Saturday, August 1, 2009
DIE UILSKUIKENS EN OOM DE PRIEST
Dit is vir my aangenaam om julle hierdie storie te vertel wat ek nou gaan vertel. Lesers moet die storie maar tong-in-die-kies opneem:
Ek het jare gelede die eer gehad om in die Noord-Transvaal op ‘n klein dorpie genaamd Naboomspruit te woon. Die dorpie was niks ongewoner as andere dorpe nie,- dit was die mense wat ek daar ontmoet het wat heel interresant was. Ek het so ‘n paar jaar op die dorpie in Noord Transvaal gewoon, en met al die mense kennis gemaak. Van die interresantste mense wat ek op hierdie ou dorpie ontmoet het, was seker die vier jonge here en een dametjie. Hulle name was jonge here Francois Smit, Rijk De Jager, Francois se jonger broertjie Andre, ene Tiaan, en die jonge dame Rentia Kaarstens. Die vyf jongens was altyd in mekaar se geselskap, en het alle kattekwaad en streke saam beleef. Elke een van die vyf het dan nou sy of haar eie persoonlike kenmerk gehad. Francois was so ‘n langerige kereltjie met baie sproete en hope selfvertroue.Waar die hel losgebars het, kon jy maar altyd vir Francois aan die voorpunt gaan soek, altyd die voorbok gewees.Rijk aan die ander kant was soos ‘n lokasiebrak-seningrig en maer, en kon iets verskriklik kekkel. Tiaan was maar ‘n redelike stil laaitie wat daarvan gehou het om die wereld van agter sy donkerbrille te beloer-het glo aan hom ‘n soort mistieke gevoel gekweek van as ek die goed dra, dan kan ek jou sien, maar jy kan nie my sien nie.. Andre- die jongste van die klomp, was ‘n mannetjie wat ook redelik kon babbel as hy die dag afhaak, maar sy sterkste kenmerk was daardie basuin wat hy in sy kop rondgedra het. Met daardie skerp stemmetjie van hom kon hy maklik-maklik ‘n hele vloot oorlogskepe sink. Die laaste van die bendelede, wat ek toe maar die uilskuikens gedoop het, was die enigste meisie in die groep- jonge Rentia. Sy was ‘n nooi wat ‘n hoender baie meer van kekkel kon leer as wat die Liewe Heer dit kon doen, maar ‘n baie aangename jong meisie. Sy en Tiaan was ook dan nou liefies gewees.
Soos baie ander verafgelee plekke in onse ou land, het Naboomspruit ook sy kwota van spookstories gehad, en dan ook sy kwota van spook plekke en huise. So was dan die bekendste spookhuis een ou vervalle Britse ruine wat doerrr hoog teen die nek van die Waterberge gestaan het, ‘n regte ou Engelse herehuis. Mense het nooit na die ou murasie gegaan nie, vanwee die legende dat dit eens die woonplek van ‘n jaloerse ou engelse graaf was, en ‘n regte ou kluisenaar. Niemand het hom ooit eintlik gesien nie, en selde het hy na die dorpie gekom, en net ook as dit regtig nood of nodig was. Vir jare het die ou daar gewoon, tot op ‘n dag wat hy skielik spoorloos verdwyn het. G’n haar is ooit gevind nie. Die storie was dan dat die oubaas een nag deur aanvallers verras is, en vermoor is. Legende wil dit he dat die oubaas ‘n ooreenkoms met die duiwel gesluit het dat in ruil vir sy siel, hy rykdom sal ontvang, want, se die mense in fluisterstemme, die oubaas was stinkryk. Na die ou se dood het die huis nog meer geheimsinnig geword, en niemand wou dit waag om op te gaan en te gaan kyk wat was die toestand van sake nie. Met sy verdwyning wou nie eers die polisie beamptes gaan ondersoek doen nie, en die swart konstabels het botweg geweier om ‘n voet op die berg te plaas- die duiwel het volgens hulle daar die plek bewaak.
Om na die ou huis op die berg te gaan, moes ‘n mens eers deur ‘n baie ruie plaat Kameeldoring bome gaan, en dan deur ‘n kloof, oor ‘n rivier, en dan teen ‘n baie skuins kronkelpad die berg uit na die plek. Die berg was so twaalf kilometer van die dorp af, maar binne sigafstand. Net die een huis kon teen die berg gesien word van die dorp af, geen ander wonings was in die omtrek nie. Net ‘n paar strooise was aan die voet van die berg sigbaar. Juis om al die genoemde redes het talle jongens mekaar gewedywer om te bepaal wie nou regtig die manne- of vrouemoed het om die berg van onheil te bestyg, en vir een nag te gaan deurbring in die huis van verdoemenis. Vir jare het die dorps-en koshuis kinders al hierdie bepaling ingestel gehad, maar tot op daardie tydstip was daar nog geeneen wat dapper genoeg was om die ou takie te aanvaar nie. Sou iemand dit wel waag, was hy of sy, of hulle die onteenseglike helde onder die jong gemeenskap, en hulle name sou in die jong mense en dorpenaars se harte verewig word.
Omdat ons vyf uiskuikens bekend was op die dorp aan al hulle kattekwaad en streke, was dit niks minder as reg dat ook hulle genader was om hierdie uitdaging te aanvaar nie, en om voor die gemeenskap bekend te staan as maar net ‘n gewone bang bende, was nie vir die groepie aanvaarbaar nie, veral nie vir die sterk jonge Francois nie. Die bulletjie het ‘n reputasie gehad dat hy vir niks terugstaan nie. Sou hy ‘n ding aanvat, dan sou die res ook volg. So het dit dan gebeur dat die jong voorbok eendag in die teenswoordigheid van sy skool liefde in ‘n argument met ‘n ander seun betrokke geraak het. Die ander mannetjie het hom dan vanselfsprekend uitgedaag om die ou huisie te gaan besoek, en een van die ornamente saam terug te bring as bewys. Nou ja, wat kan ‘n man doen as jou kalwerliefde vir jou staan en kyk? Soos dit ‘n sterk man betaam, het die mannetjie ook sommer daar en dan ingestem-seker baie jammer daarna gewees, maar sy naam moes in ere herstel word voor die nooi. Na vele beraadslaging, het die vyf toe uiteindelik besluit om die komende Saterdagaand so ‘n bietjie vir ou oom De Priest-dit was die ou kluisenaar se van- te gaan hallo se. So gese-so gedoen.
Teen vyf uur Saterdagaand, het die bende mekaar buite die dorp by die treinspoor ontmoet, gewapen met flitse, toue, lampe, slaapsakke, sigarette vir die senuwees en wie weet wat nog. So het hulle dan ook ‘n paar perde gaan leen by oom Jan Weideman, wat die ryskool op die dorp gehad het, en afgesit na ou oom De Priest se woning teen die berg. Hulle het goed tyd gemaak, want toe die son sy kop laat sak agter die berg, was die groep al deur die spruitjie teen die opdraende uit. Daar was skaars nog ‘n letsel daglig oor toe hulle by die huis aankom. Met ‘n gesukkel het hulle een van die opskuif vensterrame oopgekry en ingeboender. Hulle het hulself dan ook sommer tuisgemaak in die groot ou sitlokaal voor die vuurerd, en die klomp het hout gaan bymekaarmaak en een hingste vuur in die kaggel laat leef. Soos dit maar met die jonges gaan, het hulle tot laat gesit en planne beraam sou een van die ander wereld se besoekers hulle kom verras. Nog ‘n ding wat snaaks was, was dat die jonge Rijk en Tiaan altyd met mekaar in ‘n geheime soort taal gekommunikeer het as hulle nou nie wou he dat die ander moes uitvind waaroor daar geskinder word nie. So was dit dan ook kort-kort die geval die aand.
Teen elf uur se kant het die groepie begin laaang gape gaap, en die oge het begin toeval, en een vir een het hulle neergesyg en aan die slaap geraak- alle spookstories vergete! So was dan ‘n dag vol dramatiese gebeurtenisse op ‘n einde……of so het onse helde gereken. Ek is nou nie heeltemal seker van die feite nie, maar soos ek kan onthou, was dit so skuins voor twaalf-heksetyd noem die oues van dae die tyd- toe jonge Rijk wakker word van ‘n gepluk aan sy slaapsak. Baie deur die blare en met Klaas Vakie nog hard doenig in die se oge,het hy so traag-traag sy kykers geopen om vas te stel wat hom nou juis op hierdie uur in sy sluimering steur.Wat die man deur sy wasigheid aanskou het, het de laaste haar op sy kop laat orent staan. Hier, reg voor hom, teen die weerkaatsing van die smeulende kole in die kaggel, was die vorm van ‘n ou man. Die oudste het na hom gestaar met oge wat lyk asof gloeiende kole daarin sy oogkaste sit. Die arme seun. Meer as staar kon hy nie. Sy bene se krag het hulle verlaat- so ook die res van sy krag-asook die van sy blaas. Met die laaste greintjie krag in sy lenige liggaam het hy aan die jonge Tiaan gepluk om die se aandag te trek. Na ‘n eindelose gesukkel het die darem wakker geword, maar hoe ook al sy- hoe ookal arme Rijk geprobeer het, geen woord kon by sy lippe uitkom nie! Al wat hoorbaar was, was ‘n onverstaanbare gehakkel.Tiaan, aan die ander kant,-was redelik vererg oordat die ander hom wakker maak, en boonop probeer geheime taal besig terwyl al die ander in elke geval slaap en hy maar kon gewoonweg praat.. Arme Rijk-die mannetjie was in ‘n redelike verknorsing. Hier staan die oubaas waaragtig reg voor hom en hou elke beweging met daardie kil gloeiende oge dop, en hoe hard hy ookal probeer, sy alma maters wil nou maar eenmaal net nie ontwaak en die gevaar besef nie.
Na ‘n ewige stryd, terwyl hy die oubaas goed dophou, het hy dit toe uiteindelik reggekry om Tiaan oordentelik wakker te kry. In plaas daarvan dat hy toe weer probeer hakkel, het hy toe maar net floutjies in die oudste se rigting beduie, en Tiaan het toe maar ook oor sy skouer geloer om te sien waaroor sy maat nou die heeltyd aan hom peuter. Vader, het die bulletjie nie vir jou met ‘n helse ontnugtering alle slaap idees omver gewerp toe hy hulle besoeker sien nie! Die rammetjie se bek het eers oopgeval soos die van ‘n vis op droe grond, en toe weer toegeklap soos ‘n ou yskasdeur. Daar was nie eers tyd vir die lewe om sy bene te verlaat nie, so vinnig het die perdjie daar opgevlieg, en soos ‘n wafferse hekkies atleet bo-oor die ander laat waai. In die proses het sy voete vasgehaak aan die slaapsakke op die grond, want om so deur die blare, in ‘n vreemde plek, so vinnig te moes noodvlugte doen, kan soms ook maar sleg verwarrend wees.Met ‘n onaardse gil slaat die mater toe sy hele vyf voet nege daar neer bo-oor die ander slapendes. Die ander droomlanders het met die geraas, samelopend met die skielike gewig wat van bo af op hulle siele neer donder, met ‘n vaart orent gekom. Een-een het hulle slapende oge gefokus; een-een het hulle die oubaas se starende oge begroet- en een-een het hulle opgevlieg teen die hoogste versnelling en roete gesoek om die oubaas, wat tussen hulle en die deur gestaan het. Die jonge dame Rentia, wat haar amper in ‘n staat van floute geskrik het, het uit pure skok met een helse gil soos ‘n vroumens maar kan, pens en pootjies binne-in die ewe geskokte Tiaan se arms gespring, sekerlik met die hoop dat die haar sal beskerm.Dit was net arme Andre wat met die spoed waarmee hy probeer het om uit sy sak te kom, die ritssluier in die proses gebreek het. Daar le die hanslam toe- hy kan nie in nie-en hy kan nie uit nie. Slegs sy arms was uit die sak uit, met die reste van sy lyf nog stewig in die sak. Wat ‘n penarie was dit nie vir die arme mater nie. Die ander lede was almal uit hulle sakke uit, besig om dan die kant toe- dan daardie kant toe om ou De Priest te probeer kom, en hy is nog pens en pootjies vasgepen in sy slaapsak, sonder dat enige van die ander hom eers sal probeer help. Soos die mannetjie die situasie toe opsom, sou hy die enigste een wees wat sou agterbly om oubaas De Priest geselskap te hou, en daarvoor was die rammetjie glad geensins lus nie. Dit is toe dat die seun besluit op sy beste aksie in die noodgeval. Skielik begin die mannetjie te skrou met daardie trompet vooraan sy kop dat dit klink asof hy uit die hel uit geknyp word, en soos ‘n wafferse wurm krioel hy op sy elmboge so gatswaaiend pylreguit op ou De Priest se gestorwe siel af. Die ander was heeltemal uit die veld geslaan deur die skielike gebler, en moes gereken het ou De Priest het versterkings uit die dieptes van die aarde ontbied. Soos vetgesmeerde plaasvarke spring hulle daar weg en hardloop skoon deur die oubaas met die skone Rentia nog stewig in haar ridder se arms! Of die oue van dae mooi besef het wat aan die gebeur was, die weet ek nou nie eintlik nie, maar toe die ou gees tot verhaal kom, het die jonge Andre ook al deur hom gebalk en so seil-seil die pad by die deur uit gevat. Die ander klomp, met onse Francois vooraan, is die trappe daaraf met ‘n onaardse gedonder. Met ‘n groot lawaai is hulle toe by die voordeur uit- blykbaar skoon die deur uit sy kosyn gehardloop. Buitekant gekom, het die klomp laat spaander na waar die perde nog doodluiters staan en wag. Een vir een het hulle die perde bevlieg en met ‘n groot vaart die pad spruit toe gevat. Klein Andre het sommer so bo-oor die ros gaan val en die pad soos ‘n nat sak skeef oor die dier se rug aangedurf, al balkend soos ‘n jong opgeskote donkiehings.
Rijk was amper by die spruit toe ‘n swart gedaante vanuit die bos op hom afpeil en begin jaag. Die mannetjie het plat op sy hings se rug gaat le, en die arme dier onder die spore bestook. Die dier moes ook besef het dat daar ‘n gedaante op sy bas sit, en het sy rug so hol getrek, en oopgele na die spruit toe. Dit was net toe die hings die spruit oorsteek dat die gedaante hom aan die stert gryp. Met krag ongekend in hierdie wereld, het die dier losgeruk en oor die aarde geseil soos ‘n patroon uit ‘n geweer. Tiaan het sy liefde van sy lewe soos ‘n sak patattas oor sy perd gesmyt, en wydsbeen bo-oor haar gespring en laat waai- reguit spruit toe. Met die dat hy die spruit nader, merk hy op dat daar ‘n swart gedaante agter aan Rijk se dier aanhardloop met die perd se stert in die hand. Met een groot gebrul het die seun toe skoon onder sy donkerbril uitgejaag- met die arme Rentia wat soos ‘n lappop onder hom aan die hop was. Francois was skoon aan die ander kant van die wedstryd! Die mannetjie het nie toegelaat dat g’n spook hom voorsit nie, en het soos ‘n wafferse Cowboy sy perd teen die skuinste van die berg af ge-rodeo- met sulke lang krete elke keer as sy dier die lug vat. In die proses het hy ‘n paar groot rotse ontwortel, en die het die steiltes daar af gevat- reguit op die strooise vol slapende plaaswerkers af! Die arme skepsels. Was hulle ontnugtering nie groot toe daar in die middel van die nag ‘n rots so groot soos ‘n klein motortjie deur hulle stroois bars, hulle rakelings mis- en ‘n bulderende ruiter kort op die se hakke ook nog deurkom nie! Al wat hulle kon waarneem was dat ‘n bose gees al brullend op ‘n perd uit die hel uit ‘n groot klip aanjaag en strooise platslaan so ver hy gaan.
Die maan was al aan’t sakke toe Rijk by die treinspoor aankom, pootuit en lam in die bas. Na hom het onse Tiaan ook aangedonder gekom met sy skoonlief teen die tyd al voos gestamp teen die perd se sy. Vir ‘n ruk lank het hulle geluister na die gebulk van jonge Andre wat al met die pad af gekom het- en aan die linkerkant die gebrul van Francois en die gebreek van takke soos hy deur die struike en bome sy pad oop ploeg. Moeg het die klomp toe maar die perde saggies terug geneem, en na hulle huise gegaan en hulle skrik gaan afslaap. Was die arme Rijk nie die volgende dag verbaas toe ou oom Jan Weideman van die ryskool hom die volgende dag nader, en navraag doen oor waar sy perd se stert heen is nie? By nadere ondersoek sou Rijk sien dat met die gryp, die duiwel skoon die arme dier se stert uitgeruk het, en net die stompie het bly sit.
Nodeloos om te noem dat die lede vir ‘n heerlike tyd gesorg het toe die ander jonges van die avontuur hoor. Gespot die was hulle, en tot vandag toe onthou die mense van Naboomspruit die petalje van onse vyf uilskuikens! Niemand wou dit meer waag om na die spookhuis te gaan nie, want, beweer hulle tong in die kies-- die spoke loop nou in die nagte daar rond met flitsligte, en boonop het‘n paar van die lokale hengelaars beweer dat hulle kon sweer hulle het ‘n babervis in die spruit gewaar met ‘n paar donkerbrille op.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment