaitie soos ek. Ek het toe maar so-tuusen die werkery, en op Saterdae- aan my trokkie gaan werk Sy het ‘n lekker fris “Straight Six” motor gehad…baie perde onder daardie enjinkap.” “ Ja…en kan jy dink hoe moes ek gevoel het as hy my bioskoop toe vat met ‘n Insleep trok…ek het gedog ek gaan dood…ek was te skaam om my gesig bo die “dashboard” te wys as ons in die dorp kom…!”- laat weet ta’ Hester weer uit die kombuis uit.

Oom Theuns het so half- verergd ‘n kluitjie na haar geslinger om nou tog stil te bly- en voort gegaan: “ Nou ja-Ek het die outjie toe uiteindelik reggekry- so mooi seegroen geverf..”- begin die ou, toe ta’ Hester weer “ TURCOIS!!”- daar uit die kombuis uit laat weet. Oom Theuns was nou redelik omgekrap vir die ou vrou. “ Bly nou stil- hemel- ek kan nie die storie vertel as jy heeltyd soos ‘n bok-ooi tussen-in bler nie vrou!!”- bulder die oue. Ta’ Hester het net ‘n kekkel laggie laat hoor. “ As jy die storie wil vertel- vertel die waarheid ou man…” – laat sy weer hoor.


Oom Theuns het weer probeer: “ Goed- Soos ek gese het- Sy was eindelik klaar, mooi geverf, ek het ‘n Skerpioen agter op haar “Chassey” op die bak ge- “Mount”- en haar engin mooi ge- “polish”. Ek se jou ou broer…daar was nie ‘n trokkie op daai hele Groblersdal wat daardie perdjie kon vang nie- nie eers die latte se vuurwaens nie. Ek trek met daai ding weg- dan “clock” ek Honderd-en-Veertig in tweede voor ek moet oorskakel. As ek wegtrek- dan gooi sy so “Smokey” om haar agter “tyres”- en as ek voluit vet gee- wil sy nie eers beweeg nie- sy sta’ so en dans dat die rook by die “tyres” uittrek! Hel, daai ding kon “mouter.” Jy moet weet- Studybaker trokkies was ma’ skaars daai tyd…jy het redelik die karre gekry, maar die trokkies was so skaars soos hoender tande. Ek weet nie waar die oubaas haar gesmous het nie- ek dink ek was die enigste een wat so trokkie in die kontrei gehad het. Dit het my amper ses maande gevat om haar op te bou. Haar “rims” het so ge- “shine”- haar bumpers…alles man- tot haar “top”..ek het haar “tops” gehad! “ Gaan jy nou hom van jou bakkie vertel…of van jou relletjie met jou spook Theuns..?”- laat weet ta’ Hester weer.

Oom Theuns verkies maar om die pittige tannie die keer te ignoreer. “ Nou ja- Soos ek gese het- Ek het die trokkie warm gemaak( en hy loer weer skelm na die kombuis toe)- sy hardloop haar speedometer vol- daai naaltjie van haar tik-tik so teen die pennetjie agter Honderd-en Tagtig myl…ek se jou.”- fluister hy dat ta’ Hes nie weer reperdeer nie. “ Ons jonges het elke Saterdag-aand tot laatnag ge- “dice” daar van Groblerdal af na Dennilton se kant toe. Ons wenstreep was altyd daar op net verby Moutse nedersetting….jy sal nou-nie die plek ken nie. Stewige entjie- maar ons karre kon nie heeltemal vol-uit hulle “clocks” volmaak op kort-afstande nie- en daar was laaities met fris wiele daar. Hulle het van sover as Middelburg en Nylstroom gekom partykeer. Daar by ons was mos nie eintlik “Speed Cops” nie.

Jong broer- dit was ook een Vrydag-aand toe ek vir die tannie gaan kuier het. Sy het op Middelburg gebly saam met haar ma-hulle…het destyds in Barclays Bank gewerk op die dorp.” “ Volkskas!!”- laat weet die tannie weer. “ Goed- Wat-ook-al”- knor die oom. “ Nou ja- Ek het maar elke Vrydag-aand na werk gou gewas- ge-eet- en dan is ek vort na die tannie toe. Dit was so neentig myl- oor Loskop-Dam- so om in die agter wereld deur tot in Middelburg.” “ Ja- en hy het heeltyd gery sonder ‘n lisensie ook…”- help ta’ Hester weer. “ Man- die een Vrydag-aand was dit toe weer so. Ek het my trokkie die aand na werk gou gewas, sitplekke mooi afgevee- ge-eet- myselwers skoon gekry..en is toe daar vort na die nooi toe. Ek het altyd so tagtig myl per uur gery…die pad was maar donker, en baie keer vlieg die bleddie wildsbokke oor die pad voor jou in…kan jou kar lelik seermaak as jy hom slaat.

Nou ja- Ek is toe daar vort- en het so bietjie spoed aangesit om nie te laat by die tannie aan te kom nie- die bioskoop het so sewe-uur se kant begin- en die tannie se pa was ook maar ‘n befoeterde ou ketrel gewees..sy moes op die laatse tien uur terug wees, so, ‘n man moes maar uithaal om bietjie tyd te spaar. Goed- so het ek toe nou gery tot net so op die brugiie daar by Loskop dam…net so voor jy so hellinkie kry waar jy so opgaat teen die berg uit, toe daar skielik ‘n man daar langs die pad staan en in my “head lights” vir my wys om af te trek. Gelukkig was my ligte op “brights” met my “spot lights” aan - anners het ek seker bo-oor hom gery- hy’t so half in die pad gestaan. Jong- ek slaat toe briek aan en stop so tien jaarts annerkant hom met so stofwolk agter my- jy hoor net klippe spat. Ek het my agterwereld af geskrik toe die gedaante skielik uit nerens hier voor my trok staan en waai. Ek het toe maar uitgespring en die man tegemoed geloop. Toe ek nou by die man kom- sien ek dis ‘n jong laaitie van so twee-drie-en-twintig…skat ek toe. Die mannetjie was erg verflenterd…sy klere was geskeur…en daar was bloed hier op sy klere en sy bors”- en die ou man wys so in sirkels oor die bors en maag gedeeltes.

“ Jong- Ek vra toe die mannetjie wat is fout- en hoekom lyk hy so? Hy vertel my toe dat hy van Middelburg se kant af gekom het- en hy het aan die slaap geraak agter die stuur. Sy kar het die pad gelos- en daar bo-oor die reling van die bruggie gefoeter tot doerr onder in die donga. Ek het die outjie op-en-af bekyk, maar dit het gelyk of die knapie darem gesond is- en nie te erg seergekry het nie. Ek vra hom nogal of hy “O.K’-is- en hy se toe hy makeer eintlik niks- net skraap wonde. Ek het toe terug gehardloop trokkie toe- en my “torch” uit my paneel kassie gaan haal- en is toe saam met hom die wal-af na waar sy kar in die afgrond le. Jong- jy moes die kar sien- dit was die ene wrak. Die ding het op sy dak gele, deure so oop- en hy moes gerol het, want die hele affere was ingeduik soos ‘n “Simba” skyfie…jy weet mos…so gekrinkel. Ek kon nie verstaan hoe die mannetjie lewend daar-uit gekom het nie- dit was ‘n bestiering van bo! Hy was ook bleddie gelukkig ek het daar verby gekom…dit was maar ‘n dooie pad daardie tyd van die aand gewees vroeer jare.

Nou ja- Ek is toe terug, my trokkie ge-“reverse”- en die sleephak afge- “winch” daar teen die steiltes af. Ek het – na een helse gesukkel- kon die hak vasmaak so-om sy agter-as- en het hom vertel dat ons maar die kar op sy dak sal moet uitsleep tot bo…hy le te moeilik om op die se wiele te kry. Nou goed- so gemaak- en ek is vort boon-toe- en het beginne die “winch” inkatrol. Sy was moeilik- en die “winch” het haar net halfpad opgetrek- toe slaat hy ook vas. Goed…die enigste ander uitweg, was om my bulperd in te span- en die kar letterlik uit te sleep uit daardie gat uit. Ek het ingeklim, haar in eerste gesit- en stadig vet gegee…ek wou nie he sy moes weer “spin” nie. Ek se jou Andries, toe daai girl vasskop- toe pluk sy sommer die mannetjie se kar dat hy amper so bokspring boontoe…magtig- die trokkie het darem krag gehad. Nee wat..kyk…sy kon ‘n bleddie stoom lokomotief uit Kimberley se gat trek as sy wil” “ Sak Sarel!!!”- laat weet ta’ Hester weer.

“ Man broer- ek het haar eindelik bo gekry…sy het so half op haar sy daar uitgekom. Ek het toe die trok gestop- en die mannetjie gevra om te kom help. As ons nou saam stoot aan die een kant- da’ kan ons die kar omstoot dat sy op haar wiele val- anners is da’ nie ‘n manier dat ek haar sal kan wegsleep nie. Goed- die mannetjie het so half teesinnig gelyk, maar op die ou einde het ons twee toe saam die kar gewieg tot sy oorslaat en met so helse slag op haar wiele te lande kom- so dwars in die pad. Toe eers kon ek sien watse kar dit is. Hel seun…dit was om van te huil. Daar staan sy- n pikswart Corvette ’67 Roadster…! Ek het amper gehuil. Daardie karre kry jy eenvoudig nie hier nie…hy moes die ding laat invoer het. Sy het sulke bloed rooi sitplekke gehad….sportskar…maar ‘n pragtige vuurwa. Daar is sy toe…een groot wrak…so baie geld in die water. Dit was nou enige jong man se droom om te bestuur…en hier is sy so opgeneuk…afgeskryf in totaliteit. Kyk,- ek was lus en klap die mannetjie net daar-en-dan. Ek vra die ventjie sommer ook toe waar hy die kar kry? “Nee-“ se hy toe…”Sy pa het dit van Amerika af gebring..” Die mannetjie vertel my hy was oppad Groblersdal toe vir hotel besigheid…gaat glo toe ‘n hotel op die dorp opsit- toe die ding oppad gebeur het.

Man broer- ja..daar staat ek toe in die moeilikheid. Ek was klaar te laat om die tannie te gaat optel- en hier staan ek toe met ‘n tameletjie…waarnatoe vat ek die wrak…Middelburg-of Groblersdal? Ek het toe so ge-kapittel met myself- en op die einde besluit Groblersdal is die beste uitweg. Ek bly daar, hy is oppad soontoe- en ons Garage is ook daar. Nou ja- daar was nie selfone soos vandag nie- en daar was geen manier wat ek die tannie kon laat weet het wat gebeur het nie- so- hoe se die Ingelsman- ek moes toe maar “The bulet bite”- en afsit Grobbies toe. Erk sal maar later vir die tannie om verskoning vra- en boon-op kon ek darem Vyftien Rand kry vir my eerste insleep op die koop toe. So besluit- so gemaak- en ek het die kar inge-katrol met sy wiele, wat so een hel toe- en die ander hotel toe- gestaan het..in die lug agter-op die trokkie. So is ek en die mannetjie toe daar weg.


dries- dit was so na kwart-voor –tien die aand toe ons by Groblersdal insleep. Ek vra die mannetjie toe waar ek hom kan gaat aflaai. Hy se toe ek kan hom sommer by die poskantoortjie aflaai- hy het mense op die dorp- en sal hulle laat weet, maar hy wil eers sy ouers bel om te vertel wat gebeur het. Ek se toe aan hom hy kan van ons Garage af bel…daar is ‘n foon…maar nee-a…die outjie is hardekwas…ek moet hom kwansuis by die poakantoortjie aflaai. Goed- ek wou nie stry nie- en maak toe so. Ek is toe- na ek hom afgelaai het- vort na ons Garage toe. Ek het by die Garage gekom, ons skut se hek oopgesluit- en die wrak ingesleep- en gaat parkeer. Ek het onthou van sy boekie- en het so tussen die plat dak- en gefrommelde metaal gaat sukkel tot ek sy boekie gekry het. Ek is toe na ons “workshop” toe – waar ek Oubaas Luddike gebel het- en hom die storie vertel het. Die Oubaas was bietjie omgekrap omdat ek hom die tyd van die nag bel- en hy was al in die kooi. Na my gesprek met Oubaas Luddike- het ek maar besluit om nie die tannie te bel nie- anners was ek geskei voor ek getroud was, en het maar besluit om terug te gaat huiostoe- en maar die volgende dag af te sit Middelburg toe- en die kanonskote te gaat trotseer.

Jong- net toe ek so oppad uit die “workshop” is- onthou ek van die mannetjie se boekie- en besluit my nuuskierigheid raak darem nou te erg…ek wou weet wie die lat is. Ek stap terug na waar ek sy boekie op die oubaas se werkstafel gelos het- en maak hom oop. Die ventjie was nie te onaangenaam vir sy postuur nie…jong mannetjie- en hy gee ‘n goeie foto ook…hy glimlag breed op die foto…lyk amper soos die Amerikaanse filmsterre….nie te sleg nie. Sy boekie wys hy is Johannes Jakobus Visser- gebore in neentien ses-en-veertig…ek dink hy was so een-twee-en-twintig. Rykman’s kinders…mense wat nie ‘n steek werk gedoen het om sulke blink karre te kry nie…ryk pappies. Goed, besluit ek toe- as die pappie dan so ryk is- gaat hy nie probleme he met betaal nie. Ek het toe gesluit- en is vort huis-toe.

Man, Ek was sommer vroeg die volgende oggend op die been, gou ge-eet, aangetrek- en is daar vort na die “workshop” toe om die Oubaas te gaan inlig wat ons alles die vorige nag beleef het- en die kar in te boek vir die assesor voor ek afsit Middelburg toe. Ek het so agt-uur gestop by die “shop”- ankers aangeslaan- en is reguit na die oubaas toe. Daar in sy kantoor aangekom- groet ek toe die oubaas beleefd- maar kon sien hy was weer harig die oggend. Hy groet nie eers nie- maar vra sommer reguit waar dei kar is. Ek vat hom toe agter-om die “shop” na waar ek die kar geparkeer het. Daar gekom, kry ek een helse skok…die kar was skoonveld!! Ek sta’ eers gevries vir ‘n oomblik- en storm toe na waar dei kar moes wees….Andries…daar was nou nie-eers ‘n merkie op die grond om te wys dat daar ‘n kar ingesleep was die vorige nag nie. Ek kon dit geensins verklaar nie. Ek sta’ toe daar met ‘n bek vol tanne- toe ek skielik onthou van sy boekie. Ek vloog toe daar om- en sit af na die oubaas se werkstafel toe. Daar gekom- kry ek ook nie sy boekie nie. Verwilderd- soos jy kan verstaan- vra ek die Oubaas toe of hy die boekie gevat het/ Die oubaas het my so rukkie aangestaar..en doodluites gevra: “ Watse boekie?” Andries…daar staan ek- heeltemal uit die veld geslaan…die kar is weg….die boekie is spoorloos…dis asof ek nooit ‘n kar daar ingesleep het nie…hy is net “poef”….weg!!

Man- ek is seker tien keer terug na waar hy was- en na waar die boekie moes wees, maar hoe-ookal ek soek…die kar en boekie is weg….sommer-so die bloue lug in verdwyn. Die oubaas het later vir my gese ek moet maar liewer huis-toe gaat- en gaan rus….hy sal my die Maandag sien. Ek s toe maar daar weg, baie deurmekaar- en het toe maar afgesit Middelburg toe om my verdere lot daar te gaan uitsorteer..en het maar gehoop die tannie-hulle is nog daar as ek daar aankom- en het ook nie net “verdwyn” nie. Ek het besluit om nie ‘n woord oor my nagtelike wedervaringe uit te lap nie…net-nou dink die mense ek het ‘n bont varkie los. Ek het maar liefs besluit om ‘n ander verskoning uit te dink oppad na ‘n briesende nooi toe oor my skielike afwesigheid- en omrede sy haar fliek gemis het.

Andries- Ek het gery dit was al laat oggend- tot daar waar ek die mannetjie die eerste keer gesien het die vorige nag. Hy was nie weer daar nie, maar ek was in vir nog ‘n verrassing! Toe ek daar op die plek kom- toe staan daar vir jou twee ambulanse, Insleep trokkies, polisie karre- en ‘n lykhuiswa. Jy sien net ligte en mense….sommer-so dwars-oor die pad. Vir ‘n tweede keer moes ek op die plek aftrek. Daar gestop- klim ek toe uit- en gaat kyk wat dei “commotion” was. Ek het oor die pad geloop na waar die meeste beamptes doenig was- en het oor die rand van die pad geloer. Net mooi hier het my water gegaan. Daar onder- presies op dieselfde plek as waar ek hom gister-aand uitgesleep het- le dieselfde Roadster…pikswart en presies so opgefrommel soos ek hom die vorige aand gekry het! Ek kon my oe nie glo nie. Ek het net daar op my alie gaat sit-te lam om te beweeg. Daar het ek gesit- en was verder geskud toe die ambulansmanne ‘n liggaam uit die kar lossny….presies dieselfde mannetjie wat ek gisteraand langes die pad gekry het….hy was so dood soos ‘n mossie.

Ek het daar gesit- en gesien hoe hulle sy lyk optrek, op ‘n “stretcher” laai, met grys kombers toemaak- en agter-in die lykswa laai…vort Middelburg toe.Ek het gesien hoe hulle die kar uitsleep- en agter-op ‘n platbak laai. Dis hier waar my bene lewe kry. Ek draf sommer net-daar nader- spring op die trok- en so deur die venster aan die passasierskant- pluk ek die paneelkissie oop..en jou wragtig…daar is die blou boekie. Ek was skoon naar- maar nuuskierigheid het die oorhand gekry- en ek kon nie gou genoeg die boekie oopmaak nie. Toe ek uiteindelik hom oop het- het my bek letterlik oopgeval. Daar- voor my oe- staan dit: “ Johannes Jakobus Visser…gebore neentien-ses-en-veertig…en die foto op die boekie is ‘n man met ‘n reguit stip gelaat…die glimlag was weg!


Tot vandag toe pla die gebeurtenis my. Ek het gaan naslaanwerk doen toe die koerante die doods berig plaas. Hy was die seun van ene Koen Visser…’n ryk hotel magnaat van Kaapstad. Ek het toe Middelburg toe gegaan…ek kan nie eers onthou watse storie ek die tannie-hulle vertel het omrede ek nie die vorige aand opgedaag het nie, maar ek was vir ‘n paar maande nie myself nie. Eers later van tyd het ek die ding beginne verwerk…maar hy bly nog hier in die kop. Die tannie glo my nou so half-pad…maar nou ja- dis haar probleem…ek weet wat ek gesien het.”- en hiermee het die oubaas sy storie afgesluit.

Ek sal maar nie uitbrei oor wat tannie Hes weer kwytgeraak het nie…dit los ek maar vir u as leser, maar ek is amper geneig om oom Theuns se storie te glo- hy het nie as ‘n saad swaaier voorgekom nie. Aan die ander kant…die storie klink darem maar baie na ‘n oorwerkte illusie- ek los maar dei besluit by die leser om waarde daaraan te heg of nie.

No comments:

Post a Comment