Saturday, August 1, 2009
LIEFDE VIR VICTORIA
DIE LIEFDE VAN VICTORIA
Die verhaal wat ek nou hier gaan vertel, is een wat ek self nog maar sukkel om te glo. Soms vang ek my self baiemaal terugdink aan die besonderse verhaal- en of dit ooit werklik kon gebeur het.
Soos met al die ander verhale wat ek reeds geplaas het, het ek ook maar goed getob of ek wel die spesifieke een sal neerpen, maar omrede die een so fantasties onmoontlik klink, het ek toe op die einde van die dag wel besluit om die stof van die verhaal af te skud- en nou ook die staaltjie met u te deel. Omrede hy- soos al ons ou spookstories van vamelee se dae- tot ons volks historiese agtergrond behoort- het ek hom maar toe uit my verstand se argiewe gaan uithaal. Hier is dan ‘n verhaal van die onmoontlike en bo-natuurlike:
Ek was op skool- soos ek al in ‘n vorige storie gemeld het- in Potgietersrus se wereld tot ’78. Nou ja- terwyl ek op Hoerskool was- het ek bevriend geraak met ‘n seun by name van Tienie. Wat sy van is- die kan ek nie meer onthou nie, maar wat ek wel kan onthou, was dat sy vader se naam Oom Amram….nie Abraham nie- maar wel Amram was. Ons het hom sommer net “Oom Am” genoem. Dit is juis by die oom wat ek hierdie fantastiese verhaal gehoor het een naweek toe ek by Tienie gaan kuier het, soos ons koshuis brakkies gewoond was om te doen as ons eie ouers ons nie kon kom haal nie. Tienie-hulle was ook maar aan die minder gegoede kant waar dit kom by bates- en gesien wat hulle omstandighede was- kan ‘n mens ook maar verstaan. Tienie- hy was al uit die skool- het so ‘n ou groen Datsun SSS motortjie gery met die ” 8-Track” tipe musiek bandjies. Hy was ‘n motor meganikus daar op Potties se dorp. (Ook maar die enigste inkomste en motor wat die gesin van ses gehad het.)
Oom Amram en sy vrou, moet u verstaan, was ook maar mense wat lief daarvoor was om naweke so bietjie ver op die strydwa van die wyngod Bacchus- te toer. Oom Amram was dan ook ‘n man wat sy taal met sterk kruie kon bydam- en was ook ‘n ywerige rofstoei fanatikus- dus het ek maar besluit om nie die spesifieke dele en bewoording wat hy deurentheid gebesig het- te herhaal in die verhaal nie.Om die besondere rede weet ek nou nog nie of dit ‘n werlike verhaal was- en of ou oom Amram hom letterlik tot binne-in die geestes wereld gedrink het die aand by ‘n braaivleis -toe hy my die verhaal vertel het nie. U moet maar self besluit oor die verhaal. (Ek pen die verhaal neer van wat ek kan onthou- sekere dele moet ek nood geswonge inlas om die verhaal egtheid te gee, omrede dit al so lank terug aan my vertel is- en die skrywer nie meer al die detail kan onthou nie.) Hier is dan sy verhaal:
Oom Am het my aandagtig aangekyk toe ek hom vra of hy enige spook stories ken wat hy aan my kan oorvertel. Hy het so ‘n rukkie diep nagedink- en toe sy stoel nader aan die braaivuur geskuif, ‘n Lexinton aangesteek- en so deur die rook uitblaas sy storie begin: “ Andries- jy vra my nou of ek spook stories ken? Laat ek jou vertel- ek- Amram- het ‘n storie wat jy dink ek gaan lieg, maar ek se jou- vra die tannie- ek vertel haar al jarrre dit het gebeur- ek sweer!” Jy kan maar haar vra- my ma het dit al vir haar vertel ook! Andries, my oupa-(Hier kan die skrywer nie die persoon se naam onthou nie)- was so ‘n groot man….man ek se jou- hy was maklik ses voet ses- hy sou nie by daai deur inpas nie!”- en die ou man wys na sy vervalle voordeur by die kombuis. “ Ek se jou- Jan Wilkens sou sy storie moes ken om my oupa te “beat!” As my oubaas jou in ‘n kop-klem gevat het- dan skyt jy…jy kom nie los nie! Nou ja- wat ek jou gaan vetrel- het met my oupa gebeur toe hy transport gery het jarrre terug.” (Ou oom Amram het eers opgestaan en sy Coke en Brandewyn gaan ingooi- en toe weer stelling by die braaivleis vuur kom inneem….reg om te vertel.)
“ Ja….”- begin hy- na so diep teug van die tiermelk uit die glas van sondes. “ Soos ek jou gese het- my oupa het transport gery daar van Witbank af tot darrr bo by Pietersburg met die wa en osse. Hy het ge-transport tot doerrr in die Laeveld- man- die hele bleddie wereld vol. Daar was nie ‘n plek in hierdie wereld wat my oupa nie geken het nie. Dit was jarrre terug- daar in die laat agtien honderds. Ek se jou- daai oubaas kon ‘n os met die vuis platslaan- sy bo-arms was twee keer so dik soos jou been- ek vertel jou! Nou ja- laat ek jou vertel- een aand was die oubaas ook op pad Laeveld toe- iewers daar anderkant by Groot Marico se wereld ( Eerste keer dat die skrywer toe van die besonderse plekkie hoor. Later het ek verneem daar is ‘n Klein Marico ook)- toe sy wa se as mors-af breek by die wiel- sommer net daar in die veld – se ek jou. Laat ek jou vertel, my oupa kon ‘n wa se een kant optel alleen dat hulle wiele kon swaai as hy wou - ek se jou! (‘n Feit wat die skrywer dan ook erg betwyfel in alle fasette.)
“ Nou ja- die bleddie as het toe gebreek- en die oubaas moes iewers hout kry om die as weer reg te maak- en daar in die veld was nie reguit bome nie. Hy het toe sy osse laat uitspan- en die tente laat opslaan om uit te kamp. Nou ja- hy het toe die volk aangese om maar daar te bly wag tot hy terugkom- hy gaat eers met twee perde moet ry om iewers te gaan hulp soek by een van die plase wat ook maar skaars was daai tyd. Hy is toe daar vort. Soos my pa my vertel het, het die oubaas vir ‘n hele paar ure moes ry en loop soek na ‘n plaas.
Nou ja- so in die soek het die oubaas eindelik toe iewers ‘n plaas raakgeloop- en dis nou hier Andries- waar die spook storie begin. Hy het toe- soos my pa se- by ‘n plaas aangekom- nou moet jy verstaan- dit was bleddie donker ook nog. Dit was een van daarie hout tipe herehuise met die Verandah en alles. Die soort met die grend Ingelse tuin en so aan. Die mense op die plaas was Ingelse- twee broers en ‘n suster. Ek weet nie wat hulle name was nie- maar die suster se naam was Victoria- die weet ek goed. Hulle was daai “Prim en Proper” Ingelse gewees- jy weet die met die toeknoop rokke wat so wyd was wat hulle daarie tyd gedra het. Die een broer- se my pa- was so malletjie- jy weet- sy kop het nie lekker geklap nie- laaitie was nie lekker nie. Nou ja- my oupa was ‘n bleddie fris ou man- daai tyd was hy nog jonk- en die girltjie was ook blykbaar bleddie mooi en jonk. Donker koppie gewees – se my pa. Sy het van die aankoms al van my oupa gehou- ons familie is almal groot sterk mense- en hulle het hom toe uitgenooi om daar te bly totdat hy ‘n as kon maak vir die wa…..baie vrindelike girltjie gewees.
So gese- so gedaan- en my oupa het toe ‘n kamer iewers in die huis gekry om in te slaap. Dit was al laat aand- en die ou man was al moeg gery- en het sommer daar en dan sy goeters gaan inpak in die kamer. Jong seun- dis waar die *** begin het. Soos my pa vertel- het die Victoria girltjie toe sommer daar in my oupa se kamer ingekom- en begin aanle….vatterig raak jy sien. My oupa was ook nie ‘n koue man nie- en jy moet verstaan- na so ‘n lang tyd sonder ‘n vroumens- was die ou al bietjie baie verlore en lus. Hy was nog nie getroud nie- en jy kry ook nie elke dag so ‘n geleentheid nie.
Die twee het toe aan die natuur se roepstem gehoor gegee- en daar en dan ‘n warm vryery begin. Nou ja- soos my pa vertel- was dit juis op die punt dat die een boetie- nie die malletjie nie- by die kamer inkom- en die twee sien vry. Hy was dadelik die hel in- en het op my oupa begin vloek- en sommer begin om sy suster met die plathand by te dam. Nou ja- soos ek gese het- my oupa was groot- en die het nie nonsens van die kakie mannetjie gevat nie- en hom net daar gegryp- en ‘n verdekselse loesing met ‘n boere vuis gegee…skoon bo-oor die bed- en blykbaar sy oog toe gewetter! Jy slaan mos nie sommer aan ‘n vroumens nie….suter of nie-suster nie.
Die mannetjie is toe al skreeuend hande viervoet en bloeiend daar uit- en gese my oupa moet sy goed vat en " bogger-off " in Ingels. Die sustertjie het toe ingespring- en vir my oupa gese dis olraait- hy kan maar oorslaap- sy sal met haar broer praat. Na ‘n lang storie het my oupa toe besluit om te bly- en liewer die girl uit te los. So is daar toe vrede bewerkstellig. Dit was in elk geval aand gewees- en die ou man kon nerens anders daai tyd van die nag heengaan nie. Blykbaar het die Ingelsman vir my oupa gese hy gaan dit nie vergeet nie- en my oupa sal weer van hom hoor.
Nou ja- die nag het verby gegaan- en my oupa was die volgende oggend vroeg uit om hout te gaan soek. Soos my pa vertel- was die oubaas in die veld rond op soek na Bloekom bome- toe die Victoria weer hom opsoek- en beginne aanle. My oupa wou nie- en het probeer die girl afsit- maar sy het aangehou en aangehou totdat die oubaas ingegee het. Sommer daar in die veld het dinge toe weer gebeur- ek gaan nou nie se wat nie- jy’s nog te laaitie- sal slim word-(Oom Am gee toe so ‘n grynslag). Ek meen- ‘n man is ‘n man. Nou ja- my pa se toe my oupa en die Victoria afstap huistoe- toe staan die malletjie ‘n ent weg en kyk vir hulle. Hy het nooit kom groet nie- en het nooit gepraat nie….was soos ‘n kind. Soos my pa vertel- het die drie se ouers lank terug die pad gevat – en nooit weer teruggekom nie. Die drie was alleen op die plaas. Mense in die omtrek het gese hulle is terug Ingeland toe. Van daar af het die malletjie so die heeltyd my oupa-hulle dopgehou, en elke keer as my oupa in sy rigting beginne aanstap- het hy so koes-koes laat spaander.
My oupa het toe maar aangegaan met die as- en die girl was die heeltyd saam met hom- om hom gedraai, gehelp, kos aangedra- en sy en die ou man het natuurlik heeltyd gevry ook.” Die ander boetie was – soos my pa vertel- goed de d***** in- maar het my oupa gelos. Hy was seker bang my oupa **** sy ander oog ook toe.(Oom Amram het so kekkel laggie gegee.) Die Victoria het blykbaar in die aand my oupa daai snaakse Ingelse danse geleer….jy weet- daai soort waar jy so in die rondte draai. Sy het my oupa blykbaar bleddie goed geleer. Elke aand het sy blykbaar die grammafoon aangesit- en dan het sy en die oubaas tot laat in die nag die Ingelse walse gewals.Die boeties was – soos my pa vertel- nie baie lekker met die storie nie- en het niks daarvan gehou as sy so met hom tekere gaan nie. Een aand – blykbaar- het my oupa gehoor hoe die broer en die Victoria een helse bakleiery aan die gang het- en op mekaar geskreeu het, maar liewer besluit om uit die storie te bly- hy sou in elk geval binnekort weer sy ry kry.
Nou ja- my oupa en Victoria het toe beginne “lovers” raak- saam het hulle die hele plaas vol geloop, in die rivier geswem, berg geklim, perd gery- en sommer baie dinge gedoen wat verliefdes gedoen het- sy het tot die ou man gebad- ek se jou! My vrou wil nie eers my rug was nie. Nou ja- my oupa het toe besluit om vir so ‘n week daar te bly- hy’t lekker gelewe daar- die ou Bokker! Tyd het gou geloop- en die oubaas moes terug na sy waens toe wat nog in die veld uitgespan staan. Na ‘n goeie romantiese nag- het hy toe maar klaar gemaak die volgende oggend. Die Victoria wou teen wil en dank nie dat my oupa gaan nie- en wou met alle mag saam met hom op die perd klim. My oupa het blykbaar sy hande vol gehad om die meisiekind te oortuig dat sy nie mag saamgaan sonder haar broer se toestemming nie. Hy het toe vir die girltjie gese dat hy sal kom draai maak as hy terugkom, en dat hy vir haar ‘n ietsie sal saambring. Toe die oubaas groet, het die twee broers blykbaar hom nie eers tot-siens kom se nie, maar net so nors op die stoep hom staan en aangluur. Die oubaas het hom nie meer aan hulle gesteur nie- en het maar sy goedjies opgepak- en gereed gemaak om te vertrek. Hy en die Victoria het toe maar afskeid geneem. Sy het hom toe gevra om weer te kom kuier- en dan sou sy kwansuis gereed wees om saam met hom terug te gaan Witbank se rigting om sy vrou te word. Hy stem toe in, en sy vra hom tersluiks om vir haar ‘n juweel kissie te bring wat haar aan hom sal herinner as hy weg is- een van daai wat die ballerina so in dans met die mooi musiek. So gese- so gemaak- en die oubaas is toe daar weg met die as op die perde gespan terug laer toe.
Man seun- die oubaas was toe so twee weke op die pad- het toe die goedere op Groot Marico gelaai- en is vort- terug om by die plaas, wat nou so-te-se op sy pad was- te loop draai maak en Victoria se geskenkie af te laai. Nou ja- na so drie dae se ry- dit was ‘n vol vrag- kom hy toe op die plaas aan. Hier het die snaaksigheid toe begin. My pa se toe die oubaas op die plaas werf inry, toe sien hy g’n huis meer nie- net ‘n murasie van ‘n huis wat vervloee dae daar gestaan het. Die oubaas was seker hy was op die regte plek, en het beginne soek- hiernatoe- en daarnatoe. Hy het orals in die omgewing loop soek, met die perd, te voet- en wie weet wat de hel nog, maar die plaashuis was skoonveld- net die murasie was teken van enige mense wat daar gebly het. Die erf was reg, hy het nog die omtrek, omgewing- en bome onthou. Hy stap toe na die Bloekom boom waar hy die as afgekap het- maar toe hy daar kom- was daar g’n merk aan die boom nie- en hy kon nie eers die plek kry waar hy die tak af gekap het nie- tot die boom het anders gelyk. Hy het toe in die murasie ingegaan- en gesien dat die plek moes afgebrand het, want orals was daar tekens van gebrande kosyne- maar dit moes jarre terug al gebeur het- soos die oorblywende hout al verrot het….totaal verlate se ek jou. Soos hy wou- soos hy probeer het- hy kon geen teken kry van die huis nie.
Die ou man het naderhand besluit om uit te span- en het gaan soek of hy nie enige ander plaas iewers naby kry om navraag te doen nie….en of hy nie dalk iewers die regte afdraai gemis het nie. Op einde laaste het hy toe ook by ‘n ander plaas- so tien myl verder afgekom waar ‘n ou tannie gebly het. Hy het afgesaal- en gaan klop. Toe die ou tannie oopmaak- het hy hom voorgestel, en vir die ou tannie gevra of sy weet waar die mense se plaas dan nou is- en of hy op die regte grond staan waar hy met die wa uitgespan het. Soos my pa vertel- het die ou tannie my oupa aangegaap- en van g’n sout of water oor sulke mense geweet nie. Wat sy hom daar gese het- het die ou man so geruk dat hy blykbaar tot met sy dood dit nie kon verwerk nie. Sy het glo gese dat vroeg in die sewentien honderds- so by sewentien twaalf rond- weet sy- het haar ouma haar vertel van die besondere plaas in die omgewing, min-of-meer daar waar my oupa verduidelik het, waar daar twee Ingelse boeties en hulle suster gebly het. Die mense in die omtrek het nie met hulle gemeng nie, want se sy- die boeties het on-goddelike dinge met hulle sussie gedoen teen haar sin…jy weet…saam geslaap om die beurt. Die boere in die omtrek was erg teen die soort teen-Bybelse sonde- en het die klomp vermy. Die drie is ook nooit saam by byeenkomste gesien nie, en niemand het geweet wat hulle nering was nie.Waar hulle ouers was- het nugter geweet nie.
Eendag- se sy toe- kom daar toe‘n Tansport drywer van wie weet waar af. Hy moes seker verdwaal het om daar uit te kom, want die plaas waar die drie op gebly het, was ietwat ver eenkant van enige roete af. Sy weet- se sy- dat daar , soos haar ouma haar vertel het, die mannetjie ‘n paar dae daar gebly het- en daar ‘n helse storie tussen die Ingelse girltjie en die Transport drywer ontstaan het- vryery jy weet. Die boeties het niks daarvan gehou nie- hulle was baie jaloers op hulle suster. Natuurlik gesien sy gaan wegloop met die ventjie. Daar is stories wat die rondte gedoen het dat die meisiekind saam met die Transport Drywer wou weggaan omrede sy wou wegkom van haar broers af wat haar so verniel het.
Soos sy kan onthou- het hulle blykbaar net gewag tot die Transport Drywertjie hom eendag uit die voete maak- vort is met sy werk- en toe die meisiekind gegryp en haar vasgebind en vreeslik geslaan en haar ook herhaaldelik verkrag. Die volgende wat gebeur- volgens die kornette wat daarna daar was- is dat die twee boeties haar uit pure selfsug en verwronge haat gegryp het, in die kelder van die huis in gesleep het, en haar weer gaan verkrag het. Hulle het haar blykbaar ‘n paar dae opgesluit gehou. Daarna- uit pure haat en jaloesie- en vrees dat die Transport Drywer dalk gaan terugkom, het hulle die huis aan die brand gesteek- met haar binne in. Die meisie het daar in die donker kelder dood gebrand- en die twee het gesorg dat hulle spoorloos verdwyn. Hulle is maande later in Oos Londen vasgetrap toe hulle wou skelm wou wegseil Ingeland toe- en is daar en dan in hegtenis geneem- en toegesluit. Later is albei iewers in die Kaap gehang nadat hulle met die sak patats vorendag gekom- en alles gebieg het.
Sederdien staan die opstal leeg, want se die mense- dit spook iets gruweliks op die plek- en niemand wil die plek koop nie. Sekere nagte – op die tyd wat die tragedie gebeur het, hoor jy blykbaar die aanmekaar verwronge en bloedstollende gegil van die meisiekind wat hewige pyn verduur deur die bome klief, teen die berghange op- die heel nag deur, en in die agtergrond hoor jy duidelik die deuntjie van ‘n draai orreltjie- soos die van ‘n juweelkissie- wat speel. Die ou tannie het gese sy het dit al baie kere self gehoor. My pa se my oupa het asvaal net daar kort-om gevlieg- en met die perd plat gejaag na sy wa toe. Toe hy die kis oopmaak waar hy Victoria se juweel kissie netjies in bruin papier toegedraai het- was die papier daar….maar die juweel kissie skoonveld- tot vandag toe! My oupa het net daar en dan sy wa opgepak- en laat spaander om so ver moontlik van die plek af weg te kom- en het nooit weer daar langes gegaan nie- en nooit weer daaroor gepraat nie- tot eendag- met sy sterfbed- hy dit aan my ouma oorvertel het. Die plaas self- is blykbaar later deur die staat as verbeurd verklaar.”
Oom Amram bly so rukkie stil terwyl hy aan ‘n sigaret suig. “ My oupa- se my pa- wou nooit daarna trou nie- maar is toe uiteindelik op ‘n heel latere ouderdom met my ouma getroud.” Hiermee gee oom Amram my so ‘n lang tuur deur skrefies oe terwyl hy met die lee glas tussen sy vingers speel. “ Jy dink ek praat nonsens ne seun…..jy dink seker jou oom is dronk ne- die Brandewyn wat praat….maar ek se jou- dis die reine waarheid wat ek jou vandag vertel!” – se – vra hy.
Wel…moeilik om te se. Ek- vir een- logies gesproke- stem dalk saam met oom Amram ten opsigte van sy laaste vraag oor die Brandewyn, maar wie weet…..die ou wereld en geskiedenis van ons het al vreemde dinge opgelewer- en wie weet- dalk is dit- net dalk- die waarheid. Het Victoria haar juweel kissie kom haal soos sy wou he….en speel die ding ook daar in die anderkant van vergetelheid? Moeilik om te se. Ek los die raaisel maar by die geagte lesers.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment