Saturday, August 1, 2009
GERMAINE SE HOND
GERMAINE SE HOND
Die ou nasietjie wat my seker die meeste fassineeer in ons ou land, moet ek aangee as ons eie Kaapse kleurling nasie. Die mensies is vir my te wonderlik. Hulle manier van praat, die manier wat hulle mekaar kan repperdeer, optrede..en ag..sommer net hulle manier van dinge doen. Ek kan ure na hulle sit en luister as hulle ‘n gesprek voer- veral as daar twispunte opdaag. Jy kan jouself om ‘n vaatjie buig soos jy lag, maak nie saak hoe ernstig hulle probeer wees nie- komies die bly hulle. Ek praat nou nie van die nuwe tipe boosdoener element wat veral in die Kaapse Vlakte doenig is nie…daar glo ek nie is enige snaaksigheid aan betrokke nie.
Dievolgende verhaaltjie kom juis van een van ons Kaapse kleurling vroue af- en wat hierdie verhaaltjie interresant maak- is die feit dat ‘n dier hier die hoofrol speel…en nie die eentonige alom teenswoordige menslike faktor nie. Of die staaltjie enige waarheid dra…dit weet ek nie- die moet ons maar vir Germaine Hendricks van Elsies Rivier oorlaat om te besluit. Dit was ‘n avontuur om net na haar gesigs uitdrukkings te kyk toe sy die staaltjie vertel het….dit was werklik‘n belewenis om haar te sien inleef in die verhaal…jy sou amper dink die toneeltjie speel hom voor haar af. Ek gebruik nou maar haar manier van praat- so onveranderd as moontlik. Hier is dan haar weergawe van ‘n ondervinding met die bonatuurlike element:
“ Meneer sien…” – begin sy. My pa hulle het vamelewe da vannie bo-Kaap af gekom…ek dink hulle het net annekant naby Kroonstad gebly, ma aan die kant vannie Kaap..nie aan die annekant van Kroonstad nie My ma het siek geword en my pa hulle moes Cape Town toe kom om my ma beter medisyne te gee. Da was mos nie daai tyd sukke grend goed soos vandag nie…dokters was ma skaars. Nou ja, toe kom onse maar..my pa, sy se ma, my ma, ek, my boetie..en my anne twee sussies - ons was nog ma klein daai tyd gewies…sukke opgeskote goedjies. Toe onse nou hie kom..kon ons nerens blyplek kry nie…haai hene meneer..ek se jou…ons het ‘n paar dae in ‘n ou “ruin” moes slaap! Ons wassie lank hier nie, toe het my oom wat da by Klapmuts gebly het-gese ons kan ma daar kom bly…seke ma sorry gewees vir ons. Ons het toe so met die bus gekom en my oom het ge-“ organize” dat ons ‘n hys kry so ent van hulle af. Nou ja..my pa hettie werk gehad nie..da was bokkerol kos nie – nie geld nie..niks…ek se meneer..ons het swaar gekry. Meneer weet mos-daai tyd was onse kleurlinge te swart om wit te wees…job was ma skaarserig vir onse ou Gammetjies.
Toe ons nou ingetrek het, het my pa darem gelukkig ‘n werk gekry op een va daai wynplase..ek wiet ok nou nie watte een nie- ma in any case- hy het gewerk. Onse hys het toe darem toe begin mooi lyk..hy was nou nie groot nie..maar ons kon darem almal in die aand slaap, eet en die rent betaal. Nou ja..dis nou net daar waar die dinge begint het! Op een dag toe kom da so klein wit brakkie by onse hys aan..somme so ‘n weggooi dingetjie…meneer wiet mos. Ons het gesien die hond het ma altyd by onse hys gebly…nooit weggegaan nie. Ag meneer..toe begin ons die dier jammer kry..en begint hom maar kos te gee…’n mens kan mos nie hom so los nie…hy is ok mos een van God se “creations”. Nou ja..so het ons ma die ou brakkie as onse eie aangeneem..en hy was nogal baie oulik..so wittekie met baie hare…ek wiet nie watse soort hy was nie…but who cares.
Die hond was nogal lank by ons gewies…toe ons een aand laat wakker word omdat hy so tekere gaan. Ons het hom somme Whitey genoem…omdat onse mense altyd van julle witmense as Whiteys gepraat het..en hy was nou ook toevallig wit. My pa het altyd gese dat die witmense hou ons dop..al stuur hulle nou ook ‘n bleddie hond..hy moet ook wit wees…haai hene meneer…ek spot nou ma net. Nou ja, soos ekke gese het…die aand toe gaan daai hond so tekere…weet meneer…ons het almal lateraan by die vensters uitgekyk…somme ook die bure saam. Ons dog die brak het seergekry..of hy sit in ‘n heining vas, ma nee, die ding hardloop da rond soos ‘n afkop hoender- en hy blaf-en hy speel..jy weet mos..soos ‘n hond wat bly is. Toe ons nou nog so kyk…toe sien ons ma da is nog ‘n anner hond…ok so kleintjie…ma gladde hare.
My pa was baie kwaad..regtig meneer…hy storm da yt en vloek die hel yt die honde want hy moes weer vroeg loop werk toe. Die anne hond het somme weggeraak va pure skrik- en onse brak et da teen die hys ga le…soos hy altyd maak. Nou ja…ons het toe nou niks verder va die saak gedink nie en geloop slaap. So was dit elke anner nag..tot wee een nag…weer laat…toe gaat onse brak wee so mal aan. My pa het darem nie daai dag gewerk nie…hy was so bietjie meer kalm..en het ytgegaan…wee jy meneer…genuine..toe is daai anne hond wee da. My pa het toe ma die anne een jammer gekry…en vir hom kos ytgesit…somme da in die nag. Die anne hond het nie kom eet nie, want die volgende more toe sta die se kos nog da. Hy’t nooit eintlik naby ons gekom nie…en as ons hom roep…da dissapear hy somme net…seke bang vir ons gewees. Nou ja, soos ek gese het..Onse brak het ok nie aan die kos ge-“touch” nie..hy het net op sy eie gewoonte ou plekkie gele. Hy was somme so dood..ons kon niks yt hom kry nie. ( Germaine staar so ‘n oomblik diep in die verte in) “ Het meneer nie dalk vir my ‘n eintjie nie…meneer weet mos?” Ek handig haar toe ‘n sigaret aan. Sy het die rook so diep in die longe ingetrek- en haar oe op skrefies getrek toe sy reg is om voort te gaan met die verhaal
"Ai meneer…die ding het toe nag na nag so aangekarring…ons het later ma die honde gelos…gedog onse hond was ma alleeen en dis hoekom hy ook ma wil speel…ma snaaks…die anne hond het nooit gebly nie…net gekom om te speel..en dan net weggeraak. Niemand da om ons het die hond geken nie…en ons kon hom ook nie kry nie. Ons het gedog dis ma ‘n “stray”- en nie veder geworry nie. Ek kan nog goed onthou…dit was so bryn hondjie…het heeltemal anners gelyk as onse een. Nou ja..die saak da gelos het ons ma aangegaan met onse eie probleme Onse brak het ook nie lank gehou nie…een oggend toe ons opstaan…toe is hy skoonveld…ek se meneer…net weg! Dit was so week later toe hy weer truggekom het, maar hy was poegaai. Die arme ding het net gele…jy kon sien hy wassie meer lus omte lewe nie. My pa het ga kyk…toe sien hy daas merke op die hond se ribbes…slang het hom gepik. Nou ja meneer…wat kan mens doen…ons het nie geld gehad om hom dokter toe te vat nie…en any way…dit was te laat. Hy was mos amper half dood! So het hy ma elke dag net gele…en ons ko sien die outjie ga dit nie mee lank maak nie. Ons he ma die ergste verwag.
Nou ja…toe gebeur da iets baie snaaks. Een aand word ons toe nou mos wee wakker oor ‘n geraas. My pa is daar yt die hys yt met ‘n battim…toe kom hy wee trug en se die hond he sy tweede asem gevang…hy’s O.K…en daai anne hond is wee da. Wragtig meneer..ek het gaan kyk. Daai brak va ons en daai anne een hardloop die wereld vol en dit blaf en byt en gaan so tekere. Die volgende dag toe ons nou gaan om die hond kos te gee…toe le dit weer…baie siek…jy ka sien die ding wil wee vrek. Hy het slegter gelyk as die dag tevore. Ons gee toe maar water en my ma se toe nog hy’t seke al sy petrol ytgehardloop die anne nag…die dat hy nou wee wil vrek. Toe die aand kom..toe raas dit wee…en weer is daai anne hond da..haai vader meneer…jy sou nooit as te nimmer kon se die dingetjie wou nog die dag vrek nie. Hy hardloop somme so..en spring so in die lug…en hy en die anne een jaag mekaar om die hys. Die volgende oggend toe lyk hy wee slegter as die vorige. My pa het gese ons moet ma die goed ytlos dat sy petrol nou ma eenmaal klaarraak.
So het hulle aangegaan tot die naweek toe, maar by Vrydag aand toe vrek die brakkie…somme net so…haai shame meneer…hy’t so stil stil net sy oge toegemaak- toe is hy weg. Jy weet meneer…toe hy vrek, het die anne een so ent byte die jaart gesit en kerm…so asof hy gewiet het onse hond blaas sy laaste asem yt..maar hy’t nie nader gekom nie…net omgedraai en weer ge- dissapear…nugter weet waarheen. Ons het “sad” gevoel..en hom agter in die jaart gaat begrawe…nogal mooi kosmosse op sy graf ga sit. Snaaks…van da af het ons ok nie mee die anner ene gesien nie- rerig….ek lieg nie vir meneer nie…dit het rerig gebeur…ek het dit met my eie oge gesien. Alles was toe wee back to normal-tot eendag toe da anne mense by ons hys gestop het. Die mense het glo da voor ons gebly…en die mense het nog goeters in so klein shack agter my oom se jaart gehad wat hulle toe kom haal het. Die vrou het ma uit nuuskierigheid kom kyk wie bly nou in hulle ou hys..en kom kennis maak.
My ma het ha tee gegee en hulle het ma so bietjie gepraat terwyl ha man die goeters laai…en so met die praat…toe kom die honde se storie op…jy weet mos…’n mens praat mos van allerhande dinge as mens keier. Haai meneer…da kry ons toe ‘n vreeslike shock! Die vrou wou weet presies hoe onse hond en die hond lyk wat elke nag kom keier…en toe my se ma haar vetel..se die vrou vir ha dis nie possible nie…dit moet‘n spook wees! Ka jy nou meer? Die bryn hond was hulle se hond gewees se sy…en die witte was haar se kleinkie. Toe die mense die dag getrek het..het die ma oor die straat gehadloop en ‘n kar het ha doodgetrap. Die wittetjie het blykbaar so geskrik dat hy somme die veld ingevaar het. Hulle het lank gewag en geroep…ma die hond was skoonveld. Nou ja…hulle moes toe ry..en is daar vort sonne die hond. Dis die hoekom onse hond nie van onse hys wou weggaan nie…seker ma baie oor ha getreur. Sy ma moes seker aan die annerkant va die grave gehoor het hoe hy tjank…of gevoel het hy was eensaam…en toe ma elke aand kom speel met hom. Die eienaardigste was toe hy aan’t vrekke was…toe het sy gereeld vir hom kom keier…tot hy dood is…toe’s sy ok weg. Dink meneer sy’t hom kom haal?”
Kom haal….ja….dit is ‘n interresante vraag. Is dit moontlik dat daar by diere ook soos by die mens emosie bestaan…en soos in Germaine se vertelling…kan diere ook dan terugkom om hulle geliefdes te kom haal? Wie weet…ons kan net spekuleer.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment