Friday, November 2, 2012

DIE LAASTE SKOF





Spookstories is seker een van die mees interressantste onderwerpe om oor te praat, skryf- en te wonder.In die ou dae was spookstories so deel van menig volkere se geskiedenis. Mense het om kampvure gesit en spookstories vertel voor die kinders gaan slaap. Mense het boeke oor spoke geskryf….en mense regoor die werleld in alle tale, kulture  en volke-  het elkeen hul eie legends gehad. Vandag- wel- wil dit voorkom asof spoke nie meer die spoke is wat ons vanmelewe geken het nie. Daardie jare was daar nie so veel moord en doodslag soos vandag nie. Mense het ver van mekaar gewoon- en  daar was ook nie so baie geboue, stede en ligte soos vandag nie.Mense het meer tyd op hande gehad om persoonlike kontak en kommunikasiebande  met mekaar te verstewig om die tafel en om die braaivleis vuur.

In daardie jare was een moord- of een dood wereldnuus- en daar was baie mannekrag en toegewydheid aangewend om die dood van een persoon op te klaar- of die oorsaak te bepaal- of die skuldige aan die pen te laat ry. Daardie jare het die mensdom ook meer respek en deernis gehad vir ‘n afgestorwene. ‘n Kontrei kon lank praat oor die een-of-ander bekende wat oorlede is- en lank daarna het die gemeenskap steeds ou Koos of ou Miena onthou.

 Juis as gevolg van die besondere nagedagtenis wat mense gekoester het vir die gestorwenes omrede hulle so na aan mekaar was- het spookstories oor die betrokke afgestorwene natuurlik ook begin die loop neem. Dit is seker maar ‘n soort van “herinnering” aan iemand wat na aan jou was- en deur sy spook te laat begin lewe- is dit ‘n manier om die oorledene se nagedagtenis te verewig in jou eie nageslag se geheue. ‘n Ander sy is natuurlik spookstories wat vir die ene fantasie opgemaak is- ook maar seker om ‘n tipe van monologiese “ volksverhaal” te skep wat deur die opvolgende geslagte kon oorvertel word. Hoe ook-al sy- spookstories het saam met elke volk se ryp geskiedenis ingeweef geraak- en help deel vorm van die volksbestaan. In die goeie Woord word daar al verwys na ‘n “ spook”- deur die dissipels wat Yashua aangesien het as ‘n “spook” en bevrees geraak het. Die term “ spook” is natuurlik ook wyd- en kan vele onverklaarbare verskynsels insluit….maar in die dae van die oues was ‘n “ spook” eenvoudig “die gees van ‘n afgestorwene.”

Vandag- ja wel- die dood is so allerdaags om ons dat dit soms nie eers die nuus haal nie. Die stede het slagvelde geword en moord en doodslag is aan die orde van die dag. In die verligte stede met hulle gewoel, geweld, toestroming van derduisende mense elke week, aanrandings , motor kapings- en bende bedrywighede is daar nie meer so-iets soos “respek” en “ deernis” vir ‘n “ afgestorwene” nie….watwou nog bekommerd wees oor “ spoke.”  Met die TV, flieks en rekenaar wat die wereld oorgeneem het- is daar moord en doodslag om elke hoek en draai- selfs al word dit nageboots. Ons kinders vandag word in ‘n baie geweldadige wereld groot- hulle leer moordadige speletjies speel, raak betrokke by kultusse waar die dood die hooftema speel, raak betrokke by bendes wat die dood as goedkoop handteer- en ken dus nie meer iets soos ‘n “spook” nie. Nou-die ander dag vra ek toe kwansuis my een kind of hulle al spookstories gehoor het. Nodeloos om te se al drie van my enkel byters het my aangegaap soos ‘n klomp ganse wat ‘n weerligstraal gesien het. Dit lyk my deesdae die naaste wat die nuwe generasie aan die term “spook” kom- is wanneer hulle “ spook” om hulle “Facebook Profile” op te datteer vir die “boyfriends” of “girlfriends.” In ‘n baie tragiese nadraai het die stede en moderne tegnologie  soos rekenaars, selfone, I-Pods en wat ookal nog uit Japan uitbroei- dus die ou volks gebruike kom vermoor. Al wat deesdae naby aan “ spoke” kom- is die sataniese films waar geweld en bonatuurlike kragte uitgebeeld word.

Hoe ookal sy- om vandag nog ‘n “spookjagter”  in ‘n moderne stad te wees- is soms moeilik omrede die ou gardes een-vir-een ook al “spoke” geraak het- en my ouderdom geslag ook die helfte al gaan “spook” het….en die res binnekort ook die lang pad na die Sipresbome toe gaan aandurf. Dit gaan die wereld laat met ‘n leemte vol nuwe generasies wat geen benul het wat aangaan buite die wande van hulle “tablets” en “I-Pods” nie.

Hulle gaan totaal die begrip “ volksverhale” verloor- en stelselmatig die kennis van verbale kommunikasie ook  verloor in hulle nuwe pseudo kuberwereld. Het u al ooit deesdae opgemerk  hoe  daar in byvoorbeeld ‘n restaurant twee ouers en twee kinders om ‘n tafel kan sit vir twee ure- en geen woord met mekaar praat nie? Al vier sal daar sit en hulle besig hou met “ Mixit, Whatsapp” – of die een of ander derglike ding op hulle Jappanese speelgoed in hulle hande…nie ‘n WOORD vir mekaar nie! Dit herinner my soms so aan daardie fliek “ Matrix” – waar die akteur Keanu Reeves die hoofrol speel in so ‘n kuberwereld waar alles wat jy sien en beleef nie dit is wat jy sien en beleef nie- maar waar jy enige fantasie omgewing kan skep wat net betstaan in jou onder bewussyn- totaal verwyderd van die realiteit en werklikheid. Dit is die jammerlike gevolg van ons stede.

Nou ja- soos ek gese het- om ‘n goeie spookstorie in ‘n stad op te spoor sonder om die Amerikaanse duiwels webwerwe te besoek- is so skaars soos ‘n maagd in ‘n kraamsaal. Ek moet erken- ek het baie lank in die stad waar ek bly- gesoek na ‘n goeie verhaal- nie dat ek enige” spoke “in die stad verwag het nie. So in my soeke het ek eendag per abuis- by my werk nogal- ‘n Kaapse kleurling man raakgeloop. Hy was nog van die ouer geslag. Nou ja- een ding wat ek van die Kaapse mense geleer het- is dat hulle ‘n manier het om dinge te kan se wat jou soms kan laat krul van die lag- en soms hulle taalgebruik- eie aan die Kaap- jou laat wonder wat die mense nou eintlik se omrede hulle ‘n “ lingo” het wat net hulle verstaan. Dit het my ongeveer drie jaar geneem om hulle manier van praat aan te leer.

Die oubaas se naam was Riedewaan Van Der Westhuizen- so lang maer man wat kon goed stories vertel. Nou of Riedewaan- of “Warnie”- soos hy alom bekend was- altyd die waarheid vertel het- is ook nog te bespiegel- maar dat die man kon wegraak in sy eie wereld as hy eers begin praat- was nie allermits nie. Die spookstorie het ook net eendag uitgeborrel toe die manne so om etenstyd by die werk in die werkswinkel sit en gesels oor die en daardie flieks wat ons gesien het- onder andere gru-spook flieks soos “The Shining, Chukkie, Children of the Corn,Friday the 13th,Carrie, Exorcist“ ens….al die bonatuurlike rillers.  So tussen die flieks deur- het Riedewaan skielik uit die bloute ons vertel sy pa het hom ‘n regte spookstorie vertel toe hy nog ‘n kind was. Nou ja- lieg of eg-die een wou ek hoor en het die man sommer daar en dan gepols om nou te vertel waar hy sy pa die “spook” of “spoke” raakgeloop het. Ek het al ook geleer as iemand ‘n interressante onderwerp bespreek- gaan onse Riedewaan nou-nou uitval met ‘n staaltjie van sy eie. Die man het ook orals gedwaal en alles beleef in sy lewe lyk dit my.  Die oudste het eers so gekou aan sy pruim- en die toe met so boog in die ou blou asblik in ons werkswinkel ingespu en reggemaak vir die “ groot vertel.” Hier is dan Riedewaan se verhaal ( Ek vertel hom nou mooi min-of-meer op sy manier en sy terme):

“ Nee – julle manne  sien- my se pa was jare lank hier in die Kaap gewerk op die spoorwee- nog voor die “Darkies” oorgevat het…nog in die ou tyd. My pa het gewerk as ‘n trok maintenance outjie- wat noem hulle die manne wat nou weer so op en af loep langs die trein en die treine se wiele tik-tik met daai hammetjie?” – vra die ou.. “ ‘n Trok ondersoeker”- help ek hom toe reg. “ Ok”- se hy toe en tuur ‘n bietjie in die verte in om die woord bietjie kans te gee om in te sink in sy literatuur . Riedewaan was ook nou nie die skerpste potlood in die pakkie op skool nie- as hy ooit op skool was …bygese. “ Ok”- se hy toe weer. “ My se pa was die outjie wat geloep het en die trokke se wiele slaat met daai lang hamertjie om te hoor of daar nie miskien ‘n wiel is wat ‘n kraak in het nie- Andries weet mos? Nou- nou het my pa daai tyd ‘n tjommie gehad wat ‘n treindrywer was- ok daar innie Kaap.( Wanneer die kleurling bevolking praat van die “ Kaap”- word daar eintlik verwys na Kaapstad self.)  Die twee het saam da’ innie Kaap gewerk….bymekaar soos altyd….inmekaar ge”-mix” nes Brandy en Coke…nooit ytmekaar nie.  Partykeer het hulle dieselfde “shifs” gewerk- anner tye het sy tjommie two o’clock begin en eers laat die aand klaar gemaak. My se pa was “steady shifts”- van “eight o’clock”  tot “five.” Al het hulle “different shifts” gewerk- het hulle nog altyd mekaar gesien as hulle “shifts” oormekaar gaan. My pa se as hulle die eerste keer bymekaar is elke dag- da’ gaan hulle sommer da’ in een van die “coaches” wat da’ eenkant op ‘n dooie lyn staan- en dan ga’ maak hulle eers ‘n pypie….dit was elke dag se storetjie…”never missed a moment.” My pa se tjommie het altyd die laaste trein- 2510- vannie Kaap af daar na Wellington se kant toe gery en trug….elke aand dieselfe trein en dieselfde route. Sy trein het altyd so teen half past nine o’clock geloep- dan het hy so net voorof na  half past ten  o’ clock terug gewees innie Kaap. My se pa het altyd so five o’ clock die trein gevat daar na Netreg se kante toe.

Nou-( Riedewaan het daarvan gehou om altyd sy sinne met “ Nou”- te begin…so al asof hy wil klem le op elke sin.) my pa en die treindrywer was groot chommies gewees.  Hulle het baie naweke saam “slowboat” gerook- sommer ‘n arm so oppie naweek, bier gedrink- en daar was altyd cherries gewees ok. My pa het altyd geld gehad- ek wiet nie waar hy dit gekry het nie,- maar die motjie ( ma)- het ook niks gese nie want sy wiet sy moet maar bekhou- my pa sorre goed vir ons…ek en my broers en die klimmetjie ( suster.)  Die Boere( Polisie) het altyd daar ytgelslaat met die ven – dan kom hulle my se pa en sy tjommie skud vir dagga. Hulle wiet my se pa en sy se tjommie het zol- maar hulle kon dit nooit kry nie. My se pa het altyd sy stash onder die hys se vloerplanke weggesteek.

Nou- so het my pa en sy se tjommie lank saam geloop- as jy my se pa sien- dan moet jy net wiet sy se tjommie is ook net daar iewers….altyd saam nes broers.Hulle het altyd vir mekaar se rugge ytgekyk.  Hulle het saam grootgeword- was al saam vannat hulle klein klonkies was in Netreg. Hulle twee het baie stoutigheid aangevang- maar hulle was nooit innie” Gangs” in gewees nie. Hulle het baie kwajongstreke aangevang- maar nie soos die klongens van vandag nie. My se pa-hulle was mooi stout gewees. Hulle het nie soos die jongens vandag tik gerook en mense doodgemaak nie. Hy en sy tjommie het ook dagga gerook- maar hulle kon hulle zol vat…hulle koppe het nie ytgehaak soos baie outjies vandag nie. My se pa en sy tjommie het nooit moeilikgeid gesoek as hulle gerook was nie- hulle was net lekke rustig- nie soos baie anner klonge wat nonsens gemaak het as hulle gepot het nie. My pa het nooit aan my se motjie geslaan nie.My pa het altyd my ma ge- “respect. “ Nou….soos ek se – my pa en sy tjommie het saam innie Kaap gewerk- saam geloep- en saam gejol.

Nou….eendag het my pa se tjommie weer gaan werk die se dag-late “shift”- maar  my pa was nie die dag by die job nie. My pa het diekant toe ( en hy beduie daar na die Oostelike rigting met sy hand)- da annekant die Robertson gaan kuierby  sy broer. Hy was omtrent so drie dae weg vannie job af. Sy tjommie het nie saam geloep nie- hy was by die werk. My pa het weer met sy chommie ge-“organize” om vir hulle ‘n pak dagga te kry vir die Woensdag as hulle nou weer gaan “partie” gooi.  Nou- my pa moes die Maandag weer kom werk het- maar hy kom toe eers die Maandag by die hys. So…hy het die Dinsdag eers gaan werk. Nou- nou het sy supervisor hom gese hy kan of ‘n dag se” unpaid leave “ insit- of hy kan “double shift “ werk om sy se tyd in te vang wat hy die Maandag verloor het. My se pa het toe gese dis ma’  Ok…. hy sal maar die double shift haak.

OK..toe werk my pa die double shift- want Andries sien- nou kan hy sommer die aand saam met sy se tjommie lift vang oppie 2510 tot by Soutrivier- dan klim hy die anner trein daar wat Kayelitsha toe gaan en dan klim hy by Netreg af. Ok….so- hy werk toe die dag daar tot sy shift verby is. Ok…..hy se toe hy het sy tjommie daar gekry die aand so net voor hy afgaan- en hy organize toe met sy tjommie dat hy saam met hom ry- sommer voor in die cabin. Nou- hy het toe sy shift klaar gewerk- en toe die 2510 loep- het hy saam met sy tjommie geklim en saam gery tot by Soutrivier…en daar afgeklim na die anner platform toe om die Kyalitsha trein te vang – sien die manne?

Ok..nou se my se pa dat hy met sy se tjommie weer  saam gepraat het dat hulle die Woensdag-aand na ‘n anner outjie toe gaan wat so twee strate agter my pa se tjommie gebly het. Hulle het altyd daar kaart gespeel en bietjie gerook geraak. My pa se toe vir sy tjommie hy moet onthou om sommer vir hulle ‘n arm dagga organize vir die Woensdag-aand want sy tjommie het die ‘connections” geken. Ok….nou – niks was verkeerd nie-sy tjommie het gese dis “o.k”- en my se pa het toe gat gevat om die anner trein te kry. Nou het my pa” straight”  hystoe gegaan en gaan slaap.

Die volgende dag- laa’k nou sien…dit wassie Dinsdag- is my pa weer vort werk toe. Daar by die werk aangekom het hy soos altyd maar dinge gedoen wat hy elke dag doen- so gaan die dag toe verby. Sy chommie was nie op “shift” nie- en my pa het gedink die ou kom “late shift” kap. Nou- so teen five o’ clock toe wag hy nog allie pad vir sy tjommie om die laat “shift” te begin om hom die aand se stash te gee- maar al wat ytkom- is sy tjommie. OK…so hy wag toe maar tot laat-so” six o’ clock” – en toe die se tjommie nog nie  nie ytkom nie- loep hy daar na sy tjommie se shift-boss toe en vra hom of sy tjommie vandag dan nie kom werk nie?

Nou – dis toe daar waar die shift-boss my se pa se kassie skud vra of hy nie gehoor het nie? My se pa vra toe wat gehoor? Die shift-boss vertel toe my pa dat sy tjommie het dieselfde middag- dis Dinsdag- gevra om 1 uur –“ lunchtime” – gou  te loep vir “private business”- en dan sal hy weer so 4 uur terug wees om sy volgende” trip” te vang en sy  shift aan te gaan. Terwyl hy weg was- het iemand die “Shift-boss “ gebel en gese my pa se tjommie is geskiet Soos my pa toe van die “shift-boss” verstaan het- was sy tjommie in Bishop’s Lavis deur ‘n gangster geskiet toe my pa se tjommie daar by ‘n anner” hang-out “ gaan” bunk”  het-  seker om die volgenne aand se “stash” te koop. Die ou vannie “hang-out” was ook ‘n gangster- hy het met drugs en dagga gesmokkel-‘n” distributor”-  maar hy was nie van dieselfde “gang”  as die een wat my pa se tjommie geskiet het nie.

Die gangster wat geskiet het was van ‘n anne “Gang”-en hulle “fight” mos onne mekaar vir “terretrie” – da’ maak hulle mekaar sat- en vat die een die anne een se “hang-outs” oor- sien die manne. Nou- die een”Gangster”   het gekom om die ou vannie hys waar my pa se tjommie was- te blaas- maar my pa se tjommie en ‘n anner girltjie het op ‘n stoel in die gang voor die sitkamer gesit. Sy het so op sy skoot gesit. Die anne gangster het net ingekom van nerens. Die hys het ‘n gang waarmee jy inkom- dan kry jy die sitkamer. Nou- die gangster het sommer van byte af in die hys ingekom- sien die manne- toe somme ‘n gun getrek- en somme my pa se tjommie en die klimmetjie saam met hom wat op sy se skoot gesit het- sat geblaas net daar waar hulle half in die gang en die sitkamer op die stoel gesit het- vyf skote….haar deur die bors – en hom drie skote in die onderlyf en een hier deur die kakebeen” –(en Riedewaan wys so na sy kakebeen) .My pa se die mense se die girl se bloed en my pa se tjommie se breins het so teen die muur gespat.

Die bro wie die hys aan behoort- was binne-in die hys- maar toe hy die skote hoor- het hy gewiet iemand maak iemand nou sat in sy “possy” – en“duck” toe by die een venster agteryt..toe  sommer oor die agterste muur ge-“jump” en weggehardloep.  Die Boere (polisie)- het daar gekom en my pa se tjommie en die klimmetjie daarsommer “ straight”  in die” mortuary van”  gegooi en weggevat .Sy was nog jonk gewees-hy se sy was so agtien jaar- maar Adie manne sien mos- die gangsters worry nie wie hulle sat maak nie- hy kry net die order om die of daai hys te loep uit-“sort”- da’ loep hy soentoe, skop die deur oep…en skiet net wat hy binne sien- of jy nou daar bly of nie. As jy unlucky is om op die verkeerde tyd op die verkeerde plek te wies- da’ is dit maar so.

Ok….nou het my se pa baie “bad “ gevoel omdat hy vir sy tjommie gese het om die maltwak te gaan haal vir hulle Woensdag-aand “partie”- en hy los toe sommer sy job ook net daar toe die ou my pa vertel sy tjommie is poegaai. Hy se as hy nie sy tjommie gevra het om “zol” te gaan kry het nie- het sy tjommie nog gelewe.Nou se die man dis sy skuld.  Hy se hy wil nie meer by ‘n plek werk en heelktyd aan sy tjommie moet dink nie. Die spoorwee was nie meer die plek vir hom nie. Hy gaan toe sommer en klim in die bottle in…’n paar weke aanmekaar is die man elke dag stukkend dronk gedrink en sat gerook… en dan gaan hy daar by die stasie sit en kyk net as die treine uitry en inkom….net soos ‘n malletjie.  Die ou het baie geworry oor sy tjommie. So het hy vir maande daar elke dag gaan “ koebaai” se vir sy tjommie. My motjie (ma) het al die ou gedreig sy gaat hom los as hy nie begin werk nie. Ons was vyf kinders en my motjie konnie vir almal van ons sorre op haar”grants”  nie- my pa moes ok geld inbring.My pa het vir lank nie meer gaat werk nie.

Nou- nou toe eendag gebeur daar ‘n snaakse ding- sien die manne. My se pa se hy het nog een aand so gesit toe die 2510 weer moes loep- en gewag dat hy wegtrek…maar die trein staan en hy staan…hy willie wegtrek nie. My pa se hy sta’ naderhand op en loep daar waar die drywer sit. My pa het allie drywers geken. Daar gekom- vertel die drywer hom” huh-uh”…die ding is gevrek- hy kry nie die krag aan nie….die “tower” wil dan nie eers optel nie. Hy het ge-“traai” en ge-“traai”…maar die ding is so vrek soos ‘n mossie. Later van tyd  het hulle maar op die loudspeakers afgekondig die “passengers” moet maar ‘n anner trein spring wat die W ellington-lyn gaan ry.

Ok…my pa se hy het maar weer da’ gaan sit. Hy se hy het daar gesit tot laat die aand. Hy se toe hy sit nog so- toe vang sy oeg iets da’ by die drywer se hokkie wa’ hy inklim gewoonlik. My pa se hy kyk toe soentoe- en da’ val die man amper toe van die bankie a f van skone skrik. Hy se toe hy soe kyk- toe sien hy sy tjommie sta’ da’ voor by die trein se “cabin “ en kyk vir hom. Hy dog eers dis ‘n anner drywer- maar die drywer wat die trein probeer start het- was lankal vort- daar was niemand anners op die platform nie- en as daar ‘n anner drywer was- moes hy by my se pa verbygeloop het- sien die manne-en daar het g’n niemand verbygekom nie. Hy se hy weet dit was sy tjommie- hy ken hom mos Hy kyk weer- en ja…da’ sta’ sy tjommie toe- so dydelik soes daglig….maar dit was laat die aand. Nou verwonner my pa hom- waar kom die ou nou so skielik vandaan? Hy se hy en sy tjommie het ‘n ruk so vir mekaar in die oeg gekyk- en my se pa se hy kon voel hoe sy nekhare soe regop beginne staan.( Warny wys so met sy vingers agter sy nek soos ‘n ystervark wat se penne regop staan). My pa se sy tjommie se gesig het gelyk soos een wat TB het- jy verstaan- die gesig was so maer en plat teen die been- en sy oge was so diep ingesink in sy kop.

Nou…nou se my se pa hy sta’ toe op en beginne soe stadig na sy tjommie toe loep om mo s  t e ga’ seker maak- maar hy se soes hy nou so loep- draai die se tjommie om – en da loep hy toe sommer DEUR die trein se deur…binnekant toe- en klim in die “cabin”  in. My pa se hy kon voel hoe sy water net daar  breek en so teen sy bene afgaan- sommer in sy skoene in. Hy se sy tjommie was nie lank in die cabin nie- of skielik gaan al die trein se ligte aan- daar werk die ding nou skielik. My pa se hy stop net daar- hy wiet hier is moelikgeid aan die kom- die is nie “natural “ nie…iets is nie lekker nie. Nou- nou se my se pa hy besluit ”Nei – hy issie bang nie- hy wil ytvind wat vanaand hier aangaan.”  Hy se hy begin weer loep na die voorste wa toe waar sy tjommie innie” driver’s  cabin “ ingeklim het.So halfpad…en da gaan die ligte wee af…morsdood!  My pa se hy stop net-daar…toe begin hy wonner wat gaan aan.Hy se hy kon voel sy bene raak lam onner hom- en hy se as hy nog water gehad het- het die seker weer gebreek. Hy se gelukkig was sy maag darem leeg gewies.  Hy se hy was bang netnou gebeur iets met hom ok want miskien soek sy tjommie dalk “revenge” omdat my pa hom na sy dood toe gestuur het. My pa se hy het net daar op ‘n bankie ga’ sit en maar gewag….te bang om ‘n spier te roer.Hy se hy het gevoel hoe dit skielik beginne koud raak- maar daar was niks winde nie.Hy se so sit hy nou daar alleen op die platform en wag dat die se tjommie nou moet iets doen……maar niks- dis doodstil da’  voor innie “cabin.”

 Hy se hy het omtrent so uur en ‘n half daar gesit- toe “woeps”- gaan die trein se ligte weer aan. Hy se hy kon die elktriese motor hoor toe hy inskop en sien hoe die trein se voorste  “ tower” die lug ingaan.  My pa se hy staan toe op- en begin weer na die” cabin” toe loep. Hy se hy was so halfpad- toe sien hy weer sy tjommie ytklim yt die” cabin” yt…weer sommer so deur die deur-en die  klim toe af op die spoor- en beginne stadig  soe al op die spoor loep voor die trein yt – baie rustig asof hy niks in die wereld het om oor te worry nie- soos iemand wat ‘n “stroll” langs die spore vat. . Hy se sy tjommie loep toe aan – daar in die donker in. My se pa se net voor sy tjommie in die donker wegraak- toe roep my se pa sy naam. My pa se sy tjommie het gestop- omgedraai- na my se pa vir ‘n ruk gekyk-sy kop heen en weer geskud soos iemand wat “nee” se- en weer omgedraai…en weggeraak in die donker in….sommer so ge- “fade.”

My pa se toe hy daar voor by die “cabin”  kom- toe werk alles weer- die ligte, meters- die trein- alles. My pa het omgedraai en gehardloep om ‘n anner treindrywe te  gaan roep. Die drywer het in die “cabin”  geklim- die agterste “ tower”  ge-“hoist”- en die trein se “dials, electricity” – alles ge-“check”- maar hy kon geen fout kry nie. My pa se hy kon nie die ding verstaan nie- vir die hele  tyd wat sy tjommie in die “cabin “was- was alles morsdood- toe hy ytklim- toe werk alles weer.Nou se die mense die ou wil nie he ‘n anner drywer moet sy trein vat as hy besig is met die trein nie…dis die hoekom niemand die trein kan start as my pa se tjommie daar is nie…daai trein moet staan net vir sy se gebruik

Ok….my pa het toe die ding gelos- maar hy se hy was baie worried gewees omdat die dinge die aand gebeur het. Hy het my motjie (ma) by die hys vertel wat daar gebeur het- maar die ou girl het gedink die ou  is weer dronk gesyp en hom vreeslik geskel…maar my se pa se hy het hom die aand skoon nugter geskrik.Hy se hy het nie eers die aand geslaap nie.

OK…nou- die volgende dag toe my se pa weer daar op die stasie kom- toe loep 2510 weer soos normaal. Die drywers daar se hulle weet nie hoekom die trein nie die vorige aand nie wou ry nie en hoekom die lyn dood was nie. Die “ electricians” het die volgende oggend die lyn getoets- maar daar was niks fout nie- alles het gewerk en 2510 het die heeldag mooi geloep.Dis TOE dat my pa se hy so bietjie gaan dink. Die aand wat die trein nie wou loep nie- was op dieselfde aand- omtrent een jaar terug- wat die tjommie van hom doodgeskiet was deur die gangster.Die ou- se my pa- het natuurlik weer teruggekom om sy job te kom klaarmaak en sy laaste “shift” wat hy met die dag van sy dood nie kon klaarry nie- vir die dag te kom ry. Hoekom hy op die spoor geloep en soek het- wee hy nie- se my pa. Miskien- se my pa- het hy die dagga klaar gekoop- maar toe die gangster hom doodskiet- het daai anner “ burg” sy “stash” weer gevat- en nou loep my pa se tjommie seker nog en soek na die “ stash” om vir my pa sy “cut” te gee- mens weet mos nie hoe dink spoke nie.

Nou- nou se my pa hy het nou so gemaak om elke jaar-op die dag wat sy tjommie dood is- da’ te ga’ sit en kyk langs 2510 se platform- en elke jaar se hy- klokslag- half past nine tot so  half past ten o’ clock die aande gaan daai lyn se krag af – en daai trein staan doodstil. Dit maakie saak watter trein hulle daarop trek nie- as sy nommer 2510 wys- staan hy doodstil. My pa se sy tjommie kom elke jaar terug om na sy trein te kom kyk- en terwyl dit “ sy aand” is- kan niemand anders daardie trein op daardie spoor ry nie…dis syne vir daai aand.

 My pa se sy tjommie kom elke jaar op die selfde tyd terug want hy moes die aand nog een “trip” gery het- maar omdat hy doodgeskiet was terwyl hy van die werk af gou   by die anner “burg” gaan stop het om “ zol” te kry vir hom en my pa- kon hy mos nou nie sy laaste skof die aand ry nie- en nou kom hy elke jaar en ry sy skof klaar.Party mense da’ innie Kaap se hulle het al gesien ‘n man loep laat innie nag langes die spoorlyn so Woodstock se kante toe. Anne mense langs die lyn Wellington toe se hulle het al baie laat die aand- omtrent die tyd wat 2510 moet loop- die trein gesien aankom op die stasies- maar hy stop glad nie- hy ry net verby- en al sy ligte is af…en baie se die trein ry ok sonner ‘n drywer daar verby….net die lee trein op sy eie. Mense het al ge-“complain” by die spoorwee dat hulle wag op die stasie- sien die 2510 inkom en as hulle naderstaan om te klim- ry die trein net verby- dolleeg en donker…hy “slack” nie eers af nie.

Die spoorwee se dis nie waar nie want 2510 staan die tye morsdood op die spoor daar innie Kaap.Hoe kan een trein dan nou op twee plekke gelykertyd wees- verstaan die manne? Hulle kon ook geen trein op die spoor sien ry op die roete die tyd wat die mense oor kla nie. …behalwe die een wat 2510“replace”  het terwyl hy staan…maar die anner trein se nommer was 2035. Hulle kyk mos op daai “switchboard” van hulle se muur watter treine ry en watter staan stil. So…..as die mense nou 2510 gesien loep het da’ na Wellington se kante toe- en die spoorwee se hy sta’ da’ innie Kaap- da’ issit mos nou die trein se spook wat geloep het? Die mense se dis hoekom die trein nie wil start nie- my pa se oorle tjommie gaan haal die trein se gees- en ry met die…nou kan die regte trein nie ry nie- sy gees is yt hom yt. Treine het mossie geeste nie? Later van tyd- se my se pa- het hulle maar  daai spoor wat uit die Kaap loop- toegemaak want die mense het baie gekla-  en toe een van die “side-line” spore oopgemaak vir die treine om te gebruik .Vandat hulle die spore toe ge-“change” het- het 2510 het nie weer gestaan nie……ma’ die ou se spook loep nog allie pad.  Almal op die Kaap se stasie ken al die ou wat daar spook- en veral  die tyd van die jaar wanneer hy moet loep  kom die mense nie sommer naby daai een  spoor nie…..daai platform waar hy altyd van weggetrek is – is ok  leeg die aande wat hy loep- mense het klaar onnermekaar gepraat….mense  is baie bang vir hom.

Na Riedewaan se verhaal het daar so doodse stilte oor die groepie manne in daardie werkswinkel gedaal…niemand het eintlik die storie geglo nie- maar aan die ander kant wou niemand ook eintlik so se nie om ou Riedewaan se gevoelens te spaar. Net ons lokale leke pastor- Johnny-Boy- het so lakoniese opmerking gemaak dat Riedwaan met sy pa moet praat dat die sy “tjommie” nader en vra of hy nie vir almal van ons vry treinkaartjies kan gaan loop steel in die nag nie- synde die feit dat hy ‘n spook is en niemand hom sal kan sien nie.

Ja…wat sal mens se? Soos ek gese het- Riedewaan se stories kan nou nie altyd vir “ die waarheid” aanvaar word nie- maar soos spookstories loop- het die een nogal byklank gevind op mens se oor- en mens wonder soms al is dit tong in die kies- of daar werklik sulke rustelose “ siele” is wat hier steeds ronddwaal tussen die spore van die neon oerwoud? Mens kan maar net spekuleer. As dit wel so is- sal ek redeneer daar moet teen die tyd al meer dooie  “siele” in die stede wees as lewendes- in ag geneem die tempo wat moorde deesdae gepleeg word.

Saturday, December 31, 2011

JALOESIE VANUIT UIT DIE GRAF



Spoke- ‘n onderwerp waarin almal belang stel- maar  snaaks tog wil niemand een ontmoet nie…eienaardig ne? Ek het my passie om oor die bonatuurlike wesens te begin skryf- jare der jare gelede- op laerskool is dit- opgetel.Ek kan nog onthou hoe ek elke middag by ons ou laerskooltjie se biblioteek -daar in Potgietersrus –gaan sit het en al hulle boeke oor spoke en gedaantes verslind het. ‘n Skrywer wat my ook dan baie gefassineer het- was wyle C.J Langenhoven.
So het ek meer en meer gefassineerd geraak oor die onderwerp- seker omrede ek ook maar soos baie ander lewendes- regtig gewonder het of daar wel geeste en gedaantes tussen ons rondwandel- of sal ek nou seg “ rondsweef?” Hoe ook al sy- my nuuskierigheid het die botoon gevoer- en dit het my later gebring by ‘n punt waar ek begin diepere ondersoek doen oor die onsigbare wesens. Hier moet ek nou die leser daarop attend maak dat ek geensins betrokke geraak het by enige magie, séances, paranormal aktiwiteite- okkulte of kultusse nie. Ek het bloot daarop uitgegaan om mense te ondervra of hulle al spoke, geeste- of gedaantes gewaar- of ‘n onderonsie met een beleef het. Dit het gelei dat ek naderhand in die omgewing bekend geraak het as die “spookjagter”- ‘n bynaam wat nie eintlik geregverdig was nie omrede ek g’n spook “gejag” het nie- maar eerder my blitsig uit die voete sou maak as een van die ou wesenjies dalkies sou besluit om my te “jag.”
Wat die bynaam wel ‘n positiewe nadraai gegee het- was dat meer-en-meer lewende siele my genader het met allerande interressante- en soms verregaande “belewenisse.” Baie van die staaltjies het ek neergeskryf vir latere verwysing- en baie het ek maar diplomaties uitgefasseer as die produk van ‘n ooraktiewe fantasie- en andere as pleinweg pure bog.

Nou ja- later aan het ek toe ingeskakel by ‘n nasionale weekblad- en begin kortverhale skryf- wat my die eerste trappie na ‘n volwaardige spookstorie skrywer gegee het. Vandag- jare later- skryf ek soms nog- alhoewel nie meer so baie nie- maar ja, u moet verstaan- die tyd het ook my al ingehaal. So hier-en-daar duik daar nog steeds ‘n verhaaltjie-of-wat op…en as hy goed genoeg is- pen ek dit neer. In vandag se korporatiewe lewe en nuwe generasie-hoor mens glad nie meer enige goeie spookstorie meer nie. Spoke neem blykbaar nog nie aktief deel aan “chatrooms” en “mixit” nie. Die tegnologie gaan seker eens te vinnig vir die afgestorwenes om meet red te hou.
Dit gese- bring dit my dan na my volgende verhaal wat ek so  jaar gelede terug- sal ek nou se “per abuis”- een aand laat om die braaivleisvuur by een van my ou kennise opgetel het terwyl ons – soos elke jaar- ‘n Boerekamp doer in die Sederberge gehad het. Die ou kennis van my kom ook dan nou daar van die Hoeveld se wereld af waar hy op die myne gewerk het as skofbaas- maar later- weens finansiele aanbiedinge- Kaap se kant toe verhuis het. Die verhaal is – hoe se die Ingelse: “Mind boggling.” Dit klink amper soos ‘n fiksie verhaal uit een van Agatha Christie se boeke…as ek nie die kennis al so lank geken het nie-maar besluit u maar self.
Nou ja- soos ek gese het- ons was op die winterskamp daar in die koue Sederberge- en gedurende Julie/Augustus se tydperk- sneeu dit soms in die omgewing - en die wind sny deur murg en been- veral as jy gaan kamp het in daardie geweste. Die koue Bokkeveld le net so neffens ons kampplek- en die termometer sukkel ook maar gereeld om sy kwik hoger as agt grade te laat styg - veral as die windjie so oor die pieke vanaf die Bokkeveld aangedraf kom in die kamp in. Die kamp was in so ‘n kom tussen twee bergpieke- met ‘n dun rivierlopie wat so langes die kamp verbyvloei. Snags veral- is dit soms bitter, bitter koud en as jy as stedeling daar gaan uitkamp- moet die vure maar hoog brand. Hierdie nuwerwetse “Thermo Blankets”  wys gou tot hulle verkoops foefie karakter as hulle eers werklik daar getoets word.
So het ons nou een aand na ete toegewikkel in warm baadjies om die kampvuur gesit en gesels om ‘n heerlike stomende koppietjie koffie direk van die ketel op die vuur af. Die nag was ook maar koud- en niemand het die wil gehad om in die koue slaapsakke te gaan inboender nie- veral nie as die vuur lekker hoog gestook is- warm koffie en ja- so bietjie nektar van Bacchus se vuurwa af wat die rondte gedoen het nie. Namate die aand nou gevorder het—het die dames en kinders so een-na-die-ander begin koers kry slaaplekke toe- en hier om-en-by 11 uur die aand- was dit net die hardebaarde wat hardnekkig bly vasklou het aan die buitelug en die Brandewyn.

Dit was dan ook hier skuins voor twaalf se kant wat die geselskappe begin opdrroog het en die manne begin stip in die vuur staar- dat my ou kennis- ene Andre Viljoen- skielik so  traerig ‘n opmerking laat val dat dit nou ‘spooktyd “ is- presies 12 uur die nag.Die meeste manne om die vuur het hom half leepoog aangekyk- en nie veel gese nie. Ek het my ‘n koffetjie gegooi- en so met die terugsak op my kampstoel- Andre gevra of hy al ooit ‘n “spook” gesien het- synde die feit dat hy nou hulle looptyd so goed ken?
Andre was skielik – tot my verbasing-heel opgewonde omrede ek die vraag gevra het. Hy het bevestig dat hy wel in sy vroee dae daar op die Hoeveld met so ‘n gedaante te doene gehad het. Nodeloos om te se al die manne- besope, half besope- en half nugter het soos een man skielik regop geskuif en Andre ook aangemoedig  om nou te vertel dit wat hulle in elk geval baie sinies gaan oor voel maar niks gaan  oor se nie. Ek reken hulle was maar alte bly iemand het iets gehad om te se. Ek het ook reggeskuif op my stoel- en Andre ook aangepor om nou te vertel wat was dan sy onderonsie met die bonatuurlike. Hier is dan Andre se verhaal soos aan ons vertel die aand:

“ Manne- ja- Ek lieg nie as ek julle vertel ek was al deurmekaar met spoke nie- dit belowe ek julle. Ek praat nooit oor die ondervinding nie- omrede my vrou ons huweliksertifikaat weer onder oe gaan neem vir “loopholes” as sy weet waaroor die hele affere gegaan het…dit belowe ek julle ook. Di t wat gebeur het- was natuurlik ‘n paar jaar voor ek haar ontmoet het…maar julle ken vroumense”- en Andre loer so nuuskierig  oor sy skouer na sy tent se rigting net om seker te maak sy wederhelf staan nie dalk in die deur met gespitste ore en luister saam na sy ‘bekentenis” nie. Die ander manne om die vuur is skielik baie behulpsaam- en loer ook maar ewe waaksaam in daardie rigting.
“ Ja…”- gaan Andre voort na die omgewing as “veilig” verklaar is. “ Ek het op die myn gewerk daar in Witbank se omgewing. Ek was nog so jong laaitie- so 23- en het by ‘n ou oom en tannie gelosseer in hulle agterkamer op Arnot- so entjie van Witbank af. Daar was nie baie vir jong mense op Arnot aan die gang nie- meeste van die inwoners daar het in Arnot kragstasie gewerk- getroude en ou mense-en daar was ook nie baie huisies nie. Meeste van die “locals” het lang skofte gewerk- en gewoonlik saam met die hoenders gaan slaap. As ons jong laaities wou gaan floukap die aand- veral op Saterdae-aande- moes ons maar deurwoeker Witbank toe waar al die “jols” was. Ons was 4 pelle  wat saamgewerk het op die myn- wat almal op Arnot gebly het. Daardie tyd het ek nou nog nie ‘n kar gehad nie- en ons ander drie het  maar elke dag saam met die ander  pel werk toe en terug gery in so ou 1960 Kombi wat hy gehad het….daardie “Flower power” soort met die ronde liggies.
Elke Saterdagaand het ons ook flougekap na die hotelle en partydjies toe in Witbank. Nou dit was op een so ‘n Saterdagaand wat ons uitgenooi was na ‘n lekker groot opskop toe- meeste was ook maar ons ouderdom wat gegaan het. Dit was een van die mynbestuurders se seun se  se verlowingspartytjie- en omtrent almal op die myn was genooi soontoe. Ons het sommer vroeg-vroeg die Saterdagmiddag al begin klaarmaak, gestort, lekkerruikgoed aangesit- en die ou Kombi nagegaan dat sy darem nie langs die pad gaan staan nie.
Omtrent so ses uur het ons jongmanne- ons en nog so paar ouens wat op die kragstasie se gronde gebly het- die Kombi volgepak- so agt van ons- en afgesit Witbank toe vir die partytjie. Dit was al baie sterk skemer- en die opskop het sewe uur begin. So is ons toe daar weg – natuurlik met die nodige vuurwater om solank die kele nat te maak vir die meer ernstige gedrinkery later die aand.

Ons het so om-en-by kwart voor sewe by die plek aangekom. Die plek het gestink na geld….dubbelverdieping huis met so mooi tuin met rose voor. Langs die voorstoep het ‘n trap opgeloop na die boonste verdieping toe. Toe ons daar aankom- was die partytjie al aan die gang- en klomp mense het in die tuin rondgestaan. Ons het maar ver geparkeer dat die ‘elite” nie sien met waste vervoer ons daar aankom nie. Ons sou maar uit gevoel het tussen al die mooi Duitse karre wat voor die huis gestaan het. Ons klomp het toe maar uitgebondel- en ons loop geneem na die huis toe. Daar aangekom- het ons die mense gegroet en begin “social” met die “locals.”
So in die loop van die aand het daar twee meisiekinders opgetree in ‘n sang stukkie wat hulle vir die paartjie wat verloof geraak het- gesing het. Dit was so  duet tipe affere- en ek het nadergestaan om ook beter te kan sien want die klomp het so kringetjie om die verhogie wat in die agtertuin langs die swembad opgesit was- gevorm. Ek het so deur die klomp gedruk- en sommer heel voor by die “stage” gaan plek inneem met my “Klippies “in die hand. Op die verhogie was die twee lekker aan die sing- en die mense het saam hande geklap. Kyk- ek het al baie liedjies gehoor- en weet absoluut aapdinges van opera af…maar die twee het soos nagtegale gesing. Die liedjie- ek sal dit nooit vergeet nie- se naam was “The Flower Duet.” Ek het nie ‘n kat se “clue” gehad wat hulle gesing het nie- maar dit het diep snare in die hart geroer. Die een girltjie was nie te “hot” nie…sy het so ‘n blinde oog regs gehad- maar verder was sy seker nie te oes nie. Die ander een was die een wat my “clutch” laat “slip” het. Sy was so sexy brunette met “stunning looks. “ Ek het so weggeraak in my fantasiee- ek het skoon vergeet om my brandewyn te drink. Kyk…ek het letterlik die dingetjie met my oe uitgetrek. Haar hare was so donker- nes die Mexikaanse girls- maar het sulke golwe gemaak tot op haar rug. Sy het so rooi aandrok aangehad- en onmiddelik het ek gedink aan ou Chris De Burgh se “Lady in red”….sy kon enige tyd die een wees waaroor hy gesing het. Sy was nou rerig ‘n “ beauty on a platter”- ‘n “lady” in elke sin. Daarby het sy nog ‘n mooi fietse lyfie gehad. Ek het haar so 22 geskat. Haar vriendinnetjie was ook so om-en-by daai ouderdom… ook mooi lyfie met blonde hare….dis net daai oog wat my afgesit het.

Ek het gestaan en my vergaap tot die twee klaar gesing het- en besluit die meisiekind hoort in hierdie pa se arms. Toe hulle klaar was- het die twee saam-saam afgekom- en na die tafels toe gestap waar die lekkernye bedien was. Ek het gou ‘n “U-Turn” gekap- en agterna laat waai. By die tafel het ek ook maar my eetgoedjies op die kleinbordjie gepak- en sommer gou die girl “opgezise.” Met my “luck” was net sy en die ander doedie die aand daar. Ek het gou hulle begin “opchat”- en nie lank nie- het ek haar en haar vriendinnetjie soort van “geskei” om die engel op bene eenkant te kry dat ‘n man “serious” kan begin bytel aan die ruwe klippie.Dit was ook nie lank nie- toe het ek klaar haar naam gekry….Margerie! Hel manne- dit was die mooiste naam wat ek seker in ‘n lang tyd gehoor het. Sy en haar vriendinnetjie- ene Chantel- was nuut op Witbank- het daar uit Natal van Colenso se wereld af gekom. Hulle ouers was beide pare se pa’s verplaas van die myne daar onder na die Hoeveld toe.

Nou ja- die aand het lekker gevorder- en hoe meer die voggies gevloei het- hoe meer gesellig het die klomp daar geraak- en hoe meer waaghalsig die dinge wat hulle gedoen het. Paartjies het nou-en-dan weggesluip kamers toe- en die natuur – en natuurlik die hormone- se roepstem gaan beantwoord. Ek het ook nie op my laat wag nie- en die yster op die ambeeld gehamer terwyl hy nog warm was. Ek het die poppie sommer gou “eenkant” toe gesleep waar die donkerste plekkie in die tuin was- en daar het ons die dinge geroer. Sy het my darem eers verseker sy is nie getroud, verloof- of het ‘n sleepsel wat hulle losweg ‘n  “Boyfriend” noem nie. My geluksklokkie het gelui dat die hoenders kraai- wat ‘n geluk…’n  vars roosknoppie uit die hemel se tuin  het in my skoot geval…”no strings attached!” Ek het nie op my laat wag nie- net-nou was die oomblik dalk verby- en ek wou nie later treur oor ‘n grote wat weggekom het nie. Ek het haar sommer onmiddelik daar in ‘n ‘Half Nelson”  beetgekry- en laat waai. Ek sal julle manne se- daai kind het ‘n vuurwarm vry geken- en haar lippies was so sag soos ‘n baba se boudjies. Ek het heeltemal weggeraak…nie eers oor my dop geworry nie.
Manne- na een baie lang vry- het ons toe ingegaan om bietjie gesig te gaan wys. Sy is toe badkamer toe om haar dinge daar te gaan doen- en ek is boontoe na die tweede verdieping om by die kroeg uit te kom. Ek was natgesweet van die gevryery. Ek het toe ‘n sterk dubbel Klippies gevat- en teen die trappe wat ondertoe gaan- gaan “park.” Hel- dis nou mooi hier waar die dinge sleg beginner skeef draf het. Voor my- so op die reling oorkant my- sit daar so jong laaitie- ek skat die javeltjie so vyf-en-twintig…met so wilde kuif wat half oor sy oe hang. Die knapie het het daar gesit op die reling- met sy een been half op die reling- en die ander een wat so half afhang. Heeltyd- so 15 minute lank- het hy daar gesit…en kort-kort in my rigting ge-grinnik.Ek het my nie juis aan hom gesteur nie..dit was seker maar ‘n lat wat ook maar genooi was en alleen opgedaag het.Manne- ek staan nog so en drink- nie baie gepla oor die knapie nie- toe die skielik afspring van die reling af- en so vinnig dat ek nie eers kon snap wat aangaan nie- een sprong gee na die ander kant van die reling toe. Ek draai om en kyk waarnatoe die knaap so spring. Hy het heel nugter voorgekom-heel rats-  terwyl omtrent almal daar half dronk- of “paralatic” gesuip was.
Toe ek nog so omdraai- sien ek hy gryp ‘n ander outjie wat langs my- so drie meter af met die trappe- gestaan het -  om die nek. Ek dog dit was ‘n pel van hom- maar wat toe gebeur- het my totaal van my trollie af gegooi.Die mannetjie gee my so een kyk- grinnik vir my- en die volgende oomblik pluk hy een van daardie skeermesse uit wat die Italianers mee skeer…julle weet mos- daardoe mestipe. Voor ek mooi kan registreer  wat aangaan- ruk die kerel die skeermes met een beweging oor die ander outjie se keel dat jy net sien bloed spuit uit sy nekslagaar uit. Hy kyk toe weer vir my- grinnik weer, maak die mes toe- stamp die roggelende ander outjie eenkant toe- en  loop ewe doodluiters die trappe al fluitende af en by die voordeur uit….alles in ‘n paar sekondes….net so tjoef-tjaf!
Ek het net daar gestaan- my bek het oopgehang….ek was te lam in die agterwereld om te beweeg. Ek kon nie besluit of ek te dronk was en dinge halusineer- of dit werklik gebeur het nie. Die ander outjie het sy nek gegryp- en so teen die reling afgesak en inmekaargesak net daar op die trappe – met die bloed wat nog by sy nek uitspuit. Ek het begin skreeu op die mense om die mannetjie wat by die deur uit is- te keer. Ek het na die outjie op die trappe gestorm om hom te help- maar toe ek daar kom- het ek gesien die knapie is op sy laaste bene.Ek het vir die klomp daar geskreeu om ‘n ambulans te kry…maar almal was te dronk om te reageer- en hulle het my net aangestaar.
Ek het toe met my besope lyfie en al- opgespring en my tjommies gaan soek. Toe ek uiteindelik so twee of drie raakloop- het ek met moeite hulle dronk lywe agterna gesleep na waar die outjie teen die trappe le. Toe ons nou daar kom- tref dievolgende skok my….die outjie was WEG! Ek kyk rond- soek die bloed…maar daar was nie eers ‘n “trace” van bloed nie. Nou staan ek daar en wonder- wat de hel het van die liggaam geword- en wie het die bloed skoongemaak? Verder het dit vir my eienaardig voorgekom dat daar omtrent twee honderd mense was- en nie een het eers gesien wat gebeur- of reageer op dit wat pas gebeur het nie! IEMAND moes tog iets gesien het…almal was seker nie so gesuip nie. Ek meen- ek het MY nugter geskrik.

Jong manne- ek dog toe ek is aan die droom. My tjommies staan daar- vol getenk- en gaap my aan asof ek die een is wat gesuip is. Ek verduidelik vir hulle wat ek gesien het- maar jy kon sommer-so in hulle gevrete sien hulle het klaar besluit ek gaan binnekort pienk olifantjies ook sien vlieg- en hulle het maar weer omgedraai en verder gaan paartie. Die een het darem vir my gese ek kan in die Kombi gaan slaap voor ek “uitpass.”
Ek het so rukkie daar gestaan en die plek goed bekyk- en besluit dat ek liewer die ding vir  Margerie moet vertel- miskien glo sy my. Ek is toe daar weg op soek na Margerie. Dit het my nie lank gevat om haar op te spoor nie. Sy het in die voorlokaal gedeelte met die Chantel vriedinnetjie gestaan en “chat.” Ek het haar sommer-so in die loop aan die arm gegryp- en tuin toe gesleep. Sy het seker gedink ons gaan nog ‘n vrysessie aanknoop- en het haar drankie so in die loop op een van die tafels geplak en haar vingers in myne gevleg terwyl ons uitstap.

Buite in die tuin- daar waar ons vroeer die klippe skaam gevry het- wou sy haar arms weer om my nek gooi om die sessie te begin- maar ek het haar gestop. Sy was ietwat verbaas toe ek haar se sy moet sit en na my luister. Na sy gesit het op die klipbankie in die tuin- het ek haar die hele petalje vertel. Toe ek klaar was- het ek haar gevra of sy ook dink ek is gesuip? Sy het verbasend- baie bedroef gelyk- en net voor haar uitgestaar. Sy het opgekyk- en gevra of ons kon huistoe gaan. Ek was heeltemal uit die veld geslaan- en wou weet of ek iets verkeerd gedoen het? Sy het opgestaan en my reguit in die oe gekyk. Daar was trane wat uit haar oe oor hang wange gerol het. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Dinge was duidelik nie lekker nie.  Na ‘n lang stilte het sy geantwoord dat ek nie besope was nie- nie gehalusineer het nie- en dit wat ek haar vertel het- die waarheid was. Om dinge meer gekompliseerd te maak- het sy my om die lyf gevat, styf vasgehou- en saggies in my oor geprewel dat sy van die moord op die trappe kennis dra. Sy wou nie meer se nie- maar my skielik gelos- en weer gevra of ons nie kon gaan nie. Haar vriende wat haar hierheen gebring het- sal nie onmiddelik wou ry nie- maar sy sal hulle gaan se ek vat haar en haar vriendinnetjie huistoe. Ek het daar gestaan…heeltemal uit die veld geslaan. Dinge het net te vinnig en onverklaarbaar gebeur. Hoe kon sy van die moord weet- sy was dan nie eers naby die trappe nie? Hoekom weet sy daarvan- maar niemand anders op die partytjie het eers aandag geskenk daaraan nie? Hoekom is sy so kalm daaromtrent? Ek was –om die minste te se- heeltemal verward oor wat in daardie afgelope halfuur gebeur het.
Ek is toe half in ‘n waas boontoe- het eers weer gaan loer of die lyk-of die bloed- nie dalk iewers is- of ek miskien ‘n bloedspatesel iewers gemis het nie…maar helaas….silwerskoon en geen teken dat iemand so half uur terug die tydelike met die ewige daar verwissel het ten aanskoue van honderde siende blind dronk partytjiegangers nie. Dinge het net nie geklop nie- iets sinister was aan die gebeur. Ek het dit toe maar later as tydmors opgegee- en  het aan my pelle by die kroeg gaan se die girl wil huistoe. Die pel wat die Kombi gehad het- gee die Kombi se sleutels vir my- en se ek moet die girls huistoe vat- en net sorg dat ek hulle ses uur die oggend weer kom optel. Hy slaan my toe op die skouer- natuurlik gedink ons wil ‘n plekkie soek om die vryery tot op die boonste vlak van erotiese ekstase te vat- en soek bietjie privaatheid. Na die ander pelle my ook “all heil en seen “ toegewens het met “ die lekker nag wat voorle”- en “pasop net vir die gereedskapkis agter in die kattebak vir haar rug as jy die sitplek platslaan”- is ek die trappe daar af voortuin toe waar ek Margerie en haar vriendinnetjie gekry het.”

Andre staan toe eers op en loop ‘n draai om sy tenk lte gaan leegmaak agter ‘n groot ou Wilgeboom- en ons ander neem die kans waar om die lee glase en koppies weer vol te maak- en sommer ook die Wilgebome op te soek.  Ons loer-loer toe ook maar  so oppad na die tente se kante toe – net om seker te maak die vroumense is almal in Lala-land…en luister nie per abuis af om die storetjie ook te kan geniet soos ons nie…Andre se wederhelf nou beslis uitgesluit. Nee wat- sien ons…ligte is af…en mammas en kinders is vort droomland toe. Andre het teruggekom- sy brandewyntjie gevat, agteroor gaan stelling inneem op sy kampstoel…en aangegaan met die verhaal: “

“ Nou ja- waar was ek…ok…ons is toe daar weg en het die Kombi in die sysrtaatjie waar ons gaan parkeer het- gaan opsoek. Margerie het voor by my gesit- en die Chantel girltjie agter ons by die oopswaai deure. Ek het omgedraai en aan haar gese sy moet asseblief nie teen die deure leun nie- die Kombi is maar oud en gehawend- en die deure mag dalk in die ry oopwaai en dan val sy uit. Sy het my nie geantwoord nie- en net haar kop geknik. Ek kon sien die aster was ook nie lekker nie- en het gewonder of Margerie haar van die gemors vertel het. Ek het die Kombi aangeskakel- en ons is in stilte daar weg. Oppad het Margerie omgedraai en aan die ander girltjie gevra of sy “O.K” is- en weer het sy net haar kop geskud. Margerie het toe haar hand op myne op die “gearlever” gesit – en teen my skouer kom aanle. Sy het na my gekyk- en gefluister dat alles “O.K” is. Ek kon dit nie lekker kleinkry nie. Was ek dan die enigste een wat in ‘n toestand was?
So het ons in stilte die agterpad omgevat na Middelburg se kant toe- ek wou nie die N1 snelweg aandurf met die ou rammelkas nie vanwee verkeerspolisie patrollievoertuie op die roete . Hulle het blykbaar in Middeklburg in een van die dele genaamd “Kanonkop” gebly….nugter weet waar dit was. Manne- man- hier het dievolgende ding gebeur wat my tot vandag toe bybly. Oppad Middelburg toe- so langs die verlate agterpaadjie- net so vyf kilometer verby die lokale inryteater…..daar begin die Kombi ruk en spoeg. Dit klink toe of die ding se “coil” of “distributor”- of die vonkproppe nie lekker vuur gee nie. Na so ‘n paar rukke en stote- vrek die ding skielik- en ek “free” maar toe so tot ek ‘n taamlike opening langs die pad sien- en trek af. Ek het geen flits- of enige lig nie. Ek het probeer die “ starter” ‘n paar keer swaai- maar was bang ek maak die battery ook nog klaar. Daar sit ons toe- en ek maak net verskonings. Margerie het my weer aan die hand gevat en gese dat sy my verseker dinge sal “O.K” wees en ek moet nie bekommerd wees nie. . Sy het dit so gese asof sy weet dinge gaan “O.K” wees.
Jong manne- daar sit ons toe-in die donker nag met geen siel om ons nie- ek en twee girls alleen. Ek weet nie hoe lank ons so gesit het nie- miskien so amper ‘n uur. Ek wou graag gaan hulp soek- maar wou ook nie die twee girls alleen daar in die donker nag los nie- dus sit ons toe maar en wag dat daar – wie weet- eendag  ‘n kar verbykom. Soos ek se- ons het amper so uur- skat ek- daar gesit toe daar skielik skerp ligte van agter in die truspieltjie in my gesig skyn. Ek het onmiddelik gereed gemaak om uit te klim- maar skielik het Margerie se naels in my bo-arm gegrou soos sy my vashou. Ek het verbaas na haar gekyk- en sy het weer stip in my oe in die donker gekyk. Sy vra toe dat ek asseblief stilsit- en nie uitklim nie. Ek was heeltemal deiurmekaar…hier kom hulp- en sy hou my wragtag vas en vra om nie die kar te stop nie. Ek weet toe nie wat om te doen nie- en sit toe maar. 
Die volgende oomblik stop so Ford Cortina XLE 3 liter voor ons- so regte windgat kar met sulke blink mags wat glinster in die maanlig. Tussen die stofwolke deur  spring daar ‘n jong bulletjie met ‘n ligte oopnek-hemp en kort moue uit die kar uit. Hy kom reguit met sulke lang tree na ons toe. Ek begin die venster afdraai om met die mannetjie te gesels- toe Margerie skielik weer my so hard druk dat daar amper trane in my oe kom- en half verbouereerd  in my ore sis om nie die venster af te draai nie. Nou was ek ge-“rattle.” Wat de dinges is fout met die vroumens….is sy nou besig om van haar trollie af te raak? Ek dog toe miskien is dit haar boyfriend wat sy nie my wou van  vertel nie….en rol weer die kantvenster op. Ek was nog so aan’t oprol- toe die mannetjie reg langs my kant se venster kom staan- en teen my venster met ‘n metaalding kap. Ek vlieg om- en manne- my flippen hart gaat staan amper: Hier reg langs my staan DIESELFDE laaitie wat daardie ander outjie se keel by die partytjie afgesny het. In sy hand hou hy dieselfde skeermes vas. Hy praat geen woord nie- maar gee my weer daardie grinnik wat hy my op die trappe gegee het. Ek was heeltemal lam van skone skrik- en vaagweg voel ek die pyn soos Margerie haar naels in my bo-arm boor en hoor haar verweg aanhoudend fluister dat ek moet stilsit.
Ek was heeltemal buite Weste van skok- ek kon nie roer nie…my blaas wou-wou net daar ingee. Die knaap aan die buitekant het so kort sirkel geloop- toe om die Kombi terwyl hy aan die venster- dan daai venster kap met die skeermes se hef- en toe weer reg voor die Kombi kom staan het en aan die windskerm kap het. Hy het met sy regterhand se wysvinger my kort-kort gewys  om uit te klim.Heeltyd het hy daardie siek grynslag op sy bakkies gehad. Nou en dan het hy hom bloedig vererg omrede ek nog nie uitgeklim het nie- en dan van die los klippe geskop dat dit klap teen die Kombi se kant om my uit te lok. Ek het naderhand my sinne verloor en op Margerie geskreeu dat sy my moet se wat de hel aangaan. Sy het bly se ek moet stilsit- sy sal my later se. Ek het ge- “snap” op daardie oomblik. Hier staan die vent en wil ons kele afsny soos hy daardie ander ou se keel afgesny het…en sy wil my “later” vertel? 
Ek onthou toe wat my pel gese het dat die gereedskapkis agter in die Kombi le- en besluit ek gaan kyk of ek die grootste Bobbejaansleutel in daardie kis kan kry. As die vent nou wil kele sny- gaan hy eers by een ma se Bobbejaansleutel moet verbykom…en as dit moet- gaan daar vanaand of drie kele gesny word- of een harspan inmekaar gemoker word..maar sommer net van keelsny soos met daardie ander lat gaan dit nie wees nie! Die knaap ken nog nie vir Andre Viljoen as hy sy wip ge- “strip” het nie. Ek het al baie groter perde as die een platgevee met die kaalhand…en ek is nie baie lus om juis die aand langs die pad te le en bloei nie.As daar moet gemoor word- gaan dit van twee kante af kom. Sou hy my eerste “floor”- wel- ek gaan ‘n paar stewige houe inkry- en dit sal nie lank wees nie- en hy sal ook saam met my na die ander wereld toe vertrek…dit verseker ek jou!
Ek was nog so besig om my lyf om te draai om tussen die twee voorste sitplekke deur te druk- toe die ander girltjie hier agter ons- die Chantel girl- skielik die twee swaaideure oopstamp en uitvlieg buite toe. Ek skrik my dinges af- en gil op die aster om in die Kombi in te klim…maar sy vlieg daar weg en storm so van die Kombi se gatkant af reguit op die ventjie met die lang kuif af. Ek spin in die rondte – en probeer my deur oopstamp om haar te help- maar skielik word ek met soveel krag deur Margerie teruggepluk dat ek skoon my balans verloor en half bo-op haar te lande kom.Die volgende oomblik klou sy met beide arms aan my vas en pen my eie arms langs my sy vas- dit terwyl sy aanmekaar bly se ek moet stilsit en nie die deur oopmaak nie. Ek was in my lewe nog nooit so deurmekaar nie. Wat de dinges is aan die gang? Is ek besig om mal te word? Hoe het ek in die ding beland?
Ek sit toe so half op haar skoot en hyg na asem- en sy bly oor en oor my probeer kalmeer en aanhou se  ek moet asseblief stilsit en nie inmeng nie. Ek besluit toe baie teesinnig om maar te sit- en te kyk wat volgende gebeur…ek was gereed om haar greep te breek en weer op te vlieg. My adrenalien het volstoom gepomp- julle weet mos as ‘n mens skrik – dan is alles in jou gereed en jy doen dinge wat jy nie normaal doen nie?Jy kry mos bomenslike krag van iewers af wat jy nie altyd het nie.
Intussen het die ander girtjie om die Kombi gekom- en die knaap begin konfronteer. Jy kon hoor hoe sy sy naam- ene Darrel- aanmekaar noem- en op hom skreeu dat hy moet ophou en “teruggaan.” Ek kon nie mooi kliek wat sy met “teruggaan” bedoel nie. Hy het steeds geen word gepraat nie- en dan na my- en dan na haar gekyk terwyl hy daardie gevaarlike skeermes oop-en-toe laat glip het..so asof hy besig is met ‘n belangrike besluit. Hy het so met die vieslike ding gespeel. Die ander girltjie het nader aan hom beweeg – en aanhoudend hom beveel om op te hou- en “terug te gaan.” Sy was so amper by hom- toe hy skielik vorentoe vlieg na die Kombi se rigting om te poog om die deur oop te maak-toe sy met een sprong haar tussen hom en die Kombi gooi. Sy het so vinnig gespring- dat haar liggaam met een helse slag teen die voorste deur aan my kant van die Kombi te lande gekom het. Sy het verwilderd na die moordinstrument in sy hand gegryp- maar voor enig-een kon mooi tot verhaal kom- het hy in die gestoeiery- met een blitsige beweging die oop skeermes op haar gesig gedeelte neergebring.
Ek kon op daardie stadium nie mooi in die donker sien wat gebeur het nie- maar dievolgende oomblik het sy gegil en vorentoe gestrompel en haar oog vasgehou. Ek het besef hy het die instrument in haar regteroog- die blinde een- ingedryf.Ek kon die bloed deur haar vingers sien vloei. Ek het beserk geraak en begin met alle mag teen Margerie se greep stoei. Ek was skoon waansinnig van woede. Margerie het smekend aanhou gil dat ek nie moet uitklim nie.  Die knapie het net daar gestaan- grynslaggend en het die skeermes weer oop-en-toe gegooi- so asof hy baie trots was dat hy weer ‘n keer die nag iemand gaan vermoor. Terwyl ek nog so die gedoente gadeslaan- en teen Margerie se greep worstel- het die ander  giltjie so half gebukkend gestaan voor hom en haar oog vashou. Skielik het sy opgevlieg, in die rondte getol- en die skeermes met een beweging uit sy hand geruk….en met ‘n woedekreet uit haar mond- die mes diep in die kant van sy nek ingeslaan met beide hande.
Vir ‘n oomblik het almal gevries. Ek was lam van skok, Margerie het versteen met haar arms steeds om my,- die knaap het ook skoon versteen gestaan met ‘n verbaasde siek uitdrukking in sy gesig…en die Chantel girltjie het voor hom gestaan met haar hande langs haar sye sonder om ‘n verdere woord te se …net gestaan en hom aankyk. Ek weet nie hoe lank die “Mexican Stand-off” daar geduur het nie- maar ek het gaandeweg gevoel hoe Margerie haar greep om my verslap…en ek het haar verweg hoor fluister dat dit “nou verby” is. Ek het na Margerie gekyk- en weer na die paartjie buite die Kombi. Die knaap en die girltjie het nog so ruk vir mekaar gestaar- toe sy doodluiters begin vorentoe stap- die Darrel knaap baie teer aan sy arm vat- en begin  hom na sy kar toe lei soos jy ‘n kind sou lei. Sy het die deur vir hom oopgemaak dat hy ewe gedwee inklim- en toe baie rustig omgeloop na die passasierskant toe en die deur oopgemaak. Voor sy ingeklim het- het sy vir ‘n laaste keer omgedraai en na ons kant toe gekyk met ‘n sagte glimlag op haar gesig. Geen bloed was in haar gesig nie- geen teken van ‘n aanval nie- geen niks meer nie. Sy het ingeklim- en die Ford het rustig weggetrek en die donker pad gevat om in die verte die nag in te verdwyn. Ek het hom dopgehou tot sy liggies oor dievolgende helling verdwyn het.
So het ons nog ‘n ruk gesit- so terwyl Margerie aanmekaar my hare bly streel het en bly se het dat dit nou ‘verby” was en sy jammer was .Ek het myself regop gebring en weer agter die stuur ingeskuif en sommer met my kop op die stuur geval en so gele vir ek weet nie hoe lank nie. My energie en liggaam was uitgeput. Margerie het teen my kom le- en ons het so aan die slaap geraak….uitgeput en geestelik geruineer.Dinge het daardie aand net te vinnig gebeur.eers die partytjie….en nou in die pad.
Die son was al op- en as gevolg van die hitte het ek wakker geword. Margerie het nog geslaap- sy het teen die ander deur geleun gesit. Ek het haar saggies geskud- en sy het half verwilderd om die Kombi rondgekyk. Ek het haar gerus gestel dat alles veilig is. Toe sy heeltemal by haar sinne was- het ek besluit dis nou tyd om te praat. Voor ek nog ‘n woord kon rep- het sy my stilgemaak- en gese dis tyd dat ek moet weet wat aan die gang was. Sy se ook ek kan nou maar die Kombi aansit- hy sal werk….Darrel het gemaak dat die ding vrek- juis om by my uit te kom.Ek het my reggeskuif- en die “starter” geswaai. Wragtag…die ding vat- en ons het weggetrek. Oppad het sy my die hele episode vertel- en dit was die verhaal wat Margerie my vertel het:
Gedurende hulle verblyf- in Natal-  so vyf jaar terug- was sy en Chantelle goeie vriendinne. Hulle was saam op skool- saam in die skoolkoor gesing en het soos vriendinne- altyd alles saam gedoen en saam uitgegaan. Dinge was baie belowend vir die twee vriendinne- en so het hulle deur hulle hele skoolloopbaan saam deur die lewe gegaan- onafskeidbaar. Dinge het soos normaal aangegaan toe die twee in matriek was- maar hier in die middle van matriek- het hulle een aand na ‘n rugby onthaal toe gegaan. By die onthaal het hulle Darrel ontmoet. Darrel het onmiddelik ogies vir Margerie gemaak- en Margerie was van haar voete af geslaan deur die netjiese –ietwat windjakker tipe- Darrel met sy sjarme en mooi kar….en hy het boonop as Paneelklopper assistent gewerk vir ‘n familielid se paneelklopperplek op Escort.Hulle het sommer onmiddelik ge-“kliek”- en begin saam uitgaan. Darrel het gereeld vir Margerie kom kuier- en gereeld is hulle saam uit. Wat die twee nie besef het nie- was twee dinge wat gelykertyd aan’t gebeur was. Een- Darrel se verskyning en kuiertjies by Margerie het begin ‘n wig inslaan tussen die vriendskap van Margerie en Chantel omrede Chantel nou moes tweede viool speel en nie meer soveel tyd saam met Margerie kon kry nie.. Tweedens was die feit dat Chantel onmiddelik ook smoorverlief op Darrel geraak het- en in die geheim oor hom gafantasseer het. Die feir dat haar vriendin met haar droomman uitgegaan- en gekarfoefel het- het begin om die wig te verander na ‘n kloof  toe….’n klassieke geval van ‘n liefdes driehoek.
Soos die tyd aangestap het- het dinge net begin vererger- nie net tussen Chantel en Margerie nie- maar ook tussen Margerie en Darrel.Chantel het amper nooit meer by Margerie gaan kuier nie- en op skool haar doelbewus begin vermy. Aan die ander kant het Darrel begin voorspooksels maak dat hy met Margerie wil verloof raak sodra sy klaar is met skool- maar Margerie wou nie voetstoots direk na skool haar verbind nie en wou eers haarself stabiliseer in die werksmark en haar jong lewe geniet. Dit het weer tot ‘n probleem gevolg gehad deurdat Darrel begin besitlik jaloers raak het op Margerie- en begin glo het sy het ‘n ander liefde iewers in die geheim.
Soos die tyd nader gekom het na die einde van die jaar toe waar Margerie moes klaarmaak met skool- het jalousie meer-en-meer begin besit neem van Darrel se geaardheid.Darrel het gereeld begin uitbars in woedebuie- en Margerie begin agtervolg en begin dreig ten aanskoue van die kinders en onderwysers by die skool. Dit het Margerie in ‘n baie benarde posissie geplaas.. Margerie het begin agterkom hy is besig om baie besitlik oor haar te raak- en namate het haar gevoel teenoor hom begin afkoel- tot so mate dat sy besluit het genoeg is genoeg. In ‘n baie diplomatiese briefie- het sy Darrel die trekpas gegee- en gese sy sal verkies as hy haar nie weer sien, kontak- of vir haar kom kuier nie.Sy het besluit die verhouding is op ‘n einde. Nodeloos om te se – toe Darrel die brief lees- was hy onkeerbaar van woede, jaloesie-  en hartseer.
Vir ‘n ruk het hy nog gepoog om haar hand terug te wen- maar na vele kere se wegwys- het hy toe opgehou om haar te pla en ‘n stilte het oor die gewese verhouding gedaal. Nadat die draad tussen Margerie en Darrel nou finaal geknip was- het Chantel en Margerie weer opgemaak en hulle verhouding van ouds voortgesit. Dinge het weer na normaal gekeer- en die twee het weer soos vantevore- begin saam uitgaan. Beide was toe klaar met skool- en het saam in ‘n woonstelletjie  ingetrek. Margerie het by ‘n prokureurs firma gaan werk as sekretaresse- en Chanrel by ‘n groot winkel as junior bestuurderes.So het die twee vir ‘n paar maande goed aangegaan- en die lewe het weer baie te offer gehad met rooskleurige toekomse wat wag op beide van hulle. Hulle het weer-soos in die verlkede- begin sing by ‘n plaaslike kerkgroep- en het as duetpaar begin naam maak in die omgewing. Hulle droom was natuurlik om by TRUK in te skakel en opera te gaan sing.
Soos die lewe nou maar is- was Margerie net ‘n ruk lank alleen- toe daar ‘n ander jonge haar ontmoet by ‘n lokale restaurant een aand- en begin om vir haar te kuier. Hy was ‘n rustige seun en die enigste kind van ‘n beesboer in die omgewing. Saam het hulle begin uitgaan- en sy het begin naweke plaas toe gaan saam met die jonge. Na een van die naweke- toe sy die Sondag-aand terugkom by die woonstel- was sy onaangenaam verras om Chantel daar te vind…met Darrel! Nodeloos om te se- die lug was yskoud in die woonstel- en met goeie rede ook. Chantel het verduidelik dat sy Darrel op die dorp raakgeloop het- en die twee het toe saam gaan uiteet. Gedurende die ete het hulle gepraat- en Darrel het gese hy is oor sy liefde vir Margerie. Chantel het steeds nie haar geheime liefde wat sy vir hom gekoester het- verloor nie- en die twee het blykbaar daar-en-dan besluit om uit te gaan. Darrel het saamgestem dat hy oor Margerie was- en verskoning gevra oor sy kinderagtige optredes teenoor haar….maar dit was nou in die verlede. Hy het voorts gese hy is nou volwasse- en sien dinge uit ‘n meer geordende perspektief. Verder het hy ook gese hy is heimlik verlief op Chantel.

Dinge was die eerste ruk maar stram tussen die paartjies- maar namate tyd verloop het- het dinge begin normaliseer en die vier- Darrel, Chantel, Margerie en haar nuwe plaasliefde- het saam begin orals kerjakker en uitgaan soos ou vriende- en gereeld na die nuwe liefde se pa se plaas toe gegaan oor naweke. Hulle het saam gaan perdry, visvang, inryteater toe gegaan…en sommer die lewe geniet soos jongmense maar kan.
Dinge sou nog vlot verloop het- tot een spesifieke naweek so ‘n jaar later. Gedurende die naweek op ‘n uitkamp tussen die Drakensberge- het Margerie se vriend voor die ander twee haar gevra om verloof te raak. Margerie was aangenaam verras- en het sonder om te skroom- die “ja” woord gegee. Die seun het ook toe daar-en-dan ‘n verloofring tevoorskyn gebring- en aan Margerie se vinger gesit. Hulle was amptelik verloof. Van daar af was die lewe hemel op aarde vir die paartjies- Margerie en haar liefde nou verloof- en Chantel en Darrel miskien volgende.
Dit was die Sondag-oggend voor hulle vertrek- dat die Satan weer sy kaart gespeel het. Die jonges het opgestaan en na die ablusieblokke in die reservaat gegaan om te was. Hulle was ‘n ruk besig met die oggend roetine van koffiemaak en kos voor berei- toe daar ‘n gil uit een van die ablusieblokke kom. Die vroumense het nadergehardloop- en gesien hoe Margerie se vriend uitgestrompel kom en sy keel vashou. Daar was baie bloed- en sy nekslagaar was oopgekloof. Hy was skaars uit- toe Darrel ook uitkom- waansinnigheid was duidelik in sy oe geskryf- en hy het ‘n bebloede skeermes in sy hand rondgeswaai. Hy het reguit op Margerie afgestap- en haar vertel dat hy nie goed genoeg was om mee te trou nie- maar sy sonder om te blik-of-te-bloos aan dievolgende kerel die “ja” word gee. Hy het haar meegedeel dat hy nog nooit van haar afgesien het nie- en as hy haar nie kan kry nie- so sal niemand anders nie. Chantel het op hom gegil- en gevra wat dan van hulle twee- waarop Darrel geantwoord het dat hy nooit eintlik van Chantel gehou het nie- maar haar as toegangskaart gebruik het om weer by Margerie uit te kom. Hy het vir Margerie gese sy moet vir ‘n laaste keer die wereld om haar in oenskou neem- omrede hy haar ‘saam met hom” gaan vat. Met die woorde het hy op haar afgestorm om haar ook die ewigheid in te stuur. Chantel- natuurlik baie seer gemaak oor Darrel se gewraakte woorde en dat hy haar liefde vetrap het- het met ‘n gil tussen hom en Margerie ingespring en probeer die wapen afneem. In die gestoeiery het hy uit waansinnige woede omrede sy hom durf probeer keer- die skeermeslem diep in Chantel se regteroog ingeforseer. Die wond was fataal- en Chantel het inmekaar gesak en ‘n paar minute daarna  gesterf- skaars tien meter van waar die erg verwonde  plaasseun gele het en homself doodbloei.
Margerie het omgevlieg- en weggevlug van die toneel af met Darrel kort op haar hakke.So het hy haar gejaag – en sy het dit kon tegkry om op die grootpad uit te kom en wild met haar arms vir motoriste te waai. Gelukkig vir haar het een motoris betyds gestop voor Darrel haar kon inhaal- en sy het summier in die voertuig ingespring- die deure gesluit- en die motoris aangese om te ry.So in die ry het sy hom die verhaal vertel- totaal in skok en afgryse- en die motoris het haar na Glenco polisiestasie geneem waar sy die hele sak patas voor die verbaasde geregsdienaars uitgegooi het. Hulle is ook toe summier daar vort kamppeerterrein toe- waar hulle die ander twee se lyke gevind het.
‘n Dossier van moord is teen Darrel oopgemaak- en die dag toe die polisiebeamptes by sy werk opdaag om die arrestasie bevel uit te voer- was Darrel skoonveld. Na twee dae se intensiewe  polisiesoektog- het hulle Darrel by dieselfde kampeerplek waar hy die ander twee so wreed vermoor het-in sy motor gevind met ‘n .22 koeel deur sy slaap. Darrel het sellfmoord gepleeg. Hy was te lafhartig om te gaan boet vir sy gruweldade.
Soos wat Margerie my verduidelik het destyds- was dat die toneel hom elke jaar afspeel op die dag wat die moorde plaasgevind het- en elke jaar voor die moord- kom Chantel weer na Margerie toe om hulle laaste optrede in die kerkkoor saam- die “Flower Duet”-  te sing. Die feit dat ek betrokke was- was weer-eens omrede ek saam met Margerie was die aand- presies op die dag van die moorde- en die feit dat niemand anders die moord gesien het nie- was omrede ek direk by die hele gedoente ‘n deel van was omrede ek en Margerie dinge vir mekaar gevoel het die aand en Darrel my as moontlike opposissie vir Margerie se hand gesien het . Dit plaas my op dieselfde vlak as die vorige outjie wat Darrel vermoor het. Wat ek daar by die partytjie gesien het- was Darrel wat weer die plaasseun vermoor- en niemand anders sien dit nie omrede hulle geen betrokkenheid by die hele storie  het nie. Dis die dat sy geweet het van die moord- sy het dit al talle kere voorheen beleef. Darrel se gees het nie gerus nie- en het haar kom treiter elke keer as daar iemand anders in haar lewe was…elke jaar op dieselfde dag. Hy was steeds jaloers op haar- en wou al die mans vermoor wat in haar belang gestel het. Vanaand was die einde- omrede Chantel dit kon regkry wat sy nie in die lewe – en soveel male na die moord-kon regkry nie:  om die mes  uiteindelik uit Darrel se hand te forseer- en Darrel met sy eie moorwapen terug te steek . 
Darrel wou nooit aanvaar dat Margerie met iemand anders behalwe met hom sou trou nie- en daarom het hy oor-en-oor die plaasseun kom "vermoor" omrede Margerie hom wat Darrel is- vir die knaap gelos het. Darrel was weer daarop uit om ‘n moontlike nuwe liefde in Margerie se lewe uit te wis- en ek het my voet die aand in die visblik gesit deur sy "nooi" te vry. Hy het dit blykbaar opgetel- en het die aand vir my gekom. Chantel het dit gesien- en soos sy Margerie op die kampeerplek probeer beskerm het- het sy weer probeerhaar beskerm die aand by die Kombi. Dit was hoekom Margerie my heeltyd bly se het ek moet stilsit- sy het geweet wat aan die gebeur is- en dat beide Darrel en Chantel geeste van afgestorwenes was en dat ek niks aan die gebeure sou kon doen nie. Darrel se duiwelse  mag was die aand finaal gebreek. Om die rede het Darrel geen teestand gebied toe sy hom aan sy arm vat en kar toe neem nie. Die bose repitisie van die gebeure is nou verbreek en verby. Chantel se liefde het nog nooit afgekoel vir Darrel nie- en daar waar hulle nou is- is hulle nou vir ewig  saam. Ek het ook toe verstaan hoekom sy bly aan hom se het hy moet “teruggaan.” Sy het bedoel “teruggaan” na die geesteswereld toe.

Ek en Margerie het vir ‘n hele ruk nog saam gekuier- maar na die affere was my hart nie meer by haar nie. Miskien is ek nog te bang Darrel het nog nie eintlik regtig van haar vergeet nie- en ja…ek het ‘n vrou gekry wat nie jaloerse spoke van die verlede saam met haar dra nie. Ek het Kaap toe getrek- en snaaks- so ses-sewe jaar terug het ek by vriende gehoor Maregerie is iewers in Pretoria tydens ‘n kitsbank rooftog per ongeluk doodgeskiet . Sy was in die omgewing van die bank toe hulle die roof getrek het en een van die verdwaalde koeels het haar getref. Of dit waar is- weet ek nie, maar indien so…wonder mens of Darrel dit tog nie wel reggekry het om sy wraak op haar te voltrek- en haar wel uiteindelik kom haal het nie. Ek dink nog baie aan die girl…maar soos ek se…na die aand se gebeure was dinge ook maar nooit meer dieselfde nie- en ons beide het besluit om maar ons eie paadjies te gaan na so twee maande. Sy het in Witbank agter gebly- en ek was nog so 3 jaar op die myn toe ek my vrou ontmoet het. Tot vandag toe weet my vrou nie van die storie nie.”

Vir ‘n baie lang ruk het ons manne daar om die vuur gesit en tob oor Andre se verhaal. Niemand het ‘n word gerep nie. Ons het nie geweet wat om te se nie. Ons angels was uit. Dit was ‘n baie tragiese verhaal..vol intruges…en Andre was ons pel. Dus…ekself tob maar steeds oor die verhaaltjie- weet self nie hoe na aan eg dit kan wees nie. Ek los maar die besluit aan die leser self oor om te besluit  of u sou saamstem of nie.