Saturday, August 1, 2009

'N LAASTE OFFER


n LAASTE OFFER



Die verhaal wat ek hier gaan vertel, is aan my oorvertel deur ene Dr. Louwtjie De Kock- voormalige Senior Pataloog verbonde aan die Garangkuwa Hospitaal in 1988- terwyl ek een van my talle militere kampe moes uitdien as medikus in die weermag.

Wat my opval van die betrokke verhaal- is dat die verhaal opsig self buitegewoon is, maar ook dat dit ‘n onverklaarbare was wat hom afgespeel het te midde van ‘n dubbele tragedie. Die verhaal het my- tot die hede toe – steeds aan die gis. Ek dink baie aan die betrokke gebeure wat Dr. De Kock aan my oor vertel is- en nou nog- laat dit ‘n tipe hartseer agter in my geheue.

Dr. De Kock was ‘n baie rustige humoristiese mens, baie ontvanklik- en wel belese..en baie intelligent. Hy het nou en dan ons studente uitgevang- en sommer so nou-en-dan ‘n streep op ons ook getrek. Ek kan tog nie die eerste dag vergeet toe ons by hom aanmeld in die lykshuis om ons eerste Post Mortem waar te neem nie. Daar het hy gestaan met sy kollegas, klaar aangetrek vir die okkasie. Met ‘n stout glimlag het Dok. De Kock ons verwelkom- en vinnig deur die prosedures van die Outopsie gegaan. Daarna het hy ons ernstig gevra wie van ons al ooit ‘n kadawer aanskou het. Wel- meeste van ons het ontkennend geantwoord, waarop Dok Lourens sy kop geknik het, en sy twee kollegas die yskaste se laaie begin ooptrek het sodat ons net die dooie tone met etikette kon sien. Hierna het hy een laai uitgetrek- en met die hulp van sy kollegas- die kadawer onder die laken op die snytafel geplaas- en ons genooi om ‘n kringetjie om die makabere toneel te maak. Ons was- soos enigeen- ook maar nuuskierig- en het amper bo-oor die stywe liggaam gaan staan. Dok. Lourens het een van ons – ek kan nie meer onthou presies wie nie- uitgenooi om die laken weg te trek. Die student was dan ook nie links nie- en het die laken met “fanfare” afgepluk, waarop die “lyk” skielik regop vlieg en ‘n onaardse brul los! Ek weet nie wie van ons eerste by die hospitaal uit was nie- maar ek weet dat ieder en elk van ons studente teen rekord spoed- al skreeuend- by die gange uitgevlieg het ten midde van die artse se geskaterlag!

Ja- so was Dok Lourens- soos ons hom genoem het. Nou ja- hierdie verhaal het hy my vertel toe ek een Saterdag moes kom werk omrede ek die Vrydag “afwesig” was- en my prakties moes doen. Terwyl ons gewag het dat die ander studente- Garankuwa se tweedejaars- klaarmaak in die lykshuis- het ek en Dok. Lourens in sy kantoor gesit en koffie drink- en dit was net hier waar ek- synde die feit dat hy met die dooies peuter- wou weet of hy al op ‘n spook afgekom het in sy werk. Dit wat Dok. Lourens my vertel het- was nie eintlik wat ek verwag het nie- ek het meer in die rigting van ‘n spokery in die lykshuis gedink- maar ja- hier is Dok Lourens se verhaal nadat hy eers sy tweede koffietjie gaan ingooi het:


“Seun…spoke…in die lykshuis? Nee wat jong- dis sommer net oumens bangmaak stories. Daar’s nie sulke goed soos spoke nie- wel, ek het nog nie een gesien nie- nie in al my jare nie….ek glo nie aan sulke twak nie. Lyke is net dooie materie- jy raak gewoond daaraan. Daar is wel geeste- ja, die glo ek in….siele wat nie kan of wil rus nie…..ja- die glo ek aan. Kom ek vertel jou iets wat so paar jaar terug met ons gebeur het:

Ek was in my laaste dokters jaar verbonde aan die H.F Verwoerd Hospitaal daar in Pretoria. Nou- as deel van my opleiding daar- was ek, soos die ander laaste jaars ook maar, verplig om ook maar allerande dienste te verrig wat in lyn met ons professie is. Een van die dinge wat ons moes doen, was om teater bystand te verleen- assistente by operasies. Nou- terwyl ek daar was, was daar saam met ons ook vroue studente- meestal maar verpleegsters en terapeute. Saam met my was daar so ‘n plesierige doktertjie- ene Phillip Fourie gewees…stout mannetjie. Hy was so jong chirurg gewees….dit was hier in ’63- nog voor Chris Barnard sy eerste hart oorgeplant het. Die outjie- o.k- hy was nie so jonk nie- seker so vyf en dertig se kant- was alewig besig om met almal gek te skeer. Ek kan nog onthou- sy grootste sport was om’n trollie in die gang te plaas- so ent terug te loop- en dan volspoed aangehardloop te kom, op die trollie te spring- en die gang daar af te laat waai! Ek sal nie vergeet die dag toe Phillip amper ons gewese ou dekaan-professor Zaidy- uit sy sokkies uitgestamp het nie….hel- was die oubaas de wetter in vir Phillip( Hier gee Dok Lourens so diep lag). Die ou man het net gegil “Fielliep!!!”- en al vloekend hom uitgejou !

Ja…dit was goeie ou dae daardie…..maar nou ja- laat ek verder vertel. Jong- ek was een maand op teaterdiens- lang ure gewees. Ek het net van diens afgekom en het sommer daar op die hospitaal gronde geeet en geslaap terwyl ek op roep was- my huis was te ver om te reageer as ek op nood uitgeroep word. Seun- dit was seker so hier by nege uur die aand, toe die nagsuster by Ongevalle my bel- en se ek moet hardloop- ek moet opskrop vir ‘n noodgeval wat oor tien minute inkom. Jong seun- ek het uit die bed gevlieg, sommer my plakkies aangetrek- en laat waai. Gelukkig was ons slaap kwartiere net agter die Hospitaal- en ek was redelik gou by Ongevalle. Daar het die suster vir my gese ek moet hardloop teater 3 toe- die geval is oppad. Ek het toe net-so kortom gevlieg en met die gang afgehardloop- amper my bleddie nek gebreek toe my plakkies op die vervlakste vloer gly ook.

Jong boet- by die teater gekom- het ek tussen die ander lede van die span, die suster, nurse, narkotiseur en teater matrone ingespring- en begin opskrop. Ons het ons teater jasse aangetrek- en was reeds in die teater- toe die chirurg- dieselfde klein Phillip Fourie eers inkom- klaar gedress. Hy was die chirurg op spoed daardie aand. Ek onthou nog die teater suster het hom uitgetrap omdat hy nie betyds was nie. Al wat hy gese het, was dat hy jammer is- en iets voorgeval het. Nou O.K- hy was ook net betyds toe die Ambulans outjies die geval instoot met die ambulans trollie. Ons het die persoon oorgetel op die operasietafel- en die voorbereiding begin doen. Dit was nie lekker nie. Die pasient was een van ons eie verpleegsters- ek dink haar naam was Trish- of Trisha- so iets. Sy het ook in die verpleegsters kwartiere gewoon. Blykbaar het sy vroeer die aand baie slegte nuus gehad dat haar moeder oorlede is- volgens haar een vriendin- en die volgende wat gebeur- is dat die meisies net ‘n skoot hoor klap het. Hulle het na haar kamer toe gehardloop- en haar op die grond in ‘n plas bloed gekry- met ‘n .38 rewolwer langs haar- sy het haarself in die bors geskiet..

Ons het geweet tyd was van uiterste belang- en het onmiddelik haar gereed gekry. Toe ons haar bloes wegtrek- het ons gesien sy het haarself reg hier onder die Sternum- deur die Aorta geskiet. Seun- die bloed het so boog uit haar slagaar gespuit elke keer as die hart pomp- ons klere was die ene bloed. Nou ja- ons tyd was bitter min- en ons het begin om een sakkie bloed na die ander deur haar te jaag terwyl sy op die asemhalings masjien en hartmasjien gekoppel was. Jong- soos ons die bloed bo in pomp- pomp die hart dit onder uit- net so skoon. Ons het gesien ons gaan haar verloor- en die klein Phillip het net daar en dan- so deur die bloed – ingespring- en begin om die Aorta te probeer red. Hel, Seun- ek het nog in my lewe – nooit iemand so vinnig en professioneel sien werk soos daardie mannetjie daardie nag nie….dis asof hy presies geweet het waar om te vat- en waar om te heg- flippen blitsig se ek jou. Daar het ek respek vir die mannetjie opgetel! So deur die bloed wat spuit- om so raak te vat- en presies te heg- dis onmoontlik- maar die knapie het sy storie geken- dit was nie nonsens nie.

Jong seun- ons was besig die nag- en die operasie het gehardloop tot so 3 uur die oggend toe….toe is die bloed gestop- en klein Phillip klaar. Nie een keer het hy gestop om asem te skep, sweet af te vee- of te rus nie- regdeur gejaag met die skapel en heg materiaal. Hier by so drie uur- soos ek se- toe is hy klaar, die meisiekind se hart klop egalig- en bloeddruk normaal….en die hele teater vloer vol bloed. Phillip het sy handskoene uitgetrek- ek het langs hom gestaan en dep- en vir my gese om die vel hegting te doen- hy gaan onttrek. Ons het aangeneem die man is moeg- hy het –wel- amper ses ure aan-een geopereer. Die teater suster het nog agter hom aangeskreeu hy moet net die volgende oggend die teater verslae kom invul. Hy het niks gesê nie- en is daaruit.

Seun- ons het klaar gemaak met die kind- en haar sommer reguit I.C.U toe gestoot. Daarna is ek terug Ongevalle toe om my verslae te gaan voltooi. Jong seun- terwyl ek daar is- kom die sustertjie op diens – en sy se ek moet gaan kyk- die kind wat ons so twintig minute terug ge-opereer het- is wakker- en sy le en gesels met Phillip- hy is by haar. Nou kyk- in al my tyd by die hospitaal het ek nog nooit van so vinnig herstel gehoor nie- ek moes dit net eenvoudig sien. Ek het so gat-oor-kop opgevlieg- en laat vat I.C.U toe. Daar gekom- het die suster daar my gewys om stil te bly- en te kyk. Was ek verbaas om te sien die kind le oop oe- suurstof masker op die gesig- en hande vashou met klein Phillip wat langs haar bed staan. Nou- ek kon nie hoor wat hulle se nie- hulle het te sag gepraat, maar hulle het so vyftien minute gepraat- toe het hy haar gelos, omgedraai- en sonder ‘n dooie woord verby my en die suster gestap- vort.

Ek en die suster het so ruk gestaan en kyk vir die meisiekind- en toe bied sy my koffie aan. Man seun, ons was nog in die kombuisie- toe die monitor se alarm by die meisiekind se bed afgaan. Ons vlieg daaruit- en toe ons by haar bed kom- was die hel los. Die hart se tempo het radikaal in die kort tydjie verswak, die sistoliese en diastolies bloeddruk het eenvoudig na benede gedonder- en haar asemhaling was so te se weg. Hel jong- ek en sy vlieg daar weg- en ons kry die hart skok masjien gereed, toets die ventilator- man- ons probeer alles- maar alles in die kind het net meteens ingegee- net so!! Tien minute later het ons haar verloor- sy was weg- net weg…net sjooop!


Jong- ons kon toe niks doen nie- en het maar die laken oor haar getrek- en die lig afgesit. Ek is toe daar weg- en die suster kontak toe vir Phillip om hom te se sy pasiënt is oorlede. Seun- ek was nie ‘n halfuur weg nie- toe bel die suster my weer van I.C.U af- heeltemal histeries. Ek kon nie uitmaak wat sy se nie, en laat waai toe weer terug soontoe. Daar gekom, was die vrou in ‘n toestand. Sy sit op die grond en skreeu soos sy huil- heeltemal in skok. Al wat sy se- is dat ek Phillip se nommer moet bel- aanmekaar en aanmekaar. Ek het my buite weste geskrik oor sy so aangaan- en gryp toe die telefoon- en bel sy nommer op die roep lys.

Die volgende wat ek hoor- is dat sy ma antwoord. Ek se haar toe wie ek is- en vra haar om asseblief dringend vir Phillip te roep. Daar bars die tannie ook in trane uit. Seun- ek was heeltemal deur die blare – want almal het nou skielik besluit om te huil- net ek soek toe nog ‘n rede. Jong- toe klap die ou tannie my hard deur die gesig. So tussen die huilery deur- vertel sy my dat Phillip vroeer die aand uitgeroep was op ‘n nood operasie hier by ons…sy verloofde- een van ons verpleegsters, het selfmoord gepleeg…haarself geskiet- en oppad van Wonderboom af waar hulle gebly het- het hy teen daardie helse hoe bergpas voor die Resevoir kop-aan-kop met ‘n bus van voor-af gebots- en hy is op slag dood. Sy liggaam le al lankal by ONS lykshuis!!

Ek het my gat afgeskrik jong man- ek gooi die telefoon dat hy daaaarrrr trek- en vat gat lykshuis toe. Daar gekom- hardloop ek amper die patalogiese klerk in haar mo*r in ook. Ek gil toe sommer op die meisiekind of sy weet van Phillip wat ingekom het. Sy begin toe skoon van skok huil- en skud haar kop. “Dr. Fourie- daar….” En sy wys die trollie wat eenkant staan met ‘n lyk op. Ek het die laken gaan afpluk- en glo my- dit was hy wat daar gele het! Phillip was al teen agt uur die vorige aand dood…….WIE DE HEL HET GE-OPEREER?!! Ek het myself amper beskyt toe ek uitvind ek het vir amper ses ure langs ‘n dooie chirurg gestaan. Ek het net daar en dan geweier om weer in Teater te werk! Die ander lede van die span moes trauma behandeling kry vir maande- en die narkotiseur het summier bedank. Ons was nie eers bewus die meisiekind was Phillip se verloofde nie.


Jong kinta- ons kon nie wag vir die meisiekind se na-doodse ondersoek om plaas te vind nie. Toe die Distriks Geneesheer twee dae later kom om die ondersoek te doen- TOE STAAN ONS HELE TEATERSPAN DAAR!! Die oubaas het dit heel snaaks gevind dat almal skielik belang stel in sy werk. Ons grootste skok was toe hy haar operasie steke uithaal- en haar hart blootle. DAAR WAS GEEN HEGTING VAN ‘N SEKOND OUD NIE!!! Die Aorta was steeds net so geperforeer- en daar was nie ‘n teken dat sy ge-opereer was nie. Alles het daarop gewys- so ook die verslag- dat sy dood is aan erge interne bloeding van die Aorta. Hoe was dit moontlik- vyf van ons het bygestaan terwyl sy geopereer was? Hel jong- ons is toe van die een tug verhoor na die ander-almal wou weet wie het ge-opereer? Niemand wou ons storie glo nie- en om alles te kroon- was die operasie register wie ge-opereer het- dolleeg…nie eers ingevul nie! Die saak het twee jaar gedraai, en die uiteindelike bevinding is baie stil-stil weggebere in die argiewe. Professor Zaidy het ons ingeroep, en sy vermaning was, dat in die geskiedenis van die hospitaal, was daar nerens so ‘n geval aangeteken nie- en dit is bo-natuurlik, onverklaarbaar- en wetenskaplik onmoontlik. Hy sien die saak as afgehandel- en maan ons om nie weer melding te maak van die besondere geval nie- en dat dit van die hospitaal se rekords sal geskrap word.

“Off-the-record”- se hy toe- dat hy glo ons- en ook vermoed hy daar was bo-natuurlike magte betrokke, maar hy sal die stelling nie in die publiek herhaal nie- net dat hy weet ons het beleef wat ons beleef het.”



Interresante geval die- het Phillip Fourie- na hy reeds oorlede was- so ‘n innige liefde vir sy verloofde gehad, dat hy dit steeds as sy plig beskou het om te probeer haar lewe red- en steeds te opereer…vir ses ure lank? Die vraag is- waarvoor- as hy geweet het sy gaan sterf? Waaroor het hy en sy gesels- hy reeds dood- en sy op sterwe? Hoe het sy so lank aan die lewe geklou- en nog vir 15 minute met ‘n reeds gestorwe liefde gesels- teen die tempo wat haar hart die lewensvog uitgepomp het? Voorwaar ‘n baie diep interresante verhaal- as ‘n mens Dok Lourens se verhaal kan glo.

DIE UILSKUIKENS EN OOM DE PRIEST


Dit is vir my aangenaam om julle hierdie storie te vertel wat ek nou gaan vertel. Lesers moet die storie maar tong-in-die-kies opneem:

Ek het jare gelede die eer gehad om in die Noord-Transvaal op ‘n klein dorpie genaamd Naboomspruit te woon. Die dorpie was niks ongewoner as andere dorpe nie,- dit was die mense wat ek daar ontmoet het wat heel interresant was. Ek het so ‘n paar jaar op die dorpie in Noord Transvaal gewoon, en met al die mense kennis gemaak. Van die interresantste mense wat ek op hierdie ou dorpie ontmoet het, was seker die vier jonge here en een dametjie. Hulle name was jonge here Francois Smit, Rijk De Jager, Francois se jonger broertjie Andre, ene Tiaan, en die jonge dame Rentia Kaarstens. Die vyf jongens was altyd in mekaar se geselskap, en het alle kattekwaad en streke saam beleef. Elke een van die vyf het dan nou sy of haar eie persoonlike kenmerk gehad. Francois was so ‘n langerige kereltjie met baie sproete en hope selfvertroue.Waar die hel losgebars het, kon jy maar altyd vir Francois aan die voorpunt gaan soek, altyd die voorbok gewees.Rijk aan die ander kant was soos ‘n lokasiebrak-seningrig en maer, en kon iets verskriklik kekkel. Tiaan was maar ‘n redelike stil laaitie wat daarvan gehou het om die wereld van agter sy donkerbrille te beloer-het glo aan hom ‘n soort mistieke gevoel gekweek van as ek die goed dra, dan kan ek jou sien, maar jy kan nie my sien nie.. Andre- die jongste van die klomp, was ‘n mannetjie wat ook redelik kon babbel as hy die dag afhaak, maar sy sterkste kenmerk was daardie basuin wat hy in sy kop rondgedra het. Met daardie skerp stemmetjie van hom kon hy maklik-maklik ‘n hele vloot oorlogskepe sink. Die laaste van die bendelede, wat ek toe maar die uilskuikens gedoop het, was die enigste meisie in die groep- jonge Rentia. Sy was ‘n nooi wat ‘n hoender baie meer van kekkel kon leer as wat die Liewe Heer dit kon doen, maar ‘n baie aangename jong meisie. Sy en Tiaan was ook dan nou liefies gewees.

Soos baie ander verafgelee plekke in onse ou land, het Naboomspruit ook sy kwota van spookstories gehad, en dan ook sy kwota van spook plekke en huise. So was dan die bekendste spookhuis een ou vervalle Britse ruine wat doerrr hoog teen die nek van die Waterberge gestaan het, ‘n regte ou Engelse herehuis. Mense het nooit na die ou murasie gegaan nie, vanwee die legende dat dit eens die woonplek van ‘n jaloerse ou engelse graaf was, en ‘n regte ou kluisenaar. Niemand het hom ooit eintlik gesien nie, en selde het hy na die dorpie gekom, en net ook as dit regtig nood of nodig was. Vir jare het die ou daar gewoon, tot op ‘n dag wat hy skielik spoorloos verdwyn het. G’n haar is ooit gevind nie. Die storie was dan dat die oubaas een nag deur aanvallers verras is, en vermoor is. Legende wil dit he dat die oubaas ‘n ooreenkoms met die duiwel gesluit het dat in ruil vir sy siel, hy rykdom sal ontvang, want, se die mense in fluisterstemme, die oubaas was stinkryk. Na die ou se dood het die huis nog meer geheimsinnig geword, en niemand wou dit waag om op te gaan en te gaan kyk wat was die toestand van sake nie. Met sy verdwyning wou nie eers die polisie beamptes gaan ondersoek doen nie, en die swart konstabels het botweg geweier om ‘n voet op die berg te plaas- die duiwel het volgens hulle daar die plek bewaak.

Om na die ou huis op die berg te gaan, moes ‘n mens eers deur ‘n baie ruie plaat Kameeldoring bome gaan, en dan deur ‘n kloof, oor ‘n rivier, en dan teen ‘n baie skuins kronkelpad die berg uit na die plek. Die berg was so twaalf kilometer van die dorp af, maar binne sigafstand. Net die een huis kon teen die berg gesien word van die dorp af, geen ander wonings was in die omtrek nie. Net ‘n paar strooise was aan die voet van die berg sigbaar. Juis om al die genoemde redes het talle jongens mekaar gewedywer om te bepaal wie nou regtig die manne- of vrouemoed het om die berg van onheil te bestyg, en vir een nag te gaan deurbring in die huis van verdoemenis. Vir jare het die dorps-en koshuis kinders al hierdie bepaling ingestel gehad, maar tot op daardie tydstip was daar nog geeneen wat dapper genoeg was om die ou takie te aanvaar nie. Sou iemand dit wel waag, was hy of sy, of hulle die onteenseglike helde onder die jong gemeenskap, en hulle name sou in die jong mense en dorpenaars se harte verewig word.

Omdat ons vyf uiskuikens bekend was op die dorp aan al hulle kattekwaad en streke, was dit niks minder as reg dat ook hulle genader was om hierdie uitdaging te aanvaar nie, en om voor die gemeenskap bekend te staan as maar net ‘n gewone bang bende, was nie vir die groepie aanvaarbaar nie, veral nie vir die sterk jonge Francois nie. Die bulletjie het ‘n reputasie gehad dat hy vir niks terugstaan nie. Sou hy ‘n ding aanvat, dan sou die res ook volg. So het dit dan gebeur dat die jong voorbok eendag in die teenswoordigheid van sy skool liefde in ‘n argument met ‘n ander seun betrokke geraak het. Die ander mannetjie het hom dan vanselfsprekend uitgedaag om die ou huisie te gaan besoek, en een van die ornamente saam terug te bring as bewys. Nou ja, wat kan ‘n man doen as jou kalwerliefde vir jou staan en kyk? Soos dit ‘n sterk man betaam, het die mannetjie ook sommer daar en dan ingestem-seker baie jammer daarna gewees, maar sy naam moes in ere herstel word voor die nooi. Na vele beraadslaging, het die vyf toe uiteindelik besluit om die komende Saterdagaand so ‘n bietjie vir ou oom De Priest-dit was die ou kluisenaar se van- te gaan hallo se. So gese-so gedoen.

Teen vyf uur Saterdagaand, het die bende mekaar buite die dorp by die treinspoor ontmoet, gewapen met flitse, toue, lampe, slaapsakke, sigarette vir die senuwees en wie weet wat nog. So het hulle dan ook ‘n paar perde gaan leen by oom Jan Weideman, wat die ryskool op die dorp gehad het, en afgesit na ou oom De Priest se woning teen die berg. Hulle het goed tyd gemaak, want toe die son sy kop laat sak agter die berg, was die groep al deur die spruitjie teen die opdraende uit. Daar was skaars nog ‘n letsel daglig oor toe hulle by die huis aankom. Met ‘n gesukkel het hulle een van die opskuif vensterrame oopgekry en ingeboender. Hulle het hulself dan ook sommer tuisgemaak in die groot ou sitlokaal voor die vuurerd, en die klomp het hout gaan bymekaarmaak en een hingste vuur in die kaggel laat leef. Soos dit maar met die jonges gaan, het hulle tot laat gesit en planne beraam sou een van die ander wereld se besoekers hulle kom verras. Nog ‘n ding wat snaaks was, was dat die jonge Rijk en Tiaan altyd met mekaar in ‘n geheime soort taal gekommunikeer het as hulle nou nie wou he dat die ander moes uitvind waaroor daar geskinder word nie. So was dit dan ook kort-kort die geval die aand.

Teen elf uur se kant het die groepie begin laaang gape gaap, en die oge het begin toeval, en een vir een het hulle neergesyg en aan die slaap geraak- alle spookstories vergete! So was dan ‘n dag vol dramatiese gebeurtenisse op ‘n einde……of so het onse helde gereken. Ek is nou nie heeltemal seker van die feite nie, maar soos ek kan onthou, was dit so skuins voor twaalf-heksetyd noem die oues van dae die tyd- toe jonge Rijk wakker word van ‘n gepluk aan sy slaapsak. Baie deur die blare en met Klaas Vakie nog hard doenig in die se oge,het hy so traag-traag sy kykers geopen om vas te stel wat hom nou juis op hierdie uur in sy sluimering steur.Wat die man deur sy wasigheid aanskou het, het de laaste haar op sy kop laat orent staan. Hier, reg voor hom, teen die weerkaatsing van die smeulende kole in die kaggel, was die vorm van ‘n ou man. Die oudste het na hom gestaar met oge wat lyk asof gloeiende kole daarin sy oogkaste sit. Die arme seun. Meer as staar kon hy nie. Sy bene se krag het hulle verlaat- so ook die res van sy krag-asook die van sy blaas. Met die laaste greintjie krag in sy lenige liggaam het hy aan die jonge Tiaan gepluk om die se aandag te trek. Na ‘n eindelose gesukkel het die darem wakker geword, maar hoe ook al sy- hoe ookal arme Rijk geprobeer het, geen woord kon by sy lippe uitkom nie! Al wat hoorbaar was, was ‘n onverstaanbare gehakkel.Tiaan, aan die ander kant,-was redelik vererg oordat die ander hom wakker maak, en boonop probeer geheime taal besig terwyl al die ander in elke geval slaap en hy maar kon gewoonweg praat.. Arme Rijk-die mannetjie was in ‘n redelike verknorsing. Hier staan die oubaas waaragtig reg voor hom en hou elke beweging met daardie kil gloeiende oge dop, en hoe hard hy ookal probeer, sy alma maters wil nou maar eenmaal net nie ontwaak en die gevaar besef nie.

Na ‘n ewige stryd, terwyl hy die oubaas goed dophou, het hy dit toe uiteindelik reggekry om Tiaan oordentelik wakker te kry. In plaas daarvan dat hy toe weer probeer hakkel, het hy toe maar net floutjies in die oudste se rigting beduie, en Tiaan het toe maar ook oor sy skouer geloer om te sien waaroor sy maat nou die heeltyd aan hom peuter. Vader, het die bulletjie nie vir jou met ‘n helse ontnugtering alle slaap idees omver gewerp toe hy hulle besoeker sien nie! Die rammetjie se bek het eers oopgeval soos die van ‘n vis op droe grond, en toe weer toegeklap soos ‘n ou yskasdeur. Daar was nie eers tyd vir die lewe om sy bene te verlaat nie, so vinnig het die perdjie daar opgevlieg, en soos ‘n wafferse hekkies atleet bo-oor die ander laat waai. In die proses het sy voete vasgehaak aan die slaapsakke op die grond, want om so deur die blare, in ‘n vreemde plek, so vinnig te moes noodvlugte doen, kan soms ook maar sleg verwarrend wees.Met ‘n onaardse gil slaat die mater toe sy hele vyf voet nege daar neer bo-oor die ander slapendes. Die ander droomlanders het met die geraas, samelopend met die skielike gewig wat van bo af op hulle siele neer donder, met ‘n vaart orent gekom. Een-een het hulle slapende oge gefokus; een-een het hulle die oubaas se starende oge begroet- en een-een het hulle opgevlieg teen die hoogste versnelling en roete gesoek om die oubaas, wat tussen hulle en die deur gestaan het. Die jonge dame Rentia, wat haar amper in ‘n staat van floute geskrik het, het uit pure skok met een helse gil soos ‘n vroumens maar kan, pens en pootjies binne-in die ewe geskokte Tiaan se arms gespring, sekerlik met die hoop dat die haar sal beskerm.Dit was net arme Andre wat met die spoed waarmee hy probeer het om uit sy sak te kom, die ritssluier in die proses gebreek het. Daar le die hanslam toe- hy kan nie in nie-en hy kan nie uit nie. Slegs sy arms was uit die sak uit, met die reste van sy lyf nog stewig in die sak. Wat ‘n penarie was dit nie vir die arme mater nie. Die ander lede was almal uit hulle sakke uit, besig om dan die kant toe- dan daardie kant toe om ou De Priest te probeer kom, en hy is nog pens en pootjies vasgepen in sy slaapsak, sonder dat enige van die ander hom eers sal probeer help. Soos die mannetjie die situasie toe opsom, sou hy die enigste een wees wat sou agterbly om oubaas De Priest geselskap te hou, en daarvoor was die rammetjie glad geensins lus nie. Dit is toe dat die seun besluit op sy beste aksie in die noodgeval. Skielik begin die mannetjie te skrou met daardie trompet vooraan sy kop dat dit klink asof hy uit die hel uit geknyp word, en soos ‘n wafferse wurm krioel hy op sy elmboge so gatswaaiend pylreguit op ou De Priest se gestorwe siel af. Die ander was heeltemal uit die veld geslaan deur die skielike gebler, en moes gereken het ou De Priest het versterkings uit die dieptes van die aarde ontbied. Soos vetgesmeerde plaasvarke spring hulle daar weg en hardloop skoon deur die oubaas met die skone Rentia nog stewig in haar ridder se arms! Of die oue van dae mooi besef het wat aan die gebeur was, die weet ek nou nie eintlik nie, maar toe die ou gees tot verhaal kom, het die jonge Andre ook al deur hom gebalk en so seil-seil die pad by die deur uit gevat. Die ander klomp, met onse Francois vooraan, is die trappe daaraf met ‘n onaardse gedonder. Met ‘n groot lawaai is hulle toe by die voordeur uit- blykbaar skoon die deur uit sy kosyn gehardloop. Buitekant gekom, het die klomp laat spaander na waar die perde nog doodluiters staan en wag. Een vir een het hulle die perde bevlieg en met ‘n groot vaart die pad spruit toe gevat. Klein Andre het sommer so bo-oor die ros gaan val en die pad soos ‘n nat sak skeef oor die dier se rug aangedurf, al balkend soos ‘n jong opgeskote donkiehings.

Rijk was amper by die spruit toe ‘n swart gedaante vanuit die bos op hom afpeil en begin jaag. Die mannetjie het plat op sy hings se rug gaat le, en die arme dier onder die spore bestook. Die dier moes ook besef het dat daar ‘n gedaante op sy bas sit, en het sy rug so hol getrek, en oopgele na die spruit toe. Dit was net toe die hings die spruit oorsteek dat die gedaante hom aan die stert gryp. Met krag ongekend in hierdie wereld, het die dier losgeruk en oor die aarde geseil soos ‘n patroon uit ‘n geweer. Tiaan het sy liefde van sy lewe soos ‘n sak patattas oor sy perd gesmyt, en wydsbeen bo-oor haar gespring en laat waai- reguit spruit toe. Met die dat hy die spruit nader, merk hy op dat daar ‘n swart gedaante agter aan Rijk se dier aanhardloop met die perd se stert in die hand. Met een groot gebrul het die seun toe skoon onder sy donkerbril uitgejaag- met die arme Rentia wat soos ‘n lappop onder hom aan die hop was. Francois was skoon aan die ander kant van die wedstryd! Die mannetjie het nie toegelaat dat g’n spook hom voorsit nie, en het soos ‘n wafferse Cowboy sy perd teen die skuinste van die berg af ge-rodeo- met sulke lang krete elke keer as sy dier die lug vat. In die proses het hy ‘n paar groot rotse ontwortel, en die het die steiltes daar af gevat- reguit op die strooise vol slapende plaaswerkers af! Die arme skepsels. Was hulle ontnugtering nie groot toe daar in die middel van die nag ‘n rots so groot soos ‘n klein motortjie deur hulle stroois bars, hulle rakelings mis- en ‘n bulderende ruiter kort op die se hakke ook nog deurkom nie! Al wat hulle kon waarneem was dat ‘n bose gees al brullend op ‘n perd uit die hel uit ‘n groot klip aanjaag en strooise platslaan so ver hy gaan.

Die maan was al aan’t sakke toe Rijk by die treinspoor aankom, pootuit en lam in die bas. Na hom het onse Tiaan ook aangedonder gekom met sy skoonlief teen die tyd al voos gestamp teen die perd se sy. Vir ‘n ruk lank het hulle geluister na die gebulk van jonge Andre wat al met die pad af gekom het- en aan die linkerkant die gebrul van Francois en die gebreek van takke soos hy deur die struike en bome sy pad oop ploeg. Moeg het die klomp toe maar die perde saggies terug geneem, en na hulle huise gegaan en hulle skrik gaan afslaap. Was die arme Rijk nie die volgende dag verbaas toe ou oom Jan Weideman van die ryskool hom die volgende dag nader, en navraag doen oor waar sy perd se stert heen is nie? By nadere ondersoek sou Rijk sien dat met die gryp, die duiwel skoon die arme dier se stert uitgeruk het, en net die stompie het bly sit.

Nodeloos om te noem dat die lede vir ‘n heerlike tyd gesorg het toe die ander jonges van die avontuur hoor. Gespot die was hulle, en tot vandag toe onthou die mense van Naboomspruit die petalje van onse vyf uilskuikens! Niemand wou dit meer waag om na die spookhuis te gaan nie, want, beweer hulle tong in die kies-- die spoke loop nou in die nagte daar rond met flitsligte, en boonop het‘n paar van die lokale hengelaars beweer dat hulle kon sweer hulle het ‘n babervis in die spruit gewaar met ‘n paar donkerbrille op.

LIEFDE VIR VICTORIA


DIE LIEFDE VAN VICTORIA

Die verhaal wat ek nou hier gaan vertel, is een wat ek self nog maar sukkel om te glo. Soms vang ek my self baiemaal terugdink aan die besonderse verhaal- en of dit ooit werklik kon gebeur het.

Soos met al die ander verhale wat ek reeds geplaas het, het ek ook maar goed getob of ek wel die spesifieke een sal neerpen, maar omrede die een so fantasties onmoontlik klink, het ek toe op die einde van die dag wel besluit om die stof van die verhaal af te skud- en nou ook die staaltjie met u te deel. Omrede hy- soos al ons ou spookstories van vamelee se dae- tot ons volks historiese agtergrond behoort- het ek hom maar toe uit my verstand se argiewe gaan uithaal. Hier is dan ‘n verhaal van die onmoontlike en bo-natuurlike:

Ek was op skool- soos ek al in ‘n vorige storie gemeld het- in Potgietersrus se wereld tot ’78. Nou ja- terwyl ek op Hoerskool was- het ek bevriend geraak met ‘n seun by name van Tienie. Wat sy van is- die kan ek nie meer onthou nie, maar wat ek wel kan onthou, was dat sy vader se naam Oom Amram….nie Abraham nie- maar wel Amram was. Ons het hom sommer net “Oom Am” genoem. Dit is juis by die oom wat ek hierdie fantastiese verhaal gehoor het een naweek toe ek by Tienie gaan kuier het, soos ons koshuis brakkies gewoond was om te doen as ons eie ouers ons nie kon kom haal nie. Tienie-hulle was ook maar aan die minder gegoede kant waar dit kom by bates- en gesien wat hulle omstandighede was- kan ‘n mens ook maar verstaan. Tienie- hy was al uit die skool- het so ‘n ou groen Datsun SSS motortjie gery met die ” 8-Track” tipe musiek bandjies. Hy was ‘n motor meganikus daar op Potties se dorp. (Ook maar die enigste inkomste en motor wat die gesin van ses gehad het.)

Oom Amram en sy vrou, moet u verstaan, was ook maar mense wat lief daarvoor was om naweke so bietjie ver op die strydwa van die wyngod Bacchus- te toer. Oom Amram was dan ook ‘n man wat sy taal met sterk kruie kon bydam- en was ook ‘n ywerige rofstoei fanatikus- dus het ek maar besluit om nie die spesifieke dele en bewoording wat hy deurentheid gebesig het- te herhaal in die verhaal nie.Om die besondere rede weet ek nou nog nie of dit ‘n werlike verhaal was- en of ou oom Amram hom letterlik tot binne-in die geestes wereld gedrink het die aand by ‘n braaivleis -toe hy my die verhaal vertel het nie. U moet maar self besluit oor die verhaal. (Ek pen die verhaal neer van wat ek kan onthou- sekere dele moet ek nood geswonge inlas om die verhaal egtheid te gee, omrede dit al so lank terug aan my vertel is- en die skrywer nie meer al die detail kan onthou nie.) Hier is dan sy verhaal:


Oom Am het my aandagtig aangekyk toe ek hom vra of hy enige spook stories ken wat hy aan my kan oorvertel. Hy het so ‘n rukkie diep nagedink- en toe sy stoel nader aan die braaivuur geskuif, ‘n Lexinton aangesteek- en so deur die rook uitblaas sy storie begin: “ Andries- jy vra my nou of ek spook stories ken? Laat ek jou vertel- ek- Amram- het ‘n storie wat jy dink ek gaan lieg, maar ek se jou- vra die tannie- ek vertel haar al jarrre dit het gebeur- ek sweer!” Jy kan maar haar vra- my ma het dit al vir haar vertel ook! Andries, my oupa-(Hier kan die skrywer nie die persoon se naam onthou nie)- was so ‘n groot man….man ek se jou- hy was maklik ses voet ses- hy sou nie by daai deur inpas nie!”- en die ou man wys na sy vervalle voordeur by die kombuis. “ Ek se jou- Jan Wilkens sou sy storie moes ken om my oupa te “beat!” As my oubaas jou in ‘n kop-klem gevat het- dan skyt jy…jy kom nie los nie! Nou ja- wat ek jou gaan vetrel- het met my oupa gebeur toe hy transport gery het jarrre terug.” (Ou oom Amram het eers opgestaan en sy Coke en Brandewyn gaan ingooi- en toe weer stelling by die braaivleis vuur kom inneem….reg om te vertel.)

“ Ja….”- begin hy- na so diep teug van die tiermelk uit die glas van sondes. “ Soos ek jou gese het- my oupa het transport gery daar van Witbank af tot darrr bo by Pietersburg met die wa en osse. Hy het ge-transport tot doerrr in die Laeveld- man- die hele bleddie wereld vol. Daar was nie ‘n plek in hierdie wereld wat my oupa nie geken het nie. Dit was jarrre terug- daar in die laat agtien honderds. Ek se jou- daai oubaas kon ‘n os met die vuis platslaan- sy bo-arms was twee keer so dik soos jou been- ek vertel jou! Nou ja- laat ek jou vertel- een aand was die oubaas ook op pad Laeveld toe- iewers daar anderkant by Groot Marico se wereld ( Eerste keer dat die skrywer toe van die besonderse plekkie hoor. Later het ek verneem daar is ‘n Klein Marico ook)- toe sy wa se as mors-af breek by die wiel- sommer net daar in die veld – se ek jou. Laat ek jou vertel, my oupa kon ‘n wa se een kant optel alleen dat hulle wiele kon swaai as hy wou - ek se jou! (‘n Feit wat die skrywer dan ook erg betwyfel in alle fasette.)

“ Nou ja- die bleddie as het toe gebreek- en die oubaas moes iewers hout kry om die as weer reg te maak- en daar in die veld was nie reguit bome nie. Hy het toe sy osse laat uitspan- en die tente laat opslaan om uit te kamp. Nou ja- hy het toe die volk aangese om maar daar te bly wag tot hy terugkom- hy gaat eers met twee perde moet ry om iewers te gaan hulp soek by een van die plase wat ook maar skaars was daai tyd. Hy is toe daar vort. Soos my pa my vertel het, het die oubaas vir ‘n hele paar ure moes ry en loop soek na ‘n plaas.

Nou ja- so in die soek het die oubaas eindelik toe iewers ‘n plaas raakgeloop- en dis nou hier Andries- waar die spook storie begin. Hy het toe- soos my pa se- by ‘n plaas aangekom- nou moet jy verstaan- dit was bleddie donker ook nog. Dit was een van daarie hout tipe herehuise met die Verandah en alles. Die soort met die grend Ingelse tuin en so aan. Die mense op die plaas was Ingelse- twee broers en ‘n suster. Ek weet nie wat hulle name was nie- maar die suster se naam was Victoria- die weet ek goed. Hulle was daai “Prim en Proper” Ingelse gewees- jy weet die met die toeknoop rokke wat so wyd was wat hulle daarie tyd gedra het. Die een broer- se my pa- was so malletjie- jy weet- sy kop het nie lekker geklap nie- laaitie was nie lekker nie. Nou ja- my oupa was ‘n bleddie fris ou man- daai tyd was hy nog jonk- en die girltjie was ook blykbaar bleddie mooi en jonk. Donker koppie gewees – se my pa. Sy het van die aankoms al van my oupa gehou- ons familie is almal groot sterk mense- en hulle het hom toe uitgenooi om daar te bly totdat hy ‘n as kon maak vir die wa…..baie vrindelike girltjie gewees.

So gese- so gedaan- en my oupa het toe ‘n kamer iewers in die huis gekry om in te slaap. Dit was al laat aand- en die ou man was al moeg gery- en het sommer daar en dan sy goeters gaan inpak in die kamer. Jong seun- dis waar die *** begin het. Soos my pa vertel- het die Victoria girltjie toe sommer daar in my oupa se kamer ingekom- en begin aanle….vatterig raak jy sien. My oupa was ook nie ‘n koue man nie- en jy moet verstaan- na so ‘n lang tyd sonder ‘n vroumens- was die ou al bietjie baie verlore en lus. Hy was nog nie getroud nie- en jy kry ook nie elke dag so ‘n geleentheid nie.

Die twee het toe aan die natuur se roepstem gehoor gegee- en daar en dan ‘n warm vryery begin. Nou ja- soos my pa vertel- was dit juis op die punt dat die een boetie- nie die malletjie nie- by die kamer inkom- en die twee sien vry. Hy was dadelik die hel in- en het op my oupa begin vloek- en sommer begin om sy suster met die plathand by te dam. Nou ja- soos ek gese het- my oupa was groot- en die het nie nonsens van die kakie mannetjie gevat nie- en hom net daar gegryp- en ‘n verdekselse loesing met ‘n boere vuis gegee…skoon bo-oor die bed- en blykbaar sy oog toe gewetter! Jy slaan mos nie sommer aan ‘n vroumens nie….suter of nie-suster nie.

Die mannetjie is toe al skreeuend hande viervoet en bloeiend daar uit- en gese my oupa moet sy goed vat en " bogger-off " in Ingels. Die sustertjie het toe ingespring- en vir my oupa gese dis olraait- hy kan maar oorslaap- sy sal met haar broer praat. Na ‘n lang storie het my oupa toe besluit om te bly- en liewer die girl uit te los. So is daar toe vrede bewerkstellig. Dit was in elk geval aand gewees- en die ou man kon nerens anders daai tyd van die nag heengaan nie. Blykbaar het die Ingelsman vir my oupa gese hy gaan dit nie vergeet nie- en my oupa sal weer van hom hoor.
Nou ja- die nag het verby gegaan- en my oupa was die volgende oggend vroeg uit om hout te gaan soek. Soos my pa vertel- was die oubaas in die veld rond op soek na Bloekom bome- toe die Victoria weer hom opsoek- en beginne aanle. My oupa wou nie- en het probeer die girl afsit- maar sy het aangehou en aangehou totdat die oubaas ingegee het. Sommer daar in die veld het dinge toe weer gebeur- ek gaan nou nie se wat nie- jy’s nog te laaitie- sal slim word-(Oom Am gee toe so ‘n grynslag). Ek meen- ‘n man is ‘n man. Nou ja- my pa se toe my oupa en die Victoria afstap huistoe- toe staan die malletjie ‘n ent weg en kyk vir hulle. Hy het nooit kom groet nie- en het nooit gepraat nie….was soos ‘n kind. Soos my pa vertel- het die drie se ouers lank terug die pad gevat – en nooit weer teruggekom nie. Die drie was alleen op die plaas. Mense in die omtrek het gese hulle is terug Ingeland toe. Van daar af het die malletjie so die heeltyd my oupa-hulle dopgehou, en elke keer as my oupa in sy rigting beginne aanstap- het hy so koes-koes laat spaander.

My oupa het toe maar aangegaan met die as- en die girl was die heeltyd saam met hom- om hom gedraai, gehelp, kos aangedra- en sy en die ou man het natuurlik heeltyd gevry ook.” Die ander boetie was – soos my pa vertel- goed de d***** in- maar het my oupa gelos. Hy was seker bang my oupa **** sy ander oog ook toe.(Oom Amram het so kekkel laggie gegee.) Die Victoria het blykbaar in die aand my oupa daai snaakse Ingelse danse geleer….jy weet- daai soort waar jy so in die rondte draai. Sy het my oupa blykbaar bleddie goed geleer. Elke aand het sy blykbaar die grammafoon aangesit- en dan het sy en die oubaas tot laat in die nag die Ingelse walse gewals.Die boeties was – soos my pa vertel- nie baie lekker met die storie nie- en het niks daarvan gehou as sy so met hom tekere gaan nie. Een aand – blykbaar- het my oupa gehoor hoe die broer en die Victoria een helse bakleiery aan die gang het- en op mekaar geskreeu het, maar liewer besluit om uit die storie te bly- hy sou in elk geval binnekort weer sy ry kry.

Nou ja- my oupa en Victoria het toe beginne “lovers” raak- saam het hulle die hele plaas vol geloop, in die rivier geswem, berg geklim, perd gery- en sommer baie dinge gedoen wat verliefdes gedoen het- sy het tot die ou man gebad- ek se jou! My vrou wil nie eers my rug was nie. Nou ja- my oupa het toe besluit om vir so ‘n week daar te bly- hy’t lekker gelewe daar- die ou Bokker! Tyd het gou geloop- en die oubaas moes terug na sy waens toe wat nog in die veld uitgespan staan. Na ‘n goeie romantiese nag- het hy toe maar klaar gemaak die volgende oggend. Die Victoria wou teen wil en dank nie dat my oupa gaan nie- en wou met alle mag saam met hom op die perd klim. My oupa het blykbaar sy hande vol gehad om die meisiekind te oortuig dat sy nie mag saamgaan sonder haar broer se toestemming nie. Hy het toe vir die girltjie gese dat hy sal kom draai maak as hy terugkom, en dat hy vir haar ‘n ietsie sal saambring. Toe die oubaas groet, het die twee broers blykbaar hom nie eers tot-siens kom se nie, maar net so nors op die stoep hom staan en aangluur. Die oubaas het hom nie meer aan hulle gesteur nie- en het maar sy goedjies opgepak- en gereed gemaak om te vertrek. Hy en die Victoria het toe maar afskeid geneem. Sy het hom toe gevra om weer te kom kuier- en dan sou sy kwansuis gereed wees om saam met hom terug te gaan Witbank se rigting om sy vrou te word. Hy stem toe in, en sy vra hom tersluiks om vir haar ‘n juweel kissie te bring wat haar aan hom sal herinner as hy weg is- een van daai wat die ballerina so in dans met die mooi musiek. So gese- so gemaak- en die oubaas is toe daar weg met die as op die perde gespan terug laer toe.

Man seun- die oubaas was toe so twee weke op die pad- het toe die goedere op Groot Marico gelaai- en is vort- terug om by die plaas, wat nou so-te-se op sy pad was- te loop draai maak en Victoria se geskenkie af te laai. Nou ja- na so drie dae se ry- dit was ‘n vol vrag- kom hy toe op die plaas aan. Hier het die snaaksigheid toe begin. My pa se toe die oubaas op die plaas werf inry, toe sien hy g’n huis meer nie- net ‘n murasie van ‘n huis wat vervloee dae daar gestaan het. Die oubaas was seker hy was op die regte plek, en het beginne soek- hiernatoe- en daarnatoe. Hy het orals in die omgewing loop soek, met die perd, te voet- en wie weet wat de hel nog, maar die plaashuis was skoonveld- net die murasie was teken van enige mense wat daar gebly het. Die erf was reg, hy het nog die omtrek, omgewing- en bome onthou. Hy stap toe na die Bloekom boom waar hy die as afgekap het- maar toe hy daar kom- was daar g’n merk aan die boom nie- en hy kon nie eers die plek kry waar hy die tak af gekap het nie- tot die boom het anders gelyk. Hy het toe in die murasie ingegaan- en gesien dat die plek moes afgebrand het, want orals was daar tekens van gebrande kosyne- maar dit moes jarre terug al gebeur het- soos die oorblywende hout al verrot het….totaal verlate se ek jou. Soos hy wou- soos hy probeer het- hy kon geen teken kry van die huis nie.

Die ou man het naderhand besluit om uit te span- en het gaan soek of hy nie enige ander plaas iewers naby kry om navraag te doen nie….en of hy nie dalk iewers die regte afdraai gemis het nie. Op einde laaste het hy toe ook by ‘n ander plaas- so tien myl verder afgekom waar ‘n ou tannie gebly het. Hy het afgesaal- en gaan klop. Toe die ou tannie oopmaak- het hy hom voorgestel, en vir die ou tannie gevra of sy weet waar die mense se plaas dan nou is- en of hy op die regte grond staan waar hy met die wa uitgespan het. Soos my pa vertel- het die ou tannie my oupa aangegaap- en van g’n sout of water oor sulke mense geweet nie. Wat sy hom daar gese het- het die ou man so geruk dat hy blykbaar tot met sy dood dit nie kon verwerk nie. Sy het glo gese dat vroeg in die sewentien honderds- so by sewentien twaalf rond- weet sy- het haar ouma haar vertel van die besondere plaas in die omgewing, min-of-meer daar waar my oupa verduidelik het, waar daar twee Ingelse boeties en hulle suster gebly het. Die mense in die omtrek het nie met hulle gemeng nie, want se sy- die boeties het on-goddelike dinge met hulle sussie gedoen teen haar sin…jy weet…saam geslaap om die beurt. Die boere in die omtrek was erg teen die soort teen-Bybelse sonde- en het die klomp vermy. Die drie is ook nooit saam by byeenkomste gesien nie, en niemand het geweet wat hulle nering was nie.Waar hulle ouers was- het nugter geweet nie.

Eendag- se sy toe- kom daar toe‘n Tansport drywer van wie weet waar af. Hy moes seker verdwaal het om daar uit te kom, want die plaas waar die drie op gebly het, was ietwat ver eenkant van enige roete af. Sy weet- se sy- dat daar , soos haar ouma haar vertel het, die mannetjie ‘n paar dae daar gebly het- en daar ‘n helse storie tussen die Ingelse girltjie en die Transport drywer ontstaan het- vryery jy weet. Die boeties het niks daarvan gehou nie- hulle was baie jaloers op hulle suster. Natuurlik gesien sy gaan wegloop met die ventjie. Daar is stories wat die rondte gedoen het dat die meisiekind saam met die Transport Drywer wou weggaan omrede sy wou wegkom van haar broers af wat haar so verniel het.

Soos sy kan onthou- het hulle blykbaar net gewag tot die Transport Drywertjie hom eendag uit die voete maak- vort is met sy werk- en toe die meisiekind gegryp en haar vasgebind en vreeslik geslaan en haar ook herhaaldelik verkrag. Die volgende wat gebeur- volgens die kornette wat daarna daar was- is dat die twee boeties haar uit pure selfsug en verwronge haat gegryp het, in die kelder van die huis in gesleep het, en haar weer gaan verkrag het. Hulle het haar blykbaar ‘n paar dae opgesluit gehou. Daarna- uit pure haat en jaloesie- en vrees dat die Transport Drywer dalk gaan terugkom, het hulle die huis aan die brand gesteek- met haar binne in. Die meisie het daar in die donker kelder dood gebrand- en die twee het gesorg dat hulle spoorloos verdwyn. Hulle is maande later in Oos Londen vasgetrap toe hulle wou skelm wou wegseil Ingeland toe- en is daar en dan in hegtenis geneem- en toegesluit. Later is albei iewers in die Kaap gehang nadat hulle met die sak patats vorendag gekom- en alles gebieg het.

Sederdien staan die opstal leeg, want se die mense- dit spook iets gruweliks op die plek- en niemand wil die plek koop nie. Sekere nagte – op die tyd wat die tragedie gebeur het, hoor jy blykbaar die aanmekaar verwronge en bloedstollende gegil van die meisiekind wat hewige pyn verduur deur die bome klief, teen die berghange op- die heel nag deur, en in die agtergrond hoor jy duidelik die deuntjie van ‘n draai orreltjie- soos die van ‘n juweelkissie- wat speel. Die ou tannie het gese sy het dit al baie kere self gehoor. My pa se my oupa het asvaal net daar kort-om gevlieg- en met die perd plat gejaag na sy wa toe. Toe hy die kis oopmaak waar hy Victoria se juweel kissie netjies in bruin papier toegedraai het- was die papier daar….maar die juweel kissie skoonveld- tot vandag toe! My oupa het net daar en dan sy wa opgepak- en laat spaander om so ver moontlik van die plek af weg te kom- en het nooit weer daar langes gegaan nie- en nooit weer daaroor gepraat nie- tot eendag- met sy sterfbed- hy dit aan my ouma oorvertel het. Die plaas self- is blykbaar later deur die staat as verbeurd verklaar.”

Oom Amram bly so rukkie stil terwyl hy aan ‘n sigaret suig. “ My oupa- se my pa- wou nooit daarna trou nie- maar is toe uiteindelik op ‘n heel latere ouderdom met my ouma getroud.” Hiermee gee oom Amram my so ‘n lang tuur deur skrefies oe terwyl hy met die lee glas tussen sy vingers speel. “ Jy dink ek praat nonsens ne seun…..jy dink seker jou oom is dronk ne- die Brandewyn wat praat….maar ek se jou- dis die reine waarheid wat ek jou vandag vertel!” – se – vra hy.

Wel…moeilik om te se. Ek- vir een- logies gesproke- stem dalk saam met oom Amram ten opsigte van sy laaste vraag oor die Brandewyn, maar wie weet…..die ou wereld en geskiedenis van ons het al vreemde dinge opgelewer- en wie weet- dalk is dit- net dalk- die waarheid. Het Victoria haar juweel kissie kom haal soos sy wou he….en speel die ding ook daar in die anderkant van vergetelheid? Moeilik om te se. Ek los die raaisel maar by die geagte lesers.

TOT WEDERSIENS



TOT WEDERSIENS



Is daar spoke? Die antwoord kan ek ongelukkig nie gee nie. Die Goeie Boek leer ons dat daar wel geeste is, maar waar hulle hul bevind – is duister. Daar word wel in ons geloof en in ander gelowe verwys na die doderyk, hades, die hemel, die hel, Nirvana, Valhalla- en ag...sommer nog baie ander name, maar ekke selwers is ook maar nog vaag oor waar die doderyk wel is…en of siele die vermoë het om die kloof wat na verwys word met die ryk jong man en vader Abraham-met of sonder toestemming kan brug. Sommige verligtes wil dit hê dat die besondere wesens die aarde bewandel soos en hoe hulle wil- andere wil dit he dat afgestorwe siele wat die ewige rus nie kan ingaan oor een of die ander onvergifenis- op die teenswoordige wêreld bly wandel tot die een of ander taak volbring is. Andere weer dat party siele hier bly om ‘n geliefde te beskerm. Wat ook al die redenasie…hoe meer modern ons ou wêreld raak, hoe meer voertuie, stede, mense..hoe minder spoke. Dit wil my voorkom of die ou spesietjie nie van geraas hou nie.

In die volgende verhaal laat ek dit maar aan die leser oor om self te besluit of die verhaal eg is…of dit ‘n spook was..en of dit net ‘n verdigsel of die produk van my oorwerkte verstand was. Hier volg dan my verhaal:

Die betrokke gebeurtenis het hom afgespeel in die laat tagtigerjare toe ons ou land sterk betrokke was by die oorloë wat gewoed het op ons grense tussen Suid-Wes Afrika, Rhodesie, Angola en Mosambiek. Duisende jong manne van alle rasse het daagliks bloedige skermutselings ervaar…en baie het ook gesterf vir ‘n oorlog wat onnodig was. Op gereelde basis is vars troepe na hierdie vreemde grense gestuur om gapings te bly vul wat herhaaldelik bly ontstaan het as gevolg van verskeie siek politieke en ander redes. So was dit dan dat ek as dienspligtige ook vir ‘n drie maande verpligte kamp my diensplig moes gaan verrig in Suid Wes Afrika.

My oproep na my militere verantwoordelikhede het my eers per vliegtuig na Grootfontein geneem. Vandaar per pad na Oshivello en Oshakati in die noorde- en toe op na Ondangwa heel noord. Vandaar is ons na Eenhana- ‘n groterige basiskamp wat heeltemal so vyftig kilometer Noord-oos van Odangwa teen die Angolese grens geleë is…sektor 20 het hulle dit daardie tyd genoem. Daar het ons saam met die Portugese 32 Bataljon en die S.A Koevoete vanaf die sentrale proviand basis teen insypelende vyandige magte opgetree, soms oor die grens agtervolging ook gedoen

Ek was opgeroep in September 1984 na S.W.A as mediese ordonnans..en moes op feitlik elke patrollie saam met die vegtende magte uitgaan. Ek moes deurentheid mediese hulp aan lede wat gewond is verleen-met bitter min rus tussen in. Operasionele mediese personeel was die veld dokters- en uiters skaars, en een mediese beampte was verdeeld tussen‘n honderd tot drie honderd troepe. So..jou werk was uitgeknip en ‘n twintig uur skof was niks snaaks nie- dit was die norm. Jy was genoop om saam met die een patrollie na die ander te voet/ voertuig of per vliegtuig vir kilometers aan een heen en weer deur die boswêreld te patrollies te doen. Wanneer ‘n patrollie uitgaan- was die gebruik om die lede wat op patrollie was na hulle teruggekeer, vir drie dae op die basis te laat rus- omrede een patrollie tot ‘n week lank kan duur. Mediese personeel aan die ander kant- moes soms vanaf een patrollie na die ander oorskakel met slegs ‘n paar uur rus tussenin. Dit was dan op so een patrollie dat ek bevriend geraak het met ene Jan Prinsloo..so ‘n lang invanteris afkomstig vanaf 5 SAI battaljon te Ladysmith, Natal. Ons het skertsend na hulle verwys as “Bokkoppe” – vanweë hulle springbok insignia op hulle berets.Ek was geplaas saam met Jan se peloton op een so ‘n patrollie om uit te gaan saam met die padveers- die diens korps wat landmyne moes uitsnuffel-en “ Johannes se pad”- ‘n grondpad noord van die basis- te gaan “vee.” So ‘n “ vee-ery” kon maklik die heel dag vat, in ag geneem die tyd wat die “ sappers” soos ons hulle genoem het- gevoel-voel het tussen die sand vir daardie dodelike “pot deksels”. Jy het dan eeue tyd gehad om nuwe vriende te maak met die ander manne van die peloton en te gesels soos julle nou maar so saam drentel om die tegniese diens korps te beveilig.

Ek en Jan het somaar van dieselfde dag af groot maters geraak, en het na die patrollie gereeld as ons by die basis was, die kroeg aande lank besoek in mekaar se geselskap. Jan was glad nie onaardig nie en was in baie opsigte heel komies. Ons het gereeld dit so met die diensdoende offisier gereël dat ons saam op patrollies loop..want hegte vriendskappe daarbo was soos goud werd. Wanneer daar dan ook pakkies kos en snuisterye vanaf die geliefdes in die RSA af gekom het vir ons, het ek en hy maar altyd gedeel. Ja…dit was ‘n goeie vriendskap, amper soos regte broers in ‘n vreemde land. Ons was baie geheg aan mekaar- en daarom het ek het dit ook nie buitensporig gevind toe hy een aand vir my ‘n heel snaakse voorstel gemaak het nie. Terwyl ons onse moegheid by die watergat sit en versuip, het Jan op ‘n stadium na my oorgeleun en gesê: “ Ou Andries….se jou wat….kom ons gaan ‘n deal aan….as die Terries jou eerste blaas..dan kom groet jy my…en as hulle my eerste blaas..dan kom se ek vir jou cheers…wat dink jy daarvan?” Ek het besef Jan was redelik goed soos myselwers, gemarineer met die goedkoop brandewyn, en het nie die moed gehad om te redekawel nie. In die konteks van die heersende atmosfeer – en ons noue band-het ek toe maar ingestem tot die grillerige ooreenkoms. Wanneer ‘n mens gemarineer is met die voggies, dan raak jy darem die snaaksste goed kwyt- veral so duskant dronk verdriet. Hy het geglimlag en my op die skouer geklop met die antwoord:” Thanx…jy’s ‘n pal…maar ek is serious chom..ek sal jou genuine kom “chau” se voor ek na die pearly gates toe gaan.” Hy was ‘n oomblik stil- en het voor hom uit gestaar. “ Belowe my jy sal na Talitha kyk…ek meen..dat sy O.K is?” Kyk, hier het ek geweet ou Jan moes asmaties dronk gewees het om nou sulke loutere snert kwyt te raak-.en met ‘n gerusstellende antwoord van my af het ek en hy toe maar die aand omgekuier om die put van sondes totdat beide van ons letterlik omgeval het van dronkenskap.

Dit was twee weke later toe Jan en ek vir die eerste keer nie kon saam op patrollie gaan nie- hy was af ge-delegeer na Rundu toe weens ‘n kontak wat ‘n ander groep gemaak het met terroriste op die pad. Hulle was in ‘n lokval vasgepen…en Jan se peloton moes inderhaas en onbeplan vertrek per helikopter na die gebied om te gaan ondersteuning met geweervuur gee. Jan het die groot Bren masjien geweer gehanteer vanweë Jan se grootte. Ek was op die stadium op Baken 28 – teen die grenslyn om ‘n gewonde soldaat te help terugkry by ons basis vir noodhulp. So, ons het mekaar totaal gemis.

Die aand het ek teruggekeer en my pasiënt op ‘n Dakota vliegtuig geplaas vanwaar hy na Ondangwa lugmag basis na Pretoria kon afgevoer word vir ‘n operasie by 1 Militêre Hospitaal.. Jan se peloton was nog nie terug nie…maar ons het al hierdie tipe operasies geken…dit kon dae duur- so- ek was nie bekommerd nie. Ek het maar gaan stort, gaan eet by die menasie..en afgesit watergat toe. Die aand het verbygesleep en ek het hier by een uur die oggend afgesit na my siekeboeg toe om te gaan slaap. Ek moes die volgende oggend saam met die S.A Kleurling Korps na Miershoop-verder suid van ons- gaan om nog dekking te gee aan gewondes, dus moes ek nog slaap inkry voor 5 uur. Ek het sommer met my uniform en al bo-op die bed neergeval en aan die slaap geraak.

Ek weet nie presies hoe lank ek geslaap het nie, maar ek was nog in droomland toe ek wakker skrik van my deur wat toeklap. Ek het die swaar voetstappe van stewels op die houtvloer gehoor inkom, en het maar traag regop gesit om die volgende geval te hanteer- wat ook al dit was. In my situasie kom lede willens en wetens enige tyd van die dag of nag by die siekeboeg in- jy moet maar ten alle tye regstaan. Met lang gape het ek die slaap uit my oe gevee en my dwars op die bed gedraai- net om in Jan se gesig vas te kyk. Vader, maar was hy vuil..wat eintlik nie snaaks na so ‘n operasie in die veld was nie. Ek het slaperig hom gevra of hy wil stort- die siekeboeg was een van die min plekke waar warm water beskikbaar was-wat hy geweier het. Half aan die slaap vra ek toe maar wat gebeur het en bied hom koffie aan. Jan het die koffie genadiglik ook geweier..en ek kon ook nie mooi onthou wat hy my vertel het wat gebeur het nie…ek was te vaak. Ek kon onthou dat hy my op ‘n kol gevat het en ‘n beer druk gegee het. Daarna het hy my hare gevryf en gese: “ O.K my chom..ek moet nou gaan…ons sien mekaar later weer..en please chom…jy onthou nog van Talitha.?” Ek het halfhartig my kop geskud-en met ‘n gebaar met twee vingers soos ‘n saluut, is hy daaruit. Ek het halfpad gewonder of hy regtig ernstig was met sy versoek die ander aand- maar weens moegheid het ek net soos ek gesit het- omgeval en verder gesnork. My tyd was min en Jan kon nou drie dae rus voor sy volgende uittog. Ek het skaars aan die slaap geraak, of ons seiner storm die siekeboeg in en se aan my ek moet roer..die helikopter wag vir my…ons moet dringend “Casavacs”- dooie en beseerde persone- gaan optel en afvoer.

Al swetsend en half aan die slaap,is ek daaruit met my mediese tas en het die tuig baie bedremmeld gaan beklim onder sy koue roterende lemme deur. Ons is toe die nag in – en twintig minute of wat later land ons tussen ‘n menigte voertuie in die veld. Jy kon sien daar was ‘n hewige skermutseling . Soos die gebruik was alle hoof ligte af en die beskermings kontingent het in ‘n sirkel om die landingsplek gereed gelê met gewere na buite.In die lig van die “ Flares” kon ek talle dooie en beseerde liggame uitmaak..en soos baie kere tevore..het ek moes help dooies laai- ‘n uiters grillerige taak-en beseerdes verbind om gelaai te word. Ons moes vinnig werk weens die vrees vir nog ‘n aanval, en so tien minute later was ons weer in die lug op pad basis toe. Daar aangekom moes ons gou aflaai, want die vliegtuig moes terug vir sy volgende lopie, en sy volgende..en sy volgende. Ek moes agterbly en beseerdes en kadawers af karwei siekeboeg toe vir mediese hulp en etikettering.

Dit was al verby ses uur die oggend toe al die beseerdes uiteindelik verbind en le-gemaak en volgens prioriteit orde gemerk is vir afvoer doeleindes.- en ek kon die dooies etikette gee voor die vliegtuig hulle ook die oggend na die lykhuis op Oshakati neem. Op ons basis was geen verkoeling geriewe nie en die lyke moes so gou moontlik na so ‘n fasiliteit geneem word vir lykskouing en weens die hitte- ontbinding te keer. Dit het vinnig gegaan..tot by die vierde lyk sak wat ek die ritssluiter van ooptrek. Voor my het ek verstard teen die verwronge en bebloede gesig van my ou vriend vasgekyk. Dit was nie ‘n mooi gesig nie. Hy het twee koeëlgate deur sy regteroog gehad. Geskok het ek teruggedeins en lam in die knieë plat op die vloer gaan sit. Vir etlike minute het ek so gesit voordat ‘n kleinerige korporaal met die gevalle lyste ingekom en my opgehelp het. Hy het gelukkig onmiddelik die situasie opgesom- en toe aangebied om liewer maar verder die etikette op te sit…ek kon nie…die skok was vir my te groot. ‘n Mens voel nie die dood so erg as jy elke dag dit as ‘n lewenswyse ervaar nie- behalwe wanneer ‘n vriend of familie dit oorkom.

Dit was eers laat die volgende middag wat ek die grootste skok van almal ontvang het. By een van die lig beseerde troepe het ek verneem dat Jan se peloton al vroeg die vorige aand in ‘n skermutseling betrokke was,- en Jan was een van die wat eerste onder ‘n sarsie geweer koeëls gesterf het…ons het hom sewe ure later eers opgetel! Ek kon my ore nie glo nie…hy het my omtrent twee ure voor ons uitgevlieg het- kom groet…dit beteken hy was toe al ongeveer ses ure lank oorlede..hoe was dit moontlik…hy het tog so duidelik voor my bed gestaan soos daglig…en die druk was eg? Skielik het ek sy afskeid woorde herroep-“ ..Jy onthou nog van Talitha..” Stadig het die onmoontlike en onwerklike tot my benewelde verstand begin deurdring. Kan dit wees? Het Jan sy kant van die ooreenkoms waaragtig gehou- en my sowaar kom groet voor hy vertrek het na die ewige rus toe? Ek het vir maande daarna nog oor die kwessie gepeins.Tot vandag toe is ek nie seker nie…maar ek weet wat ek beleef het!

Ironies genoeg was dit juis sy meisie Talitha wat die laaste spyker op die raaiselagtige omstandighede kom slaan het. Toe ek twee dae later na sy dood terug is in die R.S.A om ‘n pasient af te bring, het ek spesiaal tyd ingeruim om haar te kontak , my voor te stel- en uit te vind of sy enige iets nodig het. Sy was ‘n oomblik stil aan die ander kant- en dit was haar antwoord: “ Dit is snaaks dat jy my nou juis bel en vra. Het my Bokkie jou gestuur, want ek het gisteraand laat ‘n oproep van Jan af gekry- hy het gesê ek moet nie bekommerd wees nie… hy is lief vir my en hy is O.K..en toe gaan die foon dood! Se my,.gaan dinge nog goed met hom daarbo op die grens?” Vir die volgende paar oomblikke was dit ek wat doodstil was aan my kant. Ek het stadig, sonder om haar te antwoord, die gehoorstuk teruggeplaas op die mikkie…ek het nie die krag gehad om haar die waarheid te vertel nie.‘n Telefoon oproep uit die ander wêreld uit? Ek weet nie wat om van hierdie gebeurtenis te maak nie…besluit u maar self.

GERMAINE SE HOND




GERMAINE SE HOND

Die ou nasietjie wat my seker die meeste fassineeer in ons ou land, moet ek aangee as ons eie Kaapse kleurling nasie. Die mensies is vir my te wonderlik. Hulle manier van praat, die manier wat hulle mekaar kan repperdeer, optrede..en ag..sommer net hulle manier van dinge doen. Ek kan ure na hulle sit en luister as hulle ‘n gesprek voer- veral as daar twispunte opdaag. Jy kan jouself om ‘n vaatjie buig soos jy lag, maak nie saak hoe ernstig hulle probeer wees nie- komies die bly hulle. Ek praat nou nie van die nuwe tipe boosdoener element wat veral in die Kaapse Vlakte doenig is nie…daar glo ek nie is enige snaaksigheid aan betrokke nie.

Dievolgende verhaaltjie kom juis van een van ons Kaapse kleurling vroue af- en wat hierdie verhaaltjie interresant maak- is die feit dat ‘n dier hier die hoofrol speel…en nie die eentonige alom teenswoordige menslike faktor nie. Of die staaltjie enige waarheid dra…dit weet ek nie- die moet ons maar vir Germaine Hendricks van Elsies Rivier oorlaat om te besluit. Dit was ‘n avontuur om net na haar gesigs uitdrukkings te kyk toe sy die staaltjie vertel het….dit was werklik‘n belewenis om haar te sien inleef in die verhaal…jy sou amper dink die toneeltjie speel hom voor haar af. Ek gebruik nou maar haar manier van praat- so onveranderd as moontlik. Hier is dan haar weergawe van ‘n ondervinding met die bonatuurlike element:

“ Meneer sien…” – begin sy. My pa hulle het vamelewe da vannie bo-Kaap af gekom…ek dink hulle het net annekant naby Kroonstad gebly, ma aan die kant vannie Kaap..nie aan die annekant van Kroonstad nie My ma het siek geword en my pa hulle moes Cape Town toe kom om my ma beter medisyne te gee. Da was mos nie daai tyd sukke grend goed soos vandag nie…dokters was ma skaars. Nou ja, toe kom onse maar..my pa, sy se ma, my ma, ek, my boetie..en my anne twee sussies - ons was nog ma klein daai tyd gewies…sukke opgeskote goedjies. Toe onse nou hie kom..kon ons nerens blyplek kry nie…haai hene meneer..ek se jou…ons het ‘n paar dae in ‘n ou “ruin” moes slaap! Ons wassie lank hier nie, toe het my oom wat da by Klapmuts gebly het-gese ons kan ma daar kom bly…seke ma sorry gewees vir ons. Ons het toe so met die bus gekom en my oom het ge-“ organize” dat ons ‘n hys kry so ent van hulle af. Nou ja..my pa hettie werk gehad nie..da was bokkerol kos nie – nie geld nie..niks…ek se meneer..ons het swaar gekry. Meneer weet mos-daai tyd was onse kleurlinge te swart om wit te wees…job was ma skaarserig vir onse ou Gammetjies.

Toe ons nou ingetrek het, het my pa darem gelukkig ‘n werk gekry op een va daai wynplase..ek wiet ok nou nie watte een nie- ma in any case- hy het gewerk. Onse hys het toe darem toe begin mooi lyk..hy was nou nie groot nie..maar ons kon darem almal in die aand slaap, eet en die rent betaal. Nou ja..dis nou net daar waar die dinge begint het! Op een dag toe kom da so klein wit brakkie by onse hys aan..somme so ‘n weggooi dingetjie…meneer wiet mos. Ons het gesien die hond het ma altyd by onse hys gebly…nooit weggegaan nie. Ag meneer..toe begin ons die dier jammer kry..en begint hom maar kos te gee…’n mens kan mos nie hom so los nie…hy is ok mos een van God se “creations”. Nou ja..so het ons ma die ou brakkie as onse eie aangeneem..en hy was nogal baie oulik..so wittekie met baie hare…ek wiet nie watse soort hy was nie…but who cares.

Die hond was nogal lank by ons gewies…toe ons een aand laat wakker word omdat hy so tekere gaan. Ons het hom somme Whitey genoem…omdat onse mense altyd van julle witmense as Whiteys gepraat het..en hy was nou ook toevallig wit. My pa het altyd gese dat die witmense hou ons dop..al stuur hulle nou ook ‘n bleddie hond..hy moet ook wit wees…haai hene meneer…ek spot nou ma net. Nou ja, soos ekke gese het…die aand toe gaan daai hond so tekere…weet meneer…ons het almal lateraan by die vensters uitgekyk…somme ook die bure saam. Ons dog die brak het seergekry..of hy sit in ‘n heining vas, ma nee, die ding hardloop da rond soos ‘n afkop hoender- en hy blaf-en hy speel..jy weet mos..soos ‘n hond wat bly is. Toe ons nou nog so kyk…toe sien ons ma da is nog ‘n anner hond…ok so kleintjie…ma gladde hare.

My pa was baie kwaad..regtig meneer…hy storm da yt en vloek die hel yt die honde want hy moes weer vroeg loop werk toe. Die anne hond het somme weggeraak va pure skrik- en onse brak et da teen die hys ga le…soos hy altyd maak. Nou ja…ons het toe nou niks verder va die saak gedink nie en geloop slaap. So was dit elke anner nag..tot wee een nag…weer laat…toe gaat onse brak wee so mal aan. My pa het darem nie daai dag gewerk nie…hy was so bietjie meer kalm..en het ytgegaan…wee jy meneer…genuine..toe is daai anne hond wee da. My pa het toe ma die anne een jammer gekry…en vir hom kos ytgesit…somme da in die nag. Die anne hond het nie kom eet nie, want die volgende more toe sta die se kos nog da. Hy’t nooit eintlik naby ons gekom nie…en as ons hom roep…da dissapear hy somme net…seke bang vir ons gewees. Nou ja, soos ek gese het..Onse brak het ok nie aan die kos ge-“touch” nie..hy het net op sy eie gewoonte ou plekkie gele. Hy was somme so dood..ons kon niks yt hom kry nie. ( Germaine staar so ‘n oomblik diep in die verte in) “ Het meneer nie dalk vir my ‘n eintjie nie…meneer weet mos?” Ek handig haar toe ‘n sigaret aan. Sy het die rook so diep in die longe ingetrek- en haar oe op skrefies getrek toe sy reg is om voort te gaan met die verhaal

"Ai meneer…die ding het toe nag na nag so aangekarring…ons het later ma die honde gelos…gedog onse hond was ma alleeen en dis hoekom hy ook ma wil speel…ma snaaks…die anne hond het nooit gebly nie…net gekom om te speel..en dan net weggeraak. Niemand da om ons het die hond geken nie…en ons kon hom ook nie kry nie. Ons het gedog dis ma ‘n “stray”- en nie veder geworry nie. Ek kan nog goed onthou…dit was so bryn hondjie…het heeltemal anners gelyk as onse een. Nou ja..die saak da gelos het ons ma aangegaan met onse eie probleme Onse brak het ook nie lank gehou nie…een oggend toe ons opstaan…toe is hy skoonveld…ek se meneer…net weg! Dit was so week later toe hy weer truggekom het, maar hy was poegaai. Die arme ding het net gele…jy kon sien hy wassie meer lus omte lewe nie. My pa het ga kyk…toe sien hy daas merke op die hond se ribbes…slang het hom gepik. Nou ja meneer…wat kan mens doen…ons het nie geld gehad om hom dokter toe te vat nie…en any way…dit was te laat. Hy was mos amper half dood! So het hy ma elke dag net gele…en ons ko sien die outjie ga dit nie mee lank maak nie. Ons he ma die ergste verwag.

Nou ja…toe gebeur da iets baie snaaks. Een aand word ons toe nou mos wee wakker oor ‘n geraas. My pa is daar yt die hys yt met ‘n battim…toe kom hy wee trug en se die hond he sy tweede asem gevang…hy’s O.K…en daai anne hond is wee da. Wragtig meneer..ek het gaan kyk. Daai brak va ons en daai anne een hardloop die wereld vol en dit blaf en byt en gaan so tekere. Die volgende dag toe ons nou gaan om die hond kos te gee…toe le dit weer…baie siek…jy ka sien die ding wil wee vrek. Hy het slegter gelyk as die dag tevore. Ons gee toe maar water en my ma se toe nog hy’t seke al sy petrol ytgehardloop die anne nag…die dat hy nou wee wil vrek. Toe die aand kom..toe raas dit wee…en weer is daai anne hond da..haai vader meneer…jy sou nooit as te nimmer kon se die dingetjie wou nog die dag vrek nie. Hy hardloop somme so..en spring so in die lug…en hy en die anne een jaag mekaar om die hys. Die volgende oggend toe lyk hy wee slegter as die vorige. My pa het gese ons moet ma die goed ytlos dat sy petrol nou ma eenmaal klaarraak.

So het hulle aangegaan tot die naweek toe, maar by Vrydag aand toe vrek die brakkie…somme net so…haai shame meneer…hy’t so stil stil net sy oge toegemaak- toe is hy weg. Jy weet meneer…toe hy vrek, het die anne een so ent byte die jaart gesit en kerm…so asof hy gewiet het onse hond blaas sy laaste asem yt..maar hy’t nie nader gekom nie…net omgedraai en weer ge- dissapear…nugter weet waarheen. Ons het “sad” gevoel..en hom agter in die jaart gaat begrawe…nogal mooi kosmosse op sy graf ga sit. Snaaks…van da af het ons ok nie mee die anner ene gesien nie- rerig….ek lieg nie vir meneer nie…dit het rerig gebeur…ek het dit met my eie oge gesien. Alles was toe wee back to normal-tot eendag toe da anne mense by ons hys gestop het. Die mense het glo da voor ons gebly…en die mense het nog goeters in so klein shack agter my oom se jaart gehad wat hulle toe kom haal het. Die vrou het ma uit nuuskierigheid kom kyk wie bly nou in hulle ou hys..en kom kennis maak.

My ma het ha tee gegee en hulle het ma so bietjie gepraat terwyl ha man die goeters laai…en so met die praat…toe kom die honde se storie op…jy weet mos…’n mens praat mos van allerhande dinge as mens keier. Haai meneer…da kry ons toe ‘n vreeslike shock! Die vrou wou weet presies hoe onse hond en die hond lyk wat elke nag kom keier…en toe my se ma haar vetel..se die vrou vir ha dis nie possible nie…dit moet‘n spook wees! Ka jy nou meer? Die bryn hond was hulle se hond gewees se sy…en die witte was haar se kleinkie. Toe die mense die dag getrek het..het die ma oor die straat gehadloop en ‘n kar het ha doodgetrap. Die wittetjie het blykbaar so geskrik dat hy somme die veld ingevaar het. Hulle het lank gewag en geroep…ma die hond was skoonveld. Nou ja…hulle moes toe ry..en is daar vort sonne die hond. Dis die hoekom onse hond nie van onse hys wou weggaan nie…seker ma baie oor ha getreur. Sy ma moes seker aan die annerkant va die grave gehoor het hoe hy tjank…of gevoel het hy was eensaam…en toe ma elke aand kom speel met hom. Die eienaardigste was toe hy aan’t vrekke was…toe het sy gereeld vir hom kom keier…tot hy dood is…toe’s sy ok weg. Dink meneer sy’t hom kom haal?”


Kom haal….ja….dit is ‘n interresante vraag. Is dit moontlik dat daar by diere ook soos by die mens emosie bestaan…en soos in Germaine se vertelling…kan diere ook dan terugkom om hulle geliefdes te kom haal? Wie weet…ons kan net spekuleer.

NAGWAAK MET DIE DODE




NAGWAAK MET DIE DODE


In die volgende storie was die skrywer indirek betrokke…nie direk met die geval nie- maar het saam met die storie verteller gewerk tydens die gebeure. Ek kan geensins die waarheid en egtheid van die verhaal staaf nie, omrede ek nie by was toe die voorval gebeur het nie.

Na my diensplig in 1982- was ek as verkeersbeampte gestassioneer op Midrand- ‘n groot industriele area tussen Johannesburg en Pretoria. Die jaar was 1987 toe die gebeurtenis hom afgespeel het. Saam met my het daar so ‘n kleinerige beampte gewerk met so ‘n amperese boggle rug. Weens respek aan die lid en die familie van die mede karakter in die verhaal, gaan die skrywer maar liefs die name verander- die leser sal tog geen baat of belang vind oor die aspekte nie.

Gedurende die tydperk ’86 tot ’89- was daar hewige aanbouings aan die Ben Scoeman snelweg- een van die gevaarlikste paaie in die ou Transvaal- nou Gauteng. Die snelweg was op sy beste- uiters gevaarlik- en op sy slegste- ‘n moordpad! Voertuie het teen die hoogste snelhede daar deur gejaag. Vir kilometres aaneen was daar waarskuwing padtekens, uitgrawings, padvernouings- en om eerlik te wees- ‘n wetstoepasser se ergste nagmerrie. Daar was al tot 45 ongelukke per uur gemeet. Ons het op permanente basis heen en weer op die pad geboer- en byna elke dag noodlottige ongelukke gehandteer. Jy was permanent 24 uur op bystand. Ek kan van die lelikste tonele denkbaar getuig wat ek op die besonderse hoofweg aanskou het, maar sal nie in die verhaal daaroor uitwei nie.

Om terug te keer tot die verhaal- ek het saam met die betrokke beampte- laat ons hom maar Chris noem- diens gedoen. Chris was ‘n snaakse eintjie mens- vol draadwerk en met baie uitsonderlike idees om so ‘n bietjie meer geld in die sak te plaas. Ons ander personeel het maar van sy idees liewerste ge-systap- synde die feit dat van hulle ontoepasbaar- en ander blatant onwettig was, maar verder aan was klein Chris nie te onaangenaam nie. Hy het twee groot liefdes in sy lewe gehad- sy meisie- en sy motorfiets. As jy vir Chris soek- dan sou jy hom by een van die twee vind.

So was dit dan dat ek gedurende November 1988 my jaarlikse verlof geneem het synde die feit dat mevrou vir die weermag gewerk het- en sy nie Desember soos gewoonlik- kon verlof neem nie. Ons het ook juis op daardie stadium ‘n nuwe voertuig gekoop- en wou darem so ‘n bietjie die lang pad met die nuutjie toets. Ek is toe om en by hier vroeg in November op verlof Natalse kus toe. Nou ja- na drie weke se vakansie hou moes ek weer terug in die tuig.

My eerste skof was middagskof die betrokke Dinsdag. Omdat Chris nie te ver van my af gewoon het nie- wou ek gou ‘n draai die oggend by die mannetjie maak om net oor gebeure op te vang en lokale skinderstories op datum te bring. So het ek dan so 10 uur die oggend afgesit na sy huis toe. Daar gekom, moes ek redelik lank op sy deurklokkie le voor hy kom oopmaak het. Hy vra toe om verskoning oor die lank wag- maar hy het geslaap. Hy deel my toe mee dat hy ook middagskof moet werk saam met my- maar die rede hoekom hy nog slaap- is dat hy vier dae afgevat het om sy meisie na Pietersburg te neem na haar ouers toe. Met sy terugkeer die vorige aand, so half elf se kant- het hy per toeval by een van ons ander beamptes- kom ons noem hom Gerrrie- verbygery waar die diens doen by ‘n groot vragmotor wat onklaar geraak het op die snelweg- by die Olifantsfontein afrit- se hy toe. Hy het daar gestop- en met Gerrie gesels. Die vragmotor het gevaarlik in die pad gestaan- en Gerrie moes ander voertuie met sy flits om die vragmotor reguleer. Chris het gesien Gerrie het sy hande vol- en het toe maar huistoe gery- sy patrolliemotor gaan haal- en teruggery na die toneel toe. Daar gekom, het hy sy voertuig agter die vragmotor getrek- sy blou roterende dakllig aangesit- glimgordels en flits agter in sy eie voertuig gaan haal- en maar vir Gerrie behulpsaam gewees met die uiters gevaarlike taak.

Volgens Chris was Gerrie se voertuig nie daar nie- maar hy kon nie onthou dat hy Gerrie uitgevra het oor hoekom die voertuig nie daar was- en ook agter die vragmotor geparkeer was nie- seker maar sy gedagte ontgaan. Reg deur die nag het hy en Gerrie dan die baan beveilig en aankomende voertuie om die stilstaande vragmotor herlei. Hy se dat Gerrie nie een keer die pad verlaat het nie- hy homselwers was naderhand so moeg- en sy voete dood seer- maar wat aanhou is Gerrie. Hier by vier uur se kant het Chris naderhand besluit genoeg is genoeg- die son se lig begin stadig die hemele betree- en voertuie sou binnekort die gevaar ver genoeg sien. Hy het toe maar na Gerrie toe gestap- en gese hy wat Chris is- gaat nou huistoe. Hy wou darem so bietjie slaap inkry voor hy 13h00 op diens moes gaan. Gerrie het hom bedank vir sy hulp- sy arms om Chris gegooi- en gese hy hou van hom. Gerrie het die gewoonte gehad om ons almal so te loop en druk- groot kind van die Here gewees- die man. Chris is toe daar weg- en tienuur het ek hom weer kom opgejaag. Ek het nog so ‘n ruk gesit en skinder- en is toe huistoe om self te gaan gereed maak vir middag skof.

Die betrokke middag het ek so 12h00 gaan aanmeld omrede ek my administrasie moes inhaal, wetstoepassings boeke moes trek, dagvarings kry ensovoorts. Ek moes in elk geval eers by my skofhoof gaan rapporteer. Chris het so om en by tien voor een opgedaag en saam met ons ander in die konferensiekamer byeengekom vir die toedeling van dienste. Dit is dan ook hier waar die bom gebars het. Ons skofhoof- ene Meneer Reynolds- vra vir Chris of hy vaak is- sy oge is rooi. “Ja” antwoord die toe- hy het die hele nag puntdiens gedoen saam met Gerrie by die Olifantsfontein afrit- en hy is nog maar sleg deur die blare. Die skrywer kan nie beskryf die stilte wat oor daardie vertrek gesak het nie. Ou Meneer Reynolds en die ander beamptes het Chris openlik verstard aangekyk. Ek kon nie verstaan wat nou met die ou spulletjie aangaan nie. Dit was tog geensins snaaks om ‘n medebeampte uit te help in so ‘n situasie nie- ek meen- dit is tog lofprysenswaardig. Ou meneer Reynolds het Chris half veragtend aangegluur- en gevra hy moet tog net weer se wat hy die vorige nag gedoen het.

Chris het opgemerk dat niemand hom glo nie- en het weer bevestig wat hy gedoen het- die vragmotor beskryf- die presiese plek- en presies wat hy en Gerrie gedoen het. Hy het tot sy kilometer lesing op sy voertuig aangebied ter stawing- asook om die skofbaas te neem na die presiese plek waar hulle gestaan het. Weer was daar doodse stilte- nie een beampte maak ‘n geluid nie. Meneer Reynolds vra toe my en Chris om saam met hom na ons hoof te gaan. Daar gekom- vra meneer Reynolds Chris om sy storie weer aan ons hoof te vertel. Chris was na aan trane- hy het nou nie mooi geweet wat hy verkeerd gedoen het nie- dit lyk of niemand hom glo nie- en die ander manne lyk amper openlik vyandig.

Ons grootbaas was ‘n ruk doodstil na Chris sy storie vir ‘n derde maal aangebied het- toe gooi hy beide my en Chris met ‘n emmer yskoue water in die gesigte:” Andries….Chris…julle ouens was nou nie hier nie. Gerrie was laas week op diens by die Olifantsfontein afrit saam met Johan Venter- by ‘n gebreekte vragmotor. Van agter het ‘n klomp polisie opruk voertuie gekom- en net toe hulle langs Gerrie en Johan se patrollie voertuig kom, sny ‘n ander motor skielik van nerens skerp voor die polisievoertuie in na die afdraai. Die polisie voertuie kon nie betyds stop nie- en het uitgeswenk. Die derde polisie opruktrok van voor af het uitgeswaai en Gerrie voluit van voor getref waar hy daar langs die gebreekte vragmotor diens gedoen het, onder sy massiewe wiele ingegooi- en sy liggaam vir so tien meter gesleep voor dit teen ‘n boom langs die pad tot stilstand gekom het. Gerrie se liggaam was oopgeruk en hy was op slag dood! Gerrie is blykbaar die vorige dag met volle verkeers eerbewys begrawe op Olifantsfontein waar hy gewoon het! Ek en Chris het na mekaar gestaar- ons was verpletter- ek het Gerrie goed geken- nie maters nie- maar hy was een van ons span- en dan boonop nog Chris wat die onmoontlike gebeurtenis loop en vertel.

Ons grootbaas het my toe laat gaan en Chris agtergehou. Toe hy uiteindelik sy verskyning maak- het die outjie eenkant gaan sit – teen die grond geslaan en met betraande oe die lug ingestaar. Hy was beter met Gerrie bevriend as ek- en die ding was vir hom ‘n helse slag. Hy kon dit nie glo nie- hy moes dan die hele vorige nag saam met die gestorwe gees van oorlede Gerrie diens gedoen het daar langs die pad- as dit wat hy gese het- waar was! Die hoof het hom maar aangeraai om nie die storie verder te versprei nie, aangesien dit net onnodige gevoelens gaan opwakker. Nou ja- Chris was nog so week of wat daar- toe sit hy sy bedanking in en hy vat ‘n nuwe pos by die Stadsraad van Kempton-Park- nooit weer gesien nie.

Ek het daarna die ongelukstoneel besoek- en ja- die merke en grillirige getuienis was daar- die remmerke, sleepmerke- en die bas van die Denneboom wat afgeruk was . Langs die pad waar Chris gese het hy gestaan het- het ek “ Chesterfield” sigaretstompies gesien…dieselfde as wat Chris gerook het! Hy was daar- vir lank ook- daar was baie stompies op die teerblad.

My vraag is- het Gerrie kom diens doen na sy heengaan…en hoekom? Sy liggaam was dan skaars onder die kluite toe dit gebeur het! Nou nog- as ek by die besonderse afdraai verbyry – kyk ek onwillekeurig na die twee Dennebome daar langs mekaar- so asof ek Gerrie daar sou sien staan- en my gedagtes dwaal terug na die einaardige gebeurtenis. Wie weet- miskien sien ander motoriste soms die alleen figuur van ‘n verkeersbeampte wat puntdiens doen laat in die nag by die afdraai? Ek het intussen verhuis na Kaapstad- en sal nie meer kan dophou of Gerrie nog op diens is nie. Ek laat dit maar hier aan die leser oor om self u gevolgtrekking te maak.

DIE OU TANNIE VAN SAAL 28




DIE OU TANNIE VAN SAAL 28


My storie wat ek hier gaan vertel, kom van ‘n ou matrone wat ek in die jare 80 ontmoet het terwyl ek my diensplig gedoen het te 1 Militere Hospitaal -Voortrekkerhoogte. Ons as mediese ordonnanse was elkeen verplig om saaldiens te doen in verskeie afdelings op ‘n roterende basis as deel van ons opleiding. Elke maand moes ons in ‘n ander saal diens doen…dan dagskof…dan nagskof. Dit was dan ook op een van my nagskofte wat 18h00 begin het tot die volgende oggend 07h00, dat ek toegedeel was in saal 28 van die ou 1 Militere Hospitaal. Dit was ‘n afdeling vir terminale vroulike pasiente – ‘n vleul daar eenkant in die donkerte langes ‘n ry Bloekombome. Die hospitaal opsigselwers was van rooi bakstene gebou- maar hierdie vleul was veel ouer- en was van lang reguit houtplanke gebou. Hier het ek dan ou suster Ramos ontmoet. Sy was al so ‘n bietjie aan die grys kant- so sestig se rigting sou ek reken. Ek het haar nooit om haar geboorte datum gevra nie- sy sou heel waarskynlik my ook nie gese het nie.

Die nagte was maar soms heel bedrywig in so ‘n saal- dit is diens oorgee, observasies doen, besoektyd, koffie uitdeel, medisyne gee, linne omruil, bedwasse doen, klagtes handteer, ensovoorts- tot so 22h00 se kant- dan gaan die ligte af. Na tien , as ons dan al die bedkaarte nagegaan het, dokters besoeke geskeduleer het, teater besprekings nagegaan het- en verdere eentonige administrasie gedoen het, was dit tyd vir rustigheid - en‘n stewige bekertjie Milo. Gewoonlik het die horlosie sy half twaalf merk teen die tyd al bereik.- en ons het dan die stil periode van die nag begroet. Ons het sommer die spesifieke tyd tot met vyf uur die oggend die “Graveyard Shift” gedoop, weens die graf stilte wat skielik oor die hospital gedaal het. Dit was dan ook op een van die “Graveyard Shifts” dat ek en Matrone Ramos weens verveeldheid so bietjie spoke opgeroep het. Sy het natuurlik glad geensins aan spoke geglo nie,- gese dis pure verbeelding- maar het heel ernstig my darem een spookstorie aangebied. Die staaltjie het sy dan ook so aan my oorvertel:

“ Jong weerman-( Ons is altyd op ons range aangespreek)- jy moenie van spoke praat nie jong! Ek glo mos nie aan die snert nie, maar hier het ‘n ding met ons gebeur so ‘n paar jaar terug. Weet jy dat dit net ek en Sersant Botes is wat hier wil werk? Nee..rerig..ek se jou! Die ander staf is te bleddie bang om hier te werk! Weet jy dat dit hier ge spook het? Rerig…ek lieg nie-kom ek vertel jou:

Dit was so elf jaar terug…as ek kan reg onthou…ek dink dit was in 1970- toe was ek en suster Kallie- jy sal haar nie ken nie- hier op diens. Sy dagsuster- en ek nagsuster. Hier in die oorkantste saal het toe ‘n ou tannetjie gele…so kortetjie. Ai mens…die ou vrou het ons al ons dae gegee. Sy het ‘n gewas op die brein gehad, maar die dokters wou nie opereer nie- hulle het gese sy sou nie die operasie oorleef nie. Haar ouderdom sou nie die narkose kon vat nie. Sy het toe maar hier gele en wag om dood te gaan…daar was niks wat ons kon doen nie. Ek kan nog onthou- sy het nooit besoekers gehad nie. Nooit het ek enige kinders gesien nie…nee wag…daar was eendag ‘n vrou hier…ja…sy het ‘n dogter gehad…dis reg, maar die het ook nie eintlik kom kuier nie…in elk geval nie as ek aan diens was nie. Ek weet nie of sy deur die dag gekom het nie, maar in elk geval….ons het maar toe die ou tannetjie versorg…sy het hier met ‘n ambulans van Hoedspruit af gekom. Genade mens, sy kon die horings van ‘n koei af kerm…dan die pyn…dan daai een. Sy het haar klokkie voos gedruk. Ons het maar naderaan haar geignoreer…ek meen..ons het ander belangriker pasiente gehad. Later van tyd het ons haar toe maar na daardie heel agterste kamer toe geskuif…nee herre…die ander mense het al gekla sy hou hulle uit die slaap met haar kort-kort se geklokkie drukkery! Al wat ons kon doen, was om haar pynpille te gee, ons kon niks aan haar siekte doen nie. Ja, wel, so het dit maar dag in en dag uit gegaan. Ek kan nie eers die ou tante se van onthou nie…te lank terug.

Jong- een aand hier by ..was dit nou agt uur…miskien ‘n bietjie later…ag wat..dit maak nie saak nie..dit was in elk geval daar rond..toe gaan haar klokkie weer af. Man weerman..ons was besig- al wat ‘n vrou is kerm en kla…dit is bedpanne, pille, bedwasse en wie weet wat de duiwel nog- toe lui sy nou haar klokkie ook! Ons het ons nie veel daaraan gesteur nie- en het eers ons ander pasiente gehelp. Toe die spul nou uiteidelik klaar was en dinge stiller word, gaan ek toe maar kyk wat sy wou he. Daar gekom, le sy met net so ‘n bree glimlag in die bed. Ek vra haar toe wat skort. Nee se sy- haar man was daar…sy wou hom aan ons voorstel, maar hy is blykbaar al klaar toe weg. Jong, ek het maar net vir haar gese dis goed so- en as hy weer kom, moet sy maar roep- ek weet mos die skepseltjie het nie so iets nie.....sy is seker maar besig om te hallusineer...jy weet...mense doen dit as die brein besig is om dood te gaan. Reg- toe sit ek die lig af en kom terug kantoor toe.

Man…dit was rustig tot so omtrent half drie die oggend- toe gaan haar klokkie weer af. Suster Kallie het daai week nagskof gedoen- en is toe hier vort- ek was besig met oggend observasies en preps vir die teater. Na ‘n ruk kom sy terug en se die ou tannie is kens…sy het vir sus Kallie gevra of sy haar man gesien het…hy is nou-net daaruit. Hy’t glo gese hy gaan haar kom haal huistoe. Vader…ek het die arme skepseltjie nog nooit so bly gesien nie se sy toe. Die ou tannie was skoon soos ‘n kind..dit lag en babbel aanmekaar. Sus Kallie was nou nie een vir nonsens nie- en sy het die ou tante net daar en dan vasgetrap en gese sy moet slaap, sy pla ons en die ander pasiente. Jong, so het dit toe aangegaan…nag na nag…elke keer het haar sogenaamde man haar besoek. Ons Internis, Dokter Van Wyngaardt wat haar besoek het, het gese ons moet haar maar los- die “Catscan” het gewys die gewas op die brein het vergroot- sy begin hallusinasies sien as gevolg van die drukking op die brein. Ons moet maar net iets vir die pyn gee- die einde is naby…sy sal een of ander tyd in ‘n koma gaan..en dan jy weet… So gese – so gedoen. Ons het toe haar kamer maar toe gehou…wou nie he die ander pasiente moes sien as sy gaan nie…jy weet mos- party van hulle was ook maar nie beter daaraan toe nie. ‘n Mens wil mos nie iemand sien doodgaan en jy weet jy is volgende nie.

Man my kind..dit was so paar dae later…dit was ‘n Saterdag aand..net so na tee..ek kan nog onthou. Sersant Botes het hier saam met my gewerk. Ons was hier in die kantoor..meeste van die pasiente was ontslaan…ek dink daar was drie of vier oor…en die ou tannie daar agter. Hier by sewe uur..ons het net van dagskof oorgevat…toe sit ek en Sersant Botes en gesels…sy het daar teen die kas agter jou gesit…toe kom die ou tannie skielik hier aan in haar nagrok. Genade…dit giggel soos ‘n jong meisie..kaalvoet en al. Ek en Botessie spring op..ek meen..sy le al vir weke aaneen..en hier is sy skielik perdfris en gesond. Ek wou haar net terugvat kamer toe- toe sy se ek moet haar man ontmoet. Kind- ek sal dit nooit vergeet nie…langs haar het so ‘n groterige oom gestaan. Ek het hom so sewentig geskat. Hier op sy skouers blink dit net sterre…maar ek kan mos nie nou sien nie…hy’t so effe in die donker gang gestaan. Hy’t ‘n lugmag uniform aangehad…toe sien ek hy’s ‘n brigadier. Wel..ek groet toe maar beleef- ek wil nie netnou voor Kolonel Coetzer staan en explain as hy gaan se ek was onbeskof nie.

Jong- sy vra toe of hulle maar iewers kan gesels..ek se toe ja, hulle kan in die sitkamertjie op die stoep sit..dis privaat jy weet. Wel…hy het niks gese nie- en hulle is toe diekant toe. Ek en Botes het mekaar net aangegaap…ons het nie geweet sy was getroud nie! Waar was hy al die tyd. Botes het nog gespot en gese hy kon seker ook nie met haar huishou nie- die laat hy haar maar hier laat le. Ons het toe maar weer aangegaan hier- en net so nou en dan geloer of hulle nog O.K is. Jong, ons het net haar gehoor klets…ek kan nie onthou of hy iets gese het nie, sy het so styf teen hom aangele…nogal ‘n aantreklike ou omietjie moet ek se. Hulle het toe maar so liefie- liefie daar gesit, maar hier by tien uur se kant het Botes toe opgestaan en gaan se hulle moet nou klaarmaak…sy moet gaan pille drnk en gaan slaap. Sy vra toe vir Botes of sy saam met hom kan stap tot daarbo by die teater…sy kar of iets staan daar. Botes se haar toe sy mag nie eintlik die saal verlaat nie…maar hier is in elk geval niemand nie…sy kan maar gaan, maar sy moet net gou maak. Nou ja- die twee is toe hier weg boontoe.

My skat…ons wag toe…naderhand is hulle al ‘n halfuur weg. Ons begin bekommerd raak- en Botes is toe daai kant toe om haar te gaan haal. Jinne mens- Botes kom toe naderhand terug en se sy kry hulle nie. Ek is toe saam met haar weer soontoe- ons het gesoek, maar aaikona, die ou tannie is weg. Ons dog toe sy het saam met hom weggery. Vader mens, daar staan ons toe…wat nou? As die kolonel dit hoor is ons in groot moeilikheid…ons mag mos nie pasiente uit die saal laat nie…en dit nogal in die nag! Jong, ons kry toe Suster Van Der Merwe, die nagmatrone uit. Hemel, ons soek, sy soek, almal soek…ons sit die ligte aan…dit was ‘n helse storie! Man, ons was nog hier in die kantoor, ek, Botes, Matrone en so jong nursie- toe roep ‘n Medic ons. Ons is toe hieruit- daar na agter toe. Hy staan toe by die ou tannie se deur. Vader kind, toe ons daar kom, le sy in haar bed…morsdood….haar mond so half oop, maar jy kon sien sy is nie meer nie. Matrone het toe ingestap en aan haar gaan voel. Matrone vra toe wanneer ons haar laas gesien het. Ons se toe so driekwart uur terug toe sy haar man gaan afsien het. Nee- se sy toe- kannie wees nie…die ou tannie is al lankal dood! Ons kon dit nie glo nie! Daar staan ek en Botes toe- ons weet nie wat om te se nie! Ek dink ons het haar besoek saam met dokter omtrent so ses uur na ete…toe het sy nog geslaap…dis nou voor die aand se eskapades. Matrone het toe maar die wyksmeester gebel- en hulle het haar hier kom uithaal lykshuis toe.

Die volgende aand kom se Matrone ons dat die koroner gese het die ou tannie was dood hier by agt uur. Ons stry toe- ek en Botes- ons se hulle sy’t met haar man hier links van ons op die stoep gesit en gesels tot tienuur toe- ons het hulle self gesien! Botes het dan vir hulle gaat se hulle moet klaarmaak. Nee se sy toe- die dokter se die gewas het gebars al vroegaand- sy was teen tienuur laaankal dood! Kan jy nou meer?

Jong- nou soek hulle ‘n naasbestaande daar by wyksmeester om haar lyk te kom afteken, maar kry is min. Hulle kry geen adres of telefoon nommer van ‘n naasbestaande nie. Eindelik toe kry hulle haar broer- en hy kom toe vannie Vrystaat af en die teken haar toe maar af. Hy kom toe hiernatoe om haar klere en goedjies te kom haal. Hy se my toe dat sy al jare seniel was…was al by Weskoppies. Niemand wil met haar opgeskeep sit nie- hulle het al geprobeer- maar so vinnig as wat hulle haar vat- so vinnig gaat laai hulle haar weer af- sy maak hulle van hulle koppe af- te “demanding “- se hy toe. Jong- toe hy nou gaat loop, vra ek hom waar haar man- die brigadier was- Ag hemel- toe vra hy my hoekom ek wil weet….het ek hom geken? Ek se hom toe dat hy hier was- en ek beskryf die brigadier. Hy se toe dis onmoontlik- die beskrywing is reg- haar man was ‘n brigadier op Waterkloof jarrre terug- maar die oubaas is laaankal oorlede. Die oubaas het ook hier in hierdie selfde saal gele tot sy dood. Die saal was lankal terug blykbaar ‘n saal vir hartpasiente. Hy se toe ek moes my misgis het. Hoe kan ek my misgis…ek en Botes het hom met ons eie oe gesien! Wil jy nou se ons het twee spoke gesien? Wil jy my se sy gees het haar gees kom haal? Ek weet nie so mooi nie…Botes se sy worrie nie- as hulle wou vry, moes hulle maar vry- sy’s g’n bang vir spoke nie .Ek se jou- van daar af- niemand wil meer hier werk nie…hulle se die plek gee hulle die creeps!”- en daarmee het sus Ramos haar storie ge-eindig.

Wel, ek sou nie kon se sy het haar misgis of nie- dit is moontlik dat mense kan apperasies sien…dat spoke werklik die aarde bewandel…ek myself sal maar stilte op die onderwerp moet handhaaf..ek self wonder nog oor my eie apperasie. Wat my nou omtrent die verhaaltjie interreseer, is die kwessie oor waaroor die twee “ spoke” nou op die bankie gesels het? Was dit oor vervloeee dae…of dalk oor die toekoms daar anderkant…nugter alleen sal weet.