Saturday, August 1, 2009

DIE TEREGSTELLING


DIE TEREGSTELLING



Die besonderse verhaal is aan my vertel deur ‘n Sersant Majoor van die Amerikaanse korps in 1982- terwyl ek diensplig gedoen het te Ladysmith in Natal- 5 SAI Battaljon. Die Samajoor was een van die Amerikaanse besoekers aan die basis om by te staan ten opsigte van gevorderde opleiding van ons troepe in daardie tyd.

Die storie kom van sy vader af- wat ‘n Gevangenis Personeellid- of bewaarder- was in die berugte Sing- Sing gevangenis in New York. Ek het die verhaal in kort notas vasgepen doerie tyd, maar ongelukkig het ek vergeet- of nagelaat om die bron se besonderhede ook te neem. Wat ek hier gaan vertel- is net dit wat ek notas van gemaak het- name ontgaan my ongelukkig in die scenario. Hier volg sy verhaal dan:


“ Ek was ‘n bewaarder in die Sing- Sing gevangenis tot met 1959. Sing-Sing was die plek waar die ergste van ergste gevangenis gehuisves was. Net gevangenis wat moeilik reabiliteerbaar was, lewenslange tronkstraf uitdien- en ter dood veroordeeldes was hierheen gestuur. Die gevangenis is gebou in New York langs die Hudson rivier- so dertig myl van New York af.

Gewone bewaarders was, as gevolg van die uiters hoe graad van sekuriteit en profiel gevangenis- nie opgewasse en emosioneel sterk genoeg om hierdie laagste van laagste menslike diere op te pas nie- en dus moes die Staat spesiale bewaarders “kweek” om in die omstandighede te kan werk. Alle aansoeke en keurings is met ‘n vergrootglas en haarnaald deursoek, en talle onderhoude is met elke persoon gevoer, asook talle mediese en sielkundige toetse om te bepaal of die aansooeker wel aan die minnimum vereistes voldoen alvorens die aansoek eers oorweeg word.

Ek was genader om aansoek te doen- nie oor my sterk persoonlikheid asulks nie, maar meer oor my historiese agtergrond en goeie diens rekord. In die begin stadium van die versoek, was ek nie baie positief oor die aanbod nie, omrede ek al te veel van Sing-Sing gehoor het. Dit was een groot nagmerrie vir personeel wat daar werk, en aan die anderkant was dit die sogenaamde “dodesel” van die Amerikaanse regering. Sing- Sing was ‘n stoorplek vir die mees gehardste kriminele wat die samelewing kon offer. As ‘n persoon verwys word deur die howe na Sing-Sing toe, was die kanse op parool amper nul- en vir die gevangenis ‘n baie duistere toekoms tussen die gehardste misdadigers denkbaar. Naas Alcatraz was Sing-Sing tweede op die berugte hierargie- en bekende misdadigers soos Albert De Salvo, die Rosenbergs, Judd Gray en “Son of Sam” het hier hulle tyd verwyl alvorens hulle die ewigheid ingestuur is. Hier was dan ook die plek waar die berugte Elektriese Stoel gestaan het- oftewel “Old Sparky”- soos hy bekend was by die gevangenis. Dit was dan ook die eerste gevangenis wat hierdie ongure doods masjien in gebruik geneem het in 1890. Na baie lang betragting- en seker meer uit nusskierigheid as iets anders- het ek toe uiteindelik ingestem om my aansoek in te dien om een van die verkose beamptes in die grillerige plek te word. Na baie papierwerk, toetse, vrae- en weereens toetse- is ek toe uiteindelik gekies as een van die min applikante wat geslaag het vir ‘n pos in Sing-Sing.
Dit was dan ook hier- in hierdie spookagtige eensame omgewing, met sy grys en rooi baksteen geboue wat datteer uit 1830- waar ek my mees skokkendste ervaring van iemand uit die dood beleef het.

Ek kan nog goed onthou toe dit die eerste keer gebeur het gedurende my nagdiens in die gevangenis. Die datum sal ek nie vergeet nie- dit was die 12e Januarie 1955- omstreeks half een die nag. Ek was op diens in die ou gedeelte van die gevangenis- by die doods blok waar gevangenis wat ter dood veroordeel is-wat wag om begenadiging - of hulle afspraak met “Old Sparky.” Dit was- om die minste te se- die aardigste gevoel om daar diens te doen. Jy kan letterlik die dood ruik- en voel. Alles is stil- die gevangenis praat nie met mekaar nie- en as jy jou rondtes doen- is die eerste wat jy opmerk- die lee kyke in die oe van die veroordeeldes. Party is baie arrogant- en probeer spot met hulle oordeel- maar ek dink dit is senuwees wat ‘n uitlaatklep soek onder sulke omstandighede.

Ek kan nog goed onthou- die besondere nag. Omdat ek redelik nuut was in die gevangenis- en so baie van die berugte plek gehoor het- het ek meer op ‘n ekspedisie toer gegaan deur die doolhoof van gange as wat ek eintlik my patrollies gedoen het. Ons was ‘n paar bewaarders wat op verskillende strategiese punte moes diens doen- en my area het die doods kamer met die elektriese stoel ingesluit. Ek moes op en af langs die doods selle loop- kyk dat die veroordeeldes nie voorwerpe het waarmee hulle hul oordeel kon verhaas nie, luister na versoeke- en sommer ‘n praatjie aanknoop om hulle vir ‘n oomblik te laat vergeet van die verdoemende toekoms waarvan hulle nie kan wegvlug nie. Sulke nagte kan lank rek- jy weet later aan nie wat om te se nie. Party van die gevangenis kan tot ‘n jaar in die doods selle sit en wag op die hoerhof se beslissing om begenadiging- of die goewerneur se besluit op ‘n laaste begenadiging. Meeste veroordeeldes word deur die priester besoek- en baie gee hulle aan hulle Skepper oor, maar daar is ander wat tot die dood toe geweldadig en emosieloos bly.

So het ek ook die nag maar die gewone patrollies gedoen. Dinge was maar – soos gewoonlik- stil in die doods gebou- en ek het so teen kwart oor twaalf begin vaak raak. Ek het besluit om nog een keer teen die selle af te stap- en dan ‘n draai te gaan maak by die onheiligste kamertjie van die hele gevangenis- daar by “Old Sparky.” Nadat ek opgestaan het van my lessenaar af, het ek stadig verby die selle gestap- hier en daar gegroet- en ‘n sigaret aangesteek vir ‘n gevangene wat se senuwees wou ingee- en sommer een vir myself ook. Gedagtes aan hulle lot het deur my kop gemaal- en ek het probeer myself indink hoe dit moet voel as jy weet jou laaste ure hier op aarde is besig om stadig, en vir een, verby te tik. As ‘n mens van natuurlike oorsake doodgaan- is dit heeltemal anders, maar as jy weet die presiese dag, uur en minuut wat jy die ewigheid gaan ingeskiet word, asook die onmenslike manier wat hulle op jou gaan toepas- is dit heeltemal iets anders. Hopeloosheid en alle lus vir die lewe ontgaan jou- en jy word later aan soos ‘n Zombie.

Ek het stadig-aan my rondtes by die selle voltooi- en die dertien berugte tree na die dode kamer- en “Old Sparky”- afgemeet…tree vir tree- presies dertien! Ek het omgedraai- en terug getuur na die ingang van die kort gangetjie- en gewonder hoekom daar so ‘n geloof van ongeluk aan die nommer dertien moet wees- en waar dit vandaan kom. Ek het al peinsend omgedraai- en die hout deur na die doods vertrek stadig oopgemaak. Ek kan nie die gevoel heeltemal beskryf nie- daar is net nie woorde nie. Dit is so ‘n beklemmende doodse atmosfeer wat jou begroet as jy die eerste tree in die vertrek gee. Alles in die vertrek spreek van die dood- gemeng met ‘n tipe van hospitaal reuk. Voor my was die trollie- met die kante toegemaak waarop die dokter se instrumente le- en agter hom- teen die muur en verberg van die kamer se oopte self- die elektriese kontrole bord vir die laksman om die gewraakte hefboom te trek wat by die elf duisend volts deur die ongelukkige misdadiger stuur wat vas ge gespe op die stoel sit.. Links agter was daar ‘n trollie waarop die liggaam le na eksekusie om outopsies te doen- en reg voor my- aan die regter muur se kant- half in die middel van die vertrek- was “Old Sparky.”

Ek het stadig die deur agter my hoor toegaan- en was nie eers bewus daarvan dat ek hom uit my greep laat gly het nie. Om my was dit graf stil- en ek het koue rillings langs my ruggraat voel afgly. Ek kon my eie asemhaling hortend hoor- en het besluit om liewer ‘n sigaret aan te steek om my senuwees te kalmeer. Ek het die pakkie uit my hempsak uitgehaal- en ‘n sigaret in my mond geplaas. My vuurhoutjies wou net nie vlam vat nie- en eers by die vyfde of sesde een het ek geslaag daarin om ‘n vlammetjie te genereer. Ek was nog besig om die eerste trek rook in te trek- toe ‘n ysige wind- of koue- deur die kamer trek- so hard dat die vuurhoutjie in my geklemde vingers doodgaan. Ek het gedag ‘n venster was iewers oop- maar toe gewaar ek dat die vertrek geen vensters het nie. Ek swaai om- maar die deur is steeds bottoe.

Ek het daar en dan besluit dat ek genoeg gehad het- en eerder maar moes teruggaan na my tafel toe. Ek het myself net begin gereed maak om om te draai deur toe- toe ek skielik ‘n mistigheid in die area om “Old Sparky” sien opwel…nes ‘n ligte wolk asof van nêrens. Ek kon nie roer nie- my hele spier stelsel het geweier om die skreeuende opdrag van my verstand af- te gehoorsaam- ek was heeltemal lam van skok. Met groot oe en ‘n amper onhoorbare asem het ek die blou kleurige miswolk dopgehou. Al swewend, amper stil slingerend- het die wolk al nader en nader aan die elektriese stoel gesweef- en hoe nader dit aan die stoel gekom het- hoe meer het dit ‘n spesifieke vorm begin aanneem.

Ek het vasgenael gestaan en die petalje gadeslaan. Ek kon onder geen omstandighede verklaar wat hier reg voor my oe gebeur nie. Die wolk het stadigaan tot bo-op die stoel gesweef- en daar het die kolom ‘n duidelike figuur begin vorm…..die figuur van ‘n vrou! Ek kon voel hoe die sweet teen my slape afrol van angs, maar ek kon niks doen nie- my voete was vasgenael teen die vloer. Die vorm het al hoe duideliker geword- ek kon die bene sien- die breë hoehak skoene, die grys hemp- die bruin rok- ek kon al die kleure onderskei. Die apperasie het heeltemal sy of haar vorm ingeneem, en ek kon waarneem dat die bene vasgegespe is- so ook die hande- en ek kon die masker oor die oe sien- die kap wat op die hoof geplaas is – asook die elektrode op die linkerbeen om die elektrisiteit te gelei.

Iets in my het my vertel dat – wat hier voor my oe afspeel- iets of iemand was wat hier- op dieselfde stoel- tereggestel was- en teruggekom het om die toneel te herhaal. Terwyl ek – nou teen die muur- staan en probeer uit redeneer wat aangaan- hoor ek- so duidelik soos daglig- ‘n fluisterstem wat bly se: “ Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie….”- oor en oor- nes ‘n refrein. Ek onthou dat ek begin naar word het van angs- en probeer vlug het- maar ek kon eenvoudig net nie myself kry om weg te hol nie. Terwyl ek daar staan, begin daar skielik ‘n onaardse sissende geluid die kamer vul- en ek herken die klank as ‘n elektriese stroom wat van iewers na iewers gaan.

Die volgende wat ek waarneem, is ‘n skielike blits – en ‘n vonk wat by die gedaante se kop gedeelte uitskiet- daar waar die elektrode aan die skedel gekoppel is- en ek sien rook uit die elektrode aan die been uittrek. Die liggaam in die stoel begin te ruk- en konvulsies maak die gestalte beur teen die gespes waarin sy geknel sit. Met elke “skok” van die elektriese stroom- ruk haar liggaam- buig haar kop agteroor- snak sy na haar asem- en sy wriemel in die stoel terwyl roggel geluide uit haar mond kom. Deurentyd was ek bewus van die geluid van elektriese stroom lading wat die kamer vul, die klapgeluid as die stroom haar “tref”- en die aanhoudende stem wat bid- en die reuk van gebrande vleis. Die grillerige toneel het vir etlike minute aangehou- dan het die wolk verdamp- net om weer te verskyn- en die toneel weer oor te begin- asof dit nie wil einde kry nie….oor en oor moes ek toekyk hoe sy “tereggestel” word, asof sy ‘n boodskap aan my wil oordra.


erwyl ek vasgenael staan- het my sigaret – wat skielik “aangesteek” was- my vinger begin brand- en ek het van nêrens die krag gekry om op te vlieg- en die voorwerp op die grond neer te gooi. Asof uit die hel, hoor ek meteens ‘n harde uitgerekte gil, gevolg deur ‘n koggelende skerp lag! Ek vlieg vervaard op- en gee nog een kyk na die gedaante. Skielik- asof dit nooit daar was nie- kyk ek teen ‘n leë stoel vas- nes hy gelyk het toe ek die eerste keer hom gesien het toe ek ingekom het. Geen rook meer nie, geen wolk, geen geluid- en geen reuk meer nie…selfs nie eers die stem nie - alles was graf stil! Ek het verdwaas heen en weer getuur- maar daar was nie ‘n enkele teken van enigiets wat ek vir ongeveer twintig minute gade geslaan het nie. Baie stadig het ek agteruit geirittereer- en die deur met my rug opgestoot. Buite gekom, het ek met lang vinnige tree die dertien tree terug na my verligte area- en my tafel gehaas. Ek het gaan sit- en een na die ander sigaret gerook. Later- aan, toe my krag weer ietwat herstel hè- het ek na een van die gevangenis se sel toe gegaan- en hom met ‘n draai gevra of hy enigiets snaaks die aand uit die dode kamer gehoor het. Hy het my kopskuddend geantwoord- en gesê al wat hy gehoor het- was my gesnork iewers daar agter by die kamer van verdoemenis.

Ek het dit nie geglo nie, synde die feit dat ek wa-wyd wakker was toe die gebeure plaasvind. Ek het na die skeidings deur tussen my area- en my kollega s’n langsaan geloop- en hom geroep. My kollega het nader gekom- en ek het so diplomaties moontlik- aan hom gevra of daar al vroumense op die stoel kom boet het. Hy het geantwoord dat daar talle was- wat nes die mans- moes boet vir hulle dade. Hier het ek besluit om op die man af te wees- en het die gestalte se voorkoms aan hom beskryf- die kleredrag, lengte- en dit wat ek gesien het.

My kollega het so rukkie diep nagedink en gesê: “ O…Jong- dit klink baie soos Ruth Snyder….” Ek het hom onmiddelik nuuskierig gepols om meer te vertel. “O”- was sy antwoord.” Sy was die eerste vrou wat hulle hier tereggestel het in “Old Sparky..- sy en haar boyfriend het haar man vermoor- en altwee is op die selfde dag hier ge-“toast”. As jy kans het- gaan kyk daar in ons biblioteek- daar hang fotos van hulle. Sy was ‘n “bad” ene gewees..het glo vir die priester gesê hy kan hel toe vlieg toe hy haar haar laaste “rites” wou lees. Ek onthou nog die foto wat die verslaggewer skelm van haar geneem het toe sy in die stoel was…..was groot nuus in die koerante daardie tyd gewees…..maar waarom vra jy die tyd van die nag sulke vrae” Ek het my skouers net opgehaal- en gemaak of dit maar net skielik by my opgekom het, maar kon sien my kollega glo my nie heeltemal nie.

Ek het summier die volgende dag afgesit- en gaan naslaanwerk doen in die gevangenis biblioteek oor die geval- en tot my skok en verbasing het ek presies dieselfde toneel op die foto gesien wat ek die vorige aand in lewende lywe aanskou het. Die woorde wat deurentyd deur die kamer ge- eggo het- was ook die presiese woorde wat sy gesê het die oomblik toe hulle haar vas gegespe het. Die datum die vorige dag- was ook die selfde datum wat hulle haar en haar metgesel- Judd Gray- tereggestel het- 22 Januarie 1928….27 jaar gelede om presies te wees.

Ek het die biblioteek bewend en asvaal verlaat- ek kon nie glo dat ek- ‘n nuutjie- op my eerste nag in die hel kamer- so-iets moes deurmaak nie. Wat wou die gedaante hê? Wat was die doel van die reïnkarnasie van die gebeure? Was ek die enigste een wat dit beleef het? Ek het na buite gestrompel- en sommer daar op die trappies gaan sit- en weer ‘n paar sigarette kafgedraf. Na wat ‘n ewigheid gevoel het- het ek uiteindelik my kragte saamgespan- en huiswaarts gekeer. Ek kon vir ‘n lang tyd daarna nie geslaap kry nie- die toneel het by my bly spook. By verdere navraag het dit geblyk dat daar gissings en stories die rondte doen dat die besonderse toneeltjie hom elke jaar op die dag van haar vonnis- in die doods kamer afspeel, maar niemand of geen bron kon dit bevestig nie, of niemand wou praat nie- - ek, het dit voorgekom, was die enigste een wat dit “aanskou” het- en het dit ook vir myself gehou om nie ‘n bespotting van myself te maak by die ander personeel nie.

Genadiglik is ek ses maande later oorgeskuif na ‘n ander seksie toe- en het nie weer gaan besoek aflê by die stoel nie. Op die nagte wat haar dood herdenk het- het ek as ‘n reël afgevat- of siek geboek- om nie in die teenwoordigheid van die gebeure vir ‘n tweede maal te wees nie.

Wat hier vertel is- kan die skrywer onder geen omstandighede staaf nie- en kan ook nie rubriek lewer- of kommentaar nie…ook is dit ‘n afwyking van die norm. Die verhaal is baie interresant- maar kan ook te interresant voorkom- die leser moet maar self besluit.

No comments:

Post a Comment